Sunday, December 6, 2009

Rom 6:1-14 Waarlik skoongewas!

Liedere en voorsang vir doopsondag 6 Desember.

Voorsang:

FLAM 107 Borrelliedjie
Ek is ‘n huis
God hou van kindertjies
Liedboek 349 Kom kinders besing met ‘n vrolike stem
Koning van my hart

Lofsang:
Lied 357:1-3 ‘n Kindjie is gebore, in Betlehem se stal.

Na Wet:
Lied 538:1-3: Heer Jesus U was self ‘n kind.

By inbring van die kinders: Jesus roep die kindertjies
Lied 294:1

Na die doop:
Lied 294:2-3

Slotsang:
Lied 290:1-4 Dit is my troos dat ek gedoop is.

Boodskap:

My ma hulle vertel my dat ek kleintyd ‘n kombersie gehad het, wat ek orals met my saamgedra het. Ek het hierdie kombersie tot in die wasmasjien gevolg, en wanneer die wasmasjien aan was, het ek voor die wasmasjien gaan sit, en kyk hoe die kombersie om en om in die wasmasjien draai, totdat dit klaar gewas en gedroog was, en dan het ek weer die kombersie met my saamgesleep.

Ek is seker dat elkeen van ons ‘n kledingstuk het waarvan ons baie hou, en wat ons graag met ons saamdra. Maar dit is nie altyd goed nie. Later word hierdie kledingstuk verweer en vol gate, maar omdat dit so lekker dra, gooi ons dit moeilik weg. Ek onthou altyd hoe my pa altyd na die ou klere verkopings toe gehaas het daar in Potchefstroom, en eers van die ou klere wat my ma weggegooi het weer gaan haal het. Want daar was veral so ‘n rooi trui, wat al vol gate en gehawend was, maar wat hy baie graag gedra het.

Maar weet julle liewe vriende, dat die sonde dit dikwels regkry om so ‘n houvas op ons lewens te kry. Al weet ons dat dit nie goed aan ons lyk nie, sukkel ons om dit te los, en bly ons die sonde aantrek. Al sou iemand vir ons sê dat dit nie mooi lyk nie, dan gaan ons voort om dit te dra. Die ou mense het byvoorbeeld gesê dat iemand wat jaloers is die geel baadjie aantrek. Al weet ons dit is verkeerd, hou ons graag aan die jaloesie in ons lewe vas.

So lees ons in Genesis 4:7 dat die Here vir Kain herhaaldelik gewaarsku het oor sy geel baadjie, oor sy jaloesie. Die Here het vir Kain gesê: “As jy weier om reg te doen, moet jy oppas, Sonde sit reg by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.” En Kain het hom toe nie aan die Here gesteur nie! Hy het jaloers gebly, en selfs sy broer Kain doodgeslaan! Ons trek baie moeilik die lelike of die vuil klere in ons lewe uit, selfs al word ons gewaarsku daarteen.

Ek is seker baie van julle kinders het al agter die deur gesit om iemand onverwags skrik te maak. As ons nie die heeltyd versigtig is vir die sonde nie, gaan dit ons onverhoeds betrap, en maak dat ons dinge doen wat ons nie veronderstel is om te doen nie. Ons word met sonde gebore, en dit maak dat alle mense partykeer stout is en dinge doen wat hulle nie wil doen nie, maar doen omdat hulle slawe is van die sonde.

Weet julle kinders wat is ‘n slaaf? ‘n Slaaf is iemand wat deur iemand anders gekoop is, en aan ‘n kwaai baas behoort. Hierdie baas maak sy lewe swaar en ongelukkig. Al lyk dit miskien lekker as ‘n baas vir jou sorg en vir jou kos gee, is dit niks lekker om ‘n slaaf te wees nie. Want jy het geen vryheid nie. Jy moet net doen wat diebaas vir jou sê, en jy moet op die ou end baie hard werk vir ‘n klein beloninkie.

En weet julle wat die slegste ding van slaaf – wees is? Jou kinders is ook slawe. Ja, as jy ‘n slaaf is en aan iemand behoort, dan beteken dit dat al jou kinders nie eintlik jou eie is nie, maar aan iemand anders behoort. En so is dit ook met ons mense. Adam en Eva het daar in die paradys besluit om vir die Duiwel, vir die slag te luister, en eerder slawe van die Duiwel te wees as slawe van God. En van daardie tyd af tot vandag toe, word mense as slawe van die Duiwel gebore. Ja, alle mense doen van die begin af sonde, en behoort aan die Satan.

God het sy wet aan die mense gegee, en probeer om hulle so gehoorsaam te maak. Maar deur die Wet, deur die Tien Gebooie, het mense net slegter geword. Want as jy vir ‘n kind of ‘n slaaf sê om iets nie te doen nie, dan gaan doen hulle dikwels juis dit wat jy hulle verbied om te doen. En so, selfs nadat mense die Wet ontvang het, het hulle net slegter en slegter geword...

Maar God kon dit nie toelaat nie! Hy moes ‘n plan maak. En daarom lees ons hier in Romeine 6 dat God besluit het om sy Enigste Seun na die aarde toe te stuur. Ja, liewe vriende, Jesus het vir ons kom sterf, sodat ons nie meer slawe van die Duiwel en van die sonde hoef te wees nie. Nee, God het deur Jesus se bloed vir ons betaal, sodat ons niemeer slawe hoef te wees nie, maar God se kinders kan wees.

En omdat ons ouers God se kinders is, hoef ons nie meer slawe van die sonde te wees nie. 1 Korinthiërs 7:14 kom sê vir ons dat die kinders van ‘n gelowige ma of pa aan God toegewy is, en aan God behoort. En dit is hoekom ons vanoggend ook kinders doop. Ons sê daarmee vir God en vir mekaar dat ons en ons kinders nie meer aan die duiwel of aan onsself behoort nie, maar aan die Here.

Wie van julle kinders hou van swem? Daar is min kinders wat nie van swem hou nie. Selfs die meeste grootmense, en oupas en oumas hou daarvan om op ‘n lekker warm dag in die water te kan wees. Wat so lekker is aan swem, is dat ‘n mens sommer so skoon voel as jy ‘n slag heen en weer geswem het. Veral as jy ‘n slag geduik het, dan voel jy sommer heeltemal skoon en vars.

En dit is dieselfde gevoel wat ons ook in ons geestelike lewens moet hê wanneer ons gedoop word. Want die doop is nie net ‘n teken dat ons liggame aan die buitekant skoon gewas is nie, maar veral dat ons gewete ook skoon is voor God. Mense vertel dat mense wat verkrag is, dikwels daarna herhaaldelik bad of stort om net skoner te voel. Sommige mense beweer selfs dat dit help om te gaan stort as jy verkeerd gedoen het, sodat dit jou sal help om nie Aids of Vigs te kry nie...


Maar eintlik help dit nie regtig nie. Want dit maak ons net aan die buitekant skoon. Dit kan nie wegwas wat binne in ons lewens aangaan nie. Dit kan nie die seer of die skuldige gevoel binne in ons lewens, binne in ons harte en gedagtes wegneem nie.

En tog, liewe vriende, kom sê die Bybel vir ons dat hierdie druppels water wat van ‘n kind se hoof afdrup, baie meer beteken as die beste bad of die skoonste stort. Want daarmee kom sê ons vir mekaar dat ons die Here vra om ons hele liggaam in besit te neem. Om ons volledig te was, en ons en ons kinders as sy kinders, sy slawe aan te neem.

Daarom kom sê Johannes al dat Jesus nie net met water doop nie, maar met die Heilige Gees en met vuur. Die doop wat ons kinders hier ontvang, was nie net hulle hofies nie, maar hulle hele lewens. Al is dit net op hulle koppies sigbaar, is dit ‘n teken dat die Heilige Gees in hulle lewe heers, en dat God deur die vuur van sy teenwoordigheid in ons lewe ons harte heeltemal wil reinig. En daarom staan daar in Hebreërs 10:22: “Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”

Die doop word ook hier met ‘n begrafnis vergelyk. Net soos die vuil badwater weggespoel word wanneer ‘n kind in die modder gespeel het, so wil die Here ook die sonde in ons lewe laat wegvloei, en ons silwerskoon vir hom was. Hy wil vir ons kom sê dat die sonde en die Duiwelse dinge in ons lewe begrawe is, en dat ons nou vir Hom kan leef. Daarom sê Paulus in vers 6: Ons weet dat ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons gebreek kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.

En weet julle liewe gemeente, wat so wonderlik aan hierdie doop, aan hierdie begrafnis is, is dat dit net een keer plaasvind. Ons lees in vers 9 en 10 van Romeine 6:9-10 dat Christus nooit weer sal sterf nie, en dat die sonde geen mag het oor Hom nie. Dat hy eens en vir altyd vir die sonde gesterf het, en vir God leef. Ons vergeet dit so dikwels. Ons wil dikwels so graag weer gedoop word, net weer nuwe ervarings beleef wat ons verhouding met God sal vernuwe.

Alhoewel ek glo dat ons elke dag ons lewe opnuut aan God moet wy, beteken dit nie dat God nodig het om elke keer opnuut vir ons sy liefde te bewys deur die doop nie. Al is dit so dat sy liefde elke oggend nuut is (Klaagliedere 3:23), is sy belofte om ons pa te wees vir altyd. Hy is getrou, en sal nie sy kinders vergeet nie.

Ek sluit af... Hoe lyk jou lewe vanoggend? Voel jy vanoggend net weer dat jy die vuil badwater eenkant moet uitgooi? Dat jy net weer die sonde in jou lewe moet begrawe? Die Here kom herhinner jou net weer dat dit wat Hy vir jou in jou doop belowe het, vir altyd bly staan, en dat hy dit nooit van jou af sal wegneem nie. Dat sy beloftes vir ewig hou.

Mag jy weet dat Hy vir jou ook wil kom herhinner dat Hy ons silwerskoon gewas het, en silwerskoon wil hou. Dat ons net weer die vuil baadjie sal uittrek, en onder sy genade sal lewe. Dat ons Jesus se juk op ons sal neem, en Hom sal voluit dien as sy kinders!
AMEN!