Monday, May 4, 2009

Preek gelewer op Moedersdag 10 Mei uit Eksodus 4:24-26

Preek gelewer op Moedersdag 10 Mei.

Voorsang:
Liedboek 164:1,2 Ons is almal hier tesaam
Liedboek 215:1-5 Besing die lof van Jesus saam
Liedboek 176 (2*) Halleluja, U is koning.

Lofsang:
Lied 405:1-5 Roem al wat leef die Heer se dag.

Na Wet:
Lied 555:1-3 (Op die wysie van lied 579) Ek kniel hier in die oggendlig
Slotsang:
Lied 440:1-4 Die Here salf ons met sy Gees

Daar word vertel van vark wat by koning leeu gekom het, en gekla het dat hy altyd die skuld vir alles kry. Hy sê as ‘n iemand slegte maniere het, dan gedra hy hom soos ‘n vark, of as iemand sleg bestuur, dan praat hulle van ‘n padvark, en as iemand vuil lewe, dan sê hulle hy is so vuil soos ‘n vark. Koning leeu het aandagtig na hom geluister, en geantwoord: “Sulke varke!”

Maar of ons dit wil weet of nie, kry ons moeders en ons vrouens ook dikwels die skuld vir alles wat verkeerd loop. Ons mans is mos nooit verkeerd nie… As ons laat is, dan is dit moeder, as die kinders vuil is, dan is dit hulle ma wat hulle nie goed aantrek nie, as hulle stout is, dan is dit ma wat hulle nie maniere leer nie, as die sleutels weg is, is dit ma wat dit moet soek. As daar ‘n buite-egtelike kind is, dan straf die kerk dikwels die vrou, en die man wat saam met haar gemeenskap gehad het, kom skotvry.

Daar is party vrouens in Amerika wat sê dat die Bybel ook net negatief oor die vrou praat. Dit is die vrou Eva wat vir Adam verlei het, dit was die slegte Delila wat vir Simson verlei het, en die slegte van hierdie wêreld word in Openbaring vergelyk met die vrou Babilon wat al die skeepskapteins en sakemanne in haar mag kry. In Sagaria 5:6,7 word daar selfs van ‘n vrou in ‘n mandjie vertel wat die sonde van die hele wêreld verteenwoordig!

Die vrou van Moses, Sippora, was ook in ‘n sin ‘n vrou wat die skuld vir alles gekry het. Sippora was in die eerste plek ‘n Kussiet, en van ‘n ander ras as die Israeliete. Dit het ook gemaak dat Mirjam en Aäron, Moses se broer en suster hom openlik aangespreek het oor die vrou wat hy gevat het. En ons lees ook daar dat Mirjam melaats geword het omdat hulle Moses daaroor aangespreek het. Maar wat het gemaak dat God Mirjam so erg gestraf het oor hulle kritiek teen Sippora?

Ek glo dat Sippora in ‘n sin ‘n baie spesiale plekkie in God se hart gehad het... Dat sy as’t ware ook die “vrou vir wie God liefgehad het”, genoem sou kon word... En ek glo dit na aanleiding van die pragtige verhaal wat vir ons in drie kort versies Eksodus 4:24-26 opgeteken is...

Moses, die man van God, was oppad met ‘n missie. Hy het nounet die Here by die brandende braambos ontmoet, en die opdrag gekry om die volk Israel uit Egipte te gaan bevry. Hy het ook wonderwerke by die Here gekry, naamlik om sy kierie in ‘n slang te verander, en sy hand in melaatsheid te verander en weer te genees. Moses was absoluut gefokus op hierdie spesiale taak wat die Here aan Hom gegee het, en hy het net gedink aan die groot taak wat vir hom voorgelê het.

Maar in al Moses se besig wees met die dinge van die Here het hy die dinge van die Here nie raakgesien nie. Hy was so besig om te dink aan hoe hy die volk van oor ‘n miljoen mense uit Farao se mag gaan uitlei, dat hy nie by die begin begin het nie. Ja, sy eie huisgesin het agterweë gebly. Terwyl hy weg van sy mense af vir die Farao gevlug het, het hy nie sy seuns aan die Here gewy nie. Hy het hulle nie besny soos die Here se opdrag was nie.

En so het dit gebeur dat die Here so kwaad geword het vir die leier wat hy nounet gekies het, dat Hy hom daar en dan wou doodmaak... Wat ‘n tragedie sou dit nie gewees het nie? Die leier wat die Here vir die Israeliete aangewys het, word doodgemaak voor hy nog enigeiets kon vermag. En dit omdat hy nie sy eie huis in orde gekry het nie! En dan sien ons hoe Sippora, Moses se vrou, hom van ‘n gewisse dood red... Sy besny haar seuns, en sê aan Moses: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Ja, liewe vriende, deur die besnydenis word nie net Moses gered nie, maar hierdie gesinnetjie saamgebind met ‘n bloedband. Deur hierdie daad van Sippora stel sy nie net die verhouding tussen Moses en God reg nie, maar ook sy verhouding met haar en hulle kinders.

Ek glo dat hierdie optrede van Sippora vir God genoeg rede was om vir Miriam later so kwaad te word dat Hy haar met melaatsheid gestraf het. Ek glo dat God waarlik ook ‘n bloedband met Sippora gehad het, omdat sy verantwoordelikheid vir die verbond met haar seuns en haar gesin geneem het. Later het die Here ook nie meer net die seuns besny nie... Nee, met Jesus se koms het die doop gekom, waardeur dogters en seuns, mans en vrouens wat hulle uit die heidendom tot die Here bekeer het, gedoop is.

En al het ons nie meer vandag die besnydenis nie, weet ons dat daar vandag nog soveel Sippora’s om ons is. Vrouens wat as’t ware hulle mans se deel van die doopbelofte nakom. Vrouens wat hulle mans aanmoedig om hulle kinders te laat doop en reg groot te maak... Wat nag vir nag by hulle kinders sit en vir hulle uit die Bybel lees en bid, terwyl die mans te besig is met die “groot en belangrike dinge in die lewe”.

My medebroers, as selfs Moses, wat in Numeri 12:3 beskryf word as meer sagmoedig as enige ander mens op aarde, so ‘n oorsig kan begaan, hoe lyk dit nie in ons lewens nie? Neem ons die verantwoordelikheid om ons kinders reg op te voed, of laat ons dit alles aan ons vrouens oor? Is ons nie dikwels besig om van hulle die sondebokke te maak, terwyl ons eintlik sonder hulle al lankal onder God se oordeel sou weggekwyn het nie? Kyk ons nie dikwels so in hulle swak punte vas, dat ons die oorweldigende goeie wat hulle vir ons doen nie raaksien nie?

Die Bybel praat nie net negatief van vrouens nie – Inteendeel, van die begin van die Bybel af, was daar vrouens wat die lot van Israel en van die Christene drasties verander het... Dink maar aan Isak se vrou Rebekka, aan Ragab in Jerigo, aan die rigter Debora, aan koningin Ester, aan Maria Magdalena, aan Lidia die purperverkoopster, en so kan ons eindeloos aangaan...

Maar te midde van al hierdie vrouehelde in die Bybel moet ons in gedagte bly hou dat vroue soos koning Agab se Isebel so telkens ook soveel negatiewe kon vermag. Ons moet besef dat die rigting wat ons as gemeente en kerk in Bospoort en Suid-Afrika inslaan, ook afhang van ons vrouens se getrouheid aan die Here, en hulle verbindtenis om hom werklik bo alles te dien en te vertrou as hulle enigste sekuriteit, selfs in tye waar dit moeilik gaan in hulle gesinne en hulle huwelike.

Of ons dit wil weet of nie, is ons vroue en moeders die ruggraat van ons samelewing. Sonder hulle inspirasie, deernis, verantwoordelikheid en deursettingsvermoë sou ons samelewing ‘n baie nare plek gewees het. En ek glo dat die ware sleutel vir herlewing in ons tyd nie net by Mighty Men lê nie, maar by ons vermoë om werklik as gesinne saam, as mans en vrouens en kinders saam, ons beste vir ons Here te kan gee.

Ek sluit af. Ek is seker dat baie van julle al die sarkastiese spreekwoord gehoor het, wat lui: “Agter elke suksesvolle man staan daar ‘n vrou wat aan hom vertel dat hy verkeerd is.” Ons lag dikwels vir hierdie grappie omdat ons dikwels ervaar dat ons vrouens onnodig negatief en neulerig is. Dat hulle gereeld oor dinge “nagg”, of soos die gedrup is van ‘n dak wat lek, terwyl ons ervaar dat ons suksesvol is in die lewe.

Maar gelukkig was daar in die “suksesvolle” Moses se lewe ‘n vrou wat ook sy swakpunte en sy nalatigheid raakgesien het, en iets daaraan gedoen het. Ja, ek is seker dat daar baie mans is wat al te hoog gevlieg het, hulle vlerke verbrand het, en hulle te pletter geval het, omdat hulle nie iemand gehad het wat hulle nederig kon hou nie. Omdat hulle nie iemand gehad het wat aan hulle die belangrikste in die lewe, die Here van die dinge kon herhinner nie.

Kom ons sê vandag vir die Here dankie vir Sippora, en vir elke vrou wat sensitief is vir die Here se stem, en bereid is om op te tree sodat ons as gesinne gered kan word! AMEN!

No comments: