Friday, April 6, 2012

Jesus dra jou skande…

Goeie Vrydag – 6 April

Skriflesing:

Johannes 19:1-16

Tema:

Jesus dra jou skande!


 

Voorsang:

Daarom

Ek soek U, O God

Gebed

Herder Heer,


 

Lofsang:

Lied 240:1,2 Heiland as in ootmoed stil

Voorbereiding van tafel:

Ek staan skuldig voor U Heer

Slotsang:

Lied 396:1-4 Aanskou die Heiland, sien die kruis


 

Boodskap:

Ek wonder wat is die grootste skande wat jou nog oorgekom het… Dalk het jy in graad 1 per ongeluk in die klas jou broek natgemaak, omdat jy bang was om vir juffrou te vra om "kamer te verlaat". Ek het nou die dag 'n groot skande oorgekom. Ek het voor 'n groot saal kinders 'n stoel stukkend gesit, en al die kinders het vir my gelag.

Daar is ook ander skandes wat 'n mens kan oorkom, wat nog slegter is vir 'n mens en jou familie. Vir 'n familie is dit baie sleg as 'n vrou swanger raak voor die troue, en veral as sy nog met 'n groot, swanger maag voor die kansel moet staan. Dit is ook 'n groot skande as 'n famlilielid van 'n misdaad soos verraad en korrupsie beskuldig word.

In gister se Beeld is daar 'n storie van 2 tydelike landdroste wat aangekeer is vir gewapende roof. Dit is darem die toppunt. Dat iemand wat oor ander se oortredings 'n beslissing moet vel, self so iets soos 'n gewapende roof moes pleeg... Maar hulle is nog nie skuldig bevind nie. Hulle is nog VERMEENDE MISDADIGERS, en hulle skuld moet nog bewys word.

Maar dink aan die koerantopskrifte op die oggend van Paasmaandag, die jaar 33 na Christus: Dit moes soos volg lui... Man sterf pynlik nadat Hy aan Godslastering skuldig bevind is...

Die berig sou al die grusame besonderhede dra... Pilatus wou hom eers nie skuldig bevind nie. Die Jode het hom gedwing. Hy het nog vir Barabbas in sy plek ook vrygelaat... Gewoonlik is die kruisiging eenkant gehou vir die grootste oortredings. Vir spioene en verraaiers, massamoordenaars en terroriste.

Jesus is met 'n sweep met stukkies yster in oor sy rug geslaan. Hulle het 'n kroon van dorings gevat en op sy kop gedruk, dat die bloed uitloop... Hulle het hom uitgetart... Hulle het kamtig nederig voor hom kom kniel, en dan opgestaan en hom deur die gesig geklap. Hulle het hom bygedam en hom met die vuis geslaan.

Jesus moes na alles na Golgota, die plek van die kopbene, strompel met die kruis op sy skouers. Hy is tussen twee van die grootste reeksmoordenaars in Palestina opgehang. Een van die moordenaars het Hom nog gespot en gesê: Is U dan nie die Christus nie? Red uself en ons ook, en kom van die kruis af... (Lukas 23:39). Toe hy dors gehad het, het die soldate aan hom bitter asyn op 'n stok gegee. Hulle het sy sy met 'n spies oopgekloof om te kyk of hy regtig dood is...

Watter vernedering, watter skande het nie op hierdie Vrydag 2000 jaar plaasgevind nie. Maar Jesus het geweet wat kom... Hy het geweet dat daar vir hom 'n bitter tyd voorlê. Hy het bloed gesweet in die tuin van Getsemane terwyl Hy gebid het: "Vader, laat hierdie beker by my verbygaan." Kan ons ons hoegenaamd indink watter skande Jesus moes verduur... Ek dink nie ons kan nie. Maar weet julle, liewe vriende, dit is ook tyd dat ons moet probeer...

As die skrywer van die boek Hebreërs daar in die eerste paar verse van Hebreërs 12 die Christene in hulle lyding aanmoedig, dan moedig hy hulle aan om Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof voor hulle oë te hou. Wanneer ek in die verlede hierdie gedeelte gelees het, het ek altyd gedink aan die skare getuies wat in die hemel juig as ek daar aankom, met Jesus wat met ope arms op die troon vir my sit en wag.

Maar ek moes ook in hierdie Lydenstyd verder as dit lees... Ek moes lees dat ek Hom voor oë moet hou wat die kruis verduur het sonder om vir die skande daarvan terug te deins. Ek moet ook die bebloede, dors, en gepynigde Jesus voor oë hou wat homself ingehou het elke keer as iemand hom uittart, hom spot, hom met 'n vuis in die gesig slaan. Jesus wat die ander wang gedraai het elke keer as iemand hom geklap het... Wat homself so in toom gehou het, dat Hy selfs vir die joelende skare kon bid en kon vra: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."

Ja, liewe vriende, al wil ons nie graag nie, móét ons. Ons moet ook na Jesus kan kyk as die een wat gely het. Jesus as die een wat die skande moes ondergaan. Want Jesus se skande is dit wat ons geloof anders maak... Ja, Jesus, die koning van die heelal, word soos 'n vel aan 'n stuk hout opgehang. Jesus, die onskuldige, word deur Pilatus skuldig bevind ter wille van ons...

Daar word vertel van 'n man wat uit Mosambiek na Suid-Afrika wou vlug. Hy het toe ooreengekom met mense wat jou teen 'n prys help om op 'n sekere plek deur die grensdrade te kom. Nadat die mense die man gehelp het om deur die grens te kom, het hy aan hulle gesê dat hy nie geld het om hulle te betaal nie. Hulle het hom toe met die vuis bygedam en behoorlik geslaan. Toe antwoord hulle hom dat hy nou betaal het...

Liewe vriend en vriendin, ek glo dat daar niemand hier is wat nie al skandes in die lewe oorgekom het nie. Watter pyn sou ek en jy moes verduur as ons werklik vir ons sondes moet boet? Hoeveel vuishoue sou ons moes kry? Hoeveel van daardie geselslae sou ons moes kry? Danksy dit wat Jesus vir ons gedoen het is dit nie meer nodig nie... Hy het klaar betaal...

Maar die stryd is nie verby nie... Totdat Jesus weer kom, gaan ons as sy kinders nog dikwels onskuldig moet ly. Ons gaan baie moeilikhede verduur omdat ons sy kinders is. Dit kan mos nie anders nie? Paulus leer ons duidelik in Fillipense 3:10 dat die wat deel gekry het aan sy opstanding ook deel sal hê aan sy lyding en dood, sodat ons uiteindelik die hemelse kroon saam met Hom sal erf.

Ek sluit af... Jan-Harm Taljaard vertel aan my 'n skokkende verhaal... Hy het laas naweek vir sy verjaardag 'n gratis vlieg-opleidingsessie by sy vrou as persent gekry. Maar toe hy by die vliegveld sit en wag dat dit sy beurt is, het die vliegtuig net nie teruggekom nie. Die persoon wat voor hom opleiding gekry het, het saam met die instrukteur geval, en hulle is beide op slag dood.

Julle kan net dink hoe hy teruggery het huis toe... Sonder om 'n woord te sê...

Terwyl hy daaraan dink hoe maklik dit HY kon gewees het. Net so sit ons elkeen vanoggend hier. Ons behoort daaraan te dink wat sou gebeur het as Jesus nie gekruisig is nie. Dan was dit ek en jy... Dan sou ons daardie lyding moes deurgaan. Mag elkeen van ons in hierdie tyd ernstig stil word, en dink aan wat Jesus vir ons gedoen het. Mag dit ons inspireer om werklik ook die skande en die lyding wat oor ons pad kom, ter wille van Hom te dra...


 

AMEN!

Sunday, April 1, 2012

Heb 9:9-15 Jesus kom skenk sy bloed – vir jou!

Boodskap gelewer op Sondag 1 April 2012


 

Daar word die grusame grappie vertel van Jannie wat van die skool af kom met 'n neus wat vol bloed is. Sy ma was onmiddellik baie ontsteld, en het gevra wie dit gedoen het. "Dit was Pieter", het Jannie geantwoord. "Sal jy hom kan herken?", het sy ma gevra. "Ja," het Jannie geantwoord, "Ek het sy oor in my sak".

Jy sal my dalk vanoggend dalk vreemd aankyk, en dink, maar so 'n grappie hoort nie eintlik in die kerk van ons Here Jesus nie. Dit is sommer net bar en ongepas. Die kerk is 'n plek waar 'n mens moet kan stil word en ontspan. Veral in die lydenstyd van Christus moet alles in 'n sagte kleur van pers gedrapeer wees, en alles moet diep en ernstig en stil wees. Ons moet tyd hê om onsself te kan afsonder van hierdie wêreld, en rustig te word...

Maar weet julle, liewe vriende, as 'n mens mooi na die wêreld om ons kyk, dan is bloed en vergelding 'n wesentlike deel van ons lewens, of ons dit wil weet of nie. Die kans dat daar op hierdie naweek iemand in of van die Bospoort omgewing gebloei het amper honderd persent. Hetsy dit iemand was wat in 'n ongeluk was, of wat in 'n dronk geveg tussen plaaswerkers was, of wat in die werksituasie homself beseer het, Iemand het waarskynlik gebloei.

Dan praat ons nie oor die koerantopskrifte van skole se sportspanne wat in busongelukke was, of van plaasmoorde en plaasaanvalle wat in die afgelope tyd plaasgevind het nie. Dan praat ons nie van stakings, protesoptogte en betogings in ons land waarin mense beseer is nie. Of van gesinsgeweld waarin mense dikwels aan die binnekant meer bloei as aan die buitekant. Dan praat ons nie van Somalië, die Kongo of Mali, van Sirië, Palestina of Libië waar daar tans nog oorlog is nie.

Ons elkeen het waarskynlik in die films of advertensies wat ons in die naweek gesien het, bloed gesien... Ek onthou dat meer as een van die rugbyspelers in die Super 15 tydens die naweek bloed aan hulle gesigte gehad het. Nou praat ek nie eers van die rofstoeiers in WWE nie.Maar in die kerk moet ons liewers nie van bloed praat nie. Dit pas nie hier nie. Ons moet iewers kan ontvlug en ontsnap van die gewelddadige wêreld waarin ons leef.

En tog is die Bybel vol bloed... Dink maar vir 'n oomblik aan Kain wat vir Abel doodgeslaan het. Wat staan in Genesis 4:10 – Wie weet wat daar staan... God sê aan Kain: "Die bloed van jou broer roep na my waar dit op die grond geval het..." Kain het nie vir Abel liggies verwurg, of stilletjies vergiftig nie. Nee, dit moes 'n grusame, bloedige geveg gewees het. En so kan ons verder gaan... In die tabernakel van die Here en in die tempel het daar nie 'n dag verby gegaan wat daar nie bloed gevloei het as die offers gebring is nie. Dink aan Simson wat 1000 Fillistyne met 'n esel se kakebeen doodgeslaan het. Dink aan Koning Dawid, wat so baie bloed aan sy hande gehad het dat hy nie toegelaat is om die tempel te bou nie.

Ons kan die hele dag oor verhale van bloed in die Bybel gesels, maar in hierdie Lydenstyd is dit niks meer as gepas dat ons oor die bloed wat aan Jesus se liggaam gevloei het, praat nie. Want vir Jesus se dood om enigeiets vir ons te beteken, moes daar bloed gevloei het... In Hebreers 9:22 staan daar duidelik... Sonder Wabloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie...

Ja, liewe vriende, Jesus se bloed moes vloei. Jesus moes gegesel word vir ons sondes, sodat sy bloed kon vloei... Daar moes 'n doringkroon op sy kop geplaas word, sodat sy bloed kon vloei. Daar moes spykers deur sy hande en sy voete gekap word, sodat sy bloed kon vloei... Daar moes 'n spies deur sy sy gesteek word, sodat sy bloed kon vloei.

Wanneer Johannes die eerste keer vir Jesus sien (Joh. 1:29), wys hy na Jesus en sê: "Kyk, daar is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem...". As ons hierdie prentjie sien, dan sien ons Jesus in pragtige wit klere, wat met 'n ligglans omring na Johannes aangestap kom. Maar daardie uitroep moes ook soos 'n dolk in Jesus se eie hart, en die Vader se hart gewees het. Want hulle het geweet dat hierdie lam oppad is om geslag te word. Dat hierdie lam se bloed sou vloei. Dat hierdie lam gekom het as die offer, gekom het om te bloei...

Hoekom so 'n bloedbevlekte preek vanoggend? Hoekom so 'n morsige preek...? Want, liewe vriende, daar was niks moois aan Jesus se kruisdood nie. Elkeen wat al die film, "the Passion of Christ" gekyk het, sal dit weet. Jesus se kruisiging het oor niks anders gegaan as 'n klomp bloeddorstige Jode wat die bloed van Jesus gesoek het, en dit gekry het nie. Wat Jesus se bloed gekry het, sodat daar vir die wêreld vergiffenis van sonde kon wees nie. Wat Jesus se bloed gekry het, sodat ons kan Nagmaal gebruik, en weet dat Jesus as 'n offer vir ons gesterf het nie, 'n Paaslam wat sy bloed vir ons geoffer het.

In hierdie paastyd sien ek hoe daar NG Gemeentes is wat selfs melksjokolade lammetjies uitdeel om te eet. Is dit waaroor Paasfees en Jesus se dood werklik gaan? Gaan dit oor die geleentheid om weg te lê aan daar die bokse paaseiers met die malvalekker binnekant waarvoor my twee dogters, (en ekself) baie lief is? Of gaan dit oor die verhaal van Jesus se bloed, wat in liters gevloei het op Goeie Vrydag?

Toe Jesus daar in Johannes 6 vers 54 aan die skare sê: "Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie.", is daar baie wat omgedraai het. Hulle het aanstoot geneem weggestap en gesê: "Maar hierdie woorde is darem te kras."

Ek kry Vrydag 'n e-pos rondom lesings van Kenda Dean, 'n professor aan Princeton Seminarium. Sy beweer dat die jeug van vandag in 'n valse godsdiens ingelei word. Sy beweer dat ons in 'n teddiebeer godsdiens glo. Ons dien net die Here om getroos te word in ons omstandighede, om gerus gestel te word oor ons lewens, sonder dat ons naastenby die eise van Christenskap in ons lewens besef.

Liewe vriende, ook in 2012 dink ons terug aan die bloed van Jesus wat aan die kruis vir ons gestort is. Dit is juis gedoen, en Hebreërs 9 leer ons juis dat ons gewetens deur hierdie bloed gereinig is. Ook hierdie Paasfees het ons die keuse om Jesus se bloed te ignoreer, en voort te gaan asof dit liewer te grusaam vir ons is... Of ons kan werklik met hartseer gaan terugdink aan wat die wêreld aan Jesus gedoen het, sodat ons kan leef. Ons kan met blydskap besef dat ons nie meer offers hoef te bring soos die Jode van destyds nie...

Ek sluit af... Ek kry hierdie week in my e-pos 'n boodskap oor 'n 100 persent boer. 'n Honderd persent boer, sê hulle, is iemand wat tot diep in die winter nog met 'n kortbroek loop, wat net drie Engelse woorde ken: "Yes, no, en 'vat vrou, hulle praat alweer Engels'. 'n Honderd persent boer is iemand wat altyd 'n stuk binddraad, 'n tang en 'n rol isoleerband (isolation tape) in sy bakkie het. Maar die een eienskap van 'n honderd persent boer was nogal vir my treffend. Daar word gesê dat hy tot drie keer 'n dag iewers bloei sonder dat hy dit agterkom. Wat dit eintlik sê, is dat hy so besig is met sy harde werk, dat hy nie agterkom wanneer hy hom stukkend stamp of skuur nie.

Eintlik behoort dit van 'n Christen ook waar te wees. Ons gaan baie stampe en stote van die samelewing kry. Jesus sê dan aan sy dissipels dat hy hulle soos weerlose skape tussen wolwe instuur (Matt. 10:16). Die wêreld gaan ons baie wonde toedien... Maar in hierdie Paastyd kan ons weereens besef dat ons kan volhard, omdat Jesus reeds die prys vir ons betaal het, omdat Sy bloed reeds vir ons gevloei het.


 

AMEN!

Sunday, March 25, 2012

Boodskap vir Jeugdiens op Sondag 25 Maart 2012.

Skriflesing Johannes 12:34-36


 

Tema: Julle moet kinders van die lig wees!


 

Voorsang:

As ek in die aand na sterre kyk

Beeld van God

Ek het sy vreugde

Ek is veilig in Jesus se arms.


 

Lofsang:

In die hemel is die Heer


 

Na Wet:

Hy leef, Hy leef Hy leef hier in my hart


 

Slotsang:

Lied 488 Helder Skyn U lig vir die nasies


 

Tema: Julle moet kinders van die lig wees!


 

Ds. Johannes: More Bekkie!

Bekkie(gebliddoek): More doom. Johannes, waar's jy vanoggend?

Ds. Johannes: Maar ek is mos altyd hier langs jou... Hoekom vra jy?

Bekkie: Want ek kan nie sien nie, doom Johannes.

Ds. Johannes: Nou hoekom is jy dan gebliddoek, Bekkie?

Bekkie: Wel, doom Johannes, want ek wil graag weet hoe dit voel om blind te wees?

Ds. Johannes: En hoe voel dit, Bekkie.

Bekkie: Gladnie lekker nie, Doom Johannes. Dit is baie sleg om niks te kan sien nie. Alles is donker. Dit is soos om in die nag te loop. Ek het sommer al 'n paar keer my kop teen 'n deur of 'n muur gestamp. Ek het sommer al 'n paar keer gestruikel en geval ook. Kyk Oom Johannes, kyk hierdie pleister teen my kop.

Ds. Johannes: Ai tog, Bekkie, maar dit moes baie seer gewees het. Maar weet jy, die Bybel praat ook van mense wat in die donker lewe.

Bekkie: Hoekom is hulle dan blind, ds. Johannes?

Ds. Johannes: Nee, hulle is nie blind nie, Bekkie. Maar hulle lewens is donker. Hulle dink net aan donker dinge, en hulle kies ook om eerder in die donker dinge te doen as in die lig, waar almal hulle sal sien.

Bekkie: Stamp hulle ook hulle koppe, ds. Johannes.

Ds. Johannes: Ja bekkie, hulle stamp hulle koppe, maar nie soos jy jou kop gestamp het nie. Nee, hulle kry teenspoen, want hulle word uitgevang vir dit wat hulle in die donker gedoen het.

Bekkie (leun na doom Johannes toe): Ag, doom Johannes, dis verskriklik! Maar wil doom nie my blinddoek maar liewer afhaal nie... Ek wil nie meer in die donker lewe nie. Ek wil liewers in die lig lewe, daar waar mense kan sien wat ek doen, en waar ek ook Jesus se liggie kan laat skyn!

Ds. Johannes: Gaaf Bekkie, ek doen dit graag (haal Bekkie se blinddoek af)!


 

Boodskap...


 

SKYFIE 1 Daar word vertel dat Van der Merwe ( op 'n slag vir 'n oogarts ingestaan het. Toe die eerste pasiënt by hom kom, kla die persoon dat hy nie ver genoeg kan sien nie. Mike vat hom toe na die venster toe, en vra aan hom of hy die son kan sien. Ja, sê die persoon vir Mike. Nou maar dan kan jy mos ver genoeg sien, sê hy.

Wie van julle kinders kan tot by die son sien? Ja, ek is seker almal van julle kan tot by die son sien. Maar julle kinders het seker ook al gehoor dat 'n mens nooit reguit na die son mag kyk nie. Want, as jy reguit vir die son kyk, sal dit jou oë so seer maak dat jy selfs kan blind word.

Ons mense dink dikwels dat die son maar net daar moet wees... Dat die son maar net in die oggend moet opkom, en in die aand moet ondergaan. Maar eintlik is alles nie so eenvoudig nie... Want in die eerste plek sou julle dalk al geleer het dat dit nie die son is wat opkom nie, maar dat dit die aarde is wat om die son draai, en om sy eie as. En daarom lyk dit vir ons asof die son besig is om te draai, terwyl dit eintlik onsself is.

Toe Galileo Galilei 400 jaar beweer het dat die aarde om die son draai (SKYFIE 2), is hy tot 'n ketter verklaar deur die Roomse Kerk. Hy is uiteindelik eers laat in die 20ste eeu ontban, nadat almal besef het dat hy wel reg was (SKYFIE 3). Partykeer is dit vir die mens moeilik om te besef dat alles nie om onsself draai nie, maar dat daar 'n skeppergod is om wie alles draai.

Die Egiptenare het al in hulle tyd besef dat die son iets baie spesiaals is. En daarom het hulle selfs die son as 'n God gesien, en hulle het gepraat van Ra, die songod. Maar ons weet vandag dat die son self nie 'n god is nie, maar een van baie ander sonne wat ons sien as ons in die nag na die hemel kyk. Uit die Bybel weet ons dat God die hemel en die aarde, die son en die maan en die hele heelal geskep het. Net soos ons liedjie sing weet ons: "My God is so groot, so sterk en so magtig, daar's niks wat my God nie kan doen..."

En omdat God so groot, so sterk en so magtig is, beteken dit juis dat Hy ons geroep om hom te dien. Om sy Naam te prys as die een wat alles gemaak het. En dit is waar ons by ons Skriflesing van vandag kom. Ons weet dat God lig is, en dat daar geen duisternis in Hom is nie 1 (Joh 1:5). Net so was Jesus die lig van God wat na die aarde toe gekom het om die duisternis, die donker en die slegte op die aarde te kom wegjaag... (Joh 1:9).

En dit is die verhaal van Jesus se lewe. Hy het in 'n donker wêreld vir ons donker sondes kom sterf, sodat ons nie meer in die donker hoef te lewe nie. Niemand hou mos in elk geval daarvan om in die donker te lewe nie. In ons huis moet ek altyd 'n ganglig aanlos, sodat Jana en Marnel nie bang word as hulle dalk in die nag wakker word nie.

Net so kan ons nie sonder die lig van Jesus in ons lewe nie. Hy het op hierdie donker aarde kom skyn sodat ons nie in die donker hoef te lewe nie. Maar Jesus moes ook weer weggaan hemel toe om vir ons plek te gaan voorberei. En daarom moedig hy sy dissipels aan om die sy lig te gebruik, en van hom te leer, terwyl hy nog tussen hulle was.

Die Here wil ook vanoggend vir elkeen van julle kom aanmoedig om ook van Sy lig te gebruik, en van Sy lig te leer terwyl julle nog in Bospoort is. Wanneer 'n mens van jou huisgesin en jou familie weggaan, word dit baie maklik donker om jou. Daar is selfs baie familie van ons in die buiteland. Wanneer hulle dan daar ver is, waar iemand nie meer sien wat hulle doen nie, dan leef hulle maklik in die donker. Dan gaan hulle nie meer kerk toe nie, en dien nie meer die Here nie.

Elkeen van julle moet weet dat dit 'n voorreg is om in die lig van God te kan lewe. Dis 'n groot voorreg om Christelike ouers te kan hê, om skool toe te kan gaan, en om kerk toe te gaan, en van die Here te leer. Maar dikwels besef ons dit nie. Dikwels dink ons maar net dat die Here om ons draai, en net daar is om ons te help as ons 'n probleem het nie. Nee, liewe kinders, ons moet altyd onthou dat ons lewe om die Here moet draai, en dat ons Hom altyd moet prys in alles wat ons doen.

Ek sluit af... Ek wonder wie van julle daardie kinderliedjie ken wat so begin...

Eendag sê pa muis vir sy liewe kleine vrou, ek dink dit is nou tyd dat ons dogtertjie moet trou...

Ja, ek kan sommer sien 'n hele paar kinders ken die liedjie! Dit vertel die verhaal van 'n pa en 'n ma wat vir hulle dogter net die beste wou hê. Hulle het toe besluit dat muis nie die beste man vir haar sal wees nie. So besluit hulle om die son te vra om vir haar 'n man te wees (Skyfie 4). Maar die son het gesê dat hy nie beste man sal wees nie, omdat wolk hom sommer donker maak as hy voor hom gaan staan. So gaan vra hulle toe vir wolk om met hulle dogter te trou. Maar wolk het ook geweier omdat hy beweer het dat wind sterker as hy was. As die wind 'n wolk waai, moet hy sommer padgee.

So is hulle toe na wind toe om vir wind te vra om met hulle dogter te trou. Maar wind het ook geweier, omdat hy nie deur 'n muur kan waai, nie. Toe die twee moedelose ouers na muur toe gaan om vir hom te vra, sê hy aan hulle dat hy nie die aanbod kan aanvaar nie, omdat hy niks kan doen as muis 'n gat deur hom vreet nie. En so het die ma en pa maar na muis toe gegaan, en vir hom gevra om met hulle dogter te trou.

Net so moet ons vanoggend ook besef dat ons op baie ander plekke in die lewe vreugde kan gaan soek, eerder as in God se lig. Of dit nou in die blink liggies van die stad is, of die flitsende ligte van 'n nagklub, of die blink glans van diamante – ons moet onthou dat dit vreeslik is as 'n mens uiteindelik in die donker moet lewe. Dit is dikwels maklik om in die lig te loop. Maar as jou hand nie in God se hand is in die donker tye nie, as jy vanoggend net nag voor jou sien, weet dat God daar is. Ons kan nooit vir hom wegvlug nie... (Ps. 139). Hy steek ook vandag sy Hand weer na jou uit, en nooi jou om in sy lig te lewe!


 

AMEN!

Saturday, March 17, 2012

Preek te Bospoort op Sondag 18 Maart – 4de Lydenssondag.

Skriflesing: Matt. 21:33-46

Boodskap:


 

Skriflesing en liedere vir Sondag 18 Maart (Vierde Lydensondag).


 

Skriflesing: Matt 21:23-46

Tema: God gee alles vir Sy wingerd!


 

Voorsang:

Hierdie donker uur…

Heer Jesus, my Redder.

Stuur my

As ek soek…


 

Lofsang:

Wat 'n vriend het ons in Jesus (vs 1-3) –


 

Na Wet: Lied 396:1-4


 

Slotsang:

Lied 266 Onse Vader


 

Boodskap.

Daar word vertel dat die bekende Langenhoven eenkeer in die parlement gesê het dat die helfte van die parlement ape was. Die lede van die opposisie of die ander party het toe geprotesteer en gesê dat hy dit moes terugtrek. Langenhoven het toe dadelik geantwoord: "Goed, die helfte van die parlement is nie ape nie."

Net soos Langenhoven in sy tyd met die parlementslede se koppe gesmokkel het, of hulle aspres deurmekaar gemaak het, so het Jesus dikwels mense deur sy gelykenisse 'n bietjie deurmekaar gemaak.

(SKYFIE 3)Sarah Breuer het gesê dat Jesus se gelykenisse nie daar was om dit wat ingewikkeld was eenvoudig te maak nie, maar juis om dit wat mense vir die eenvoudige waarheid of soetkoek aanvaar het, ingewikkeld te maak. Jesus het mense weer opnuut laat dink oor die verkeerde wat hulle gedoen het, wat vir hulle heeltemal reg gelyk het.

Soos Jesus in sy lydenstyd Sy dood nader, sien ons hoe Hy telkens daarna verwys dat Hy oppad is om te sterf. En in die gelykenis van die boere en die wingerd kry ons een van die duidelikste verduidelikings van hoe sleg dit in Israel gegaan het, en hoekom dit nou eintlik nodig was dat Jesus vir die wêreld moes kom sterf.

In Mattheus 21 kom vertel Jesus 'n verhaal wat vir ons meer verduidelik van dit wat alreeds gebeur het, van dit wat in Jesus se tyd besig was om te gebeur, en dit wat in die toekoms sou gebeur.

Jesus kom vertel die verhaal van 'n boer wat 'n wingerd ontwikkel het. Hierdie boer was baie lief vir sy wingerd, en het 'n klomp dinge gedoen om sy wingerd veilig te maak. Hy het 'n wagtoring gebou, sodat niemand sy druiwe sommer kon steel nie. Hy het ook 'n muur om die wingerd gebou, sodat enige mens of dier nie daar kon inkom en dit kom verniel nie. Verder het hy ook gegaan en 'n parskuip om die druiwe tot sap te verwerk. Dit is duidelik dat die boer moeite gedoen het met sy wingerd.

Toe het die boer weggegaan, en die wingerd aan 'n groep boere verhuur. Maar hierdie boere het nie vir die eienaar omgegee nie. Hulle het net aan hulleself gedink. En toe die boer mense stuur om sy deel van die oes te kom opeis, het die verhuurders sy gestuurdes mishandel, en van hulle doodgemaak. Die boer het weer so gemaak, en vir 'n tweede keer het dieselfde gebeur. Die mense het hierdie gestuurdes van die boer doodgemaak...

In hierdie gelykenis moes die Fariseërs in die tyd van Jesus onmiddelik geweet het dat Jesus eintlik oor hulle praat. Want die Romeinse regering het in daardie tyd die Fariseërs juis aangestel om oor die wingerde en lande in Israel toesig te hou. Hulle het egter net hulleself verryk, en die volk arm gemaak. Soos met die tollenaars het hulle omkoopgeld aanvaar, en nooit die volle bedrag aan die Romeine oorbetaal nie.

Maar Jesus se verhaal het nog 'n dieper betekenis as dit gehad... Hy het ook aan Israel gewys hoe dit gebeur het dat Hy Israel as sy wingerd baie liefgehad het. In Jesaja 5:1-7 word Israel al met 'n wingerd vergelyk. Dit is 'n wingerd waarvoor God alles gedoen het, maar 'n wingerd wat nie vrugte gedra het soos dit moes nie.

Keer op keer het God in die geskiedenis mense geroep en na Israel toe gestuur. Hulle is nooit werklik aanvaar nie. Dink maar aan Moses, die profete Elia, Natan, Jesaja, Jeremia en Esegiël. Die mense wou nie hoor wat hierdie gestuurdes van God sê nie, en het hulle telkens vervolg. Ja, koning Herodes het selfs vir Johannes die doper doodgemaak, en sy kop in 'n skottel aan Salome, sy broerskind gegee.

Maar Jesus se storie is nog nie klaar nie. Hy vertel hoe die boer besluit om sy eie seun na die boere toe te stuur. (SKYFIE 5) Hy het gedink dat hulle ten minste na hom sou luister. Maar juis dan doen die boere 'n skokkende ding. Hulle dink... dalk is die eienaar van die wingerd dood. As ons sy seun doodmaak, sal hy nie eers 'n erfgenaam hê nie, en dan sal die wingerd mos vir altyd ons sin wees. Hulle tree toe eintlik op asof die eienaar dood is, asof hy hulle niks kan maak nie, en vermoor sy seun.

Ja, liewe vriende, met Jesus se verhoor was dit skokkend dat die heiden Pilatus sy hande in onskuld gewas het, en gesê het dat hy liewers niks met Jesus se dood te doen wou hê nie. Dat die Jode uitgeroep het – "Laat sy bloed op ons kom!". Hulle het in 'n sin kom sê dat Jesus se bloed eerder op hulle moes kom, dat hulle bereid was om God se oordeel oor hulle lewens te aanvaar. Hulle het eintlik gemaak asof God dood was. Of hulle het gedink... Ons sal wel later bekommerd wees oor wat met ons kan gebeur...

En wat doen God... God vernietig die leiers van die Joodse volk. In 70 na Christus word Jerusalem deur die Romeinse keiser Vespasianus ingeval, en die stad Jerusalem word vernietig. Jesus, die seun van die eienaar, staan op uit die dood, kom stel 12 apostels aan, wat werklik vir sy wingerd sou omgee, en die goeie nuus van sy oorwinning oor die dood die wêreld sou inneem.

En so kom ons by die toekoms van hierdie verhaal, waarin ons vandag leef. Telkens in die geskiedenis moes die Here maar weer ingryp in sy wingerd... In die 16de eeu het die Rooms katolieke priesters hulleself verryk ten koste van die volk. Martin Luther, Johannes Calvijn en Ulrich Zwingli moes 'n bittere stryd stry om die bande van hierdie leiers te breek. Baie mense het gesterf...

Jesus was God se laaste poging... Dit was sy laaste probeerslag. Hy het niks groter om te gee as sy eie Seun nie. Wat maak jy met Jesus in jou lewe? Aanvaar jy hom as God se Seun, sy gestuurde, of gaan jy maar eers op jou manier met jou wingerd aan... Die tyd is min... Een van die dae is die koning van die wingerd finaal terug, en dan sal elkeen moet vertel wat hy of sy met God se seun gemaak het. (SKYFIE 7).

Ja, liewe vriende, ons is die verhuurders van 2012... Ook ons is aangestel om na God se wingerd om te sien, en seker te maak dat dit vrug dra. Ons word geroep om die vrugte van die wingerd ook aan God terug te gee... Hierdie wingerd is vir God so belangrik dat sy seun Jesus daarvoor kom sterf het. Gee ons regtig om vir die wingerd, en kyk ons daarna? Kan ons die vrugte van die wingerd wys? Gee ons aan God sy regmatige deel van die oes? Gee ons die oes van die wingerd op die regte tyd aan God, of hou ons dit eenkant, met die voorneme om dit later eers te gee?

Hierdie vraag moet elkeen van ons maar op ons eie antwoord. Al wat ons wel deeglik moet besef, is dat die Groot Boer baie lief is vir sy wingerd. Ons word geroep om sy wingerd op te pas, en ook soos die gestuurdes van destyds, te protesteer teen elkeen wat hierdie wingerd vir sy eie gewin gebruik, sonder om aan God te gee wat Hom toekom...

AMEN!


 

Saturday, February 25, 2012

Boodskap op Sondag 26 Februarie 2012 (Eerste Sondag in Lydenstyd).


 

Skriflesing: Matt 10:34-39

Tema: Neem jou kruis op en volg Jesus!


 

Voorsang:

Kyk Hy kom!

Houtkruis

Meer en meer soos Jesus

Herder Heer

Lofsang:

Lied 464 O Heer my God!


 

Na Wet:

Liedboek 177: Jesus, groot bo almal


 

Slotsang:

Lied 512:1-3 Nader my God by U…


 

Boodskap:


 

Daar word vertel van die ou wat 'n advertensie in die koerant geplaas het vir iemand om saam met hom te gaan jag. Die persoon moet lekker kan gesels, goeie grappe ken, en goed kon kosmaak. Nie lank na die advertensie nie, bel daar iemand wat hakkel. Toe die persoon hom vra of hy goeie grappe, ken, antwoord hy – Nnnie e-e-e-intlik nnnniee. Die jagter vra hom toe of hy goeie kos kan maak, en hy antwoord – Nnnneee, e-e-ek vvvverbrand aaaaltyd die kkkkos wwwwanneer ek mmmoet kkkkosmaak. Nou hoekom bel jy dan, vra die jagter toe... Wel, ek bel net om te sê dat ek nie kan saamgaan nie...

Weet julle, liewe vriende, ek het al baie sulke oproepe in my lewe as predikant gekry... Baie oproepe van mense wat baie belangstel om iets te gaan doen. Mense wat sê dat iets lekker klink, maar wanneer die kostes en die aktiwiteite op die program genoem word, besluit dat hulle liewer 'n volgende keer sal saamgaan. Mense, veral kinders, sal ook dikwels vra wie die ander is wat saamgaan, en dan eerder besluit om te bly, as daar nie van hulle maatjies is nie.

Alhoewel Jesus dit nooit maklik gehad het in sy bediening op aarde nie, het hy op 'n stadium 'n baie groot aanhang gehad. Daar was 'n menigte mense wat saam met hom geloop het, en gretig was om te hoor wat hy sê. Mense wat graag die wonderwerke wou sien wat hy doen... Ek het laas Sondag ook daarna verwys dat Jesus Moses en Elia op 'n berg ontmoet het, en dat hulle hom aangespoor het om hierdie pad klaar te stap. Petrus wou nog drie hutte vir hulle bou, maar Jesus het hom bestraf, omdat Hy geweet het dat daar 'n moeiliker pad vir Hom voorlê.

Maar hier, in ons Skrifgedeelte van vanoggend, kom Jesus by 'n punt waar hy sy volgelinge moes sif... Hy moes besluit wie verder saamgaan en wie nie. Hy het geweet dat die pad van swaar lyding nou voorlê, en dat nie almal hierdie deel van die pad sal kan saamstap nie. En daarom kom praat Hy baie duidelik met sy dissipels oor die toelatingsvereistes vir hierdie pad saam met Hom.

In sy bekende boek, "the cost of Discipleship" kom leer Dietrich Bonhoeffer ons die volgende: "The first call which every Christian experiences is the call to abandon the attachments of this world." Bonhoeffer kom leer ons hier dat die eerste ding wat die Here Jesus vir sy dissipels gevra het, was om hom onvoorwaardelik te volg... Hulle moes dit wat hulle in hierdie wêreld vasgehou het, laat staan, en Hom alleen volg.

En daarom begin die Here Jesus op hierdie pad van swaarkry om te verwys na die dissipels se familie. In die eerste plek kom sê Jesus aan hulle dat dit nie soseer gaan oor wie saamgaan op die pad nie, maar oor wie nie saamgaan nie. Om die pad saam met Jesus te stap, beteken in die eerste plek dat 'n mens vrede daarmee sal maak dat jy nie almal wat vir jou lief en dierbaar hier op aarde is, sal kan saamneem nie. 'n Paar van julle het al die film "Left Behind" gesien. Al is die film volgens my op die dwaalleer van die wegraping gebou, is dit belangrik om raak te sien dat van ons familie, en gesinslede gaan agterbly as die Here Jesus weer kom om ons te kom haal. Ons sal moet besluit vir wie ons liewer is...

Die meeste van ons hou daarvan om die "vrede te bewaar". Rick Warren noem in sy kursus oor doelgerigte liefde dat die "bewaar van die vrede" nie beteken om maar net oor elke probleem met ander stil te bly nie. Nee, dit gaan daaroor om probleme met ander te hanteer, daaroor te praat, en dit te probeer uitsorteer. Dit gaan ook beteken dat ons uit party situasies en verhoudinge in ons lewe moet uitstap, wanneer dit duidelik word dat mense nie om ons teen Jesus kies. Dit was veral in Jesus se tyd waar wanneer Jode Christene vervolg het, en gesinslede wat Jesus aangeneem het, heeltemal verwerp is. Dis hoekom Paulus ook sê dat 'n gelowige nie met 'n ongelowige in dieselfde juk kan trek nie. Ons kan nie nou met iemand saamleef, as so 'n persoon die Here Jesus verwerp nie.

Die tweede kwalifikasie wat Jesus vir sy mede-reisigers stel, is dat hulle bereid moet wees om hulle kruis op te neem en Hom te volg. Wat het dit in Israel beteken wanneer jy by soldate verbyloop met iemand wat besig is om 'n kruis te dra. Hulle was verseker nie oppad na 'n partytjie nie. Nee, hierdie ou wat die kruis gedra het, was oppad om te gaan sterf.

As ek vandag vir jou vra of jy 'n kruis dra, sou jy dalk in die eerste plek dink aan mooi goue of silwer kruisie aan 'n hangertjie om jou nek of aan jou pols. Of 'n kruis op jou T-hemp of op jou kar. Maar eintlik beteken dit iets totaal anders. Om jou kruis in die lewe te dra, beteken dat jy saam met Jesus oppad is na Golgota – dat jy bereid is om saam met Hom te sterf. Ons sing so maklik die lied "Nader my God by U", met die tweede reël wat lui: "Al is daar ook 'n kruis, nodig vir my". Is jy so ernstig oor jou verhouding met die Here Jesus dat jy elke dag jou kruis sal dra? Dat jy elke dag ook die pad sal stap waarin jy duidelik sal wys dat jy bereid is om vir Hom te sterf?

Met Jesus se derde vereiste vir 'n dissipel kom draai Hy geen doekies om nie. Hy kom spel baie duidelik uit wat ware dissipelskap beteken. Jesus kom sê baie duidelik aan sy dissipels: "As jy my wil volg, moet jy bereid wees om te sterf...". En dit is nie net een keer dat Hy dit sê nie. Telkens in die Nuwe Testament kom herhinner die Here Jesus ons daaraan. In Markus 10 moet die ryk jongman aan sy liefde vir besittings sterf, en alles verkoop en vir die armes gee. In Johannes 12:24 staan daar dat ons soos 'n koringkorrel in die grond moet val en sterf, as ons werklik vrug wil dra. En so kan ons voortgaan.

Hoe lief het Jesus jou??? Daar word vertel van iemand wat tot Jesus gebid het, en telkens aan Jesus gevra het dat Jesus aan hom moes openbaar hoe lief Hy vir hom is. Jesus het sy hande na die kante toe uitgesteek met die merke van die spykers duidelik sigbaar aan Sy hande, en aan hom gesê: "So lief!". Maar die vraag word ook vanoggend aan elkeen wat hier sit, gevra: "Hoe lief het jy vir Jesus?". Is jy bereid om aan jou self te sterf? Is jy vir hom so lief dat jy jou lewe vir Hom sal gee.

Die tyd in ons land en in Suider Afrika waar ons werklik bereid sal moet wees om vir Jesus en vir sy boodskap te sterf, is dalk baie nader as wat ons besef. Maar terwyl daar dalk nog nie vanoggend 'n terroris hier gaan instorm en 'n geweer teen jou kop gaan druk met die woorde: "Verwerp Jesus of ek skiet jou nie!", is die vraag nog steeds of ons Jesus in ons lewe bo alles stel.

Is Jesus vir ons belangriker as enige van ons vriendskappe hier op aarde. Is Jesus vir my belangriker as my liefdesverhouding met my ou of meisie? Is Jesus vir my belangriker as enige saketransaksie of belegging wat ek in die lewe het? Ek nooi jou vanoggend om opnuut weer hierdie verbindtenis te maak, en werklik vir Jesus te kom volg. Om werklik die pad vorentoe saam met Hom te kom stap.

Ek sluit af. Die boere daar in die Oos-Kaap het 'n slim plan gekry vir bobejane wat 'n probleem in die lande geskep het. Wanneer hulle probleme met die bobejane onder hulle gesaaides gekry het, het hulle dikwels gegaan en een bobbejaan gevang. Hulle het dan die bobbejaan wit geverf, en hom weer tussen die ander gelos. Julle kan dink wat gebeur het. Wanneer hierdie wit bobbejaan na die trop terugkeer, het hulle van hom af weggehardloop, en wou niks van hom weet nie. Dit het die bobbejane so deurmekaar gemaak, dat die boere vir 'n geruime tyd nie las van die bobbejane gehad het nie.

In 'n sin is ons samelewing ook maar soos hierdie bobbejaangemeenskappie... Ons word groot met die boodskap van die Bybel, maar ons kweek maar ons eie gewoontes, gelowe en oortuigings saam met die tyd. Ons kinders word van kleins af groot in die kategese, lê belydenis van geloof af, en kry dan weer kinders, wat hulle doop en grootmaak, en so gaan die rustige kringloop aan. Maar deur die verloop van tyd raak ons aan so baie verkeerde dinge gewoond, dat ons nie besef wat dissipelskap werklik van ons vra nie. Ek is seker dat Jesus in 2012 ook ook waarskynlik soos 'n wit bobbejaan tussen 'n klomp ander bobbejane sou gelyk het. Hy sou net so anders opgetree het, dat mense niks met hom te doen sou wou hê nie, en hom waarskynlik uiteindelik ook sou kruisig, of uit ons samelewing sou uitwerp.

Ek het vanoggend vir julle nuus... As jy 'n ware volgeling van Jesus wil wees, gaan jy nie maar net lekker en gemaklik in jou omgewing inpas nie. As jy nie deel is van die skinderpraatjies, of ingestel is om met die belangrike mense se leefstyl vol te hou nie, gaan jy maar redelik op jou eie leef. As jy weier om deel te wees van korrupsie en bedrog, en die reguit pad wil stap, gaan jy min vriende hê. As jy jou ontferm oor hulle wat werklik nood het, wat werklik 'n dokter nodig het, en jou met hulle vereenselwig, gaan mense jou begin vermy...

Dietrich Bonhoeffer het ook in 'n preek oor 2 Korinthiërs 12:9 gesê: "Christendom adjusts itself far too easily to the worship of power. Christians should give more offence, shock the world far more, that they are doing now. Christians should take a stronger stand in favour of the weak than considering first the right of the strong". Of in Afrikaans vertaal: "Christene skakel te maklik by die aanbidding van mag in... Christene moet baie meer aanstoot gee, hulle moet die wêreld baie meer skok, as wat hulle tans doen. Hulle moet 'n baie sterker standpunt vir die swakkes inneem, eerder as om die


 

… to be for justice is not only the right thing to do, but a joyful thing to do. It is freeing. It is good news."

Sunday, October 24, 2010

Om in God se teenwoordigheid te lewe...

Sagaria 8 Preek gelewer op Sondag 24 Oktober 2010.

Daar word vertel dat die wetenskaplikes na ’n vreeslike droogte in die Bosveld ’n sekere stukkie grond vir grassade gaan fynkam het. Hulle het die grond ontleed, die grond gesif, en bevind dat daar op daardie stuk grond nooit weer natuurlik gras sal groei nie. Maar hulle was verkeerd... Want na die eerste reëns het die gras weer begin groei, en dit was nie lank nie, of ’n mens kon nie die grond sien nie. Op sy manier het die Vader wel voorsien...
Maar weet julle, liewe vriende, in ’n sekere sin kyk ons na die wêreld om ons sonder ’n krieseltjie hoop vir die toekoms. Voor die pas afgelope wêreldbeker het ’n radio-omroeper ’n meningspeiling oor Bafana-Bafana se kanse gedoen om die wêreldbeker te wen... Die man se antwoord was. Ek is negatief... vreeslik negatief. Ek is so negatief dat ek sal ontwikkel as julle my in ’n donkerkamer sit.
As ons na ons land kyk in die situasie waarin alles tans is, kan ons baie maklik heeltemal moed verloor. Ons kan na die plaasmoorde en die geweld in ons land kyk, en besluit dat niks beter gaan word nie. Ons kan na die ekonomiese vooruitsigte en die mielieprys kyk, en alle hoop op herstel verloor... Ons almal ervaar hoe ons jongmense besig is om die land te verlaat en op ander plekke werk te soek... Hoe ons nie meer klein kindertjies sien speel soos vroeër nie.
Ons almal ervaar dikwels hoe ’n mens nie meer mense of diere kan huur nie, omdat dit te duur geword het, en die vakbonde te veel vereistes het... Ons ervaar ook dat ons altyd op ons hoede moet wees vir plaasaanvalle, inbrekers en skakers, en dat ’n mens nie meer veilig kan beweeg nie. Ons kan dikwels die haat tussen mense met ’n mes sny, en woorde soos ‘boer’ en ‘witman’, en ‘Malema’ het vloekwoorde geword. Die mense het almal mekaar se vyande geword (vers 10).
Maar, liewe vriende, ons moet weet dat die Here se gedagtes nie soos ons gedagtes is nie, en dat die Here se weë nie soos ons weë is nie (Jesaja 55:8). Al lyk dinge dikwels vir ons onmoontlik, vir die Here is niks onmoontlik nie... En daarom kom beloof die Here ook dat hy die situasie in Israel kan omdraai... Dit is hy wat die oumense weer kan laat veilig voel, en die spelende jongmense vol energie kan terugbring... Dit is hy wat die ekonomie kan omdraai, sodat ons weer mense kan huur, en diere kan bekostig. Dit is hy wat sal sorg dat die wingerstok sy druiwe dra, die land sy oes sal lewer, en die hemel sy vog sal gee (vers 12).
En daarom, liewe vriende, wil die Here ook vanoggend, op 24 Oktober 2010 vir jou in vers 9 kom sê: “Skep moed!”. Net soos die Here die lot van Israel verander het, kan Hy dit ook in ons land doen... Net soos die Here weer vir Israel in hulle gesaaides voorsien het, kan Hy dit vir ons ook doen. Net soos die Here vrede in Israel gebring het, kan Hy dit vir ons ook doen...
MAAR... Ons moet onthou dat die Here ook sy volk se situasie met ’n doel verander. Die Here wil juis ook ons lewens as ’n getuienis van sy Almag gebruik, ’n getuienis dat niks vir Hom onmoontlik is nie... En daarom wil Hy ook hê dat ons lewens moet verander. Daarom vra Hy in vers 17... Praat die waarheid met mekaar... Oordeel regverdig oor ander... Moenie bose planne teen mekaar bedink nie... Ek wil hê dat daar vrede onder julle moet wees... Bly by die waarheid, net die waarheid, en moet niks daarby byvoeg nie...
Daar in Gaborone het ek ’n dominee geken wat sy paspoort eendag in Johannesburg vergeet het... Toe hy by die Botswana grens kom, en ontdek dat hy sy paspoort vergeet het, het hy aan drie opsies gedink... Of hy kon sy vrou laat bestuur en ongemerk deur die grens probeer gaan, of hy kon ’n baie hartseer liegstorie vir die doeane vertel, of hy kon die hele 300km terugry Pretoria toe en sy paspoort gaan haal.
Terwyl hy dink wat om te doen, kom die woorde van Johannes 8:32 by Hom op... “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak... En weet julle, liewe vriende, so het die dominee toe die waarheid vertel, en hulle het hom deur die grens laat gaan sonder ’n paspoort! Hoe dikwels kies ons nie die waarheid as die laaste uitweg nie?
Maar Sagaria 8 kom praat nie net oor die waarheid teenoor die leuen nie. Dit kom praat ook oor die volk se vasdae en byeenkomste... Wanneer die waarheid seëvier, en daar vrede heers, maak dit ook ’n verskil aan die wyse waarop die mense bymekaarkom. In vers 18 en 19 kom beloof die Here dat die treurige vasdae in dae van blydskap sal verander. Ja, die gemeente sal werklik weer die vreugde van die Here ervaar.
Maar hierdie dinge sal net gebeur as die volk die waarheid praat en sorg dat daar vrede onder hulle is... Weet julle, liewe boeties en sussies in Jesus, dat ’n groot deel van ons traagheid wanneer ons op die Sondag hier bymekaar sit, en ons lusteloosheid en ons gebrek aan vreugde ook gaan oor ons verhoudinge met mekaar? Want as jy die heeltyd dink aan so en so ’n persoon wat jou te na gekom het, gaan jy mos nie gelukkig wees in die erediens nie? Dan gaan jy nie die Here kan loof en die vreugde ervaar wat jy moet nie?
As ons werklik ’n getuienis teenoor die wêreld wil wees, as ons wil hê dat die nasies na ons toe sal aanstroom, dan moet ons onderlinge verhoudinge begin verander. Dan moet ons die teenwoordigheid van die Here in ons liefde en ons openheid teenoor mekaar weerspieël. Dan moet ons weer die woorde van Johannes 13:35 ter harte neem, wanneer dit sê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is...”
En dit is presies wat die Here oor Israel voorspel het, en wat in die Nuwe Testament waar geword het. Mense het na Jerusalem gestroom om die wil van die Here te vra... Mense het om die dissipels, om Jesus saamgedrom, omdat hulle ervaar het dat die Here teenwoordig was, dat die Here besig was om daar te werk. In Handelinge 2:44 lees ons dat die volk “eensgesind was en alles met mekaar gedeel het.” En daarom lees ons in Handelinge 2:47 dat die Here elke dag mense by die gemeente gevoeg het...
Weet julle, liewe vriende, ook in Bospoort gemeente hoor ek gereeld van die dae toe die kerkgebou so vol gesit het dat Oom Christoph en Tannie Murial met hulle vier dogters hier heel voor in die kerk moes kom sit. Ons kla baie oor mense wat nie meer kerk toe kom nie, en aanvaar die leë kerk maar net as iets waaraan ons niks kan doen nie...
Maar Sagaria 8 kom leer vir ons dat dinge kan verander. Dat dit in die eerste plek kan verander as ons die Here toelaat om ons omstandighede te verander. Dat dit slegs werklik kan verander as ons leer om die waarheid te praat, op te hou om bose planne te smee, en werklik in vrede onder mekaar kan leef. Alleen dan kan mense na die kerk kyk en die vreugde in die erediens raaksien, en sê: “Die Here is hier teenwoordig!”
Ek sluit af... Daar word ’n verhaal vertel van ’n sekere klooster wat besig was om totaal dood te loop (dit was seker soos die klooster waar ek in Duitsland was, waar hulle vertel dat daar op ’n stadium net 3 monnike in ’n klooster van 400 kamers was). Die hoof of die ab van die klooster het toe na sy rabbi-vriend in die dorp gegaan, om vir hom raad te vra oor hoe om die situasie in die klooster te verander.
Die Rabbi het aan hom geantwoord dat een van hulle die Messias was. Die ab het na die ander monnike toe teruggegaan, en aan hulle die nuus gaan vertel. Ewe skielik het almal anders teenoor mekaar begin optree. Hulle het nie geweet wie van hulle die Messias was nie, en daarom het hulle niemand sommer sleggesê of beskinder nie. Kort voor lank het die omgewing gesien dat daar ’n verandering tussen die monnike was. Hulle het weer by die klooster kom piekniek hou, en baie nuwe monnike het ook by die klooster aangesluit...
Hoe lyk dit in ons lewens. Besef ons dat Christus en die Heilige Gees in ons woon, en dat ons mekaar werklik moet respekteer? Of behandel ons mekaar dikwels as opponente, sonder om toe te laat dat die son op die ander skyn? Kom ons word vir ’n paar minute stil, en ons dink oor ons gesindheid. Kom ons dink oor ons eie aandeel aan die doodsheid in ons kerk, en vra die Here om werklik ’n verskil daaraan te maak.

AMEN!

Tuesday, January 26, 2010

Joël 2:28-32 Bid vir jonk én oud!

Preek gelewer tydens Week van gebed op Maandag 25 Januarie 2010.

Maandagaand 25 - Januarie Bid vir oud en jonk.
Ek kyk op na die berge
Flam 206 My hande hef, ek op na U
I love you, Lord
I Worship you
Lied 528:1-3 Leer my U wil Heer.
Halleluja

Lofsang:
Lied 200 U Goedheid Heer, kan ons nie peil nie.
Slotsang:
Oorwinningslied

Kondig af van Mighty Men vergadering Woensdag na biduur.

Ek glo dat elkeen van julle die Ou Mutual advertensie onthou waarin die volgende persone as die beste kans uitgebeeld word om die Olimpiese Spele te wen. ‘n Swanger vrou, ‘n pap babatjie, en ‘n ou man in ‘n rystoel. Deur hulle kredietkaarte te gebruik, het hulle dit as’t ware moontlik gemaak vir ‘n atleet om die fondse te kan hê om na die Olimpiese Spele te kan gaan.

Ons mense leef dikwels met dit wat die engelse noem “mind-blocks” of blinde kolle in ons lewens. Ons soek so dikwels die oplossings of die antwoorde vir situasies op totaal verkeerde plekke.

Net so was dit ook in die tyd van die Ou Testament. Die volk Israel in die tyd van Joël het ervaar hoe die straf van God oor die volk net erger en erger word. Amper soos in die tyd van Noag het die mense net gedoen wat hulle wil. Selfs die priesters is beveel om voor die Here te buig, omdat hulle en die volk van die Here afgedwaal het.

In ‘n sin het die tempel en dit wat in die tempels geleer word, net nie meer ‘n verskil gemaak in die samelewing rondom hulle nie. En so het die Here besluit om die samelewing tot stilstand te ruk. Die Here sê dat die droogtes wat hulle tot op daardie stadium ervaar het, niks is teenoor wat nog vir hulle sou voorlê nie. Hy kon nie toelaat dat die wêreld net voortstoom sonder om van God kennis te neem, en dat selfs die Here se volk oppad was om totaal te gronde te gaan nie.

Wie sou ‘n werklike verskil in hierdie situasie kon maak? Wie sou werklik kon ingryp? Deur die tyd van die ballingskap heen was die volk ontwortel van hulle leiers. Alle weerbare manne is weggevoer of doodgemaak. En tog, tog kom kom gee die Here deur Joël ‘n verassende profesie...

Die redding kom uit ‘n onverwagte oord. Die profeet Joël wys duidelik dat die seuns en dogters as profete sal optree, dat die oumense sal drome droom, en dat jong mans visioene sal sien, en die volk sal inspireer. Ja, juis hulle in die samelewing wat nie deur die ander raakgesien is nie, hulle word die kern van die volk Israel. Deur die jongmense en die seniors in die tyd van Joël, kom beloof die Here ‘n daadwerklike verandering.

Selfs die bediendes, die slawe, hulle wat nie raakgesien word nie, selfs hulle bring ‘n totaal nuwe Gees en ingesteldheid na vore...
Hier in die jaar 2010 na Christus, sit ons dikwels ook met dieselfde vrese as Joël. Ons wonder dikwels wat van die kerk in die toekoms gaan word. Ons wonder dikwels waarheen alles oppad is, omdat dit lyk asof niemand hom of haar meer aan die kerk steur nie.

Dobbelary en losbandigheid neem elke dag toe. Korrupsie en buite-egtelike kinders is steeds aan die toeneem, terwyl die meeste van hierdie mense Sondae in die kerk sit. Ons leef in ‘n tyd waar amper elkeen wat hier sit ‘n geval van drank- of dwelmverslawing in sy of haar familie kan opnoem. Alhoewel die TV dikwels met ‘n Christelike boodskap geopen word, word daar baie dinge op die TV gewys wat nie met ons Christenskap strook nie. Hoe gaan ons as kerk weer ‘n invloed op die samelewing kan uitoefen.

Liewe seuns en dogters, liewe slawe en slavinne, liewe senior burgers, ek glo dat hierdie veranderinge net in ons tyd kan gebeur wanneer ons besef dat die oplossing vir ons getuienis in die samelewing dikwels in die “blinde kolle” lê. Eers wanneer ons besef dat daar ‘n ontsaglike potensiaal in ons jeug opgesluit lê, en dat ons nog so baie by ons seniors te leer het, kan ons werklik begin om te bou aan God se koninkryk...

Joël kom maak weer vanaand ons oë oop, en wys aan ons dat daar in ons kinders, in ons jong seuns en meisies baie meer opgesluit lê as wat ons dikwels raaksien. Dit gaan immers nie wat ons in hulle raaksien nie, maar oor dit wat God in hulle raaksien en hoe Hy hulle kan gebruik.

Maar God kan hulle ook net gebruik as die Gees hulle werklik vervul, en hulle laat profeteer en drome droom. Alleen God kan aan ons jongmanne ‘n visie gee om werklik die leiding te neem en sy kerk in ‘n rigting te lei. Alleen God kan ook vir ons ouer mense wat dikwels aan energie ontbreek, die genade gee om met vrymoedigheid hulle ervaring en hulle visie vir die kerk te deel...

En daarom, liewe vriende, word ons opgeroep om ook vir ons jongmense en vir ons seniors te bid. Ons word opgeroep om ook te vra dat die Gees hulle sal vul en voluit in God se koninkryk sal gebruik. Ons word opgeroep om te bid dat God ook die wat nie in aansien is nie, ophef deur sy Gees, sodat hulle in ons samelewing ‘n verskil kan maak.

Die bekende sendeling Hudson Taylor het gesê dat al God se reuse in der waarheid swakkelinge was. Al God se Reuse is ook geroep uit ‘n situasie waar hulle geen aansien gehad het nie... Dink maar aan Moses in die biesiemandjie,Gideon wat as ‘n jong seun die afgodsbeelde moes afbreek, Dawid wat as jong herder geroep is om die reus Goliat te verslaan, sowel as koning Josia wat op 8 jaar oud koning geword het.

Maar die Here het ook seniors in hulle gryse jare geroep. Nie alleen het Simeon die Here Jesus geseën en besing by sy besnydenis nie, maar Johannes die apostel het in die rype ouderdom van 90 jaar daar op die eiland Patmos die Openbaring van Johannes ontvang, wat vandag nog as deel van die Bybel gelees word, en dien as bron van inspirasie vir soveel mense.

Ek sluit af... Daar word vertel van ‘n ou oom wat ‘n boom geplant het... Die ou man het vol rumatiek in sy tuin gebuk en met groot moeite ‘n perskeboom geplant. Iemand wat daar verbygeloop het, het die oom gespot, en gevra. Oom, hoekom plant oom ‘n boom? Oom gaan mos al lankal dood wees teen die tyd dat daardie boom vrugte dra? My vriend, het die oom geantwoord, ek weet dat ek nie daarvan sal geniet nie, maar dat my kinders en kleinkinders daarvan sal geniet. En die wete is vir my genoeg.

Ja, vriende, ons besef nie hoeveel ons seniors bereid is om te doen, en hoe hulle ook ‘n visie het wat verder strek as wat ons ooit besef nie. Kom ons maak moeite om vir hulle te bid, en van die Here te vra om hulle werklik te dra. Maar mag ons ook nooit ons kinders, ons jong seuns en dogters, ons jongmanne en jongmeisies vergeet nie. Mag ons nie hulle wat nie vir mense belangrik is vergeet nie. Ons weet immers wat hulle in die Here se koninkryk kan beteken! Ons kan nie eers begin om te dink wat hulle kan beteken wanneer hulle hulle werklik vir die Heilige Gees oopstel nie!

AMEN!