Monday, September 7, 2009
Aan die brand vir Jesus!
Preek gelewer te Bospoort op Sondag 6 September.
Voorsang:
Daarom Flam 6
Borreliedjie
Sendinglied
Ek soek U o God my God
Erediens:
Liedboek 18:1,5,7,8
Na Wet: Heer Jesus, my Redder.
Slotsang: Laat Heer U vrede deur my vloei.
Boodskap:
Een van die groot siektes van ons tyd is uitbranding... Uitbranding is eintlik presies wat dit sê: Dit is wanneer al die petrol op is, wanneer daar nie meer hout is om die vuur te stook nie, en net die hopie as oorbly. Wanneer ons sê dat iemand uitgebrand is, dan beteken dit dat hy net nie meer vuur in hom of haar het nie. Dat hy vir niks lus is nie, en niks nuuts wil aanpak nie. Dat hy altyd moeg en moedeloos is.
Uitgebrande mense is dikwels kort van draad. Hulle is gefrustreerd en verloor maklik hulle humeur. Baie sulke mense word skielik sieklik en ongesteld. Uitgebrande mense is ook nie lus vir ander mense nie. Hulle verkies dikwels om aleen te wees. Hulle ontwikkel dikwels ook ‘n ongegronde vrees vir die toekoms. Hulle begin selfs twyfel aan hulle geloof. Heelwat mense wat uitgebrand is, het dikwels selfmoordgedagtes, aangesien hulle nie eers meer krag of die hoop het om verder te lewe nie.
Met wie gebeur uitbranding? Alhoewel ons dikwels dink dat uitbranding met lustelose en lui mense gebeur, is juis die teenoorgestelde waar. Uitbranding gebeur juis met mense wat vuur in hulle het, wat op die voorpunt is, wat altyd besig en bedrywig is. Uitbranding gebeur juis met mense wat altyd bereid is om nog te doen, om te help en nog meer hooi op hulle vurk te laai. Dit is daarom juis daardie vure wat die hoogste brand, wat die meeste hout op het, wat die maklikste uitbrand, omdat die hout opraak.
Maar uitbranding gebeur ook dikwels wanneer ons geweldige spanninge op ons het. Wanneer daar groot krissise in ons lewens kom wat te veel vir ons word. Wanneer ons ‘n kind het wat aanmekaar siek is, of wanneer ons met ‘n siekte soos kanker worstel, of wanneer iemand in ons familie dood is, of wanneer ons groot finansiële druk ervaar, of bankrotskap in die gesig staar, dan vat hierdie dinge soveel energie van ons, dat ons maklik kan uitbrand.
Niemand is gevrywaar van uitbranding nie... Niemand kan sê dat dit nie sommer met hom sal gebeur nie. In die Bybel vind ons baie voorbeelde van mense wat uitgebrand is... In Exodus 18 lees ons dat selfs iemand soos Moses uitgebrand is omdat hy te veel mense moes sien. In 1 Konings 17 is daar die bekende voorbeeld van Elia wat onder die besembos gaan lê en as’t ware vir die Here vra om sy lewe te neem. In baie van die Psalms sien ons dat die groot koning Dawid aan uitbranding gely het, veral in ‘n Ps. soos Ps. 6 en Ps. 140. In Klaagliedere 3 lees ons van Jeremia se uitbranding, en so kan ons voortgaan...
En hier in ons teksgedeelte van vanoggend, lees ons dat selfs die jong, energieke dominee Timotheus uitgebrand is... Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief aan hom stuur en om hom te motiveer... In 1 Tim 5:23 sien ons al dat Timotheus aan herhaalde ongesteldhede gely het, en dat hy waarskynlik maagprobleme as gevolg van spanning gehad het. Hy was sieklik. En so sien ons in die gedeelte van ons boodskap vanoggend hoe Paulus hom aanmoedig om die genadegawe wat God hom gegee het, toe Paulus hom die hande opgelê het, weer soos ‘n vuur aan te blaas.
As jy dalk vanoggend voel of jy uitgebrand is, of alles net te veel vir jou raak, is jy verseker nie alleen nie... Dan kan jy weet dat daar heel waarskynlik ‘n hele paar ander in die gemeente is wat vanoggend so voel. Dan kan jy verseker weet dat jy ook vanoggend op die regte plek is. Want ek glo dat die Here ook spesiaal ‘n rede het hoekom jy vanoggend hier moet sit.
Maar ook as jy nie uitgebrand is nie, ook as jy vanoggend energiek, fris, gesond en voorspoedig is, glo ek dat die Here met jou ook wil praat. Want ek wed jou dat jy ten minste ‘n paar uitgebrande mense om jou kan erken, en dat jy dikwels wonder wat jy kan doen om hulle net weer op te beur, en uit die put van uitbranding en lewensmoegheid te kan trek.
Maar wat kom sê Paulus aan Timotheus in sy hopelose situasie? Wanneer die Gees vir Paulus inspireer om met dominee Timotheus te kom praat, begin hy om Timotheus aan wie hy is, en hoe die Here hom in die verlede gedra het. Hy kom sê aan hom in vers 5 dat hy moet onthou dat sy ouma Lois en sy ma Eunice in die Here geglo het, en dat die Here hulle elke dag gedra het. Dat niks hierdie vlammetjie van geloof wat in hom brand, sal kan uitdoof nie...
In die tweede plek moes Timotheus onthou dat sy verkondiging van die evangelie nie net ‘n tydelike opdrag was nie... Die Here het aan hom ‘n genadegawe gegee, en Paulus het hom die hande opgelê om dit in sy lewe te bevestig. Al voel ons nie dikwels so nie, bly God se genadegawes in ons, en ons moet dit net weer aanwakker en aanblaas. Ons moet weet dat die vuur wat een so entoesiasties in ons lewe gebrand het, weer kan vlamvat en die Here kan verheerlik en grootmaak...
Paulus kom herhinner ook vir Timotheus dat die Gees van God in hom woon. Die Heilige Gees wat in ‘n mens woon, maak ‘n mens nie bang en lafhartig nie, maar dit gee ‘n mens krag, liefde en selfbeheersing. Timotheus moenie toelaat dat vrees, bekommernis en lafhartigheid die oorhand oor hom kry nie, want dit kom nie van die Here af nie. Nee, die Here het juis die Heilige Gees aan hom gegee, wat krag en liefde en selfbeheersing gee.
Liewe vriende, dit is darem wonderlik. God weet presies wat uitgebrande mense nodig het... Hy weet dat ons krag en energie nodig het om ons taak vir Hom voluit te doen. Hy weet ook dat ons in tye van uitbranding dikwels net aan onsself dink, en vergeet om God en ander lief te hê. Maar nog meer, dat ons vergeet hoe lief God ons het, en dat daar mense om ons is wat ons werklik liefhet en waardeer... Timotheus moet juis in hierdie stadium homself nie onttrek nie, maar tussen mense wees wat hom kan opbeur.
Maar die Heilige Gees kom gee saam met die pakkie van krag en liefde ook vir Timotheus nog ‘n derde baie belangrike ding. Dit is die vrug van selfbeheersing. Ek weet dat ouers dikwels bid vir genade en nie vir krag nie, want hulle is bang hulle slaan hulle kinders dood... Net so het dit al met groot predikers gebeur dat hulle baie krag en liefde het, maar dat ‘n gebrek aan selfbeheersing hulle bediening gekos het.
Ja, Paulus kom sê vir Timotheus dat ‘n gelowige kind van die Here wat Hom wil dien, ook selfbeheersing en dissipline aan die dag moet kan lê, sodat hy nie te veel van homself dink, en uiteindelik sonde doen en tot ‘n val kom nie. Wanneer kernkrag reg gebruik word, kan dit vir die wêreld van elektrisiteit voorsien, maar as dit verkeerd gebruik word, kan dit die wêreld met die druk van ‘n paar knoppies vernietig.
Maar Paulus gaan ook verder in vers 8. Hy herhinner Timotheus daaraan dat ‘n mens uitgebrand kan word, omdat jy so maklik in “ek sal self” denke verval. Ons vergeet dat ons krag van God af kom, en wil dan berge versit. Maar uiteindelik moet ons onthou dat dit alles van die Here af kom. Dat ons sonder Hom niks kan doen nie.
As jy dink dat jy ‘n opdraende paadjie in die lewe moet stap, moet jy onthou dat Paulus en Timotheus in hulle tyd dit nog baie moeliker gehad het. En tog het die Here aan hulle die krag en genade gegee om hierdie pad tot Sy eer te kon stap, en te kon klaarmaak. Onthou dus altyd dat jou krag van God kom, en as jy nie tyd en energie spandeer om jou tenk by Hom vol te maak nie, dat die ontberings en probleme op jou pad jou brandstof vinnig gaan opgebruik, en dat jy gaan uitbrand.
Die Here kom herhinner jou vanoggend weer aan hoeveel jy aan jou kant het. Die meeste van ons het voorouers wat die Here gedien het, en ons van Hom geleer het. Ons het elkeen ‘n gawe van God ontvang wat Hy wil hê ons moet tot sy eer gebruik. Ons het sy Gees ontvang wat ons nie lafhartig maak nie, maar ons vul met krag, liefde en selfbeheersing. En bo alles hoef ons nie op ons eie krag staat te maak nie, maar kan ons vashou aan God se genade. Kan ons saam met Paulus self vashou aan Jesus se woorde in 2 Kor. 12:10: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”
Julle ken almal die verhaal van hasie en skilpad. Hoe die hasie so selfversekerd weggespring het, en homself moeg gehardloop het, en onder ‘n boom gaan lê en slaap het. En hoe die skilpad treetjie vir treetjie voortgesukkel het, en uiteindelik die hasie verbygegaan het en gewen het. Die Bybel leer vir ons in Prediker 9:11 dat dit nie die vinnigstes is wat die resies wen nie, maar dat alles deur tyd en geleentheid bepaal word.
Kom ons onthou dat dit nie help om onsself uit te brand nie. Al sukkel jy soos die skilpad met moeite deur jou moeilike omstandighede voort, sal die Here vir jou die krag, liefde en selfbeheersing gee om die wedloop te voltooi.
AMEN!
Friday, August 28, 2009
Website Adress
Johannes 3:16 Jesus het gekom om vry te maak!
Gonne Modimo o ratile lefatshe mo go kalo, mo o bileng wa re neela Morwa-ona yo o tsetsweng mo go esi, gore mongwe le mongwe o dumelang mo go ene a se ke a latlhega, mme a nne le bophelo yo bo sa khutleng...
Maar weet julle, liewe vriende, hierdie teks is seker ook vandag die mees omstrede teks in die Bybel. Ja, wanneer ons kyk wat teoloë en professors dikwels in die koerante skryf, dat word amper elke stukkie van hierdie teks vandag bevraagteken… Hoekom sê ek so?
Kom ons gaan kyk ‘n bietjie na die vier dinge wat Johannes 3:16 vir ons sê:
1. God het die wêreld liefgehad, en Hy het dit nog steeds lief.
2. God het sy enigste Seun aan ons gegee.
3. As jy nie glo nie, gaan jy verlore.
4. As jy glo, ontvang jy die lewe.
Ja, liewe vriende, dit is juis hierdie 4 waarhede wat soveel mense vandag bevraagteken... Daar word gesê dat God nie die wêreld liefhet nie. Baie mense sê dat ‘n God wat die Tsoenami, Twin Towers en die geweld en oorloë toelaat nie die wêreld liefhet nie.
Daar word ook gesê dat Jesus nie God se enigste Seun is nie. In boeke en films soos die Da Vinci Code word daar beweer dat Jesus bloot ‘n goeie mens, die buite-egtelike kind van Maria en Josef is. Ander teoloë se weer dat God so goed en barmhartig is dat hulle nie kan dink dat enigeiemand sal verlore gaan nie. En dan is daar baie ander wat sê dat daar nie so iets soos ‘n hemel of ‘n hel of ‘n Ewige Lewe bestaan nie... Dat ons maar net hier op die aarde sal bly...
Maar wat is die waarheid??? Ek het hier by my ‘n DVD van Max Lucado met die titel 3:16... En in die meegaande pamflet staan daar die volgende oor hierdie vers: If you know nothing in the Bible, start here, if you know everthing in the Bible: Return here. In Afrikaans. As jy die Bybel gladnie ken nie, moet jy hier begin... As jy die Bybel volledig ken, moet jy na hierdie versie terugkeer...
Liewe vriende, die waarheid is dat God ons liefhet. In die Nuwe Lewende Vertaling staan daar dat God die mensewêreld liefgehad het. Ons praat baie van ons kinders, en dat ons hulle kamtig sou “gemaak het”. Dis net ‘n halwe waarheid. God het almal op aarde gemaak. God is nog elke dag besig om kinders in hulle moeders se moederskote te vorm. In Ps. 139 kan Dawid ook erken: 14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
Liewe vriende, God het ons gemaak. Hy het elke klein besonderheid aan ons gevorm, jou wipneusie, jou dimpeltjie, die kuiltjie in jou nek, jou kabouteroortjies, jou kroontjie op jou kop, ja alles het God aanmekaargeweef, diep in die moederskoot. En juis daarom is hy baie lief vir ons. Oneindig lief... Toe die omstrede en bekende teoloog Karl Barth, wat baie boeke geskryf het, en baie slim was, eendag toe hy van die vliegtuig afklim gevra is wat vir hom die belangrikste waarheid in die Bybel is, het hy met die woorde van die kinderliedjie geantwoord: “Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so.”
Ja, my boetie en sussie, God het ons as sy kinders oneindig lief, en daarom, net soos ‘n ma en ‘n pa, en veral ‘n oupa en ouma wat hulle kinders bederf, gee hy graag. Hy het die paradys en al die wonderlike dinge daarin vir Adam en Eva kom gee... Hy het sy tien gebooie vir die Israeliete kom gee... Hy het die beloofde land Kanaan vir sy volk Israel kom gee... Hy het aan die Israeliete Rigters, konings en profete gegee om hullle te lei... En wat het hulle gedoen??? Hulle het dit alles in Sy gesig teruggegooi. Hy het aan ons as mense sy Enigste Seun gegee... En wat het ons gedoen... Ons het Hom gekruisig.
Ja, vriende, daar is baie mense wat vandag vra hoekom God dit of dat gee, en hoekom hy dit of dit toelaat – Maar ons moet onthou dat hy lankal in Matt. 7 belowe het dat Hy vir ons net dinge sal gee wat tot ons voordeel is: 9 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra,
10 of ‘n slang as hy vis vra? 11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?
Die vraag is dus nie of God gee NG en gee nie, maar wat ons maak met dit wat Hy vir ons gee? Die vraag is nie of God uit sy goedheid soveel dinge aan ons skenk nie, maar of ons ooit tevrede is met wat Hy aan ons skenk nie?
Die derde deel van Johannes 3:16 leer aan ons dat Jesus gekom het sodat “Die wat in hom glo nie verlore sal gaan nie.” Liewe vriende, al vertel baie mense aan jou dat God so groot en goed is dat Hy uiteindelik sal besluit om alles en almal te vergewe, moet julle weet dat dit ‘n leuen van die Satan is. Die Bybel kom sê duidelik vir ons in Numeri 14:18: Nu 14:18 ‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’
Ons moet weet dat ons die Here nodig het, dat sondes en die rekords daarvan nie sommer maar net sal wegraak, soos dikwels vandag in ons land se howe gebeur nie. Nee, vriende, God het ons straf op Jesus Christus kom laai... En as ons dit nie glo nie, is ons soos klaar veroordeel soos Johannes 3 vers 18 sê: “ Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.” As ons nie God se laaste, finale, allesoortreffende gawe aanvaar nie, dan gaan ons geoordeel word vir ons sondes.
En dan kom ons by die vierde waarheid. En hier is dit verseker ‘n geval van die laaste maar nie die minste nie... Jesus het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om hulle die Ewige Lewe te gee. En hierdie, liewe vriende, is een van die redes hoekom ek vas glo dat die kerk van alle eeue maar weer na Joh. 3:17 ook moet terugkeer. So ‘n paar jaar terug, tydens ‘n vorige Sokkerwêreldbeker, het die TV tydens die eindwedstryd wat miljoene mense dopgehou het, geval op ‘n ou wat ‘n plakaat opgehou het met Joh. 3:17 daarop geskryf...
Ja, liewe vriende, deur die eeue het die kerk dikwels die maklike uitweg gevat... Ons glo wat ons glo en ons veroordeel baie gou dit wat nie strook met wat ons glo nie. So het die Rooms katolieke kerk vir Galileo Galilei tot ketter verklaar omdat hy beweer het dat die aarde om die son draai. Selfs vandag nog word die kerk dikwels gesien as ‘n veroordelende kerk wat mense wegstoot. Christus het nie gekom om te veroordeel nie, maar om te red... Christus het gekom sodat ons die Ewige lewe kan smaak...
Julle kan nou maklik sê: Dominee, dit klink nou baie mooi, maar waarvandaan dan al die sonde en swaarkry?
Ek het die teenoorgestelde van Johannes 3:16 gaan neerskryf. Dit klink so:
“Want die Slang, die duiwel, het die wêreld so gehaat,
Dat hy nie net al die pyn en lyding wat ons vandag moet ervaar veroorsaak het nie,
maar probeer seker maak dat mense nie in God glo nie en veroordeel word,
sodat hulle die dood en die hel as loon vir hulle sonde kry...”
Daar word 'n verhaal vertel van 'n seuntjie wat 'n baie mooi seilbootjie gemaak het. Na maande se moeite het hy die bootjie klaargemaak, en dit na 'n dam toe gevat om te kyk of dit sal dryf. Toe het daar skielik 'n warrelwind opgekom, en sy bootjie in die water in gewaai. Die seuntjie het weke lank na die bootjie gesoek, maar dit nooit weer gesien nie...
Totdat hy eendag by 'n pandjieswinkel verby loop, en sy bootjie op 'n rak sien. Hy hardloop baie bly in die winkel in, en vertel aan die eienaar dat dit sy bootjie is... Sy voorletters is dan nog daarop uitgekerf. Maar die eienaar vertel aan hom dat hy die bootjie by iemand anders gekoop het, en dat die seun eers die geld daarvoor moes betaal. Na maande se spaar het die seuntjie winkel toe gegaan, en die bootjie weer gekoop. Toe hy die bootjie kry, druk hy hom teen sy bors vas en sê: "Jy is nou waarlik dubbeld myne. Ek het jou gemaak en jou weer gekoop!
Net so het die Here ook met ons gemaak. Hy het ons nie alleen gemaak nie, maar nadat ons weggeloop het van Hom af, en begin sonde doen het, het Hy vir ons sy Seun gestuur, en ons so 'n tweede keer Syne gemaak!
Amen.
Sunday, May 17, 2009
Gooi julle nette aan die ander kant! Joh 21:1-10
Voorsang: Lied 337:1-3 Loof God, o Christen Hy is groot.
Lied 404:1,2 Ons juig weer oor ‘n leë graf… (Lied 346 se wysie)
Lied 436:1-3 Herskep o Gees, laat leef o Gees…
Lofsang: Liedboek 167:1,2 Jesus bron van al my vreugde.
Na Wet: Liedboek 306:1-5 U Christus is my lewe.
Slotsang: Lied 274:1-2 Leer my soos Henog met U wandel.
Skriflesing: Johannes 21:1-14.
Daar word vertel van Mike Schutte en sy seun wat gaan jag het. Toe hulle so om die een bos stap, loop hulle in ‘n leeu vas... Hulle het so groot geskrik, dat hulle in verskillende rigtings weggehardloop het. Hulle het so oorkruis gehardloop dat hulle op ‘n stadium om ‘n bos hardloop en inmekaar in vashardloop... Mike staan toe op, stof hom af, en steek sy hand na sy seun toe uit... Ek is Mike Schutte, sê hy... “Maar ek is dan pa se seun!”, roep die seun verbaas uit... “Wat vir ‘n van is dit?” vra Mike toe verbaas.
Weet julle liewe vriende, die mens se brein is ‘n interessante ding. In sekere situasies is dit vir ons net nie moontlik om die eenvoudigste dinge te herken nie, net omdat ons dit nie op daardie oomblik in daardie situasie verwag nie. Ons herken dikwels mense, omdat hulle in sekere situasies is, of saam met ander mense is. Tydens die pas afgelope Nampo het ek weer vriende van Universiteit raakgeloop, en ek kon net weet wie hulle is, omdat ek hulle saam met hulle mans of hulle vrouens gesien het, wat ek ook geken het.Ek het onlangs ervaar dat een van die lidmate van die gemeente my glad nie herken het nie, omdat ek nie soos ‘n dominee aangetrek was nie, en op ‘n plek was waar hy my nie verwag het nie...
Daarom is dit nie vir ons so vreemd dat die dissipels en die volgelinge van Jesus so gesukkel het om hom te herken na sy opstanding nie. In die vorige hoofstuk, Johannes 20, lees ons dat Maria vir Jesus as die tuinopsigter aansien na sy opstanding. Ons ken almal die verhaal van die Emmausgangers wat vir kilometers saam met die Here Jesus geloop het, sonder om te besef dat dit Hy was. En so sien ons ook hier hoe sy eie dissipels vir Jesus op die land sien staan, en sy stem hoor, sonder om te besef dat dit Hy was. Dit was waarskynlik omdat dit die laaste plek was wat hulle die Here Jesus verwag het. Dit was net nie binne hulle verwysingsraamwerk, binne hulle prentjie van die lewe dat Jesus opgestaan het, en nog steeds by hulle op aarde teenwoordig was nie...
Maar die dissipels het nie net telkens gesukkel om Jesus te herken nie, maar hulle het ook geleef asof Jesus nie meer daar was nie. Al het Jesus na sy dood aan hulle verskyn, het hulle half nie geweet wat om te doen, nou dat Hy nie meer elke oomblik van die dag fisies by hulle was nie... Die enigste wat hulle aan kon dink was om maar weer te doen wat hulle vroeër gedoen het, en maar aan te gaan met hulle vorige beroep... Hulle het maar weer hulle boot en hulle nette nadergesleep, en gaan visvang...
Ek is seker dat elkeen van julle al hierdie ervaring in julle lewens gehad het. Dit is amper soos om weg te stap na ‘n opwindende rugbywedstryd of ‘n sirkus... Dit was lekker en fantasies, maar nou is dit klaar... Nou is dit verby... Nou keer ek maar weer terug na die gewone lewe. Na ‘n geestelike hoogtepunt in jou lewe, hetsy dit jou bekering was, of ‘n kamp waarin jy baie geestelik gegroei het, of die Mighty Men konferensie, wil jy so graag vir die wêreld gaan vertel wat hierdie gebeurtenis in jou lewe gedoen het...
Maar dan tref die golf van die alledaagse, gewone lewe jou, en voor jy jou kon kry, lyk jou lewe maar presies soos voorheen. Jy word as’t ware maar weer in die gewone roetine en manier van doen van elke dag ingedwing...
Maar kom ons gaan kyk weer na wat met die dissipels gebeur het... Na drie jaar saam met Jesus was niks net meer dieselfde nie... Toe hulle probeer visvang, dit wat hulle van kleins af so goed kon doen, toe hap hulle ‘n “bubble”... toe is dit ‘n mislukking. Vir ‘n hele nag lank vang hierdie 11 ervare vissermanne nie een vis nie! Hulle kon dit nie glo nie. Wat het verander? Iets drasties het iewers gebeur!
En wanneer hulle dan hopeloos na die strand toe vaar, sien ons hoe ‘n onbekende man hulle aanraai om hulle nette aan die ander kant uit te gooi. Ons het dit nog nooit so gedoen nie! Het hulle gedink. Watter verskil gaan dit maak? Maar ag nou ja – ons kan nie slegter doen as wat ons reeds doen nie... kom ons gaan probeer dit maar...
En dan sien ons die wonderwerk... Hoe die nette so vol dat hulle dit land toe moes sleep, en nie daar en dan kon optrek nie. En dieselfde dissipel wat wou sink toe hy op die water moes loop, spring die water in, en storm land toe... Nou het hy besef dat dit Jesus self was op die land. Nou het hy besef dat Jesus hulle weer kom opsoek het, en nie alleen gelaat het nie.
Toe die dissipels aan land kom, het Jesus hulle beveel om van die vis te bring wat hulle gevang het. Dit het Hy gedoen om hulle te laat besef hoeveel vis hulle werklik gevang het... 153! Maar Hy het ook nie die vis nodig gehad nie... Want hy het reeds vir hulle ‘n maaltyd voorberei. Ja, die vis was reeds op die kole en gaar...
Ons leef so dikwels in ‘n voorspoedsgodsdiens, waar ons glo dat die Here Jesus van jou ‘n miljoenêr sal maak as jy Hom begin dien... Ons kan so maklik glo dat dit is waaroor hierdie wonderlike visvangs gegaan het... Dat die Here nou die vissermanne oorweldigend in hulle bedryf seën... Maar dit is nie waaroor hierdie wonderwerk gaan nie... Jesus het alreeds genoeg vis vir die kole gehad.
Jesus wou net weereens vir die dissipels herhinner dat Hy die groot visserman is. Dat hulle eintlik geroep was om vissers van mense te wees, en dat hulle eintlike roeping nie op die viswaters gelê het nie. Hy wou aan hulle leer dat hulle voortaan hulle nette aan die ander kant sou ingooi. Dat hulle dinge op ‘n ander manier sou doen, en ook ander, beter resultate sou kry. Dat hulle werklik sou besef dat Hy alles en almal kom verander.
Weet julle, liewe vriende, ek en Carina was gister by ‘n vergadering van die orrelistevereniging in Suid-Afrika, en ons het net weer onder die indruk gekom dat ons in so baie opsigte in die kerk ook weer net moet leer om ons nette aan die ander kant uit te gooi. Net 16% van die Gereformeerde Kerke sing nog Psalms. Die kerke loop leeg omdat mense nie meer gevoel in ons erediens en ons sang ervaar nie.
Die tema van gister se byeenkoms was dan ook in ‘n sin: “Sing vir die Here ‘n nuwe lied!”. Maar nie net in ons sang of ons musiek nie, in ons as predikante se prediking, in ons gebede, in ons gemeente - byeenkomste moet ons ook vra wat dit beteken om die nette aan die ander kant uit te gooi. Dr. Rina de Klerk – Beyer, die fasiliteerder by ons onlangse predikantekonferensie, het met ons kom praat oor emosionele intelligensie... En die inleidingsin wat sy gebruik het by alles wat sy vir ons geleer het, was die volgende van Mark Twain: “If you do what you always done, you wil get what you always got.”
In ‘n sin het die dissipels nog minder gekry as waaraan hulle gewoond was toe hulle na drie jaar weer begin visvang het. Hulle het letterlik niks gekry nie. Ja, as die Here Jesus eers jou hart werklik verander het, is niks weer dieselfde nie... Niks is net meer “maar sommer” nie.
Ek het in die voorskou tot die diens vir julle so ‘n klein stukkie van Angus Buchan se optrede op Loftus gewys, en ‘n mens besef maar net dat daar ‘n herlewing in ons land aan die gang is. Selfs die heiligdomme van die rugbygod, “Rugabush” word oor oorgeneem deur tienduisende Christene wat die Here loof en prys... As Jesus beheer neem van jou lewe, dan word ook dinge wat totaal belangrik was in jou lewe vir jou onbelangrik. Dan gaan vra jy in alles wat jy doen: “Eer ek God hierdeur? Is daar dalk iets in Sy koninkryk wat vanmiddag dringender my aandag verg?”
Op ‘n stadium toe petrol so duur geword het, het my pa so ‘n plakker op sy stuurwiel geplak, wat gevra het? Is hierdie rit werklik nodig? Liewe vriende, petrol is baie duur en kosbaar in vandag se tyd, maar ons tyd is nog duurder en kosbaarder. Kom ons leer om dit op ‘n nuwe manier te gebruik. Kom ons gooi ons nette aan die ander kant uit, en weet, dat die Here iets nuuts onder ons en deur ons gaan doen.
AMEN!
Solosang:
Christus is, die ware wynstok,
Ons is, die lote,
Dra ons vrug, word ons gereinig,
Sodat ons, meer vrug kan dra.
Koor:
Bly in my, soos ek in julle, dan sal julle vrug kan dra,
sonder my, kan julle niks doen, daarom moet my nie verlaat.
As jul na, my woorde luister,
Kry jul alles wat jul vra,
so verheerlik jul die Vader,
deur die vrugte wat jul dra.
Soos die Vader my bemin het,
het ek jul ook liefgehad,
en my blydskap bly in julle,
jul moet liefhê sonder maat.
Monday, May 4, 2009
Preek gelewer op Moedersdag 10 Mei uit Eksodus 4:24-26
Voorsang:
Liedboek 164:1,2 Ons is almal hier tesaam
Liedboek 215:1-5 Besing die lof van Jesus saam
Liedboek 176 (2*) Halleluja, U is koning.
Lofsang:
Lied 405:1-5 Roem al wat leef die Heer se dag.
Na Wet:
Lied 555:1-3 (Op die wysie van lied 579) Ek kniel hier in die oggendlig
Slotsang:
Lied 440:1-4 Die Here salf ons met sy Gees
Daar word vertel van vark wat by koning leeu gekom het, en gekla het dat hy altyd die skuld vir alles kry. Hy sê as ‘n iemand slegte maniere het, dan gedra hy hom soos ‘n vark, of as iemand sleg bestuur, dan praat hulle van ‘n padvark, en as iemand vuil lewe, dan sê hulle hy is so vuil soos ‘n vark. Koning leeu het aandagtig na hom geluister, en geantwoord: “Sulke varke!”
Maar of ons dit wil weet of nie, kry ons moeders en ons vrouens ook dikwels die skuld vir alles wat verkeerd loop. Ons mans is mos nooit verkeerd nie… As ons laat is, dan is dit moeder, as die kinders vuil is, dan is dit hulle ma wat hulle nie goed aantrek nie, as hulle stout is, dan is dit ma wat hulle nie maniere leer nie, as die sleutels weg is, is dit ma wat dit moet soek. As daar ‘n buite-egtelike kind is, dan straf die kerk dikwels die vrou, en die man wat saam met haar gemeenskap gehad het, kom skotvry.
Daar is party vrouens in Amerika wat sê dat die Bybel ook net negatief oor die vrou praat. Dit is die vrou Eva wat vir Adam verlei het, dit was die slegte Delila wat vir Simson verlei het, en die slegte van hierdie wêreld word in Openbaring vergelyk met die vrou Babilon wat al die skeepskapteins en sakemanne in haar mag kry. In Sagaria 5:6,7 word daar selfs van ‘n vrou in ‘n mandjie vertel wat die sonde van die hele wêreld verteenwoordig!
Die vrou van Moses, Sippora, was ook in ‘n sin ‘n vrou wat die skuld vir alles gekry het. Sippora was in die eerste plek ‘n Kussiet, en van ‘n ander ras as die Israeliete. Dit het ook gemaak dat Mirjam en Aäron, Moses se broer en suster hom openlik aangespreek het oor die vrou wat hy gevat het. En ons lees ook daar dat Mirjam melaats geword het omdat hulle Moses daaroor aangespreek het. Maar wat het gemaak dat God Mirjam so erg gestraf het oor hulle kritiek teen Sippora?
Ek glo dat Sippora in ‘n sin ‘n baie spesiale plekkie in God se hart gehad het... Dat sy as’t ware ook die “vrou vir wie God liefgehad het”, genoem sou kon word... En ek glo dit na aanleiding van die pragtige verhaal wat vir ons in drie kort versies Eksodus 4:24-26 opgeteken is...
Moses, die man van God, was oppad met ‘n missie. Hy het nounet die Here by die brandende braambos ontmoet, en die opdrag gekry om die volk Israel uit Egipte te gaan bevry. Hy het ook wonderwerke by die Here gekry, naamlik om sy kierie in ‘n slang te verander, en sy hand in melaatsheid te verander en weer te genees. Moses was absoluut gefokus op hierdie spesiale taak wat die Here aan Hom gegee het, en hy het net gedink aan die groot taak wat vir hom voorgelê het.
Maar in al Moses se besig wees met die dinge van die Here het hy die dinge van die Here nie raakgesien nie. Hy was so besig om te dink aan hoe hy die volk van oor ‘n miljoen mense uit Farao se mag gaan uitlei, dat hy nie by die begin begin het nie. Ja, sy eie huisgesin het agterweë gebly. Terwyl hy weg van sy mense af vir die Farao gevlug het, het hy nie sy seuns aan die Here gewy nie. Hy het hulle nie besny soos die Here se opdrag was nie.
En so het dit gebeur dat die Here so kwaad geword het vir die leier wat hy nounet gekies het, dat Hy hom daar en dan wou doodmaak... Wat ‘n tragedie sou dit nie gewees het nie? Die leier wat die Here vir die Israeliete aangewys het, word doodgemaak voor hy nog enigeiets kon vermag. En dit omdat hy nie sy eie huis in orde gekry het nie! En dan sien ons hoe Sippora, Moses se vrou, hom van ‘n gewisse dood red... Sy besny haar seuns, en sê aan Moses: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Ja, liewe vriende, deur die besnydenis word nie net Moses gered nie, maar hierdie gesinnetjie saamgebind met ‘n bloedband. Deur hierdie daad van Sippora stel sy nie net die verhouding tussen Moses en God reg nie, maar ook sy verhouding met haar en hulle kinders.
Ek glo dat hierdie optrede van Sippora vir God genoeg rede was om vir Miriam later so kwaad te word dat Hy haar met melaatsheid gestraf het. Ek glo dat God waarlik ook ‘n bloedband met Sippora gehad het, omdat sy verantwoordelikheid vir die verbond met haar seuns en haar gesin geneem het. Later het die Here ook nie meer net die seuns besny nie... Nee, met Jesus se koms het die doop gekom, waardeur dogters en seuns, mans en vrouens wat hulle uit die heidendom tot die Here bekeer het, gedoop is.
En al het ons nie meer vandag die besnydenis nie, weet ons dat daar vandag nog soveel Sippora’s om ons is. Vrouens wat as’t ware hulle mans se deel van die doopbelofte nakom. Vrouens wat hulle mans aanmoedig om hulle kinders te laat doop en reg groot te maak... Wat nag vir nag by hulle kinders sit en vir hulle uit die Bybel lees en bid, terwyl die mans te besig is met die “groot en belangrike dinge in die lewe”.
My medebroers, as selfs Moses, wat in Numeri 12:3 beskryf word as meer sagmoedig as enige ander mens op aarde, so ‘n oorsig kan begaan, hoe lyk dit nie in ons lewens nie? Neem ons die verantwoordelikheid om ons kinders reg op te voed, of laat ons dit alles aan ons vrouens oor? Is ons nie dikwels besig om van hulle die sondebokke te maak, terwyl ons eintlik sonder hulle al lankal onder God se oordeel sou weggekwyn het nie? Kyk ons nie dikwels so in hulle swak punte vas, dat ons die oorweldigende goeie wat hulle vir ons doen nie raaksien nie?
Die Bybel praat nie net negatief van vrouens nie – Inteendeel, van die begin van die Bybel af, was daar vrouens wat die lot van Israel en van die Christene drasties verander het... Dink maar aan Isak se vrou Rebekka, aan Ragab in Jerigo, aan die rigter Debora, aan koningin Ester, aan Maria Magdalena, aan Lidia die purperverkoopster, en so kan ons eindeloos aangaan...
Maar te midde van al hierdie vrouehelde in die Bybel moet ons in gedagte bly hou dat vroue soos koning Agab se Isebel so telkens ook soveel negatiewe kon vermag. Ons moet besef dat die rigting wat ons as gemeente en kerk in Bospoort en Suid-Afrika inslaan, ook afhang van ons vrouens se getrouheid aan die Here, en hulle verbindtenis om hom werklik bo alles te dien en te vertrou as hulle enigste sekuriteit, selfs in tye waar dit moeilik gaan in hulle gesinne en hulle huwelike.
Of ons dit wil weet of nie, is ons vroue en moeders die ruggraat van ons samelewing. Sonder hulle inspirasie, deernis, verantwoordelikheid en deursettingsvermoë sou ons samelewing ‘n baie nare plek gewees het. En ek glo dat die ware sleutel vir herlewing in ons tyd nie net by Mighty Men lê nie, maar by ons vermoë om werklik as gesinne saam, as mans en vrouens en kinders saam, ons beste vir ons Here te kan gee.
Ek sluit af. Ek is seker dat baie van julle al die sarkastiese spreekwoord gehoor het, wat lui: “Agter elke suksesvolle man staan daar ‘n vrou wat aan hom vertel dat hy verkeerd is.” Ons lag dikwels vir hierdie grappie omdat ons dikwels ervaar dat ons vrouens onnodig negatief en neulerig is. Dat hulle gereeld oor dinge “nagg”, of soos die gedrup is van ‘n dak wat lek, terwyl ons ervaar dat ons suksesvol is in die lewe.
Maar gelukkig was daar in die “suksesvolle” Moses se lewe ‘n vrou wat ook sy swakpunte en sy nalatigheid raakgesien het, en iets daaraan gedoen het. Ja, ek is seker dat daar baie mans is wat al te hoog gevlieg het, hulle vlerke verbrand het, en hulle te pletter geval het, omdat hulle nie iemand gehad het wat hulle nederig kon hou nie. Omdat hulle nie iemand gehad het wat aan hulle die belangrikste in die lewe, die Here van die dinge kon herhinner nie.
Kom ons sê vandag vir die Here dankie vir Sippora, en vir elke vrou wat sensitief is vir die Here se stem, en bereid is om op te tree sodat ons as gesinne gered kan word! AMEN!
Wees wakker! Die duiwel loop rond!
Preek gelewer op 18 April 2009 te Bospoort tydens Satanisme – praatjie.
Liedere vir Sondag 19 April 2009.
Skriflesing:
1 Petrus 5:1-14
TEMA:
Staan vas teen die Duiwel!
Voorsang:
Lied 512 Nader My God by U
Lied 511 Lei U ons lig!
Lofsang:
Lied 157:1,2 Here Jesus, ons is saam.
Na Wet:
Lied 241:1-3 Troue Here van my lewe!
Slotsang:
Lied 513:1-3 Soek in God jou sterkte.
Preek:
Aankondiging van Skriflesing: 1 Pet 5:1-14
Ek kry nou net hier by die koster 'n boodskap wat sê: Een van die leeus in die omgewing se wildskampe het ontsnap, en hulle is besig om na hom te soek, maar kon hom nog nie opspoor en vang nie. Ons vra asseblief dat elkeen op die uitkyk sal wees vir die leeu... Moet asseblief nie julle kinders alleen in die veld laat loop nie, en moet veral nie in die donker buite rondloop of sonder 'n lig wees nie.
Kom ons gaan dan voort met ons Skriflesing:
Skriflesing:
Weet julle, liewe vriende julle kan aan die een kant nou maar ontspan. Julle kon seker al teen hierdie tyd aflei dat daar nie een van Oom Pieter of oom Gerhard se leeus ontsnap het nie. Maar aan die ander kant wil ek hê dat julle vanoggend moet regop sit en mooi luister. Want die gevaarlikste leeu in Afrika en in die wêreld is die Satan self, en hy is verseker besig om orals rond te loop. Hy is baie honger, en hy is besig om te soek wie hy kan verslind... Hy kyk watter mense hy kan vang en eet.
Wat sou ons gedoen het as daar regtig een van die leeus ontsnap het? Ons sou waarskynlik gesorg het dat ons 'n geweer naby aan ons gehou het as ons in die veld loop. Ons sou seker gemaak het ons kinders en werkers het selfone of radios waarmee hulle kan kommunikeer as hulle die leeus sien. Ons sou waarskynlik ons kinders en werkers beveel het om nooit alleen te loop nie. Om op die uitkyk te wees vir enige tekens van die leeu, en spore wat hy mag los... Ons sou seker gemaak het ons kinders en ons vriende, sowel as ons werkers, ken 'n leeu, en sal weet om die ander te waarsku as hulle wel 'n leeu of leeuspore sien...
Maar weet julle, liewe vriende, wanneer Openbaring 12:9 aan ons vertel dat die draak, die Satan uit die hemel uit gegooi is, en die kerk van die Here Jesus kom aanval, ignoreer ons dit dikwels. Ons maak baie soos daardie volstruis wat sy kop onder die sand druk, en dink dat die leeu hom nie kan sien as hy nie die leeu sien nie. Vir baie teoloë en predikante is dit maklik om te sê dat die Duiwel nie regtig bestaan nie, en maar net deel was die manier waarop mense in die Bybelse tyd gedink het. Want hulle dink as hulle nie aan die Bestaan van die Duiwel glo nie, kan Hy niks aan hulle doen nie...
En al is dit so dat ons die oog op Jesus moet vestig, en op God Drie-Enig moet fokus in ons geloof, is dit belangrik om ook ons vyand die Satan te ken. Dit is vir ons belangrik om te weet op watter maniere hy probeer om mense van God af weg te rokkel.
Uit hierdie gedeelte in 1 Petrus 5 wil ek graag 5 eienskappe van die Duiwel uitlig... Hierdie leeu is besig, hy is briesend, hy is baaaie honger, hy is bang, en hy is berug.
Daar word vertel van die ou tannie wat nooit iets slegs van enigeiemand kon sê nie. Sy het altyd net goed van almal om haar gepraat. Een dag dink die dominee toe hy gaan haar uitvang, en sê aan haar dat sy niks goeds van die duiwel kan sê nie. "Wel dominee", het sy geantwoord, "jy moet erken dat Hy darem nie 'n lui haar op sy kop het nie!" Liewe vriende, ons moet weet dat ons die Duiwel nie moet onderskat nie. Ons dink partykeer aan die Duiwel soos aan 'n leeu wat in die dag lê en slaap, maar ons moet weet dat hy 'n jagdier is, wat besig is om planne te maak om ons vas te trek en te vang. Dat hy veral in die donker, in die nag vreeslik aktief is, en besig is om rond te loop en na 'n vangs te soek.
Die tweede eienskap van die Duiwel is dat hy briesend is... Hy is soos 'n kwaai, brullende leeu, wat 'n seer tand het. Hy is briesend omdat hy reeds verloor het. Hy het die stryd teen God en sy engele in die hemel verloor, en is nou besig om hom te probeer wreek op mense op die aarde. Hy probeer om mense vir hom bang te maak, en teer daarop as mense vir hom vrees, en dink dat hy die sterkste is, selfs sterker as die Here en sy engele.
Die derde belangrike ding van die Duiwel, is dat hy baie honger is, en nooit genoeg kry nie. In vers 8 van 1 Petrus 5 lees ons dat hy soek wie hy kan verslind. As die Duiwel eers iemand in sy kake gekry het, dan verslind en verniel hy so 'n persoon. Die van julle wat dalk al by oom Pieter of oom Gerhard was, sal weet hoe dit klink as so 'n leeu besig is om bene met sy sterk kake te breek, of middeldeur te byt. Ek glo dat julle na die diens 'n klein bietjie sal hoor by Ria van watter verskriklike marteling en pyn iemand moet deurgaan wat in die web van Satanisme vasgevang geraak het. Ons moet ook weet dat die Duiwel honger bly en nooit genoeg kry nie. Hy sal nie tevrede wees voor die kerk of 'n gemeente van die Here Jesus heeltemal tot niet is nie.
Die vierde eienskap van die duiwel wat ons moet raaksien, is dat hy bang is... Ja, al brul hy en gaan hy tekere, is hy diep in sy hart maar 'n lafaard. Ervare jagters en leeukenners sal vir jou sê dat jy nie vir 'n leeu moet weghardloop nie... Hy hou daarvan om hakskene te sien. Jou beste kans om te oorleef wanneer 'n leeu jou storm, is om doodstil te bly staan. Net so is dit met die Satan. Hier in 1 Petrus 5:9 moedig die apostel Petrus die gelowiges aan om vas te staan, en om die Duiwel tee te staan.
As ons as gelowiges in God se koninkryk nie betrokke raak in gebed, en woordverkondiging, en ondersteuning van die swakkes om ons nie, omdat ons bang is vir die Duiwel se aanvalle, dan moet ons nie verbaas wees as die Duiwel ook maklik 'n voet in die deur kry in ons eie huise en onder ons eie familie en in ons eie omgewing nie. Daarom moedig Petrus ook die ouderlinge in 1 Pet 5:5 aan dat hulle die kudde van God wat aan hulle toevertrou is, baie goed moet oppas.
Die laaste eienskap van Satan wat ons hier van leer, is dat hy berug is. Die woord berug is 'n groot woord, wat eintlik sê dat die Satan orals bekend is vir sy misdade. In vers 9 lees ons dat gelowiges oor die wêreld ook onder die Satan se vervolging moet ly. Anders as 'n leeu van 'n leeuboer wat ontsnap, en darem tot 'n sekere omgewing beperk kan word wanneer 'n mens na hom soek, is dit anders met die Satan. Die Satan steek orals sy kop uit. Jy kan nooit weet presies waar om hom te verwag nie. As ons nie wakker is nie, dan gaan ons onverhoeds betrap word.
Noudat ons al hierdie dinge van die Satan weet, wat staan ons te doen? Wat word van die Kerk van die Here Jesus verwag in die tye waarin ons leef? Ons moet in die eerste plek weet dat ons die kudde van God, wat Hy aan ons toevertrou het, goed moet oppas, soos vers 2 van 1 Petrus 5 vir ons sê. Hoe sal dit lyk as ons met leë hande voor die Heer in die hemel moet staan, en sê dat die leeu al die skape opgeëet het. Want ons het nie gekyk wat ons kinders op die TV kyk nie, ons het nie saam na hulle musiek geluister nie, ons het nie kontrole gehou oor waar hulle op die internet "surf", of met wie hulle "mixit" nie.
Ons moet ook weet dat die Satan teer op hoogmoed. Daar waar mense dink dat hulle staan, moet hulle oppas dat hulle nie val nie, soos 1 Kor 10:12 sê. Ons moet weet dat bekering ware en volkome oorgawe aan God is. As ons hoogmoedig is, en die eie ek in ons lewe toelaat, as ons dink dat ons nie die Here se hulp teen hierdie leeu nodig het nie, gaan hy vir ons verseker vang. Ja, alleen as ons ons in nederigheid aan die kragtige hand van God onderwerp, kan God ons help om die Satan, die brullende leeu te oorwin.
Die laaste, maar nie die minste nie, is dat ons na die Here toe moet gaan met ons bekommernisse. Die brullende leeu soek die wat eenkant is, geïsoleerd is, wat swak is en moeg is vir die lewe. In plaas daarvan om ons tot die sterre voorspel, tot bonatuurlike speletjies, en vreemde rituele wend om van ons bekommernisse ontslae te raak, moet ons soos Mattheus 11:29 sê, ons bekommernisse op die Here Jesus werp, want sy juk is sag, en sy las is lig.
Ek sluit af... Daar is 'n verhaal uit Amerika van iemand wat na 'n Halloween partytjie oppad was. Hierdie ou was vermom in 'n duiwelsuitrusting, met 'n vurk in sy hand. Ewe skielik sak daar 'n sterk bui reën uit, en die ou spring by die eerste en die naaste gebou in om skuiling te vind. Die gebou was toe juis 'n kerk, waar 'n kerkdiens aan die gang was. Toe die dominee in sy preek stop, en verward na agter kyk, kyk almal om, en sien die man in sy duiwelse vermomming agter in die kerk staan.
Die vrouens het begin skree, en ewe skielik was daar massahisterie. Al die kerkgangers het by die uitgange uitgeborrel, behalwe een ou tannie wat baie naby aan die man was, en te swak was om te hardloop. Sy val toe op haar knieë voor die "duiwel" neer, en sê: "Weet jy duiwel, ek was eintlik nog altyd aan jou kant."
Ons kan lekker lag vir hierdie verhaal, maar die vraag bly vanoggend staan... Het jy al kant gekies? Is jy verbind om aan die Here se kant te veg, en voluit vir hom te lewe? Of hink jy nog op twee gedagtes, is jy 'n toeskouer wat maar net toevallig op die paviljoen, op die kerkbanke beland het. Kom luister na hierdie lied, en ons gee onsself weer opnuut in nederigheid aan die Here die Goeie Herder oor. Kom ons trek die wapenrusting van Efersiërs 6 aan, sodat ons reg is vir die brullende leeu!
AMEN.
Thursday, April 16, 2009
Om dankie te kan sê – Psalm 147.
Preek gelewer op 16 April 2009 te Bospoort.
Om DANKIE te kan sê.
Daar word vertel van 'n man en sy vrou wat eendag na 'n pragtige antieke teekoppie in 'n winkel gekyk het. Terwyl hulle na die teekoppie kyk en dit bewonder, begin die teekoppie te praat... "Weet julle, ek was nie altyd so nie, sê die teekoppie." Ek was eers 'n ruwe bol klei. Toe neem iemand my en begin my brei, en druk, en platslaan op die tafel... Ek het geskree: "Stop, ek kry seer!", maar toe gaan dit nog erger. Ek is in die rondte gedraai tot my kop heeltemal dronk was. Weereens het ek gesê: "Stop, ek is dronk, maar toe word dit nog erger." Ek word in 'n warm oond gedruk, en ek sweet so dat ek amper dood is van die hitte. Toe word ek uitgehaal en geverf met verf wat baie sleg geruik het. Ek het sommer verstik aan die walms!
Maar dit was nog nie klaar nie! Ek word toe weer in die warm oond gedruk, en kry toe weer verskriklik warm. En uiteindelik word ek weer uitgehaal en afgekoel. Ek het eers gewonder hoekom die man my so gemartel het, maar vandag is ek hom baie dankbaar. Want omdat hy my gebrei het, het ek nie gebars nie, en omdat Hy my so warm gebak het, het ek sterk gebly, en my verf het nie afgedop nie. Dit is vir die man wie se naam onder aan die koppie geteken staan wat julle moet hande klap.
Weet, julle liewe vriende, as 'n mens oor die volk Israel dink, dan dink 'n mens dikwels net aan hulle swaarkry in die Ou Testament. Hoe hulle deur die woestyn is, baie oorloë moes deurmaak, baie droogtes moes deurstaan, en selfs dikwels in ballingskap weggevoer is.
Maar as 'n mens bietjie deur die boek Psalms blaai, dan sien 'n mens nie net klaagpsalms nie. Nee, inteendeel... Die meeste Psalms was lofpsalms teenoor God. As 'n mens na die groepie gehawende ballinge wat uit die vreemde teruggekeer het na Jerusalem en die afgebreekte tempel op die berg Sion, dan wonder 'n mens partykeer wat hulle nog het om voor dankie te sê. 'n Mens vra jouself in 'n sekere sin af... Wat is nog van hierdie mense oor na alles wat hulle deurgegaan het?
Israel was sonder wapens, sonder 'n leermag om hulle te beskerm. Hulle moes weer van voor af begin om hulle huise op te bou. Hulle het baie mense gehad wat nog letsels en wonde oorgehou het van die ballingskap, en familielede wat dood is in die oorloë. Hulle het geen politieke mag meer gehad nie. Hulle is as volkie vertrap tussen die Perse, die Babiloniërs, en die wrede Romeine. En tog, teen alle verwagting in, kry ons hier in Psalm 147 'n jubelende loflied tot eer van die Here. Wat op aarde het gemaak dat hierdie volk nog ten spyte van alles gehelp om die Here te kon prys?
Weet julle, vriende, soos die teekoppie in ons storie het Israel ook tot 'n besef gekom dat alles wat met hulle gebeur het deur die tye 'n besondere doel gehad het... Want deur dit alles het hulle begin besef dat die Here met hulle 'n besondere doel gehad het, en dat Hy besig was om van hulle 'n pronkstuk in sy Koninkryk te maak. Dat hulle nie net in die negatiewe moes vaskyk nie, maar werklik die positiewe in hulle lewe moes sien...
En so sien ons dat die digter van hierdie Psalm onophoudelik die Here se lof besing. Dat die dankbaarheid en lof vir God net onophoudelik uit sy mond uit vloei. Hy begin deur te sê dat dit hy nie soos 'n klein kindjie net dankie sê omdat sy ma gesê het dat dit goeie maniere is nie. Hy begin deur te sê dat dit goed is, en nodig is vir 'n mens om dankie te kan sê. Hy begin deur dit duidelik te stel dat 'n mens self daarby baat wanneer jy dankie sê. Dat dit lekker is om die Here net spontaan te kan loof! Dat dit 'n vreugde en genot is om sy Naam groot te maak.
Die digter kom gee 'n ellelange lys van dinge waarvoor Israel vir God kan dankie sê: Hy kom sê dankie vir die krag van die Here om die stad Jerusalem weer te herbou, en die feit dat die Here die Israeliete weer bymekaar bring. Hy kom sê dankie aan die Here dat hy mense met stukkende harte genees, en dat Hy ongeneesbare wonde in mense se lewens kom verbind, en heelmaak.
Hy kom sê ook dankie dat God in die besonder die onderdruktes ondersteun, en die goddeloses vertrap... dat God nie beïndruk word deur groot en magtige wapentuig en sterk soldate nie, maar dat Hy hom verheug in hulle wat Hom dien, en op Hom hoop. Dat God die een is wat ook die nuut geboude stad se poorte sal versterk, en die Een is wat ware vrede oor die land gee.
Hy kom sê dankie vir die wete dat 'n mens se lewe nie in die hand is van die voorspel van sterre nie, maar dat die Here die sterre elkeen gemaak het, en hulle naam ken. Hy kom sê dankie vir die wete dat die Here alles weet, en Almagtig is om enige probleem wat ons het, uit die weg te kan ruim.
Dat God ook die God is wat die natuur in sy Hand hou... Wat die hemel oordek met wolke, en reën vir die aarde verskaf. Wat die gras op die kaal berghellings laat groei, en die wilde diere en jong kraaie kos gee. Wat vir sy kinders die beste graan gee, en wat die seisoene beheer en bestuur.
En dit is oor hierdie wonderlike God waaroor ons ook vanoggend hier saam is. Ons weet dat ons in baie opsigte ervaar dat ons magteloos is. Dat ons soos die Israeliete ook maar staan en kyk wat om ons in die wêreldpolitiek, en die wêreldekonomie besig is om te gebeur. Dat ons ook voel dat onsself nie meer veel kan doen aan ons eie lot in hierdie land nie...
Maar ons staan ook vanoggend voor die Here as die een wat ook in die afgelope twee seisoene vir ons geseën het met wonderlike reëns en wonderlike oeste. As die Een wat vir ons deur swaar tye heen altyd vertroos het en gedra het. As die een wat ook vir ons vrede verskaf, en die geleentheid om Hom werklik te kan dien. As die Een wat Sy bevele aan ons bekend maak, en Sy Woord aan ons gegee het. En daarom is dit noodsaaklik dat ons die Here werklik loof, en Sy Naam kom grootmaak. Dat ons hom met lofliedere en snaarinstrumente prys, en Hom eer.
Dit is wonderlik om vanoggend hier saam te wees om vir Hom dankie te sê: Maar dit is ook nodig dat ons op die pad vorentoe ook dankbaar sal leef. Dat ons lewe 'n loflied tot Sy eer sal wees, en dat ons ons sal verdiep in sy Woord, en die riglyne wat Hy vir ons in die lewe gegee het.
Ek sluit af. Daar word vertel van die wêreldberoemde snydokter wat 'n groot ateis was. Hy het glad nie in God geglo nie. Dit gebeur toe dat hy eendag 'n man moes opereer wat in 'n fabriek in 'n groot ongeluk was. Die man se hele lyf was in twee gesny, en net sy rugwerwel het die twee stukke van sy liggaam aanmekaar gehou. Die dokter het geen hoop gehad nie, en maar vasgewerk wat hy kon.
Die persoon het wonderbaarlik reggekom, en toe die familie na die dokter toe kom om vir hom dankie te sê, was sy antwoord aan hulle: "Moenie vir my dankie sê nie, sê maar net dankie!.
Kom ons bring ook in hierdie tye die lof aan die een wie dit werklik toekom. Ons Drie-Enige God en Vader, wat ons elke dag dra en lei!
AMEN!
