Thursday, April 16, 2009

Om dankie te kan sê – Psalm 147.

Preek gelewer op 16 April 2009 te Bospoort.

Om DANKIE te kan sê.

Daar word vertel van 'n man en sy vrou wat eendag na 'n pragtige antieke teekoppie in 'n winkel gekyk het. Terwyl hulle na die teekoppie kyk en dit bewonder, begin die teekoppie te praat... "Weet julle, ek was nie altyd so nie, sê die teekoppie." Ek was eers 'n ruwe bol klei. Toe neem iemand my en begin my brei, en druk, en platslaan op die tafel... Ek het geskree: "Stop, ek kry seer!", maar toe gaan dit nog erger. Ek is in die rondte gedraai tot my kop heeltemal dronk was. Weereens het ek gesê: "Stop, ek is dronk, maar toe word dit nog erger." Ek word in 'n warm oond gedruk, en ek sweet so dat ek amper dood is van die hitte. Toe word ek uitgehaal en geverf met verf wat baie sleg geruik het. Ek het sommer verstik aan die walms!

Maar dit was nog nie klaar nie! Ek word toe weer in die warm oond gedruk, en kry toe weer verskriklik warm. En uiteindelik word ek weer uitgehaal en afgekoel. Ek het eers gewonder hoekom die man my so gemartel het, maar vandag is ek hom baie dankbaar. Want omdat hy my gebrei het, het ek nie gebars nie, en omdat Hy my so warm gebak het, het ek sterk gebly, en my verf het nie afgedop nie. Dit is vir die man wie se naam onder aan die koppie geteken staan wat julle moet hande klap.

Weet, julle liewe vriende, as 'n mens oor die volk Israel dink, dan dink 'n mens dikwels net aan hulle swaarkry in die Ou Testament. Hoe hulle deur die woestyn is, baie oorloë moes deurmaak, baie droogtes moes deurstaan, en selfs dikwels in ballingskap weggevoer is.

Maar as 'n mens bietjie deur die boek Psalms blaai, dan sien 'n mens nie net klaagpsalms nie. Nee, inteendeel... Die meeste Psalms was lofpsalms teenoor God. As 'n mens na die groepie gehawende ballinge wat uit die vreemde teruggekeer het na Jerusalem en die afgebreekte tempel op die berg Sion, dan wonder 'n mens partykeer wat hulle nog het om voor dankie te sê. 'n Mens vra jouself in 'n sekere sin af... Wat is nog van hierdie mense oor na alles wat hulle deurgegaan het?

Israel was sonder wapens, sonder 'n leermag om hulle te beskerm. Hulle moes weer van voor af begin om hulle huise op te bou. Hulle het baie mense gehad wat nog letsels en wonde oorgehou het van die ballingskap, en familielede wat dood is in die oorloë. Hulle het geen politieke mag meer gehad nie. Hulle is as volkie vertrap tussen die Perse, die Babiloniërs, en die wrede Romeine. En tog, teen alle verwagting in, kry ons hier in Psalm 147 'n jubelende loflied tot eer van die Here. Wat op aarde het gemaak dat hierdie volk nog ten spyte van alles gehelp om die Here te kon prys?

Weet julle, vriende, soos die teekoppie in ons storie het Israel ook tot 'n besef gekom dat alles wat met hulle gebeur het deur die tye 'n besondere doel gehad het... Want deur dit alles het hulle begin besef dat die Here met hulle 'n besondere doel gehad het, en dat Hy besig was om van hulle 'n pronkstuk in sy Koninkryk te maak. Dat hulle nie net in die negatiewe moes vaskyk nie, maar werklik die positiewe in hulle lewe moes sien...

En so sien ons dat die digter van hierdie Psalm onophoudelik die Here se lof besing. Dat die dankbaarheid en lof vir God net onophoudelik uit sy mond uit vloei. Hy begin deur te sê dat dit hy nie soos 'n klein kindjie net dankie sê omdat sy ma gesê het dat dit goeie maniere is nie. Hy begin deur te sê dat dit goed is, en nodig is vir 'n mens om dankie te kan sê. Hy begin deur dit duidelik te stel dat 'n mens self daarby baat wanneer jy dankie sê. Dat dit lekker is om die Here net spontaan te kan loof! Dat dit 'n vreugde en genot is om sy Naam groot te maak.

Die digter kom gee 'n ellelange lys van dinge waarvoor Israel vir God kan dankie sê: Hy kom sê dankie vir die krag van die Here om die stad Jerusalem weer te herbou, en die feit dat die Here die Israeliete weer bymekaar bring. Hy kom sê dankie aan die Here dat hy mense met stukkende harte genees, en dat Hy ongeneesbare wonde in mense se lewens kom verbind, en heelmaak.

Hy kom sê ook dankie dat God in die besonder die onderdruktes ondersteun, en die goddeloses vertrap... dat God nie beïndruk word deur groot en magtige wapentuig en sterk soldate nie, maar dat Hy hom verheug in hulle wat Hom dien, en op Hom hoop. Dat God die een is wat ook die nuut geboude stad se poorte sal versterk, en die Een is wat ware vrede oor die land gee.

Hy kom sê dankie vir die wete dat 'n mens se lewe nie in die hand is van die voorspel van sterre nie, maar dat die Here die sterre elkeen gemaak het, en hulle naam ken. Hy kom sê dankie vir die wete dat die Here alles weet, en Almagtig is om enige probleem wat ons het, uit die weg te kan ruim.

Dat God ook die God is wat die natuur in sy Hand hou... Wat die hemel oordek met wolke, en reën vir die aarde verskaf. Wat die gras op die kaal berghellings laat groei, en die wilde diere en jong kraaie kos gee. Wat vir sy kinders die beste graan gee, en wat die seisoene beheer en bestuur.

En dit is oor hierdie wonderlike God waaroor ons ook vanoggend hier saam is. Ons weet dat ons in baie opsigte ervaar dat ons magteloos is. Dat ons soos die Israeliete ook maar staan en kyk wat om ons in die wêreldpolitiek, en die wêreldekonomie besig is om te gebeur. Dat ons ook voel dat onsself nie meer veel kan doen aan ons eie lot in hierdie land nie...

Maar ons staan ook vanoggend voor die Here as die een wat ook in die afgelope twee seisoene vir ons geseën het met wonderlike reëns en wonderlike oeste. As die Een wat vir ons deur swaar tye heen altyd vertroos het en gedra het. As die een wat ook vir ons vrede verskaf, en die geleentheid om Hom werklik te kan dien. As die Een wat Sy bevele aan ons bekend maak, en Sy Woord aan ons gegee het. En daarom is dit noodsaaklik dat ons die Here werklik loof, en Sy Naam kom grootmaak. Dat ons hom met lofliedere en snaarinstrumente prys, en Hom eer.

Dit is wonderlik om vanoggend hier saam te wees om vir Hom dankie te sê: Maar dit is ook nodig dat ons op die pad vorentoe ook dankbaar sal leef. Dat ons lewe 'n loflied tot Sy eer sal wees, en dat ons ons sal verdiep in sy Woord, en die riglyne wat Hy vir ons in die lewe gegee het.

Ek sluit af. Daar word vertel van die wêreldberoemde snydokter wat 'n groot ateis was. Hy het glad nie in God geglo nie. Dit gebeur toe dat hy eendag 'n man moes opereer wat in 'n fabriek in 'n groot ongeluk was. Die man se hele lyf was in twee gesny, en net sy rugwerwel het die twee stukke van sy liggaam aanmekaar gehou. Die dokter het geen hoop gehad nie, en maar vasgewerk wat hy kon.

Die persoon het wonderbaarlik reggekom, en toe die familie na die dokter toe kom om vir hom dankie te sê, was sy antwoord aan hulle: "Moenie vir my dankie sê nie, sê maar net dankie!.

Kom ons bring ook in hierdie tye die lof aan die een wie dit werklik toekom. Ons Drie-Enige God en Vader, wat ons elke dag dra en lei!

AMEN!


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 

Friday, April 10, 2009

Johannes 12:24 Om soos ‘n koringkorrel te sterf…

Skriflesing en liedere vir Paasdiens op 10 April 2009.


 

Skriflesing:

Johannes 12:23-33

Liedere:

Voorsang:

Lied 489:1-3 Waak Christen staan in die geloof.

Lied 528:1-3 Leer My U wil, Heer.

Lofsang:

Lied 391:1-6 Vervul o Heer my hart met stille wyding.

Voorbereiding van die tafel

Lied 253:1,2 U het die brood gebreek.

Slotsang:

Lied 505:1-4 Jesus, U gaan voor…


 

Iemand het eenkeer gesê dat ons lewe voor God soos 'n tappisserie lyk. Aan God se kant vertoon dit 'n pragtige beeld, maar aan die ander kant lyk dit erg deurmekaar en sonder sin. James Boice sê dat 'n kerk se preekstoel dikwels van voor af mooi lyk, maar aan die agterkant dikwels vol deurmekaar boeke, mikrofoondrade, en los oortollige goedjies is wat weggesteek word.

Maar James Boice vertel ook van 'n besondere teksvers wat hy eendag aan die agterkant van 'n preekstoel vasgeplak gesien het... Dit is 'n deel van Johannes 12:21 in die 1953 vertaling, waar die Grieke kom en aan Fillipus die dissipel van Jesus vra: "Meneer, ons wil Jesus graag sien." Hierdie teksvers het my in 'n sin ook tot stilstand gebring met die vraag – watter Jesus wys ek vir die mense? Watter deel van Jesus verkondig ek van die kansel af?

Net soos die Grieke wat destyds baie belanggestel het in wysheid (1 Kor. 1:22), is die versoeking seker groot om vandag aan mense wat al van kleins af die evangelie gehoor het, 'n geleerde Jesus te verkondig. Om mense te beïndruk met 'n klomp hoë woorde en wyse kwinkslae, maar uiteindelik niks van waarde te sê nie... Om 'n rabbi, of leermeester aan die mense voor te hou wat 'n klomp slim spreuke aan ons gegee het. 'n Rabbi wat 'n klomp ingewikkelde dinge vir ons mense kom leer het. 'n Jesus net vir baie slim mense.

Maar dan is die gevaar dat dit met ons sal gaan soos sekere ouens op universiteit... 'n Mens leer al hoe meer van al hoe minder, en dan weet jy later alles van niks... En in elk geval... Is dit wat die Grieke regtig kom soek het? Was hulle nie al keelvol vir die filosowe van hulle tyd wat hulleself die heeltyd met allerhande slimmighede en breingimnastiek besig gehou het, sonder om daadwerklik 'n verskil te maak aan die wêreld nie.

Daar word vertel van 'n kind in Nederland (daar dra die dominees nog so 'n wit beffie) vir sy ma gevra het – "Ma, hoekom dra die dominee dan 'n borstlap?" Dis omdat hy so met woorde mors, my kind, was haar antwoord. Wanneer Filippus en Andreas dan hierdie versoek aan Jesus oordra, mors Hy nie met woorde nie. Hy kom reguit tot die punt. Kom ons luister daarna in Johannes 12:23-33:


 

Skriflesing: Johannes 12:23-33

Daar word vertel van die slaaf daar in die Ou dae van die Kaapse kompanjie by 'n hotel of 'n herberg gewerk het. Hierdie slaaf kon geen Engels verstaan nie. Eendag kom daar 'n Engelse Lord slaap, wat die volgende oggend vroeg weer moes vertrek. Hy het aan die eienaar van die hotel gevra om hom baie vroeg wakker te maak. Die eienaar reel toe met die slaaf om dit te doen, en hy leer hom die volgende woorde soos 'n pappegaai... "My Lord, it is your servant, I have come to wake you up."

Die slaaf het die woorde oor en oor geleer, en het gedink dat hy dit goed genoeg ken. Maar toe hy die oggend aan die deur klop om die belangrike man wakker te maak, raak hy deurmekaar, en sê: "My servant, it is the Lord, I have come to wake you up."

Ons kan lekker lag vir hierdie slaaf, maar ek glo dat iets van wat met hierdie slaaf gebeur het, ook met die kerk van vandag begin gebeur het. Ons verstaan nog steeds nie die dienskneg-boodskap van Jesus Christus nie, en ons maak geweldig baie van gesag en van baas-wees in die kerk. Ons wil graag die verheerlikte Jesus, die Koning aan Gods regterhand ontmoet, sonder om werklik te besef wat Jesus aan die kruis vir ons kom doen het.

Ons het van kleins af grootgeword met die begrip – eers die pap en dan die poeding, maar nooit regtig besef dat dit ook die pad is wat elke gelowige in sy lewe moet stap nie... Want dit is die antwoord wat die Here Jesus aan die Grieke gee... en ook vandag aan elkeen van ons op Goeie Vrydag kom gee...

Ja, liewe vriende, hier in Johannes 12 kom wys Jesus aan die Grieke van sy tyd, en ook aan ons, dat die Koninkryk van die Hemel gaan oor self-opoffering. Dit gaan nie oor gulsigheid en gierigheid nie, maar oor selfdissipline. Dit gaan nie oor 'n kortpad om vinnig ryk te word nie, maar oor die werklike waardevolle dinge in die lewe wat ons alleen kan kry wanneer ons bereid is om onsself te gee.

Jesus kom gebruik die beeld van 'n koringkorrel, en ek glo elkeen van julle ken die vergelyking baie goed. As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, sal dit net een bly, maar as dit geplant word en ontkiem, sal daar 'n koringaar opkom wat baie koringkorrels sal dra. Alleen as 'n koringkorrel, of 'n mieliepit, of 'n sonneblomsaadjie in die grond val en sterf, kan dit homself vermenigvuldig en 'n groot oes inbring.

Liewe vriende, Christus het gekom om 'n kruis te dra, nie 'n kroon nie. Hy het nie gekom om 'n lewe van eer, gemak, en uitnemendheid te lewe nie, maar om 'n veragtelike en 'n oneerbare dood te sterf. God se koninkryk begin met 'n kruisiging, nie met 'n kroning nie. Die wonder van God se Koninkryk lê nie daarin dat Jesus oorwinnings deur die swaard behaal het nie, dat Hy rykdomme van goud en silwer vergader het nie, maar in die dood van sy Koning, van Jesus Christus aan die kruis.

Jesus het soos 'n koringkorrel in die grond kom val, en gesterf, en miljoene Christene oor die wêreld is vandag die teken van die vrug wat sy sterwe gedra het. Maar êrens het iets verkeerd begin gaan... Want ons ervaar net nie meer dat die kerk groei nie. In Europa staan daar baie pragtige kerke leeg. In ons eie land word baie kerke in die middestad en op die platteland toegemaak.

Ek glo dat een van die redes daarvoor is, dat ons net die lekker deel van Godsdiens wil hê. Ons wil as't ware die lekker rosyntjies tussen die grondboontjies uitsoek. Ons wil konings wees, en mag in die kerk hê, eerder as om te ervaar wat dit beteken om werklik te sterf, en waarlik dienskneg te wees. Ons moet besef dat dit uiteindelik selfopoffering is wat die lewe die moeite werd maak. As daar nie dinge is waarvoor jy bereid is om te sterf nie, is daar niks wat die moeite werd is om voor te lewe nie.

Iewers het daar in die Teologiese Fakulteite en in ons kerk die gedagte ingesluip dat bekering vandag nie meer nodig is nie. Mense glo dat as jy in 'n Christelike huis gebore is, en God maar van kleins af dien, dat jy uiteindelik ook 'n Christen sal wees. Dit is amper soos om te glo dat as jy in 'n motorhuis gebore is, jy 'n motor word. Ek glo dat dit deel is van die rede hoekom ons so 'n groot onverskilligheid en gebrek aan kerkbywoning by mense het. Ek glo dat dit is hoekom Christene so maklik net heeltemal kerklos raak. Want ons besef nie meer dat Christenskap van ons 'n prys vra nie. Dat Jesus uitdruklik in vers 25 en 26 vir ons kom sê:

25 Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26 As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer."

Liewe Vriende, om kind van die Here Jesus te word vra 'n keuse. Dat vra dat ons nie net een met Hom sal word in Sy heerskappy op die troon nie, maar dat ons eers saam met Hom sal sterf... Dat ons eers soos koringkorrels van onsself en ons eie wêreldse belange sal afstand doen, en werklik met Hom een sal word in Sy dood.

Ons word net Christene deur Jesus se dood aan die kruis. Ons word nie Christene deur Jesus na te volg, of deur te doen wat Hy as Leermeester vir ons sê nie. Niemand kan tog nadoen wat Jesus in Matt. 5:48 vir ons leer nie: "Wees julle dan volmaak, soos my Vader in die Hemel volmaak is nie. Om die kruis te ontken, is om Christus te ontken. Om "sterk te wees", en te weier om jou sondes te bely, is om die enigste weg tot verlossing te ontken.

Jesus kom gee vir ons vanoggend weer die weg tot saligheid, tot verlossing, tot 'n ewige lewe saam met Hom in die Hemel. Daar in vers 26 kom spel Hy dit duidelik in drie stappe vir ons uit:

1. As iemand my wil dien, moet hy my volg;

2. Daar waar ek is, sal my dienaar ook wees;

3. As iemand my dien, sal die Vader hom eer.

In die eerste plek kom beklemtoon Jesus dat ons bereid moet wees om Hom te volg. Dat ons Hom nie op 'n afstand kan dien nie, maar 'n pad in gehoorsaamheid agter Hom aan sal stap. Dat ons soos 'n soldaat wat sy generaal, of 'n slaaf sy baas, of 'n leerling sy gunsteling onderwyser, of 'n skaap sy herder volg, ook vir Jesus blindelings sal volg, waar Hy ons ookal sal lei.

In die tweede plek weet ons dat ware dienaars van die Here Jesus ook graag gaan waar die Here Jesus gaan. Dat hulle graag wil wees waar Jesus is, en aan die werk wil wees waar Hy aan die werk is. Want om by Hom te wees, en te dien waar Hy dien, is die enigste plek waar enige ware kind van die Here graag sal wil wees...

Laastens weet ons dat die Ewige Lewe verseker wag vir hulle wat vir Jesus dien, en hulle lewe aan Sy voete lê. Alhoewel die weg soms swaar en steil is, lê is die Ewige Lewe in bewaring vir die wat volhou op hierdie pad... Daar word vertel van 'n klomp predikante in China, wat geweldige vervolging verduur, wat op 'n verrykingsessie of 'n "retreat" in een van die Westerse lande geneem is. Daar is aan hierdie predikante vertel hoe om die lyding wat hulle ervaar ligter te maak, en as't ware te "cope". Een van hulle het toe opgestaan en gesê: "Please do not tell us how to cope, and make it lighter. Please just tell us to stay faithfull!"

Of ons dit wil weet of nie, ons het Christenskap in 2009 goedkoop gemaak. Die kerk en sy vergaderings gaan dikwels oor soveel klein en nietige dingetjies waaroor mense seer tone het, terwyl die saailand daar buite staan en wag. Terwyl die lande ryp is vir die oes... Wanneer gaan ons besef wat dit beteken om werklik diensknegte te wees, en die Here Jesus te volg waar Hy ons ookal lei.

Ek wil afsluit... Ek het gister oor die nuus gehoor dat biskop Paul Verreyne van die Metodoste kerk 'n losprys van R 30 000 op sy hoof het, omdat hy aan 2500 Zimbabwêers skuiling in die middestad van Johannesburg verskaf. In hierdie Paastyd het die ooreenstemming met die 30 silwerstukke wat op Jesus se kop was, nogals tot die werklikheid teruggeruk. Weet ons regtig wat dit beteken om Jesus blindelings te volg – om Hom waarlik gehoorsaam te wees?

Ek glo dat ons ook vanoggend met Nagmaal weer op ons knieë voor die kruis moet kniel, en bely dat ons die boodskap van Jesus totaal misverstaan het. Dat ons niks meer as 'n klomp "base" geword het, wat nie werklikd verstaan het dat ons eintlik geroep is om diensknegte, en selfs meer, om "slawe" vir Jesus te word nie!

AMEN.


 


 


 


 


 


 


 


 

Grieke – Sir, we wish to see Jesus... Dominee, ons wil Jesus graag ontmoet.

1953 – My Heer, ons wil Jesus graag sien...


 

Die weg tot lewe is nie gulsigheid nie, maar dissipline.

Die manier om waardevolle dinge te bereik lê in self-opoffering.


 

J. C. Ryle writes:

This sentence was primarily meant to teach the wondering Greeks the true nature of Messiah's kingdom… Our Lord would have them know that He came to carry a cross, and not to wear a crown. He came not to live a life of honour, ease, and magnificence, but to die a shameful and dishonoured death. The kingdom He came to set up was to begin with a crucifixion, and not with a coronation. Its glory was to take its rise not from victories won by the sword, and from accumulated treasures of gold and silver, but from the death of its King.8


 


 


 

Die Grieke moes weet dat ware verlossing deur die dood alleen kom. Dat die dood van Jesus die vrug sou bring in so baie mense se lewens.


 

Waar die boodskap van Jesus se versoeningsdood gaan, bring dit vrugte in oorvloed. Dit is die hart van die Christelike boodskap.


 

Verskil tussen PSYGHE EN ZOE. Aardse siel en hemelse lewe.


 

Is dit nodig om 'n verandering in jou lewe te ondergaan om gered te word? Kan ons nie maar net deur "die motions" gaan nie? Ons moet ook ons aardse lewe haat... 'n Nuwe oriëntering tot Jesus vind.


 

2 Belangrike beginsels: Sterf aan jouself. – Sterf vir die sonde.


 

Vers 26: Om te volg, om te wees waar Christus is, word deur die Vader geëer

VOLG: Soldaat 'n generaal, dienskneg of slaaf sy meester, leerling sy gunsteling onderwyser, skaap 'n herder, ens.


 

WEES WAAR JESUS IS...


 

ONTVANG GOD SE EER...


 

Mik jy hoog genoeg in die lewe? Ek sou kon doen met 'n miljoen – who wants to be a millionaire?


 

Sir, we wish to see Jesus...


 

Grieke.


 


 


 

The Hour of Glory

John 12:20-26

Rev. Richard D. Phillips

First Presbyterian Church, Coral Springs/Margate, FL, April 15, 2007


 


 

Wednesday, April 8, 2009

Hou vas aan Jesus as die gekruisigde! 1 Kor 2:1-5

Preek gelewer te Bospoort op 5 April 2009

SKRIFLESING: 1 Kor 2:1-5

Daar word 'n verhaaltjie vertel van van der Merwe (Jammer vir almal van julle wat van der Merwes is, maar hierdie is darem 'n positiewe grap!) wat by sy vriend gespog het dat hy almal in die wêreld ken. Regtig het sy vriend gevra. Ja, toets my gerus, het van der Merwe geantwoord.

Van der Merwe se vriend neem hom toe na die Withuis in Amerika toe, waar president Obama woon. Van der Merwe het die Withuis binnegegaan, en toe saam met President Obama op die balkon verskyn. Sy vriend was verstom, maar neem hom toe na die President in Rusland, President Putin toe. Daar gebeur dieselfde.

Maar Van der Merwe se vriend het vir hom 'n laaste toets gehad… Hy neem hom toe na die Vatikaanstad in Rome toe, daar waar die Pous woon. Van der Merwe se vriend kon weens die sekuriteit nie naderstaan nie, maar sien toe hoe Van der Merwe met 'n man met sulke wit klere op die balkon van die Vatikaan gaan staan. Hy wil toe seker maak dat dit die pous is, en vra toe aan iemand in die skare langs hom – wie is daardie ou in die wit klere? Ek weet nie, sê die ou, maar die ou langs hom is Van der Merwe!

Weet julle liewe broers en suster, ons kan lekker lag vir hierdie grappie, maar dit verduidelik eintlik vir ons dat dit nie eenvoudig is om iemand in die lewe werklik te ken nie. Net soos mense eerder Van der Merwe as die pous ken, so is dit dikwels so dat ons die Jan Alleman, die mense naaste aan ons die beste ken, en dat ons nie werklik die groot en belangrike mense wat elke dag op die televisie verskyn, werklik ken nie.

Maar selfs die mense naaste aan ons, selfs ons eie kinders of ouers, of huweliksmaats, openbaar soms aan ons eienskappe wat ons maklik kan sê: Maar ek ken my man of my vrou nie so nie. Selfs iemand soos Steve Hofmeyer se eie ma het nou die dag in die Sarie geskryf: "Ek ken my vrou nie so nie."

Maar weet julle, liewe vriende, as dit waar is van hoe goed of hoe sleg ons lewende, sigbare en tasbare mense rondom ons ken, is die brandende vraag vanoggend: "Hoe goed ken jy vir Jesus?" Weet jy wie Hy regtig is? Ja, ja, ons weet almal Hy is die Seun van God, en hy wil in ons harte woon, maar wie is hy regtig? Kom ons hoor 'n bietjie vanoggend – Wie is Jesus regtig? Wie wil vir ons sê?

As jy vanoggend huiwerig is om 'n antwoord te gee, is jy nie alleen nie. Want selfs die slim dominees en professors worstel vandag met die vraag. Andries Cilliers het 'n boek geskryf met die naam: "Sal die regte Jesus asseblief opstaan?" 'n Boek van Francois Wessels hier in my hand se naam is: "Wie was Jesus regtig?" As 'n mens hierdie boeke lees, dan sien 'n mens dat mense dikwels verskillende sienings het oor wie Jesus is, en wie Hy op aarde was.

Party mense sien Jesus as 'n groot rabbi, 'n wyse man wat 'n klomp slim dinge op aarde kom vertel het. Jesus is vir hulle die Groot onderwyser, wat vir ons 'n klomp dinge in die Bybel wil leer, en wil hê dat ons sommer 'n klomp teksverse uit ons koppe uit moet ken. Ander sien Jesus as 'n rebel. Hulle sê dat Jesus altyd in opstand was teen alles wat die kerk gedoen het, en graag mense uitgedaag het tot twisgesprekke.

Ander sien Jesus as 'n groot filosoof, iemand wat probeer het om 'n klomp slimmighede kwyt te raak, en aan almal om hom te wys hoe slim hy is. Ander sê dat Jesus die Koning is wat wonderwerke doen en absolute mag oor die skepping gehad het. Ander sê dat Jesus maar net 'n goeie mens was, wat nie werklik deur die Heilige Gees in die maagd Maria geskep is nie, en nie werklik opgestaan het uit die dood nie... En so kan ons aangaan.

As 'n mens al hierdie dinge hoor, raak 'n mens 'n bietjie deurmekaar oor wat om werklik oor Jesus te glo. En as 'n mens 'n bietjie deurmekaar is, dan is 'n mens in goeie geselskap. Want ons lees daar in Mattheus 11:3 dat selfs Johannes die Doper daar uit die tronk uit 'n Boodskap aan Jesus gestuur met die vraag: "Is U die een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?" Selfs Johannes het nadat hy Jesus gedoop het, en gesien het hoe die Heilige Gees soos 'n duif op Jesus neerdaal, Hoe God uitdruklik uit die hemel sê "Dit is my geliefde Seun", nog steeds getwyfel oor wie Jesus werklik is.

Maar liewe vriende, dit bring ons by ons teksgedeelte vanoggend, waar die Here ook die Apostel Paulus wil gebruik om vir ons te verduidelik wie Jesus werklik is. Daar in 1 Kor 2:2 kom sê Paulus duidelik: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde." Paulus skryf aan die Korinthiërs in 'n tyd waar hulle baie verskille onder mekaar gehad het. Hy skryf aan 'n gemeente wat klieks gevorm het, en elkeen gedink het dat hulle geestelik sterker of slimmer as die ander om hulle was.

Hy kom bevestig aan hulle dat die belangrikste deel van Christus se lewe sy kruisiging en opstanding uit die dood was. Hy kom bevestig dat enige preek waardeloos sou wees, as Jesus nie vir ons gesterf het, en uit die dood opgestaan het nie. Ja, liewe vriende, tussen al die ander wonderlike dinge wat Jesus gedoen het, en nog steeds doen, tussen al die eienskappe wat Jesus het, moet die kruis op Golgota vir ons in die middel staan. Want daar het hy die Satan werklik en finaal oorwin.

1 Petrus 2:24 sê dit vir ons so duidelik: "Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees." Ja, ons kan vandag werklik weet dat ons genees is van die sonde, dat ons kan lewe in gehoorsaamheid aan God as Vader, omdat Jesus ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra het. So het hy volkome vir ons sondes betaal.

Maar ons kan ook weet dat Jesus se kruisdood 'n effek in ons lewens moet hê: Paulus kom sê in Galasiêrs 6:14: Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Ja, deur die kruis van Jesus, is daar ook 'n stuk van die liefde vir die wêreld om ons wat moet afsterf, en daarom sal moet soos die sanggroep Prophet ook in Die
Houtkruis
roem.

Maar is hierdie beeld van Jesus as die Gekruisigde nie maar net nog 'n manier om na Christus te kyk nie? Is dit nie maar nog een van die vele fassette van Jesus Christus se menswees nie? Paulus kom verseker ons in 1 Korinthiërs 2:3-5 dat dit nie maar iets is wat hy self uitgedink het nie.

Paulus bring 'n boodskap wat nie gaan oor menslike wysheid of geleerdheid nie, maar 'n eenvoudige boodskap wat weer kom bevestig dat Jesus se kruisiging die belangrikste gebeurtenis in sy lewe was. Hy kom bevestig dat hyself nie by magte is om 'n goeie kragtige boodskap aan die mense te bring nie. Hy as dominee, het in angs en huiwering, in vrees en onsekerheid na die mense toe gekom. Maar hy kon die wonderlike boodskap van Jesus se verlossing aan die kruis bring, omdat, soos vers 4 en 5 vir ons sê, die krag van die Heilige Gees, en God die Vader se krag die boodskap in ons harte vasbind en bevestig. En daarom moet ons dit ook in hierdie lydenstyd met ons hele hart glo en daaraan vashou.

Ek sluit af. 'n Persoon wat my van kleins af gefassineer het, is dr. Albert Schweizer, die dokter van Lambarene. Albert Schweizer was 'n besonder begaafde persoon. Hy was nie allen 'n baie begaafde predikant en diep geleerd in die teologie nie, maar hy was ook 'n baie goeie musikant, 'n kernfisikus, 'n mediese dokter, en 'n filosoof.

Tussen alles wat hy kon doen en bereik, het dr. Albert Sweitzer gekies om 'n dokter te word in 'n sendinghospitaal diep in 'n oerwoud in Afrika, in Lambarene. Hy het onder andere ook baie boeke geskryf, en in sy boek oor wie Jesus werklik was, sluit hy soos volg af:

"Hy kom na ons as die onbekende, sonder 'n naam, soos in die ou tyd langs die meer – soos Hy verskyn het aan hulle wat Hom nie geken het nie. Hy praat met ons in dieselfde woorde: "Volg my!" Hy roep, en aan hulle wat aan Hom gehoor gee, sal Hy Hom openbaar – ongeag daarvan of hulle dwaas of wys is. Hy openbaar Hom in die swaarkry, die konflikte en die lyding wat hulle moet deurmaak – in gemeenskap met Hom. Deur hulle eie ervaring leer hulle wie Hy werklik is.

AMEN.

Monday, March 30, 2009

Johannes 9:24-34 Geloof uit die boks uit!

Preek gelewer te Bospoort op 29 Maart 2009.

Tema: Geloof uit die boks uit!
Skriflesing: Johannes 9:24-34

Daar word vertel van die dominee wat in die hospitaal vir die siek, ou bejaarde vrou by haar bed gestaan en bid het. Hy het onder ander gebid dat sy gesond sal word. Skielik spring sy uit die bed op, hardloop met die gang af, en roep bly uit: “Ek is genees, ek is genees!” Die dominee was verdwaas, en het kopskuddend na sy kar toe uitgestap. Toe hy by sy kar kom, kyk hy na die hemel op, en sê vir God: “Moet dit asseblief nooit weer aan my doen nie!”

Baie teoloë, predikante vandag sit God ook in ‘n boks. God word beperk tot wat ons dink Hy kan doen. God word ‘n teddiebeer-God wat ons kan liefhê, en wat ons kan troos in moeilike tye, maar God se almag om wonderwerke te kan doen word bevraagteken. God word ook geteken as ‘n God wat magteloos is om groot rampe soos die Tsunami af te weer.

In ‘n sin is die kerk van vandag vasgevang in ‘n geloof dat God vêr is, en nie by magte is om te sien wat op en onder die aarde en in die donker aangaan nie. Hierdie God wat ons skep is in ‘n sin nog minder by magte om werklik in te gryp in die mens se lewens. Ons mense van vandag is eintlik vasgevang in volstruispolitiek – As ek God nie kan sien nie, kan Hy my ook nie sien nie.

Maar weet julle, liewe vriende, om God in ‘n boks te sit, is nie ‘n nuwe ding nie. Alreeds in die Bybel se tyd sien ons hoe die Fariseërs, Skrifgeleerdes ook vir Jesus in ‘n bepaalde boks gesit het. Hierdie Fariseërs en Skrifgeleerdes het ‘n paar verkeerde en verdraaide aannames gemaak:

1. Hulle het gedink dat Jesus ‘n sondaar was, wat nie van God af kom nie.
2. Hulle het gedink dat sekere dinge net nie gedoen kan word nie.
3. Hulle het gedink dat hulle sonder sonde was, en dat net die mense om hulle sonde gehad het.
4. Hulle het gedink dat God nie na sondaars luister nie.
5. Hulle het gedink dat hulle selfgemaakte wette en reëls gelyk is aan God se wette. Hulle het gedink dat God net in die tempel en in die sinagoge bly, en dat hulle kan besluit wie na God toe mag kom, en wie nie.

In die eerste plek het die Fariseers en die Skrifgeleerdes van daardie tyd klaar ‘n beslissing oor Jesus gevel, sonder om die Bybel mooi te gaan bestudeer. Sonder om Hom ‘n kans te gee om aan hulle die Ou Testament uit te lê en aan hulle te bewys dat Hy die Messias is, die Redder wat sou kom. Daarom het hulle uit die staanspoor in vers 16 besluit: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie”. Hulle het dus nie die vermoë gehad om wyer te kyk nie, maar klaar besluit dat Jesus ‘n sondaar is.

Verder het die Fariseërs ook gedink dat daar sekere dinge is wat net onmoontlik is. Die blinde man sê self aan hulle in vers 32: “Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie.” Dit is interessant dat die mense aanvanklik gedink het dat hierdie man na sy genesing maar net iemand was wat soos die blinde gelyk het (vs. 9), en die Fariseërs het selfs die ouers geroep om seker te maak dat dit hulle seun was wat genees is (vs. 19).

In die derde plek het die Fariseërs oogklappe opgehad, en was dit nie vir hulle moontlik om hulle eie sonde raak te sien nie. Hulle het graag ook die balk in ander se oë raakgesien, en kon nie na hulle luister nie. Hulle het nie net vir Jesus as ‘n sondaar uitgeskel nie, maar ook aangeneem dat hierdie man vanweë sy sonde blindgebore was. Sonder gronde sê hulle aan hom in vers 34: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”

Die Fariseërs het verder ook geglo dat God nie na sondaars se gebede luister nie. Na aanleiding van Jesaja 1:15 het hulle aangeneem dat God sy oë toemaak vir sondaaars. “15 As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.” Hulle het gerieflikerwys vergeet van al die uitnodingings wat die Here ook in die Ou Testament gerig het om hulle te bekeer, en tot Hom as die ware God te bid. Juis hieroor het Jesus ook nodig gehad om die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18:10-13 te vertel.

In die laaste plek het die Fariseërs en die Skrifgeleerdes hulle eie wette gemaak, en dit dan gelykgestel met God se wette. Hulle het maklik mense uit die sinagoge geban as hulle gedink het dat so ‘n persoon die wet oortree het. In die geval van hierdie blinde man was hulle baie meer ontsteld oor die feit dat die blinde man op die sabbatdag gesond gemaak is, as wat hulle bly was oor die feit dat wonderwerk plaasgevind het – dat ‘n blinde man weer kon sien!

Liewe vriende, ons kan maklik by onsself dink... Hierdie Fariseërs en tollenaars is darem nare mense! Hulle is net ingestel op hulle eie lewens, en laat nie regtig die Drie-Enige God in hulle godsdiens toe nie. Maar eintlik gebeur dieselfde maar in die kerk van vandag...

Is daar nie al hoe meer mense wat beweer dat Jesus net ‘n gewone sondaar was, dat hy ‘n wynsuiper was, en dat hy ‘n buite-egtelike verhouding met Maria Magdalena gehad het nie? Is daar al hoe minder en minder mense wat nog glo dat God wel wonderwerke kan doen, en dat dit help om tot God te bid nie? Kry ons nie al hoe meer hoogmoediges in die kerk wat sukkel om die balk in hulle eie oë raak te sien, maar graag praat oor die splinter in ander se oë nie?

Is dit nie so dat ons so dikwels ander se gebede in ons harte oordeel omdat ons glo dat hulle inhirent sondaars is nie. Sê ons nie maklik vir onsself en vir mekaar: “Daardie ouderling bid so mooi in die kerk, maar kyk hoe tree hy in die week op nie?” Is dit nie so dat ons dikwels ander deur ons optrede uit die kerk uitban, en ons eie reëls maak, terwyl die kerk eintlik oop deure moet hê nie?

Liewe vriende, liewe medegelowiges, ons leef in tye waarin ons uitgedaag word om uit die boks te glo... Ons moet weer vir onsself gaan vra wat geloof werklik beteken, en of ons nie uiteindelik dalk so dikwels soos die Fariseërs dink en doen nie, of ons nie uiteindelik eerder instrumente in Satan se hand is, eerder as instrumente in God se hand nie?

Maar ons moet ook hier in die lydenstyd weet dat ‘n ware keuse vir die Here Jesus ook lyding van ons gaan vra. Dat ‘n keuse vir onvoorwaardelike volgelingskap van die Here Jesus gaan beteken dat ons uitgesluit gaan voel. Dat ons gekritiseer gaan word as ons oë oopgaan en as ons voluit vir die Here Jesus lewe, en nie meer met al die mensgemaakte tradisies en wette in die kerk saamloop nie... Maar ons moet weet dat hierdie pad uiteindelik die pad is wat tot ware bevryding, en ware godsdiens kan lei. Wat kan maak dat die oogklappe van ons oë afval, en dat ons iets begin sien van wie en wat God werklik vir ons is en wil wees.

Ek wil afsluit... Almal van julle ken seker die verhaal van Pandora se boks. Dit is die verhaal van ‘n vreeslik wrede koning, met die naam Bloubaard, wat met prinses Pandora getroud was. Koning Bloubaard het ‘n boksie gehad, en hy het altyd vir Pandora laat belowe dat sy nooit die boksie sal oopmaak nie. Maar Pandora se nuuskierigheid het eendag die oorhand gekry terwyl hy weg was op ‘n reis, en sy het die boksie oopgemaak... Voor sy kon keer, het ‘n klomp duiweltjies uit die boksie uitgevlieg.

Toe sy die boksie toekry, hoor sy een klein stemmetjie wat vir haar sê: “Ek is die goeie fee, en jy het al die ander duiweltjies uitgelaat... As jy my nie ook vrylaat nie, gaan hulle doen wat hulle wil, en die wêreld sal totaal oorgegee wees aan hulle. Laat my ook vry, want dit is die enigste manier om te keer dat al die duiweltjies maak soos hulle wil.

Liewe vriende, al is Pandora se verhaal net ‘n sprokie, weet ons dat dit baie keer in die kerk waar is. Terwyl die duiwel los is daar buite, en soos ‘n brullende leeu rondloop en kyk wie hy kan verslind, hou ons mekaar in bokse opgesluit, bly ons beperkend dink en glo, en keer ons dat die Here se evangelie regtig kan vlamvat en mense se harte begin verander!

Kom ons bid vanoggend saam, en ons vra ook van die Here dat Hy ons oë op hierdie Sabbat, op hierdie Sondag so sal oopmaak dat ons waarlik tot Sy eer sal kan lewe. Dat ons waarlik sal besef dat Jesus aarde toe gekom het, en ‘n sondelose mens was om ons sondes te kom betaal. Dat ons werklik sal besef wat die Here by magte is om te doen, dat ons die sonde in ons eie lewe sal raaksien, en weet dat God na die gebed van ‘n eerlike sondaar luister. Dat ons werlik nuut oor al die randeiers in die samelewing om ons sal dink, en die kerk se deure vir hulle sal oopgooi!

AMEN!

Galasiërs 3:1-14

Preek gelewer op 22 Maart te Bospoort.

Daar word vertel van ‘n groot siekte wat op ‘n stadium onder perde in die hele Europa uitgebreek het. Baie perde is dood, en veeartse het dag en nag koppe gekrap oor hoe om hierdie siekte te kan genees. Uiteindelik vind hulle toe ‘n perd wat wel aan die siekte blootgestel is, maar nie gesterf het nie.

Hierdie perd het natuurlike teenliggaampies teen die siekte ontwikkel. Die veeartse kon deur die perd dood te maak genoeg bloed kry om die ander perde in te ent en te red. Maar die enigste problem met hierdie perd, was dat dit ‘n kampioenperd was. Dit was ‘n groot besluit om te neem… Maar uiteindelik het hulle besluit om hierdie perd dood te maak, sodat al die ander perde kon lewe. Die eienaar van die perd was bereid om die kampioenperd op te offer ter wille van al die ander perde.

Weet julle, liewe jongmense, hier in die Bybel, in Galasiërs 3, lees ons ook van ‘n tragiese siekte onder die mensdom. Dit is nie HIV/AIDS, of kanker, of malaria nie, maar wel die siekte van sonde en rebelsheid. Hierdie siekte het al voor die skepping begin, toe God se hoofengel, Lucifer, (wat beteken “Engel van lig”), besluit het dat hy nie tevrede was om net die hoofengel te wees nie. Hy wou God self wees…

En so het dit gebeur dat Lucifer in opstand gekom het teen God, en dat God die stryd gewen het. God het hom toe uit die hemel uitgegooi op die aarde. Julle kan gerus in Openbaring 12 gaan lees van hierdie geveg tussen God en Lucifer.

En van toe af maats, was niks meer dieselfde nie. Nadat God vir Adam en Eva gemaak het, het hierdie eindste Lucifer na die Paradys gegaan, en vir Adam en Eva ook vertel dat hulle net so sterk en slim soos God kan wees. Eva het ook ‘n rebel geword, en van die vrugte geëet. En so het Adam gevolg, en hulle seun Kain, en almal is deur hierdie siekte, hierdie rebelsheid teen God geraak.

God het gesien dat hierdie siekte van rebelsheid besig is om hand uit te ruk, en het besluit om Sy 10 gebooie aan sy volk te gee. Maar julle weet dat dit nie regtig gehelp het nie, want selfs Moses, wat die gebooie vir die volk gebring het, het al 10 gebooie gelyk gebreek toe hy sien hoe die volk besig is om die goue kalf te aanbid…

God het selfs gesê dat daar ‘n vloek rus op elkeen wat nie sy Wet gehoorsaam nie. Maar dit het die Israeliete nie gekeer nie. Ja, die siekte het al hoe meer versprei, en God het gesien hoe sy kinders verder en verder van hom af wegdryf. Hoe vervloeking op sy kinders al groter en groter word.

Ek wonder wie van julle weet hoe voel dit om gevloek te word. Dis nooit lekker as iemand jou vloek nie, nê? Ons sê partykeer dat iemand ‘n maatjie so gevloek het dat die see hom nie sal kan afwas nie. Dalk het iemand jou ook al so gevloek. Of nog erger. Dalk het jy al gehoor van iemand wat ‘n “spell” of ‘n slegte towerspreuk op iemand gesit het. Julle het dalk al gehoor van “voodoo” poppies waarmee iemand ‘n vloek op iemand anders se lewe kan sit.

Dit moet darem niks lekker wees om so te lewe nie, nê. So iemand is die heeltyd bang vir die slegte dinge wat met hom kan gebeur... Hy wonder wanneer hierdie vloek wat iemand op hom gesit het, gaan waar word in sy lewe...

In Galasiërs 3 lees ons dat ons eintlik onsself elke dag onder ‘n vloek plaas. Ja, elke keer wat ons rebels en ongehoorsaam is teenoor die Here, dan sit ons’n ekstra vloek op ons lewe. Dan neem ons besluite wat vir seker slegte gevolge later in ons lewens gaan hê. Al lyk dit vir ons soos pret en plesier, om ‘n verkeerde ding te doen, gaan dit vir seker slegte gevolge in ons lewens vorentoe hê.

Maar wat het God gedoen toe Hy sien dat hierdie siekte, hierdie rebelsheid besig is om handuit te ruk... Hy het ‘n klomp profete gestuur om met die mense te praat... Maar hulle wou nog steeds nie luister nie. En uiteindelik besluit Hy toe maar om Sy eie Seun, Jesus Christus na hulle toe te stuur. Ja, Jesus, wat die Seun van God was, het soos die kampioenperd gesterf, sodat ons kan lewe, en van die siekte van rebelsheid genees kan word.

Jesus het volkome mens kom word op die aarde. Hy het vir ons kom wys hoe om regtig te lééf. Hy was nie ‘n rebel nie, maar uiteindelik ‘n slaaf, ‘n ware dienskneg, wat Sy lewe vir ons kom opoffer het.

Daar in Galasiërs 3:13 staan daar: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word... Ja, liewe maats, deur Jesus se liefde hoef ons nie meer in vrees te lewe nie. Ons hoef nie meer elke dag te vrees dat die vloek van die sonde ons gaan tref nie.

Baiekeer as mense nie kan slaap nie, dan spot ander en sê: “Jy het seker êrens iemand doodgery, dat dit jou agtervolg.” Elkeen van ons het dinge wat ons agtervolg, waarvoor ons vrees as dit alles op die lappe moet kom. Ons sien al hoe meer vreeslike onthullings oor ons sporthelde se lewens in die Huisgenoot en die koerante.

Maar weet julle, liewe maats, as Jesus in jou plek kom sterf, dan kom vergewe hy alles wat jy reeds gedoen het. Hy kom neem daardie vervloekings in jou lewe van jou af weg, en maak jou vry van die las wat op jou skouers is. Hy kom gee aan ons ‘n volkome, nuwe lewe.

Weet julle, maats, ek was ook ‘n rebel. Al het ek in ‘n predikantshuis grootgeword, het ek ook partykeer my humeur sleg verloor. Ek weet nog van ‘n gat agter in die pastorie op Potchefstroom se kombuisdeur wat ek geslaan het toe ek eenkeer teen my ma in opstand gekom het. Maar die Here Jesus het aan my kom wys dat Hy ook in my plek kom sterf het, en die prys vir my kom betaal het… En daarom is ek vandag nie meer ‘n rebel nie, maar ‘n soldaat in Sy koninkryk.

Hoe lyk jou lewe vanoggend? Gaan jy ook gebuk onder ‘n klomp dinge wat jy al gedoen het, waaroor jy spyt is... waarvan jy die gevolge vrees? Die Here Jesus kom nooi jou vanoggend uit... Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is... Ek gee ware rus! Kom ons luister na hierdie lied, en ons werp ons self in Jesus se arms. Hy het mos ons juk op Hom kom neem, en wil graag vir jou ‘n nuwe sagte juk gee.

AMEN!

Skrifgedeelte: Esegiël 37:1-11 God maak die onmoontlike moontlik!

Preek gelewer op 15 Maart 2009 in Bospoort gemeente.

Voorsang:
Lied 163 (2*) Soos ‘n Wildsbok.
Lied 202:1-3 Prys Hom die Hemelvors!
Lied 203:1-3 Loof die Here al wat lewe!

Lofsang:
Lied 390:1-4 Ons kniel hier voor U voete neer…

Na Wet:
Lied 241:1-3 Troue Here van my Lewe

Slotsang:
Lied 415:1-3 Jesus leef, en ons met Hom.

Alreeds so vroeg as 1970 het Alvin Toffler ‘n opskudding in die wêreld veroorsaak met sy boek “Future Shock”. In hierdie boek praat hy van die wêreld as ‘n “disposable society”, of ‘n ”weggooibare gemeenskap.” Toffler praat in hierdie boek daarvan dat ‘n mens net in ‘n omgewing leef waarin alles gemaak word om net ‘n kort tydjie te hou, en dan daarna weggegooi te word. Hy verwys na weggooidoeke, weggooi-skeermesse, weggooi sigaretaanstekers, weggooi-tandeborsels, en so kan ‘n mens aangaan. Hy het voorspel dat die aarde later ‘n groot rommelhoop gaan word as dit so aangaan.

Toffler was nie ver verkeerd nie. Die wêreld sit vandag met ‘n vuilgoedprobleem. Daar word bereken dat die weggooidoeke wat een baba gebruik tydens sy eerste 3 jaar ‘n rugbyveld sal volmaak. Daar word ook gesê dat al ons vuilgoed bydra tot die probleem van aardverwarming. Maar hierdie “vuilgoedprobleem” is nie net op die aarde ‘n probleem nie. Ons het onlangs gehoor van 2 sateliete wat met mekaar gebots het.
Selfs net bo die aarde se atmosfeer is daar ‘n groot aantal ou sateliete en ruimterommel wat besig is om om die aarde te wentel.

Julle kan miskien vanoggend vir my vra: “Maar wat het hierdie rommelprobleem met ons te doen? Ons het mos nie ‘n probleem nie. Ons leef hier in die platteland waar spasie en ashope nie so ‘n groot probleem is nie. Ja, ons weet dat aardverwarming ons beïnvloed, maar verder raak die dinge ons nie so erg nie. Maar die eintlike probleem met ons “weggooibare gemeenskap” van vandag is die feit dat soveel mense ook op die ashoop beland. Alhoewel alles sefs vanoggend hier in die erediens normaal en mooi mag lyk, is daar selfs mense hier wat soos ashoopmense mag voel – mense wat deur ander net uitgestoot is, omdat hulle volgens ander nie bruikbaar is in die samelewing nie. Mense wat doodgegaan het aan die binnekant, omdat hulle voel dat hulle niks meer het om voor te leef nie.

En juis daarom, liewe vriende, glo ek dat Esegiël 37 weer vir ons ‘n kraakvars boodskap het vanoggend. Want ek glo dat God se bemoeienis met die hoop geraamtes in die laagte ook iets vir ons vertel van Sy bemoeienis met Bospoort gemeente, en die kerk van vandag...

Esegiël 37 kom skets die prentjie van ‘n laagte vol doodsbeendere. Daar word uitdruklik genoem dat hierdie geraamtes al jare lank in son en wind lê, en dat die geraamtes al kurkdroog is... En dan vra die Here in vers 3 die ongemaklike vraag vir Esegiël: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Esegiël het hierdie vraag baie versigtig geantwoord: Alhoewel hy nie veel hoop gehad het nie, sê hy vir die Here: “Nee, dit weet net U, Here my God!

Elkeen van ons word dikwels gekonfronteer met situasies in ons lewe waar ons wonder of ons nog verder ‘n pad met ‘n sekere persoon in ons lewe moet stap... Ons besluit dikwels dat so ‘n persoon by heelmaak verby is... Dat dit maar net beter is as ons hom of haar geheel en al van die gemeenskap afsny... Ons besluit hierdie dinge dikwels sonder om eers met God te praat... Sonder om eers werklik te gaan besin oor wat die Here se wil in so ‘n situasie is.

Richard Armstrong skryf in sy boek “Service Evangelism” dat ons dikwels net vriende word met mense om hulle te bekeer. Wanneer dit dat nie gou genoeg na ons sin gebeur nie, gooi ons hulle net weer op die ashoop, en gaan soek na ander. En so skep ons by hulle nog ‘n groter afkeer aan die kerk en gelowiges... Die ware antwoord of ‘n persoon by genesing verby is, lê uiteindelik net by die Here. Ons mag nie opgee tensy ons duidelik by die Here daardie leiding gekry het nie...

Ons is terug by God en die droë bene in die laagte. Teen ons verwagting in doen God nie net die wonderwerk van Sy kant af nie. God swaai nie net die towerstaffie vir hierdie bene om weer lewendig te word nie... Nee, liewe vriende, God beveel Esegiël om oor die bene te profeteer. Hy moet aan die bene sê: Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle:
“Hoor die woord van die Here, droë bene! 5 So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6 Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”
Ek kan al sien hoe kyk Esegiël in sy visioen rondom hom... Is daar dalk iemand wat hom sien. Hoe sal die mense nie vir hom lag as hy teenoor hierdie droë bene profeteer nie! Hoe sal die mense nie vir my lag as ek vir hierdie droë bene staan en preek nie! As ek boonop nog vir hulle sê: “Hoor die Woord van die Here, droë bene!” Wat is die kans dat hulle sal luister? Wat is die kans dat hulle gaan lewe?

Maar Esegiël gehoorsaam tog... Teen sy gesonde menslike verstand in gaan profeteer hy vir hierdie bene, en vertel aan hulle wat die Here met hulle gaan doen... Dat die Here vir hulle senings en vleis gaan aansit, hulle met vel gaan oortrek, en dan Sy gees in hulle gaan sit sodat hulle kan lewe. Dat die Here sy grootheid sal wys, sodat hulle sal kan besef wie Hy werklik is...

En dan gebeur die wonder... die bene begin een vir een na mekaar beweeg, elkeen na die deel toe wat by hom pas. Die senings en die vleis kom bymekaar, en die bene kry ‘n vel om... Maar die liggame was nog steeds leweloos... Uiteindelik beveel God Esegiël om met die Gees te praat, en die Gees te vra om lewe in die dooies te blaas! En so sien ons dat die dooie beendere in die laer ‘n menigte word... ‘n Menigte wat God prys en besef dat Hy die Here is... Dat Hy die ware Skepper en vernuwer... Dat Hy die een is wat kan opwek tot die lewe...

Maar die Here hou nie by die visioen op nie... Hierdie boodskap is vir Hom so belangrik, dat Hy die betekenis daarvan woord vir woord vir Esegiël uitspel... Hy kom verduidelik aan hom dat hierdie beendere op Israel dui, wat dood was, maar wat weer lewend gemaak sal word. Dat Israel wie se bene uitgedroog het, wat hoop verloor het, wat sê: Dit is klaar met ons!, die belofte kry dat die grafte sal oopgaan, en dat hulle sal lewe! Dat hulle hulle land sal terugkry, en dat hulle God se Gees oor hulle sal kry, en in die land sal woon. Dat hulle werklik sal besef dat God die Here is.

Die Here sluit hierdie gedeelte af met die besliste woorde: “Ek het dit gesê en ek sal dit doen!”. Liewe vriende, die Here is beslis oor dit wat Hy wil doen, en hy sal dit ook doen. Met Jesus se sterwe het die grafte in Jerusalem oopgegaan, en die Gees is oor daardie mense uitgestort na sy Hemelvaart. God het van die droë bene lewende mense gemaak! Mense wat die Here voluit loof en prys!

Maar die visioen van Esegiël is nog nie verby nie... Dis nog nie totaal uitgespeel nie... Ook vandag is daar kurkdroë beendere rondom ons... Ook vandag is daar mense wat geen hoop meer het nie... Mense wat sê: “Dit is klaar met ons!”. Mense wat los rondgestrooi lê, sonder dat hulle êrens inpas... Ja, God kom ook vanoggend na hulle toe... God kom hulle aanraak, sodat hulle ook kan getuig... God het ons lewend gemaak! Hy het sy Gees oor ons laat kom. Al gebeur dit dat ons dikwels oor die droë bene in die laagte loop, sonder om te gewaar watter menigte om ons dood lê, kom die Here ons weer herhinner aan Sy belofte. Hy wil dit doen, en Hy sal dit ook doen. Hy sal aan ons die land gee, die Ewige Lewe by God die Vader.

Ek sluit af... Daar word vertel van ‘n evangelis wat eendag by ‘n boer gaan vra het om ‘n donasie vir die sending... Die boer het na sy kamer toe gestap, en aan hom ‘n rewolwer gegee... Hy het aan Hom gesê: “Vat hierdie rewolwer en skiet almal wat tot bekering kom dadelik dood, want dit is die enigste manier waarop hulle in die hemel gaan kom... Hulle gaan na hulle bekering in elk geval weer afdwaal.

Liewe gemeente, soos ‘n Jona van ouds is ons dikwels geneig om ander om ons af te skryf. Ons glo so maklik hulle is by genesing verby. Maar ons doen dit dikwels sonder dat ons met hulle Skepper, met God oor hulle gepraat het. Ons doen dit sonder dat ons gebid het dat hulle werklik by ander bene, by ander ledemate sal kan inpas. Ons doen dit sonder dat ons gevra het dat die Here ons met senings aan mekaar bind, en werklik vleis en vel oor ons trek. Sonder dat ons vashou aan sy belofte om ons sy Gees te gee, en aan ons die Ewige Lewe te gee...

Kom ons wees ook tydens hierdie Paasfees die draers van ‘n nuwe hoop in ‘n stukende wêreld. ‘n Hoop dat die Here wel sal antwoord, en ‘n wonderwerk sal doen. Dat die Here weer splinternuwe lewe in dooie situasies sal skep...

AMEN.

Saturday, March 7, 2009

Matt. 4:1-11 - Preek gelewer op 8 Maart 2009 uit

Skriflesing: Matt 4:1-11

C.K. Chesterton het ‘n speurverhaal geskryf met die naam “die hamer van God”. In hierdie verhaal gaan dit oor ‘n skurk wat op die markplein van die dorpie dood lê, met ‘n wond op sy kop en ‘n klein hamertjie langs hom. Vader Brown moes die moord kom ondersoek. Almal het gedink dat dit die hoefsmid was wat die moord gepleeg het.

Uiteindelik word die plaaslike predikant as die moordenaar aangewys. Die skurk was die predikant se broer. Die predikant was besig om met ‘n klein hamertjie die dak van die katedraal, of die kerk reg te maak, toe hy van bo af sy broer op die markplein sien. Toe hy na sy broer van bo af kyk, het so ‘n gevoel van woede oor sy broer se sonde hom oorweldig, dat Hy hom met die klein hamertjie van bo af gegooi het, en van bo af het die hamer teen so ‘n spoed op sy broer afgepyl, dat dit hom gedood het.

Wanneer Vader Brown tot die slotsom kom dat dit die predikant is, sê hy dat kerktorings eintlik bedoel is om na God te wys, maar dat mense dit gebruik om uit die hoogte op hulle medemens neer te kyk. Ek glo dat elkeen van ons dikwels uit die kerk na ander om ons neerkyk, en dink dat ons beter as hulle is.

Waar ons vanoggend in die derde week van lydenstyd is, d.w.s die tyd waarin ons daaraan dink dat Jesus vir ons gely en gesterf het, is dit nodig dat ons ook gaan kyk na Jesus se lyding terwyl Hy op aarde was. Na die manier waarop Hy voorberei is vir sy leiding op die kruis. Anders as wat ons dikwels dink, was Jesus nie sommer ‘n perfekte volmaakte mens met sy geboorte nie...

In Hebreërs 2:9-10 sien ons hoe Jesus ook deur ‘n proses moes gaan om volmaaktheid te bereik, om op die ou end tot die stap van sy selfopoffering aan die kruis te kom... Die skrywer van Hebreërs beskryf dit as volg: “9 Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ‘n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.
10 God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie as sy kinders tot heerlikheid lei. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring.”

Net na sy doop deur Johannes, waar Jesus deur sy Vader as Seun bevestig en uitgewys is, waar Jesus die Heilige Gees ontvang het, sien ons hoe Jesus ook na die woestyn gaan vir hierdie proses van voorbereiding... Jesus word vir veertig dae getoets deur ‘n proses van vas en gebed tot sy Hemelse Vader...

En dan sien ons hoe die Satan, die duiwel, as die toppunt van hierdie versoeking vir Jesus nader op die laaste dag van sy vasperiode, toe sy wilskrag op sy swakste was. Satan het geweet op watter areas van sy lewe Jesus as mens die kwesbaarste was, en probeer juis daardeur om hom onder te kry. Hy probeer juis menslike swakpunte gebruik om Jesus oppad na die kruis te ontspoor, sodat Hy sonde kan doen, en nie meer vir ons sondes hoef te sterf nie...

In die eerste plek sien ons hier hoe Satan die menslike drang na onafhanklikheid gebruik om Jesus tot ‘n val te probeer bring. In plaas van om gehoorsaam aan sy Vader net nog ‘n paar ure met die vas te kan uithou, daag Satan Jesus uit om die klippe in brood te verander. In die plek van ‘n gesprek met sy Vader word Jesus versoek om eerder van die sigbare tasbare brood te eet. Om nie te wag dat die Vader hom voed nie, maar sy wonderwerkende krag te gebruik om vir homself brood te maak.

Die tweede menslike swakpunt wat Satan in sy versoeking van Jesus gebruik, is die versoeking om in die kalklig te wees... Satan neem Jesus na die tempel toe, en daag hom uit om van die tempel se dak af te spring. Satan gebruik selfs ‘n aanhaling uit die Bybel, en sê aan Jesus dat die engele Hom op die hande sal dra sodat Hy nie sy voet teen ‘n klip sal stamp nie. Ja, hier aan die begin van sy bediening word Jesus voor die versoeking gestel om die wonderwerke wat Hy kan doen, tot sy eie eer te gebruik. Om die kalklig te steel, in plaas daarvan om aan sy Vader al die eer te gee.

In die derde plek word plaas Satan seker die grootste versoeking voor Jesus, naamlik die versoeking van mag en oorheersing. Ja, Satan neem vir Jesus na ‘n hoë berg, en belowe aan hom die koningskap van al die koninkryke van die aarde indien Hy hom wat Satan is aanbid. Hy kom bied aan Jesus die mag en gesag oor die hele wêreld... Hy kom bied aan Jesus die status en belangrikheid van ‘n wêreldkoning, ‘n status wat nog meer is as die van Barack Obama, of die president van die Verenigde nasies organisasie.

Weet julle, liewe vriende, dat die Satan vandag nog hierdie drie versoekings met groot sukses gebruik? In die naam van finansiële onafhanklikheid verkoop mense nog daagliks hulle siele en hulle integriteit. Hoe dom dit mag klink, verkies mense eerder om vir hulleself te sorg, as om vir God te vra om vir hulle te sorg. Ek het ‘n oom geken wat reguit gesê het dat hy nie vir sy kos bid nie, want hy het mos self daarvoor gewerk!!!

Die Satan verlei nog steeds vandag se mense met ‘n soeke na die kalklig. Dit is vir ons lekker om raakgesien te word. Dit is vir ons lekker as ander vir ons hande klap. En daarom val ons maklik vir die versoeking om in kompetisie met mekaar te verval, en alles groter, beter, en aanskouliker as ons buurman te kan doen. Daarom probeer ons mekaar beïndruk met ons kennis, ons rykdom, of ons fisiese voorkoms.

Die Satan verlei vandag nog steeds mense met ‘n soeke na status en mag. Ja, liewe vriende, dit bly vir ons lekker om te voel dat ons belangriker is as hulle om ons. Dat ons om een of ander rede vir mense ‘n punt kan wys. Dat ons selfs hoog op die kerktoring oor ander om ons kan oordeel, en hamers op hulle kan afgooi...
Hier waar ons vanoggend kerkraadslede gaan bevestig en herbevestig, is dit net so belangrik dat ook elkeen in ‘n leiersposisie nie onverhoeds deur die duiwel se toertjies gevang word nie... Elkeeen in ‘n leiersposisie moet ook weet dat die duiwel hom nie gaan los nie. Die duiwel gaan ons probeer wysmaak dat ons onafhanklik en los van die Here kan lewe... Dat ons nie nodig het om ons Bybelte lees en te bid nie.

Die duiwel gaan ons probeer wysmaak dat ons die kat se snor is. Dat ons spoggeriger, meer beeldskoon, sterker en slimmer is as ons mede-aardbewoners. Hy gaan ook julle as leiers probeer verlei met die versoeking om as’t ware mense en lidmate soos marionette te hanteer, waar ons net die toutjies trek, en mense se lewens regeer en domineer.

Maar juis daarom is dit noodsaaklik dat ons vanoggend die drie antwoorde wat Jesus aan die Satan gegee het, elke dag onthou wanneer ons versoek word. Ons moet onthou dat ons nie “net van brood lewe nie, maar van elke Woord wat uit die mond van God kom.” Van die grootste miljoenêrs in die lewe is kinderlik ongelukkig omdat hulle al die brood kan koop wat hulle wil hê, maar nog steeds die Lewende Brood van God mis.

Ons moet ook onthou dat ons “God nie op proef mag stel nie.” As daar ‘n rivier vol krokodille is, kan ons nie maar vir God vra om die krokodille se bekke te sluit, omdat ons nou warm kry, en wil swem nie. Ons kan nie ons lewe op die proef stel met waaghalsige toertjies, of aan duiwelse dinge deelneem, of selfs na pornografie kyk, en verwag dat die Here ons maar net moet beskerm nie. Nee, juis as leiers moet ons verantwoordelik optree, en nie die Here op die proef stel nie.

Maar bo alles moet ons besef dat geestelike leierskap altyd totale onderdanigheid en gehoorsaamheid aan God beteken. Die Satan se aanbod aan Jesus was uiteindelik ‘n baie slegte ooreenkoms. Want al sou Jesus die koningskap oor die wêreld besit, sou dit beteken dat hy voor die Satan gekniel het. Dat hy die Satan as sy heerser en koning erken het... Dat hy sy siel aan Satan sou verkoop. Daarom kom herhinner Jesus ons weer vanoggend: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

Ek sluit af. Iemand het onlangs gesê: “Ons is baie lief om na iemand te verwys as ‘n ‘groot Christen’. Daar is nie iets soos ‘n ‘groot Christen nie. Die enigste ‘groot Christen’ is ‘n Christen wat te veel eet.” Daarvoor sal ek dalk kwalifiseer... Dwight Moody, die bekende evangelis het eendag by ‘n dronkie in die straat verbygestap en gesê: “There lie I, but for the Grace of God.”

Die kaptein van ‘n slaweskip, John Newton, wat dramaties tot bekering gekom het en bygedra het tot die afskaffing van slawehandel, het by sy sterfbed gesê: “My verstand is byna weg, maar ek onthou twee dinge: Dat ek ‘n groot sondaar is, en dat Christus ‘n groot Verlosser is!”

Kom ons elkeen erken vanoggend voor die Here dat Hy alleen Here en Koning is, en dat ons net van Hom afhanklik is. Kom ons vra aan Hom dat Hy ons werklik sal dra en lei om afhanklik, nederig, en gehoorsaam te bly in alles wat ons doen.

AMEN!