Saturday, February 25, 2012

Boodskap op Sondag 26 Februarie 2012 (Eerste Sondag in Lydenstyd).


 

Skriflesing: Matt 10:34-39

Tema: Neem jou kruis op en volg Jesus!


 

Voorsang:

Kyk Hy kom!

Houtkruis

Meer en meer soos Jesus

Herder Heer

Lofsang:

Lied 464 O Heer my God!


 

Na Wet:

Liedboek 177: Jesus, groot bo almal


 

Slotsang:

Lied 512:1-3 Nader my God by U…


 

Boodskap:


 

Daar word vertel van die ou wat 'n advertensie in die koerant geplaas het vir iemand om saam met hom te gaan jag. Die persoon moet lekker kan gesels, goeie grappe ken, en goed kon kosmaak. Nie lank na die advertensie nie, bel daar iemand wat hakkel. Toe die persoon hom vra of hy goeie grappe, ken, antwoord hy – Nnnie e-e-e-intlik nnnniee. Die jagter vra hom toe of hy goeie kos kan maak, en hy antwoord – Nnnneee, e-e-ek vvvverbrand aaaaltyd die kkkkos wwwwanneer ek mmmoet kkkkosmaak. Nou hoekom bel jy dan, vra die jagter toe... Wel, ek bel net om te sê dat ek nie kan saamgaan nie...

Weet julle, liewe vriende, ek het al baie sulke oproepe in my lewe as predikant gekry... Baie oproepe van mense wat baie belangstel om iets te gaan doen. Mense wat sê dat iets lekker klink, maar wanneer die kostes en die aktiwiteite op die program genoem word, besluit dat hulle liewer 'n volgende keer sal saamgaan. Mense, veral kinders, sal ook dikwels vra wie die ander is wat saamgaan, en dan eerder besluit om te bly, as daar nie van hulle maatjies is nie.

Alhoewel Jesus dit nooit maklik gehad het in sy bediening op aarde nie, het hy op 'n stadium 'n baie groot aanhang gehad. Daar was 'n menigte mense wat saam met hom geloop het, en gretig was om te hoor wat hy sê. Mense wat graag die wonderwerke wou sien wat hy doen... Ek het laas Sondag ook daarna verwys dat Jesus Moses en Elia op 'n berg ontmoet het, en dat hulle hom aangespoor het om hierdie pad klaar te stap. Petrus wou nog drie hutte vir hulle bou, maar Jesus het hom bestraf, omdat Hy geweet het dat daar 'n moeiliker pad vir Hom voorlê.

Maar hier, in ons Skrifgedeelte van vanoggend, kom Jesus by 'n punt waar hy sy volgelinge moes sif... Hy moes besluit wie verder saamgaan en wie nie. Hy het geweet dat die pad van swaar lyding nou voorlê, en dat nie almal hierdie deel van die pad sal kan saamstap nie. En daarom kom praat Hy baie duidelik met sy dissipels oor die toelatingsvereistes vir hierdie pad saam met Hom.

In sy bekende boek, "the cost of Discipleship" kom leer Dietrich Bonhoeffer ons die volgende: "The first call which every Christian experiences is the call to abandon the attachments of this world." Bonhoeffer kom leer ons hier dat die eerste ding wat die Here Jesus vir sy dissipels gevra het, was om hom onvoorwaardelik te volg... Hulle moes dit wat hulle in hierdie wêreld vasgehou het, laat staan, en Hom alleen volg.

En daarom begin die Here Jesus op hierdie pad van swaarkry om te verwys na die dissipels se familie. In die eerste plek kom sê Jesus aan hulle dat dit nie soseer gaan oor wie saamgaan op die pad nie, maar oor wie nie saamgaan nie. Om die pad saam met Jesus te stap, beteken in die eerste plek dat 'n mens vrede daarmee sal maak dat jy nie almal wat vir jou lief en dierbaar hier op aarde is, sal kan saamneem nie. 'n Paar van julle het al die film "Left Behind" gesien. Al is die film volgens my op die dwaalleer van die wegraping gebou, is dit belangrik om raak te sien dat van ons familie, en gesinslede gaan agterbly as die Here Jesus weer kom om ons te kom haal. Ons sal moet besluit vir wie ons liewer is...

Die meeste van ons hou daarvan om die "vrede te bewaar". Rick Warren noem in sy kursus oor doelgerigte liefde dat die "bewaar van die vrede" nie beteken om maar net oor elke probleem met ander stil te bly nie. Nee, dit gaan daaroor om probleme met ander te hanteer, daaroor te praat, en dit te probeer uitsorteer. Dit gaan ook beteken dat ons uit party situasies en verhoudinge in ons lewe moet uitstap, wanneer dit duidelik word dat mense nie om ons teen Jesus kies. Dit was veral in Jesus se tyd waar wanneer Jode Christene vervolg het, en gesinslede wat Jesus aangeneem het, heeltemal verwerp is. Dis hoekom Paulus ook sê dat 'n gelowige nie met 'n ongelowige in dieselfde juk kan trek nie. Ons kan nie nou met iemand saamleef, as so 'n persoon die Here Jesus verwerp nie.

Die tweede kwalifikasie wat Jesus vir sy mede-reisigers stel, is dat hulle bereid moet wees om hulle kruis op te neem en Hom te volg. Wat het dit in Israel beteken wanneer jy by soldate verbyloop met iemand wat besig is om 'n kruis te dra. Hulle was verseker nie oppad na 'n partytjie nie. Nee, hierdie ou wat die kruis gedra het, was oppad om te gaan sterf.

As ek vandag vir jou vra of jy 'n kruis dra, sou jy dalk in die eerste plek dink aan mooi goue of silwer kruisie aan 'n hangertjie om jou nek of aan jou pols. Of 'n kruis op jou T-hemp of op jou kar. Maar eintlik beteken dit iets totaal anders. Om jou kruis in die lewe te dra, beteken dat jy saam met Jesus oppad is na Golgota – dat jy bereid is om saam met Hom te sterf. Ons sing so maklik die lied "Nader my God by U", met die tweede reël wat lui: "Al is daar ook 'n kruis, nodig vir my". Is jy so ernstig oor jou verhouding met die Here Jesus dat jy elke dag jou kruis sal dra? Dat jy elke dag ook die pad sal stap waarin jy duidelik sal wys dat jy bereid is om vir Hom te sterf?

Met Jesus se derde vereiste vir 'n dissipel kom draai Hy geen doekies om nie. Hy kom spel baie duidelik uit wat ware dissipelskap beteken. Jesus kom sê baie duidelik aan sy dissipels: "As jy my wil volg, moet jy bereid wees om te sterf...". En dit is nie net een keer dat Hy dit sê nie. Telkens in die Nuwe Testament kom herhinner die Here Jesus ons daaraan. In Markus 10 moet die ryk jongman aan sy liefde vir besittings sterf, en alles verkoop en vir die armes gee. In Johannes 12:24 staan daar dat ons soos 'n koringkorrel in die grond moet val en sterf, as ons werklik vrug wil dra. En so kan ons voortgaan.

Hoe lief het Jesus jou??? Daar word vertel van iemand wat tot Jesus gebid het, en telkens aan Jesus gevra het dat Jesus aan hom moes openbaar hoe lief Hy vir hom is. Jesus het sy hande na die kante toe uitgesteek met die merke van die spykers duidelik sigbaar aan Sy hande, en aan hom gesê: "So lief!". Maar die vraag word ook vanoggend aan elkeen wat hier sit, gevra: "Hoe lief het jy vir Jesus?". Is jy bereid om aan jou self te sterf? Is jy vir hom so lief dat jy jou lewe vir Hom sal gee.

Die tyd in ons land en in Suider Afrika waar ons werklik bereid sal moet wees om vir Jesus en vir sy boodskap te sterf, is dalk baie nader as wat ons besef. Maar terwyl daar dalk nog nie vanoggend 'n terroris hier gaan instorm en 'n geweer teen jou kop gaan druk met die woorde: "Verwerp Jesus of ek skiet jou nie!", is die vraag nog steeds of ons Jesus in ons lewe bo alles stel.

Is Jesus vir ons belangriker as enige van ons vriendskappe hier op aarde. Is Jesus vir my belangriker as my liefdesverhouding met my ou of meisie? Is Jesus vir my belangriker as enige saketransaksie of belegging wat ek in die lewe het? Ek nooi jou vanoggend om opnuut weer hierdie verbindtenis te maak, en werklik vir Jesus te kom volg. Om werklik die pad vorentoe saam met Hom te kom stap.

Ek sluit af. Die boere daar in die Oos-Kaap het 'n slim plan gekry vir bobejane wat 'n probleem in die lande geskep het. Wanneer hulle probleme met die bobejane onder hulle gesaaides gekry het, het hulle dikwels gegaan en een bobbejaan gevang. Hulle het dan die bobbejaan wit geverf, en hom weer tussen die ander gelos. Julle kan dink wat gebeur het. Wanneer hierdie wit bobbejaan na die trop terugkeer, het hulle van hom af weggehardloop, en wou niks van hom weet nie. Dit het die bobbejane so deurmekaar gemaak, dat die boere vir 'n geruime tyd nie las van die bobbejane gehad het nie.

In 'n sin is ons samelewing ook maar soos hierdie bobbejaangemeenskappie... Ons word groot met die boodskap van die Bybel, maar ons kweek maar ons eie gewoontes, gelowe en oortuigings saam met die tyd. Ons kinders word van kleins af groot in die kategese, lê belydenis van geloof af, en kry dan weer kinders, wat hulle doop en grootmaak, en so gaan die rustige kringloop aan. Maar deur die verloop van tyd raak ons aan so baie verkeerde dinge gewoond, dat ons nie besef wat dissipelskap werklik van ons vra nie. Ek is seker dat Jesus in 2012 ook ook waarskynlik soos 'n wit bobbejaan tussen 'n klomp ander bobbejane sou gelyk het. Hy sou net so anders opgetree het, dat mense niks met hom te doen sou wou hê nie, en hom waarskynlik uiteindelik ook sou kruisig, of uit ons samelewing sou uitwerp.

Ek het vanoggend vir julle nuus... As jy 'n ware volgeling van Jesus wil wees, gaan jy nie maar net lekker en gemaklik in jou omgewing inpas nie. As jy nie deel is van die skinderpraatjies, of ingestel is om met die belangrike mense se leefstyl vol te hou nie, gaan jy maar redelik op jou eie leef. As jy weier om deel te wees van korrupsie en bedrog, en die reguit pad wil stap, gaan jy min vriende hê. As jy jou ontferm oor hulle wat werklik nood het, wat werklik 'n dokter nodig het, en jou met hulle vereenselwig, gaan mense jou begin vermy...

Dietrich Bonhoeffer het ook in 'n preek oor 2 Korinthiërs 12:9 gesê: "Christendom adjusts itself far too easily to the worship of power. Christians should give more offence, shock the world far more, that they are doing now. Christians should take a stronger stand in favour of the weak than considering first the right of the strong". Of in Afrikaans vertaal: "Christene skakel te maklik by die aanbidding van mag in... Christene moet baie meer aanstoot gee, hulle moet die wêreld baie meer skok, as wat hulle tans doen. Hulle moet 'n baie sterker standpunt vir die swakkes inneem, eerder as om die


 

… to be for justice is not only the right thing to do, but a joyful thing to do. It is freeing. It is good news."