Tuesday, January 12, 2010

Wag op God! Psalm 85

Die digter van Psalm 85 onthou God se goedheid, vergifnis en beloftes van uitkoms. En soos ’n telefoon lui Advent tyd gebeure om ons te herinner: Luister, dink aan wat God vir jou gedoen het! Reageer daarop, laat dit jou geheue aktiveer, dan kry jy weer nuwe, egte hoop vir die toekoms. Dan ontvang jy God se shalom.
1. Ingenooi deur God - Ons raak bewus van ons diepste behoeftes, vrae en vrese en gee ons oor aan God
’n Aantal jare gelede het iemand die stad Washington DC, besoek. Hy was oppad na ’n museum, maar Washington se uitleg het hom verward gehad. Seker dat hy oppad was na die museum, het hy vinnig en dapper in die verkeerde rigting beweeg!Hy het bewus geraak van ’n baie kort swart man wat langs hom geloop en praat het. Maar die verkeer se geraas was oorverdowend en hy kon niks hoor wat die man probeer sê het nie! Hy het ook besluit dat dit waarskynlik iets was wat hy in elk geval nie wou hoor nie en het net vinniger gestap.Hy het by ’n besige oorgang gekom en moes toe noodgedwonge stop.
Op daardie oomblik het die swart man voor hom gaan staan en sy hand op sy arm geplaas. Hy moes nou luister na dié man terwyl hy sy beursie probeer beskerm. Hy het geïrriteerd na die man afgebuk en toe gehoor wat die man vir hom probeer sê het:“Young man, I don't know where you are going, but I can assure you that this is the wrong way. You are headed into the wrong part of Washington and putting your life at risk. Turn around now and go back to where you came from.” Al wat die persoon wat verdwaal het toe opgemerk het, was dit: “I had ignored him, but suddenly he was precious to me. It appeared that I could not live without him.
Ja, liewe vriende, in ‘n sekere sin kom sê Psalm 85 aan ons dat God ons kan help om weer op die regte spoor te kom as ons afgedwaal het (vs 9). Dit is wat Jesus kom doen het.
Een van die kosbaarste dinge wanneer mens in ‘n vreemde wêreld kom, is ‘n padpredikant. Dit is daardie roete-aanwysers wat aan ‘n mens wys waarnatoe jy oppad is, en hoe ver dit nog is. Al het ons vandag nog die voordeel van ‘n GPS, is ons dikwels nog baie afhanklik van straatname, en veral wanneer die name verander het, is ons baie onseker oor die pad wat ons moet ry.
Ek onthou nog hoe ek ‘n hele ruk terug, lank voor die tyd van GPS’se iewens van Bloemfontein af Botswana se kant toe moes ry. Toe ek in Wolmaransstad kom, het ek die afdraaipad Ottosdal toe gemis. Toe ek die eerste bordjie kry wat vir my sê dat Sweizer Reneke nog 40km ver is, het ek dadelik geweet… Ek moet nou terugdraai. Ek is op die verkeerde pad. Dit sou nie help om vorentoe te ry en weer ‘n afdraai Ottosdal toe te neem nie. As ek nie sou omdraai nie, sou ek ‘n te groot ompad ry, en ek sou laat wees vir die grens.
Maar weet julle, liewe vriende, in ons lewens van vandag is dit dikwels dieselfde. Iewers op die pad maak ons dikwels ‘n verkeerde keuse. Of dit nou ‘n handelstransaksie, of ‘n vriendskap is wat ons begin of weggooi, of dit nou die toegee aan ‘n versoeking is, of selfs net die keuse om iets in ‘n oomblik van woede te sê, of die keuse om ‘n weldaad van iemand anders te weerhou toe ons dit kon gegee het. Ons almal maak keuses. En hierdie keuse is nie altyd reg nie. Die vraag is net: “Hoe lank gaan ons met so ‘n keuse aan, voordat ons besef dat ons moet omdraai?
Liewe vriende, hier in die kerstyd, hier teen die einde van die jaar 2009, glo ek dat Ps. 85 ook vir ons niks anders as ‘n padpredikant, of soos die Engelse sal sê, ‘n “wake-up call” is nie. Ek glo dat die Here ons elkeen vanoggend net ‘n bietjie tot stilstand wil bring, en aan ons wil vra: “Is jy op die regte pad?”
Elkeen van julle wat jonk was, weet dat julle ouers julle dikwels versoek het, en dit is nou nog so, dat julle hulle moet bel of SMS as julle iewers heen gery het, en veilig aangekom het. Partykeer vergeet ‘n mens maklik, en moet die telefoon ‘n slag van pa-hulle se kant af lui, voordat ons dit dooddruk en die SMS aan hulle stuur.
Ja, al het Jesus 2000 jaar terug met Kersfees gekom omdat God in die mense ‘n welbehae gehad het, en vrede op aarde wou bring, het ons van die ware impak van Kersfees vergeet… Al het Jesus se koms na die aarde ‘n bekering, ‘n omdraai in soveel mense se lewens gemaak, het die mens van 2009 nog steeds, en dalk soveel meer, ware omkeer, ware bekering nodig…
Ja, liewe vriende, hier aan die einde van ‘n besige jaar ervaar jy dalk in jou lewe die frustrasie van die tempelsangers, van die Joodse gemeente se musiekgroep. Dalk kan jy vanoggend saam met hulle sing… Here, U was goed vir die land. U het vir ons voorgeslagte gesorg. Wil U nie ook in die tye waarin ons leef, vir ons ‘n nuwe toekoms gee nie? Wil U nie weer in Kersfees 2009 ook in ons lewe ‘n nuwe begin maak nie? Ps. 85:6 Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?
Dalk het jou liefde vir die Here stadig binne-in jou verflou. Dalk wil jy vanoggend ook tot die Here uitroep – Here help my om U liefde te beleef, om werklik u teenwoordigheid en vrede in my lewe aan te voel en dit te ervaar! Ps. 85:7 Laat ons u troue liefde belewe, skenk ons u reddende hulp, Here.
Maar om werklik die Here se liefde in ons lewe te ervaar, om werklik weer sy vreugde in ons lewe te kan voel opbruis, beteken dat ons ook stil moet gaan staan. Ons moet nie net soos ‘n hardloper by ‘n waterpunt verbystorm, die watersakkie gryp en ons eie koers kies nie… Nee, ons moet gaan stil staan, deeglik inventaris van ons lewe neem, en vra waarheen ons oppad is. Ons moet waarlik die Here se leiding en rigting vir ons lewe van Hom afsmeek.
Saam met Psalm 85 moet ons ook saam met die Jerusalemse musiekgroep vanoggend vir die Here kan sê: “Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien”. Is dit waarlik jou behoefte? Dan nooi ek jou uit om werklik hierdie Kersfees ‘n tyd van besinning in jou lewe te maak. Dat nooi ek jou uit dat ons as gemeente werklik in hierdie Kerstyd, voor Nuwe Jaar sal gaan stil word, en vir die Here vra dat Hy vir ons die prentjie van Bospoort duidelik in ons gedagtes teken.
Nie noodwendig ‘n prentjie van ons finansies of ons kerkbywoning nie, nie noodwendig ‘n prentjie van die vlermuise wat om die kerktoring vlieg soos wat ons by die Satanisme praatjie gehoor het nie. Maar ‘n prentjie van hoe ons gemeente werklik in sy oë lyk. ‘n Prentjie van die dinge in Bospoort gemeenskap, in Suid-Afrika, in Afrika en in die wêreld wat Hom onstel, en waaraan ons moet aandag gee.
Ja liewe vriende, daar in Jesaja 30 vers 15 sê die Here aan die volk: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Ook op ‘n oggend soos vanoggend beteken omkeer om te luister. Beteken bekering om oplettend te wees vir die padpredikante in ons lewe. Die rigtingwysers wat aan ons wys waar ons te ver gegaan het.
Want die Here wil ook vir ons ‘n prentjie gee van wat Bospoort werklik kan wees. Ja, deur die koms van die Verlosser, van die Vredekind, het Hy aan die wêreld kom wys dat Hy waarlik omgee. En so wil Hy vanoggend ook vir ons ‘n prentjie teken van ‘n wêreld waar liefde en trou mekaar ontmoet, waar geregtigheid en vrede mekaar sal omhels, en waar die Here vir ons ‘n geestelike en materiële oes skenk.
Miskien verstaan jy nie vanoggend hoe dit nou is dat liefde en trou mekaar nie in elk geval ontmoet nie, en dat geregtighieid en vrede mekaar nie in elk geval omhels nie… Ek sien dit in linker en regterbrein terme. Hulle sê dat mense wat linkerbrein georienteerd is, baie sin het vir getrouheid, en geregtigheid. Hulle sê aan die ander kant dat regterbrein mense meer liefdevol is, en dat hulle dikwels eerder ‘n rusie sal vermy om vrede te kan handhaaf.
Toe die Here Jesus aarde toe gekom het, het Hy vir ons kom wys dat ons nie noodwendig die een ten koste van die ander hoef te beoefen nie. Nee, Hy het vir ons kom wys hoe ‘n mens liefdevol en getrou kan wees, getrou tot die dood. Hy het vir ons kom wys hoe ‘n mens vrede kan bring, sonder dat ‘n mens die geregtigheid moet laat vaar.
Ja, liewe vriende, mag Kersfees 2009 vir jou ‘n tyd wees waarin jy waarlik God se “wake-up” call beleef, waarin jy werklik ook liefde en getrouheid in jou lewe laat ontmoet, waarin jy werklik ook in jou lewe, en in jou werksomstandigheide bymekaar uitbring.
Ja, liewe vriende, die Here wil ook hier in Bospoort sy geregtigheid laar floreer, en toesien hoe Bospoort gemeente besig is om die pad voor te berei vir die koms van die kind op die krip, maar ook vir die koms van die koning op die wolke.
AMEN.

Sunday, December 6, 2009

Rom 6:1-14 Waarlik skoongewas!

Liedere en voorsang vir doopsondag 6 Desember.

Voorsang:

FLAM 107 Borrelliedjie
Ek is ‘n huis
God hou van kindertjies
Liedboek 349 Kom kinders besing met ‘n vrolike stem
Koning van my hart

Lofsang:
Lied 357:1-3 ‘n Kindjie is gebore, in Betlehem se stal.

Na Wet:
Lied 538:1-3: Heer Jesus U was self ‘n kind.

By inbring van die kinders: Jesus roep die kindertjies
Lied 294:1

Na die doop:
Lied 294:2-3

Slotsang:
Lied 290:1-4 Dit is my troos dat ek gedoop is.

Boodskap:

My ma hulle vertel my dat ek kleintyd ‘n kombersie gehad het, wat ek orals met my saamgedra het. Ek het hierdie kombersie tot in die wasmasjien gevolg, en wanneer die wasmasjien aan was, het ek voor die wasmasjien gaan sit, en kyk hoe die kombersie om en om in die wasmasjien draai, totdat dit klaar gewas en gedroog was, en dan het ek weer die kombersie met my saamgesleep.

Ek is seker dat elkeen van ons ‘n kledingstuk het waarvan ons baie hou, en wat ons graag met ons saamdra. Maar dit is nie altyd goed nie. Later word hierdie kledingstuk verweer en vol gate, maar omdat dit so lekker dra, gooi ons dit moeilik weg. Ek onthou altyd hoe my pa altyd na die ou klere verkopings toe gehaas het daar in Potchefstroom, en eers van die ou klere wat my ma weggegooi het weer gaan haal het. Want daar was veral so ‘n rooi trui, wat al vol gate en gehawend was, maar wat hy baie graag gedra het.

Maar weet julle liewe vriende, dat die sonde dit dikwels regkry om so ‘n houvas op ons lewens te kry. Al weet ons dat dit nie goed aan ons lyk nie, sukkel ons om dit te los, en bly ons die sonde aantrek. Al sou iemand vir ons sê dat dit nie mooi lyk nie, dan gaan ons voort om dit te dra. Die ou mense het byvoorbeeld gesê dat iemand wat jaloers is die geel baadjie aantrek. Al weet ons dit is verkeerd, hou ons graag aan die jaloesie in ons lewe vas.

So lees ons in Genesis 4:7 dat die Here vir Kain herhaaldelik gewaarsku het oor sy geel baadjie, oor sy jaloesie. Die Here het vir Kain gesê: “As jy weier om reg te doen, moet jy oppas, Sonde sit reg by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.” En Kain het hom toe nie aan die Here gesteur nie! Hy het jaloers gebly, en selfs sy broer Kain doodgeslaan! Ons trek baie moeilik die lelike of die vuil klere in ons lewe uit, selfs al word ons gewaarsku daarteen.

Ek is seker baie van julle kinders het al agter die deur gesit om iemand onverwags skrik te maak. As ons nie die heeltyd versigtig is vir die sonde nie, gaan dit ons onverhoeds betrap, en maak dat ons dinge doen wat ons nie veronderstel is om te doen nie. Ons word met sonde gebore, en dit maak dat alle mense partykeer stout is en dinge doen wat hulle nie wil doen nie, maar doen omdat hulle slawe is van die sonde.

Weet julle kinders wat is ‘n slaaf? ‘n Slaaf is iemand wat deur iemand anders gekoop is, en aan ‘n kwaai baas behoort. Hierdie baas maak sy lewe swaar en ongelukkig. Al lyk dit miskien lekker as ‘n baas vir jou sorg en vir jou kos gee, is dit niks lekker om ‘n slaaf te wees nie. Want jy het geen vryheid nie. Jy moet net doen wat diebaas vir jou sê, en jy moet op die ou end baie hard werk vir ‘n klein beloninkie.

En weet julle wat die slegste ding van slaaf – wees is? Jou kinders is ook slawe. Ja, as jy ‘n slaaf is en aan iemand behoort, dan beteken dit dat al jou kinders nie eintlik jou eie is nie, maar aan iemand anders behoort. En so is dit ook met ons mense. Adam en Eva het daar in die paradys besluit om vir die Duiwel, vir die slag te luister, en eerder slawe van die Duiwel te wees as slawe van God. En van daardie tyd af tot vandag toe, word mense as slawe van die Duiwel gebore. Ja, alle mense doen van die begin af sonde, en behoort aan die Satan.

God het sy wet aan die mense gegee, en probeer om hulle so gehoorsaam te maak. Maar deur die Wet, deur die Tien Gebooie, het mense net slegter geword. Want as jy vir ‘n kind of ‘n slaaf sê om iets nie te doen nie, dan gaan doen hulle dikwels juis dit wat jy hulle verbied om te doen. En so, selfs nadat mense die Wet ontvang het, het hulle net slegter en slegter geword...

Maar God kon dit nie toelaat nie! Hy moes ‘n plan maak. En daarom lees ons hier in Romeine 6 dat God besluit het om sy Enigste Seun na die aarde toe te stuur. Ja, liewe vriende, Jesus het vir ons kom sterf, sodat ons nie meer slawe van die Duiwel en van die sonde hoef te wees nie. Nee, God het deur Jesus se bloed vir ons betaal, sodat ons niemeer slawe hoef te wees nie, maar God se kinders kan wees.

En omdat ons ouers God se kinders is, hoef ons nie meer slawe van die sonde te wees nie. 1 Korinthiërs 7:14 kom sê vir ons dat die kinders van ‘n gelowige ma of pa aan God toegewy is, en aan God behoort. En dit is hoekom ons vanoggend ook kinders doop. Ons sê daarmee vir God en vir mekaar dat ons en ons kinders nie meer aan die duiwel of aan onsself behoort nie, maar aan die Here.

Wie van julle kinders hou van swem? Daar is min kinders wat nie van swem hou nie. Selfs die meeste grootmense, en oupas en oumas hou daarvan om op ‘n lekker warm dag in die water te kan wees. Wat so lekker is aan swem, is dat ‘n mens sommer so skoon voel as jy ‘n slag heen en weer geswem het. Veral as jy ‘n slag geduik het, dan voel jy sommer heeltemal skoon en vars.

En dit is dieselfde gevoel wat ons ook in ons geestelike lewens moet hê wanneer ons gedoop word. Want die doop is nie net ‘n teken dat ons liggame aan die buitekant skoon gewas is nie, maar veral dat ons gewete ook skoon is voor God. Mense vertel dat mense wat verkrag is, dikwels daarna herhaaldelik bad of stort om net skoner te voel. Sommige mense beweer selfs dat dit help om te gaan stort as jy verkeerd gedoen het, sodat dit jou sal help om nie Aids of Vigs te kry nie...


Maar eintlik help dit nie regtig nie. Want dit maak ons net aan die buitekant skoon. Dit kan nie wegwas wat binne in ons lewens aangaan nie. Dit kan nie die seer of die skuldige gevoel binne in ons lewens, binne in ons harte en gedagtes wegneem nie.

En tog, liewe vriende, kom sê die Bybel vir ons dat hierdie druppels water wat van ‘n kind se hoof afdrup, baie meer beteken as die beste bad of die skoonste stort. Want daarmee kom sê ons vir mekaar dat ons die Here vra om ons hele liggaam in besit te neem. Om ons volledig te was, en ons en ons kinders as sy kinders, sy slawe aan te neem.

Daarom kom sê Johannes al dat Jesus nie net met water doop nie, maar met die Heilige Gees en met vuur. Die doop wat ons kinders hier ontvang, was nie net hulle hofies nie, maar hulle hele lewens. Al is dit net op hulle koppies sigbaar, is dit ‘n teken dat die Heilige Gees in hulle lewe heers, en dat God deur die vuur van sy teenwoordigheid in ons lewe ons harte heeltemal wil reinig. En daarom staan daar in Hebreërs 10:22: “Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”

Die doop word ook hier met ‘n begrafnis vergelyk. Net soos die vuil badwater weggespoel word wanneer ‘n kind in die modder gespeel het, so wil die Here ook die sonde in ons lewe laat wegvloei, en ons silwerskoon vir hom was. Hy wil vir ons kom sê dat die sonde en die Duiwelse dinge in ons lewe begrawe is, en dat ons nou vir Hom kan leef. Daarom sê Paulus in vers 6: Ons weet dat ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons gebreek kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.

En weet julle liewe gemeente, wat so wonderlik aan hierdie doop, aan hierdie begrafnis is, is dat dit net een keer plaasvind. Ons lees in vers 9 en 10 van Romeine 6:9-10 dat Christus nooit weer sal sterf nie, en dat die sonde geen mag het oor Hom nie. Dat hy eens en vir altyd vir die sonde gesterf het, en vir God leef. Ons vergeet dit so dikwels. Ons wil dikwels so graag weer gedoop word, net weer nuwe ervarings beleef wat ons verhouding met God sal vernuwe.

Alhoewel ek glo dat ons elke dag ons lewe opnuut aan God moet wy, beteken dit nie dat God nodig het om elke keer opnuut vir ons sy liefde te bewys deur die doop nie. Al is dit so dat sy liefde elke oggend nuut is (Klaagliedere 3:23), is sy belofte om ons pa te wees vir altyd. Hy is getrou, en sal nie sy kinders vergeet nie.

Ek sluit af... Hoe lyk jou lewe vanoggend? Voel jy vanoggend net weer dat jy die vuil badwater eenkant moet uitgooi? Dat jy net weer die sonde in jou lewe moet begrawe? Die Here kom herhinner jou net weer dat dit wat Hy vir jou in jou doop belowe het, vir altyd bly staan, en dat hy dit nooit van jou af sal wegneem nie. Dat sy beloftes vir ewig hou.

Mag jy weet dat Hy vir jou ook wil kom herhinner dat Hy ons silwerskoon gewas het, en silwerskoon wil hou. Dat ons net weer die vuil baadjie sal uittrek, en onder sy genade sal lewe. Dat ons Jesus se juk op ons sal neem, en Hom sal voluit dien as sy kinders!
AMEN!

Saturday, November 21, 2009

Romeine 8:1-8 Heeltemal vry!

Preek gelewer op Sondag 8 November 2009

Voorsang:
Daarom
My Here, My Redder (Shout to the Lord)
Die heel beste rede.
Gryp na die Ewige Lewe.
Laat almal weet

Lofsang:
Aan God al die Eer

Na Wet: Ek weet verseker

By voorbereiding van die tafel:
Eet die Brood, drink die wyn.

Slotsang:
Ek wat vergifnis Heer, ontvang het.


Boodskap:
Noudat ek weer ‘n bietjie studeer daar op die PUK, dink ek gereeld terug aan my studentedae. Die ouens met motors was baie gelukkig. En nog meer gelukkig as motor enigsins gery het. Een van my vriende se motor se paneelmeters was stukkend. Al wat gewerk het was die afstandmeter. Hy petrol ingegooi wanneer die afstandmeter so by 300 km kom. Nodeloos om te sê hy en ons ander wat saam in die motor gery het, het baie maal sonder petrol gaan staan. Op die ou end het die motor heeltemal..in studentetaal...geseize....! Omdat die temperatuurmeter verkeerd was, kon hy nie sien toe die motor oorverhit het nie.

Maar die ware vraag is vanoggend – hoe gaan dit met die meters in jou lewe? Ek vra nie hoe dit met jou kar se meters gaan wat jy gereeld laat diens nie... Ek vra nie hoe dit met jou trekkers wat jy dalk minder gereeld diens se meters gaan nie – Nee, ek vra hoe dit met jou meters gaan vanoggend. Watter geestelike meters in jou lewe werk? En watter staan??? Jy sal seker sê: “Huh?” Wat bedoel jy nou?

Liewe vriend of vriendin, liewe jongmens, elke mens het ‘n stel meters. Elke mens het dinge waaraan hy homself meet... Waaraan hy sy selfbeeld meet... Miskien tel jy in die oggend die puisies of die beauty spots op jou gesig, en besluit hoeveel jy werd is. Dalk meet jy die omtrek van jou bo-arm, en bereken jou waarde daarvolgens... Dalk tel jy jou waarde in hierdie lewe aan jou skoolrapport, of jou bankrekening, of die vriendekring aan wie jy behoort.

Dalk sal jy vanoggend vir my sê: Nee dominee, dis nie die dinge wat vir my belangrik is nie... Ek wil my lewe meet aan hoeveel dinge ek vir die Here doen... As ek weet ek gaan elke Sondag Sondagskool toe, as ek darem af en toe die mannebiduur of die kuierhoekie bywoon, as ek tee skink of ek help met die kerk se verkopings, dan is my saak reg... En dan praat ek nie eers daarvan of ek kategeseonderwyser of ouderling of diaken of predikant is nie... Maar ek het vir julle nuus... As dit vir jou gaan oor hoeveel van hierdie dinge jy doen, dan beteken dit jy is in die “moeilikheid...!”. Want dit beteken dat jou lewenskar iewers gaan “seize”! Dit beteken dat jy iewers groot probleme gaan optel. Want jou temperatuurmeter is nie reg nie!

Wat bedoel ek? Paulus het geweet wat dit beteken om in die moeilikheid te wees. Hy het gedink al sy meters werk goed... Hy was ‘n Jood, hy was besny volgens die Joodse vereistes, hy was ‘n Joodse predikant, en het al die belangrikste wette geken. Hy het gedink hy is fanaties vir God! Hy het selfs die wat God gelaster het, vevolg! Maar toe God se lig op Paulus val, toe “seize” hy... Totaal en al... Ja, want toe die Here Jesus aan Paulus vra hoekom hy hom dan vervolg, moes Paulus besef dat hy ‘n “overall” nodig het. Dat daar iewers ‘n groot fout was. Dat sy lewe oorgedoen moes word...

Paulus was vir drie dae stokblind. Hy moes besef dat hy die hele tyd iets misgekyk het... Hy moes besef dat hy vir Jesus misgekyk het! Dat Jesus die belangrikste meter was... Paulus het al die ander dinge reg gedoen, maar hy het Jesus vervolg. En dit is hoekom sy kar geseize het... Dit is hoekom hy totaal van vooraf moes begin...

Hier staan iets snaaks in die kerk vanoggend – ek wonder wie van die kinders het dit raakgesien? Ja, dit is ‘n leer, en ‘n mens kan dit nie regtig miskyk nie... Oom James het dit nie daar vergeet soos julle gedink het nie, maar ek het dit daar gesit met ‘n doel. Want ons dink dikwels dat dit met godsdiens soos met ‘n leer gaan...

Julle weet, ek het daar op die Avontuurkamp ook op die foefieslide gery... En hierdie foto is toe ek die water getref het! Maar al het ek dit nie toe gesê nie, was dit maar moeilik om met daardie leer op te klim... Want die plafon daarbo was maar wankelrig, en die leertjie was maar dun, en ek is nou nie die ligste ou nie... Ek het amper nie tot bo geklim nie... En toe ek bo kom, toe kom ek agter dat ek op die verkeerde plek is, en toe moet ek af... Ek het toe maar besluit om met die foefieslide af gaan eerder as om weer met die leer terug ondertoe te klim.

Maar weet julle, baie mense dink aan ‘n mens se geestelike lewe as ‘n leer wat jy moet klim... En teen die einde van jou lewe, as jy bo kom, dan is jy mos in die hemel! Maar jammer vir jou as jy so gedink het... Ek hoop nie jy het al te ver boontoe geklim nie... Want dis nie hoe dit werk nie... Die Here Jesus is nie daarbo nie. God is nie daarbo nie... Die Heilige Gees is nie daar bo nie... Nee God-Drie Enig is hier tussen ons... Hy is hier onder... Ons hoef hom nie met ‘n leer te bereik nie...

Dit het die eerste mense op die aarde al daar in Babel agtergekom... Weet julle wat het hulle gedoen? Hulle het ‘n toring so hoog soos die hemel probeer bou, en gedink dat hulle by God sou uitkom, en so sterk en so magtig soos God sou wees. Maar julle weet wat gebeur met torings wat ons bou – iewers val hulle om! God het die mense se tale verwar, sodat hulle moes besef dat dit nie die manier is om by God uit te kom nie...

Ek het vir jou goeie nuus! Hy het aarde toe gekom... In die Boodskapvertaling staan daar in Romeine 8:2 ... Jesus het mens geword en saam met ons in hierdie sondaarsnes kom bly... Ja, ek sal sorg dat hierdie leer verwyder word... Want lere hoor nie in kerke nie... Kerke is vir mense wat met hulle voete stewig op die grond loop, wat besef dat ons swakke mense is, en Hy die sterke God is...

Ja... maar..., ek het ‘n probleem met my menswees. Menswees is nie altyd vir my lekker nie... Dit is vir my frustrerend... Ek voel soos Paulus wat daar in Romeine 7:21-23. Ek kom nie reg nie... As ek die goeie wil doen, is die kwaad byderhand... Ek is soos ‘n gevangene van die slegte... Ek kry nie reg om dit te los nie...

Maar weet jy, liewe vriend, dit is juis waarvoor die Here Jesus gekom het... In Romeine 8 lees ons dat die Heilige Gees ons bevry van die sonde. In The Message, ‘n vertaling van Eugene Peterson staan daar... Die wat in Christus se arms val, hoef nie meer onder ‘n donker wolk te lewe nie... Daar is ‘n nuwe krag wat werk... Die Gees van lewe in Christus, die Heilige Gees, is soos ‘n sterk wind, wat die donker wolk in ons lewe wegwaai, en die lug suiwer.

Dalk probeer jy nog teen die leer opklim... Dalk voel jy nog elke dag of jy gly, en gly en gly, en nooit daarbo sal kom nie... Jy moet besef, daar is net een manier, en dit daar is ‘n ou kinderliedjie wat dit vir ons vertel... Dit lui soos volg.

The love of Jesus is so wonderful (3*)
Oh wonderfull love...
It’s so high, you can’t get over it
So low, you can’t get under it
So wide, you cant get round of it,
YOU’VE GOT TO GO THROUGH THE DOOR!

Ja, liewe vriende, daar is net een manier... Nie met ‘n leer nie, nie met ‘n graaf nie, nie met ‘n ompad nie – net deur die Deur van die Skape, Jesus Christus.

En dis waarom ons vanoggend Nagmaal vier... Ons kom sê vir die Here Jesus dankie dat Hy vir ons gesterf het, en vir ons die deur na die Vader oopgemaak het. Jesus kom sê aan ons in Johannes 10:7 vir ons “Ek verseker julle, ek is die hek vir die skape...” en in Johannes 14:7 “Ek is die Weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader, behalwe deur my nie. Kom ons praat met Hom, kom ons gaan in... “

AMEN.

Ps. 104 Loof God vir Sy Skepping!

Preek gelewer op Sondag 8 November.

Voorsang:
Lof Medley
Liedboek 547 - Al julle volke klap julle hande.
Lied 550 Twee ogies om God’s werk te sien.
Flam 105 Hy’s die ene wat ek liefhet.
Lied 454:1-3 Vader ons eer U.
Lofsang:
Lied 184:1-4 Lofsing die Here.
Na Wet:
Liedboek 163 Soos ‘n wildsbok
Slotsang:
Lied 200:1-3 U goedheid Heer.

Daar is baie dinge in die lewe wat ons dikwels eers moet verloor voordat ons besef wat dit vir ons beteken. Miskien het jy al ‘n ma of ‘n pa of ‘n boetie of ‘n sussie in jou lewe verloor, en sal jy weet hoe mis ‘n mens so ‘n persoon wat ons as so vanselfsprekend aanvaar het.

Maar hoeveel meer sal ons God mis, as Hy die dag nie daar sou wees nie. Dit is amper soos die seuntjie wat eendag vir Jesus gebid het, en gesê het: “Liewe Jesus, Jy moet jouself asseblief mooi oppas, want as Jy nie meer daar is nie, is ons almal in ons maai in!

As ‘n mens in hierdie tyd, waar dit so lekker gereën het, om ‘n mens kyk, dan lyk dit partykeer net vir my asof ons alles so vanselfsprekend aanvaar. Ons glo die reën moet kom, en dit gaan dikwels maar net by ons verby... En tog moet ons vandag saam met die digter van Psalm 104 erken dat die Here die reën vir ons gee! Hy kom sê vir ons duidelik daar in vers 13: “Uit die hemel laat U reën op die berge, reen wat die aarde versadig.

Maar glo dit of julle wil, daar is mense wat nie glo dat daar ‘n God is nie. Daar is mense wat beweer dat die aarde deur ‘n ontploffing ontstaan het, en maar net soos ‘n opgewende horlosie besig is om te gaan staan. Een van die sterrekundiges oor “sterre en planete” het beweer dat die aarde al hoe stadiger draai, en moontlik enige tyd kan gaan staan, en dan gaan almal doodgaan, omdat die een helfte van die aarde te warm gaan word, en die ander helfte te koud.

Maar daardie sterrekundige het onlangs gesterf, en die aarde draai nog steeds. Dit is amper soos die graffiti op ‘n muur daar in Engeland – Iemand het die woorde van ‘n filosoof wat nie in God geglo het nie daarop geskryf : “God is dead” – Nietsche. Nie lank daarna nie, het iemand anders onder dit gaan skryf: “Nietsche is dead” God.

Liewe vriende, besef ons nog werklik vandag hoe wonderlik is hierdie skepping om ons? Daar in Amerika is die mense wat nie in God glo nie, baie lief om die Christene uit te daag om oor God se bestaan te redeneer en te debatteer. Daar word vertel hoe ‘n Christen op ‘n dag aan so ‘n persoon gesê het: “Die moontlikheid dat al hierdie dinge om ons uit niks sonder ‘n Skepper kan onststaan, is soos ‘n orkaan wat deur ‘n “Scrapyard” of ‘n skrootwerf waai, en daarna staan daar ‘n Boeing 747 reg om op te styg...”

In Psalm 92:5,6 staan daar: 5 Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes.
6 Wie dit nie besef nie, is ‘n dom mens, wie dit nie insien nie, is sonder verstand.
Wanneer die digter in Psalm 104 God se lof kom besing, kom loof hy in die eerste plek God as Skepper. God het die hemel, die atmosfeer daarbo soos ‘n tent gespan, en die aarde stewig op fondamente geplaas (v. 2-3). So het God die lug en die suurstof gemaak, waarsonder niemand kan lewe nie. God het die fonteine en riviere gemaak, en Hy gee reën op sy tyd (v.10-13). So gee Hy water waarsonder niemand kan lewe nie. God laat die gras groei, en kos uit die aarde voortspruit waarsonder niemand ook langer as 40 dae kan lewe nie (vs. 14,15,27).

God maak dus nie net alles nie, maar Hy sorg dat alles groei, en dat ons genoeg het om van te lewe. God sorg dat die maan op die regte tyd opkom, en ondergaan, en dat die son weer die volgende dag opkom. Hy maak al die diere, en selfs wanneer die leeus brul, is dit in ‘n sekere sin hulle gebed tot die Here vir kos!

Maar die skepping is nie meer so wonderlik soos in die begin nie. Want daar in die see, is die Leviatan, die seemonster. Ja, dit is die duiwel, die slang wat probeer om ons van God af weg te lok. Om dit wat God goed gemaak het, te verinneweer! En daarom sien ons soveel mense vandag wat nie meer vir God se Skepping omgee nie. Hulle gooi olie in die riviere, haal goud uit die grond uit, en los die aarde net so. Hulle gee nie om om die veld aan die brand te steek, en sommer baie diere dood te brand nie. Hulle roei net alle lewende dinge uit, sonder om te besef dat elke ding sy plek het.

Maar God gaan nie toelaat dat die lelike seemonster, die Leviatan, die oorhand oor ons kry nie. Daar in vers 26 staan daar dat God die Duiwel, die lelike seemonster, gemaak het om mee te speel. Nee, God kom sê juis vir ons dat Hy nog steeds in beheer is, al maak slegte mense groot bomme wat die hele aarde in ‘n paar sekondes kan vernietig. Hy is die Een wat waarlik vir ons omgee.

Ek sluit af. Elzet het nou die dag vlermuisbabatjies in die motorhuis gekry. Die eerste ding wat mens met ‘n vlermuis wil doen, is om hom dood te maak. Maar het julle geweet hoeveel skadelike insekte ‘n vlermuis vang. Hulle sê dat ‘n vlermuis tot sovee as ‘n duisend goggas in een minuut van en opeet, en dat al ons probleme met muskiete en ander goggas is omdat ons die vlermuise so uitroei.

Kom ons kyk dus opnuut na die skepping om ons as ons hier uitstap... Kom ons onthou watter wonderlike skepping God vir ons gemaak het. Kom ons pas dit werklik op... Kom ons loof Hom as die Almagtige, sonder wie niks kan voortbestaan nie.

AMEN.

Monday, September 7, 2009

Aan die brand vir Jesus!

2 Tim 1:6,7
Preek gelewer te Bospoort op Sondag 6 September.

Voorsang:

Daarom Flam 6
Borreliedjie
Sendinglied
Ek soek U o God my God

Erediens:
Liedboek 18:1,5,7,8
Na Wet: Heer Jesus, my Redder.
Slotsang: Laat Heer U vrede deur my vloei.

Boodskap:


Een van die groot siektes van ons tyd is uitbranding... Uitbranding is eintlik presies wat dit sê: Dit is wanneer al die petrol op is, wanneer daar nie meer hout is om die vuur te stook nie, en net die hopie as oorbly. Wanneer ons sê dat iemand uitgebrand is, dan beteken dit dat hy net nie meer vuur in hom of haar het nie. Dat hy vir niks lus is nie, en niks nuuts wil aanpak nie. Dat hy altyd moeg en moedeloos is.

Uitgebrande mense is dikwels kort van draad. Hulle is gefrustreerd en verloor maklik hulle humeur. Baie sulke mense word skielik sieklik en ongesteld. Uitgebrande mense is ook nie lus vir ander mense nie. Hulle verkies dikwels om aleen te wees. Hulle ontwikkel dikwels ook ‘n ongegronde vrees vir die toekoms. Hulle begin selfs twyfel aan hulle geloof. Heelwat mense wat uitgebrand is, het dikwels selfmoordgedagtes, aangesien hulle nie eers meer krag of die hoop het om verder te lewe nie.

Met wie gebeur uitbranding? Alhoewel ons dikwels dink dat uitbranding met lustelose en lui mense gebeur, is juis die teenoorgestelde waar. Uitbranding gebeur juis met mense wat vuur in hulle het, wat op die voorpunt is, wat altyd besig en bedrywig is. Uitbranding gebeur juis met mense wat altyd bereid is om nog te doen, om te help en nog meer hooi op hulle vurk te laai. Dit is daarom juis daardie vure wat die hoogste brand, wat die meeste hout op het, wat die maklikste uitbrand, omdat die hout opraak.

Maar uitbranding gebeur ook dikwels wanneer ons geweldige spanninge op ons het. Wanneer daar groot krissise in ons lewens kom wat te veel vir ons word. Wanneer ons ‘n kind het wat aanmekaar siek is, of wanneer ons met ‘n siekte soos kanker worstel, of wanneer iemand in ons familie dood is, of wanneer ons groot finansiële druk ervaar, of bankrotskap in die gesig staar, dan vat hierdie dinge soveel energie van ons, dat ons maklik kan uitbrand.

Niemand is gevrywaar van uitbranding nie... Niemand kan sê dat dit nie sommer met hom sal gebeur nie. In die Bybel vind ons baie voorbeelde van mense wat uitgebrand is... In Exodus 18 lees ons dat selfs iemand soos Moses uitgebrand is omdat hy te veel mense moes sien. In 1 Konings 17 is daar die bekende voorbeeld van Elia wat onder die besembos gaan lê en as’t ware vir die Here vra om sy lewe te neem. In baie van die Psalms sien ons dat die groot koning Dawid aan uitbranding gely het, veral in ‘n Ps. soos Ps. 6 en Ps. 140. In Klaagliedere 3 lees ons van Jeremia se uitbranding, en so kan ons voortgaan...

En hier in ons teksgedeelte van vanoggend, lees ons dat selfs die jong, energieke dominee Timotheus uitgebrand is... Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief aan hom stuur en om hom te motiveer... In 1 Tim 5:23 sien ons al dat Timotheus aan herhaalde ongesteldhede gely het, en dat hy waarskynlik maagprobleme as gevolg van spanning gehad het. Hy was sieklik. En so sien ons in die gedeelte van ons boodskap vanoggend hoe Paulus hom aanmoedig om die genadegawe wat God hom gegee het, toe Paulus hom die hande opgelê het, weer soos ‘n vuur aan te blaas.

As jy dalk vanoggend voel of jy uitgebrand is, of alles net te veel vir jou raak, is jy verseker nie alleen nie... Dan kan jy weet dat daar heel waarskynlik ‘n hele paar ander in die gemeente is wat vanoggend so voel. Dan kan jy verseker weet dat jy ook vanoggend op die regte plek is. Want ek glo dat die Here ook spesiaal ‘n rede het hoekom jy vanoggend hier moet sit.

Maar ook as jy nie uitgebrand is nie, ook as jy vanoggend energiek, fris, gesond en voorspoedig is, glo ek dat die Here met jou ook wil praat. Want ek wed jou dat jy ten minste ‘n paar uitgebrande mense om jou kan erken, en dat jy dikwels wonder wat jy kan doen om hulle net weer op te beur, en uit die put van uitbranding en lewensmoegheid te kan trek.

Maar wat kom sê Paulus aan Timotheus in sy hopelose situasie? Wanneer die Gees vir Paulus inspireer om met dominee Timotheus te kom praat, begin hy om Timotheus aan wie hy is, en hoe die Here hom in die verlede gedra het. Hy kom sê aan hom in vers 5 dat hy moet onthou dat sy ouma Lois en sy ma Eunice in die Here geglo het, en dat die Here hulle elke dag gedra het. Dat niks hierdie vlammetjie van geloof wat in hom brand, sal kan uitdoof nie...

In die tweede plek moes Timotheus onthou dat sy verkondiging van die evangelie nie net ‘n tydelike opdrag was nie... Die Here het aan hom ‘n genadegawe gegee, en Paulus het hom die hande opgelê om dit in sy lewe te bevestig. Al voel ons nie dikwels so nie, bly God se genadegawes in ons, en ons moet dit net weer aanwakker en aanblaas. Ons moet weet dat die vuur wat een so entoesiasties in ons lewe gebrand het, weer kan vlamvat en die Here kan verheerlik en grootmaak...

Paulus kom herhinner ook vir Timotheus dat die Gees van God in hom woon. Die Heilige Gees wat in ‘n mens woon, maak ‘n mens nie bang en lafhartig nie, maar dit gee ‘n mens krag, liefde en selfbeheersing. Timotheus moenie toelaat dat vrees, bekommernis en lafhartigheid die oorhand oor hom kry nie, want dit kom nie van die Here af nie. Nee, die Here het juis die Heilige Gees aan hom gegee, wat krag en liefde en selfbeheersing gee.

Liewe vriende, dit is darem wonderlik. God weet presies wat uitgebrande mense nodig het... Hy weet dat ons krag en energie nodig het om ons taak vir Hom voluit te doen. Hy weet ook dat ons in tye van uitbranding dikwels net aan onsself dink, en vergeet om God en ander lief te hê. Maar nog meer, dat ons vergeet hoe lief God ons het, en dat daar mense om ons is wat ons werklik liefhet en waardeer... Timotheus moet juis in hierdie stadium homself nie onttrek nie, maar tussen mense wees wat hom kan opbeur.

Maar die Heilige Gees kom gee saam met die pakkie van krag en liefde ook vir Timotheus nog ‘n derde baie belangrike ding. Dit is die vrug van selfbeheersing. Ek weet dat ouers dikwels bid vir genade en nie vir krag nie, want hulle is bang hulle slaan hulle kinders dood... Net so het dit al met groot predikers gebeur dat hulle baie krag en liefde het, maar dat ‘n gebrek aan selfbeheersing hulle bediening gekos het.

Ja, Paulus kom sê vir Timotheus dat ‘n gelowige kind van die Here wat Hom wil dien, ook selfbeheersing en dissipline aan die dag moet kan lê, sodat hy nie te veel van homself dink, en uiteindelik sonde doen en tot ‘n val kom nie. Wanneer kernkrag reg gebruik word, kan dit vir die wêreld van elektrisiteit voorsien, maar as dit verkeerd gebruik word, kan dit die wêreld met die druk van ‘n paar knoppies vernietig.

Maar Paulus gaan ook verder in vers 8. Hy herhinner Timotheus daaraan dat ‘n mens uitgebrand kan word, omdat jy so maklik in “ek sal self” denke verval. Ons vergeet dat ons krag van God af kom, en wil dan berge versit. Maar uiteindelik moet ons onthou dat dit alles van die Here af kom. Dat ons sonder Hom niks kan doen nie.

As jy dink dat jy ‘n opdraende paadjie in die lewe moet stap, moet jy onthou dat Paulus en Timotheus in hulle tyd dit nog baie moeliker gehad het. En tog het die Here aan hulle die krag en genade gegee om hierdie pad tot Sy eer te kon stap, en te kon klaarmaak. Onthou dus altyd dat jou krag van God kom, en as jy nie tyd en energie spandeer om jou tenk by Hom vol te maak nie, dat die ontberings en probleme op jou pad jou brandstof vinnig gaan opgebruik, en dat jy gaan uitbrand.

Die Here kom herhinner jou vanoggend weer aan hoeveel jy aan jou kant het. Die meeste van ons het voorouers wat die Here gedien het, en ons van Hom geleer het. Ons het elkeen ‘n gawe van God ontvang wat Hy wil hê ons moet tot sy eer gebruik. Ons het sy Gees ontvang wat ons nie lafhartig maak nie, maar ons vul met krag, liefde en selfbeheersing. En bo alles hoef ons nie op ons eie krag staat te maak nie, maar kan ons vashou aan God se genade. Kan ons saam met Paulus self vashou aan Jesus se woorde in 2 Kor. 12:10: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”

Julle ken almal die verhaal van hasie en skilpad. Hoe die hasie so selfversekerd weggespring het, en homself moeg gehardloop het, en onder ‘n boom gaan lê en slaap het. En hoe die skilpad treetjie vir treetjie voortgesukkel het, en uiteindelik die hasie verbygegaan het en gewen het. Die Bybel leer vir ons in Prediker 9:11 dat dit nie die vinnigstes is wat die resies wen nie, maar dat alles deur tyd en geleentheid bepaal word.

Kom ons onthou dat dit nie help om onsself uit te brand nie. Al sukkel jy soos die skilpad met moeite deur jou moeilike omstandighede voort, sal die Here vir jou die krag, liefde en selfbeheersing gee om die wedloop te voltooi.

AMEN!

Friday, August 28, 2009

Website Adress

Please note that my website adress is the following: http://sites.google.com/site/johannesmwessels/

Johannes 3:16 Jesus het gekom om vry te maak!

Johannes 3:16 is seker met die uitsondering van Ps. 23 die bekendste teks in die Bybel. Ons het dit nounet gelees, maar is daar een van die kinders wat dit vir ons kan opsê? Laat ek so ‘n bietjie hoor. Dit is vir my ook so ‘n belangrike gedeelte in die Bybel date k dit tot in Setswana uit my kop uit ken…
Gonne Modimo o ratile lefatshe mo go kalo, mo o bileng wa re neela Morwa-ona yo o tsetsweng mo go esi, gore mongwe le mongwe o dumelang mo go ene a se ke a latlhega, mme a nne le bophelo yo bo sa khutleng...

Maar weet julle, liewe vriende, hierdie teks is seker ook vandag die mees omstrede teks in die Bybel. Ja, wanneer ons kyk wat teoloë en professors dikwels in die koerante skryf, dat word amper elke stukkie van hierdie teks vandag bevraagteken… Hoekom sê ek so?

Kom ons gaan kyk ‘n bietjie na die vier dinge wat Johannes 3:16 vir ons sê:
1. God het die wêreld liefgehad, en Hy het dit nog steeds lief.
2. God het sy enigste Seun aan ons gegee.
3. As jy nie glo nie, gaan jy verlore.
4. As jy glo, ontvang jy die lewe.

Ja, liewe vriende, dit is juis hierdie 4 waarhede wat soveel mense vandag bevraagteken... Daar word gesê dat God nie die wêreld liefhet nie. Baie mense sê dat ‘n God wat die Tsoenami, Twin Towers en die geweld en oorloë toelaat nie die wêreld liefhet nie.

Daar word ook gesê dat Jesus nie God se enigste Seun is nie. In boeke en films soos die Da Vinci Code word daar beweer dat Jesus bloot ‘n goeie mens, die buite-egtelike kind van Maria en Josef is. Ander teoloë se weer dat God so goed en barmhartig is dat hulle nie kan dink dat enigeiemand sal verlore gaan nie. En dan is daar baie ander wat sê dat daar nie so iets soos ‘n hemel of ‘n hel of ‘n Ewige Lewe bestaan nie... Dat ons maar net hier op die aarde sal bly...

Maar wat is die waarheid??? Ek het hier by my ‘n DVD van Max Lucado met die titel 3:16... En in die meegaande pamflet staan daar die volgende oor hierdie vers: If you know nothing in the Bible, start here, if you know everthing in the Bible: Return here. In Afrikaans. As jy die Bybel gladnie ken nie, moet jy hier begin... As jy die Bybel volledig ken, moet jy na hierdie versie terugkeer...

Liewe vriende, die waarheid is dat God ons liefhet. In die Nuwe Lewende Vertaling staan daar dat God die mensewêreld liefgehad het. Ons praat baie van ons kinders, en dat ons hulle kamtig sou “gemaak het”. Dis net ‘n halwe waarheid. God het almal op aarde gemaak. God is nog elke dag besig om kinders in hulle moeders se moederskote te vorm. In Ps. 139 kan Dawid ook erken: 14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

Liewe vriende, God het ons gemaak. Hy het elke klein besonderheid aan ons gevorm, jou wipneusie, jou dimpeltjie, die kuiltjie in jou nek, jou kabouteroortjies, jou kroontjie op jou kop, ja alles het God aanmekaargeweef, diep in die moederskoot. En juis daarom is hy baie lief vir ons. Oneindig lief... Toe die omstrede en bekende teoloog Karl Barth, wat baie boeke geskryf het, en baie slim was, eendag toe hy van die vliegtuig afklim gevra is wat vir hom die belangrikste waarheid in die Bybel is, het hy met die woorde van die kinderliedjie geantwoord: “Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so.”

Ja, my boetie en sussie, God het ons as sy kinders oneindig lief, en daarom, net soos ‘n ma en ‘n pa, en veral ‘n oupa en ouma wat hulle kinders bederf, gee hy graag. Hy het die paradys en al die wonderlike dinge daarin vir Adam en Eva kom gee... Hy het sy tien gebooie vir die Israeliete kom gee... Hy het die beloofde land Kanaan vir sy volk Israel kom gee... Hy het aan die Israeliete Rigters, konings en profete gegee om hullle te lei... En wat het hulle gedoen??? Hulle het dit alles in Sy gesig teruggegooi. Hy het aan ons as mense sy Enigste Seun gegee... En wat het ons gedoen... Ons het Hom gekruisig.

Ja, vriende, daar is baie mense wat vandag vra hoekom God dit of dat gee, en hoekom hy dit of dit toelaat – Maar ons moet onthou dat hy lankal in Matt. 7 belowe het dat Hy vir ons net dinge sal gee wat tot ons voordeel is: 9 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra,
10 of ‘n slang as hy vis vra? 11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

Die vraag is dus nie of God gee NG en gee nie, maar wat ons maak met dit wat Hy vir ons gee? Die vraag is nie of God uit sy goedheid soveel dinge aan ons skenk nie, maar of ons ooit tevrede is met wat Hy aan ons skenk nie?

Die derde deel van Johannes 3:16 leer aan ons dat Jesus gekom het sodat “Die wat in hom glo nie verlore sal gaan nie.” Liewe vriende, al vertel baie mense aan jou dat God so groot en goed is dat Hy uiteindelik sal besluit om alles en almal te vergewe, moet julle weet dat dit ‘n leuen van die Satan is. Die Bybel kom sê duidelik vir ons in Numeri 14:18: Nu 14:18 ‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’


Ons moet weet dat ons die Here nodig het, dat sondes en die rekords daarvan nie sommer maar net sal wegraak, soos dikwels vandag in ons land se howe gebeur nie. Nee, vriende, God het ons straf op Jesus Christus kom laai... En as ons dit nie glo nie, is ons soos klaar veroordeel soos Johannes 3 vers 18 sê: “ Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.” As ons nie God se laaste, finale, allesoortreffende gawe aanvaar nie, dan gaan ons geoordeel word vir ons sondes.

En dan kom ons by die vierde waarheid. En hier is dit verseker ‘n geval van die laaste maar nie die minste nie... Jesus het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om hulle die Ewige Lewe te gee. En hierdie, liewe vriende, is een van die redes hoekom ek vas glo dat die kerk van alle eeue maar weer na Joh. 3:17 ook moet terugkeer. So ‘n paar jaar terug, tydens ‘n vorige Sokkerwêreldbeker, het die TV tydens die eindwedstryd wat miljoene mense dopgehou het, geval op ‘n ou wat ‘n plakaat opgehou het met Joh. 3:17 daarop geskryf...

Ja, liewe vriende, deur die eeue het die kerk dikwels die maklike uitweg gevat... Ons glo wat ons glo en ons veroordeel baie gou dit wat nie strook met wat ons glo nie. So het die Rooms katolieke kerk vir Galileo Galilei tot ketter verklaar omdat hy beweer het dat die aarde om die son draai. Selfs vandag nog word die kerk dikwels gesien as ‘n veroordelende kerk wat mense wegstoot. Christus het nie gekom om te veroordeel nie, maar om te red... Christus het gekom sodat ons die Ewige lewe kan smaak...

Julle kan nou maklik sê: Dominee, dit klink nou baie mooi, maar waarvandaan dan al die sonde en swaarkry?

Ek het die teenoorgestelde van Johannes 3:16 gaan neerskryf. Dit klink so:
“Want die Slang, die duiwel, het die wêreld so gehaat,
Dat hy nie net al die pyn en lyding wat ons vandag moet ervaar veroorsaak het nie,
maar probeer seker maak dat mense nie in God glo nie en veroordeel word,
sodat hulle die dood en die hel as loon vir hulle sonde kry...”

Daar word 'n verhaal vertel van 'n seuntjie wat 'n baie mooi seilbootjie gemaak het. Na maande se moeite het hy die bootjie klaargemaak, en dit na 'n dam toe gevat om te kyk of dit sal dryf. Toe het daar skielik 'n warrelwind opgekom, en sy bootjie in die water in gewaai. Die seuntjie het weke lank na die bootjie gesoek, maar dit nooit weer gesien nie...

Totdat hy eendag by 'n pandjieswinkel verby loop, en sy bootjie op 'n rak sien. Hy hardloop baie bly in die winkel in, en vertel aan die eienaar dat dit sy bootjie is... Sy voorletters is dan nog daarop uitgekerf. Maar die eienaar vertel aan hom dat hy die bootjie by iemand anders gekoop het, en dat die seun eers die geld daarvoor moes betaal. Na maande se spaar het die seuntjie winkel toe gegaan, en die bootjie weer gekoop. Toe hy die bootjie kry, druk hy hom teen sy bors vas en sê: "Jy is nou waarlik dubbeld myne. Ek het jou gemaak en jou weer gekoop!

Net so het die Here ook met ons gemaak. Hy het ons nie alleen gemaak nie, maar nadat ons weggeloop het van Hom af, en begin sonde doen het, het Hy vir ons sy Seun gestuur, en ons so 'n tweede keer Syne gemaak!

Amen.