Skriflesing, liedere en liturgie vir erediens te Fairlands op 20 Augustus 2017
Skriflesing: Romeine 8:32-39
Tema: Om méér as oowinnaars te wees…
Voorsang:
Lied 505:1,3 Jesus U gaan voor
Lofsang:
Lied 547:1-3 Alle volke klap julle hande
Wet en genadeverkondiging: Hebr. 12:1-3
Wet: Eksodus 20:5b-6. “Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, tot in die derde en vierde geslag van die wat my haat, maar ek bewys my liefde tot in die duisendste geslag van die wat my liefhet…
Ken jy iemand wat God haat… Karl Marx Handelinge 2:44-45 “Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop, en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.
Duisendste geslag… 30 miljoen mense.
Lied 513:1-3 Soek in God jou sterkte
Boodskap:
Offergawes:
Slotsang: Lied 571:1-4 Here hoeveel blye dae
Uitspreek van die seën…
BOODSKAP… Pikkietyd – vertel storie van Jannie en die treinkaartjie.
Ons is baie keer soos die dapper muis wat sê dat ons vir niks skrik nie.... Ons sê baie keer ons is dapper, maar baie keer word ons ook maar ‘n bietjie bang… Wie van julle is nie bang vir ‘n pak slae nie…? Ja, ons is baie keer bang vir ‘n pak slae as ons stout was.
Wie van julle is bang om in ‘n hysbak te klim… daar is baie mense wat benoud word as hulle in ‘n hysbak of ‘n klein ruimte moet staan.
Baie ander is bang dat ons land arm gaan word, en dat ons nie kos gaan hê om te eet nie, of genoeg klere gaan hê om aan te trek nie.
Party mense is bang vir mense wat optogte hou. Ander van julle is dalk al beroof, en iemand het ‘n geweer gebruik om julle bang te maak.
Wie van julle is bang om dood te gaan? Ek dink daar is baie mense wat bang is om dood te gaan… Party mense is bang dat hulle nié doodgaan nie. Hulle is bang dat hulle dalk lank aan ‘n swaar siekte soos kanker sal moet ly. Baie mense is so bang vir die dag van môre, om verder te lewe, dat hulle hulle lewens neem.
Ek is seker dat baie mense bang is om engele te sien. Ander is weer bang vir die duiwel se engele. Die ganglig moet liewer brand, anders kan hulle nie slaap nie…
Ander is bang vir die donker… ,… Ek het as ‘n kind hoogtevrees gehad…. Ek was bang om op die boonste verdieping van geboue te staan, of om oor ‘n hangbrug te loop.
Ander mense is weer bang om in die see te duik, omdat hulle bang is hulle kom nie weer op nie…
Dit is nie net kinders wat vir hierdie dinge bang is nie, maar die grootmense ook.
In gisteroggend se Beeld was daar ‘n berig van ‘n rugbywedstryd wat ‘n rekord aantal punte aangeteken het. Die o/15 span van Grey College het Glenwood College in Durban met 221-0 gewen. Die Glenwood College span se sportkoordineerder, ‘n mnr. Pillay het gesê dat hulle besluit het om nie die spel te stop nie. Hulle wou nie al die pad Bloemfontein toe ry net om 10 minute lank te speel nie Buitendien het hy gesê, daar is geen manier wat sy span sou verbeter as hy nie teen van die beste spanne speel nie.
Toe ek die berig lees, het ek gewonder... WIE HET GEWEN…? Julle sou sê dat die antwoord verseker Grey College was... Ek wonder... Al kyk ‘n mens na die telbord, soos Frik du Preez sê, het die span van Glenwood dalk meer by die dag gebaat as Grey College. Hulle het goeie oefening gekry, hulle het geleer om te volhard en nie handdoek in te gooi nie. Hulle het hulle pak slae soos ‘n man gevat, en tot die einde van die wedstryd gespeel.
Ek vertel hierdie verhaal vanoggend aan julle om iets te beskryf van wat ons in Romeine 8 vers 37 kom leer. As ons na die vers kyk, klink dit baie mooi, en ons haal dit baie aan, maar ons sukkel dikwels om sin te maak daarvan. Hoe kan ons MEER as oorwinnaars wees as ons dan soveel teenslae in die lewe ervaar? Die gelowiges in die stad Rome het geweet wat swaarkry is. Hulle het geweet wat dit is om aangekla te word oor hulle verlede, en hulle het beleef dat die duiwel, die wêreld, en selfs ander gelowiges hulle aankla.
Hulle het geweet wat dit is om honger, sonder klere, benoud, bang, in oorlog, in vervolging, en in lewensgevaar te wees. Hulle het geweet wat dit beteken om geliefdes aan die dood af te staan, en om geestelike oorlog te voer. Hulle het ervaar hoe Satan hulle aanval, en geen vrede gehad het met die feit dat hulle voluit vir die Here geleef het nie. En tog kom skryf Paulus dat hulle meer as oorwinnaars is...
Die Griekse woord wat hier gebruik word is ὑπερνικῶμεν. Die Griekse woord kom van die woord nikaw, wat beteken om te wen. Dit is dieselfde woord waar die Nike Sportdrag se naam van afgelei is. Om te huper nikaw, beteken dus om meer as te wen, dit wil sê om uit te styg bo die oorwinnaar.
Dit laat my dink aan die verhaal van die voëls wat gekyk het wie die hoogste kan vlieg. Uiteraard het Arend hoër en hoër gevlieg totdat geen voël meer kon byhou nie. Toe arend al sy kragte gebruik het, en hy uitroep, ek het die kompetiesie gewen, toe kom tinktinkie skielik uit Arend se vere uit, waar hy weggekruip het, en hy vlieg hoër as die arend, om die kompetisie te wen.
Iemand wat MEER as ‘n oorwinnaar is, kry dus ‘n groter prys as die een wat die kompetisie gewen het. Dit is wat Paulus in 1 Korinthiërs 9:25 bedoel wanneer hy skryf dat mense meeding om ‘n verganklike oorwinnaarskroon, maar ons om ‘n onverganklike. Wanneer ons meer as oorwinnaars is, beteken dit dat die wêreld nie altyd gaan raaksien dat ons oorwin het nie. Die wêreld gaan ons dikwels as verloorders sien. Maar ons weet dat God méér as oorwinnaars sien wanneer Hy na ons kyk...
Die volle Woord van God is vol van mense wat deur die wêreld as verloorders gesien is, maar deur God verhef is tot MEER as ‘n oorwinnaar. Dink maar Noag wat gespot is oor sy ark. Aan Moses wat Farao se kindermoord rakelings ontkom het, en nie eers goed kon praat nie. Wat van Gideon wat ‘n papbroek was uit die laagste stand in Israel. Dink aan Dawid wat sonder wapenrusting die reus Goliat moes aanpak. En so kan ons aangaan na die profeet Jeremia wat deur sy koning in ‘n put gegooi is.
In die Nuwe Testament verander dié storie nie veel nie. Dink aan Johannes wat van heuning en sprinkane geleef het, en kameelvel as klere gedra het... Dink aan Paulus wat in ‘n mandjie van die stadsmuur af laat sak is, omdat hy vir die Jode moes vlug. Wat 5 keer ‘n pak slae van 39 hou gekry het oor sy Christenskap en meer as 1 keer gestenig is.
En dan natuurlik aan Jesus, wat MEER as ‘n oorwinnaar was. Jesus wat in ‘n krip gebore is as die seun van ‘n arm timmerman Josef, wat na Egipte moes vlug, en uiteindelik deur sy eie mense aan die wrede Romeine oorgegee is. In die BOODSKAP VERTALING LUI Romeine 8:37: “Al gebeur hierdie verskriklike dinge met ons, is ons nogtans oorwinnaars. Ons deel in Christus se reuse oorwinning omdat Hy ons baie lief het.
Liewe vriend en vriendin, het jy dit gehoor??? Luister bietjie weer na die woorde: “Ons deel in Christus se oorwinning omdat Hy ons baie lief het... Ek weet nie wat jy sien as jy in die spieël kyk nie, maar jy moet vanoggend besef: “Jy is nie ‘n “loser” nie. Ons het Christus leer ken, en ons het klaar gewen! Ons is méér as oorwinnaars, want Christus se oorwinning is ook ons sin! Christus neem ons saam op sy triomftog (2 Kor 2:14)! Amper soos die rugbyspelers en atlete wat so om die veld hardloop met hulle hele span, kom vat Christus jou aan die hand, en hy nooi jou om saam met Hom in oorwinning rondom die veld te hardloop! Gaan jy opstaan en kom, of gaan jy toelaat dat Satan jou lieg oor hoe sleg jy is... dat jy ‘n gebore verloorder is...
Romeine 8:37 se boodskap is nie sommer ‘n obskure teksie wat iewers in die Nuwe Testament weggesteek is nie. Die Woord van God wemel daarvan! In Ps. 126 lees ons dat hulle wat in trane gesaai het, die oes met gejubel sal inbring. In Romeine 8:28 kom skryf Paulus dat God ALLES ten goede sal laat meewerk vir die wat Hom liefhet, wat volgens sy besluit geroep is...
In Filippense 4:13 staan daar dat ons tot alles in staat is, deur Christus wat vir ons die krag gee... en in 2 Timotheus 1:7 staan daar: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons nie lafhartig nie, maar vul ons met krag, en liefde en selfbeheersing.”
As ons na al hierdie getuienis uit God se Woord luister, kan ons maklik hier ophou... Julle kan sê: Dankie vir ‘n mooi preek, dominee, by die deur uitstap, oor gister se rugby begin praat en vergeet wat Romeine 8 vir jou wil sê...
Of...
Ons kan besluit om werklik vanoggend voor die Here te gaan sit... Jesus kom nooi jou in Matt 11:28-29: “Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van my, want ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus kry vir julle gemoed... my juk is sag en my las is lig.
Gebed...