Monday, May 4, 2009

Wees wakker! Die duiwel loop rond!

Preek gelewer op 18 April 2009 te Bospoort tydens Satanisme – praatjie.


 

Liedere vir Sondag 19 April 2009.


 

Skriflesing:

1 Petrus 5:1-14

TEMA:

Staan vas teen die Duiwel!


 

Voorsang:

Lied 512 Nader My God by U

Lied 511 Lei U ons lig!


 

Lofsang:

Lied 157:1,2 Here Jesus, ons is saam.


 

Na Wet:

Lied 241:1-3 Troue Here van my lewe!


 

Slotsang:

Lied 513:1-3 Soek in God jou sterkte.


 


 

Preek:

Aankondiging van Skriflesing: 1 Pet 5:1-14


 

Ek kry nou net hier by die koster 'n boodskap wat sê: Een van die leeus in die omgewing se wildskampe het ontsnap, en hulle is besig om na hom te soek, maar kon hom nog nie opspoor en vang nie. Ons vra asseblief dat elkeen op die uitkyk sal wees vir die leeu... Moet asseblief nie julle kinders alleen in die veld laat loop nie, en moet veral nie in die donker buite rondloop of sonder 'n lig wees nie.


 

Kom ons gaan dan voort met ons Skriflesing:


 

Skriflesing:


 

Weet julle, liewe vriende julle kan aan die een kant nou maar ontspan. Julle kon seker al teen hierdie tyd aflei dat daar nie een van Oom Pieter of oom Gerhard se leeus ontsnap het nie. Maar aan die ander kant wil ek hê dat julle vanoggend moet regop sit en mooi luister. Want die gevaarlikste leeu in Afrika en in die wêreld is die Satan self, en hy is verseker besig om orals rond te loop. Hy is baie honger, en hy is besig om te soek wie hy kan verslind... Hy kyk watter mense hy kan vang en eet.

Wat sou ons gedoen het as daar regtig een van die leeus ontsnap het? Ons sou waarskynlik gesorg het dat ons 'n geweer naby aan ons gehou het as ons in die veld loop. Ons sou seker gemaak het ons kinders en werkers het selfone of radios waarmee hulle kan kommunikeer as hulle die leeus sien. Ons sou waarskynlik ons kinders en werkers beveel het om nooit alleen te loop nie. Om op die uitkyk te wees vir enige tekens van die leeu, en spore wat hy mag los... Ons sou seker gemaak het ons kinders en ons vriende, sowel as ons werkers, ken 'n leeu, en sal weet om die ander te waarsku as hulle wel 'n leeu of leeuspore sien...

Maar weet julle, liewe vriende, wanneer Openbaring 12:9 aan ons vertel dat die draak, die Satan uit die hemel uit gegooi is, en die kerk van die Here Jesus kom aanval, ignoreer ons dit dikwels. Ons maak baie soos daardie volstruis wat sy kop onder die sand druk, en dink dat die leeu hom nie kan sien as hy nie die leeu sien nie. Vir baie teoloë en predikante is dit maklik om te sê dat die Duiwel nie regtig bestaan nie, en maar net deel was die manier waarop mense in die Bybelse tyd gedink het. Want hulle dink as hulle nie aan die Bestaan van die Duiwel glo nie, kan Hy niks aan hulle doen nie...

En al is dit so dat ons die oog op Jesus moet vestig, en op God Drie-Enig moet fokus in ons geloof, is dit belangrik om ook ons vyand die Satan te ken. Dit is vir ons belangrik om te weet op watter maniere hy probeer om mense van God af weg te rokkel.

Uit hierdie gedeelte in 1 Petrus 5 wil ek graag 5 eienskappe van die Duiwel uitlig... Hierdie leeu is besig, hy is briesend, hy is baaaie honger, hy is bang, en hy is berug.

Daar word vertel van die ou tannie wat nooit iets slegs van enigeiemand kon sê nie. Sy het altyd net goed van almal om haar gepraat. Een dag dink die dominee toe hy gaan haar uitvang, en sê aan haar dat sy niks goeds van die duiwel kan sê nie. "Wel dominee", het sy geantwoord, "jy moet erken dat Hy darem nie 'n lui haar op sy kop het nie!" Liewe vriende, ons moet weet dat ons die Duiwel nie moet onderskat nie. Ons dink partykeer aan die Duiwel soos aan 'n leeu wat in die dag lê en slaap, maar ons moet weet dat hy 'n jagdier is, wat besig is om planne te maak om ons vas te trek en te vang. Dat hy veral in die donker, in die nag vreeslik aktief is, en besig is om rond te loop en na 'n vangs te soek.

Die tweede eienskap van die Duiwel is dat hy briesend is... Hy is soos 'n kwaai, brullende leeu, wat 'n seer tand het. Hy is briesend omdat hy reeds verloor het. Hy het die stryd teen God en sy engele in die hemel verloor, en is nou besig om hom te probeer wreek op mense op die aarde. Hy probeer om mense vir hom bang te maak, en teer daarop as mense vir hom vrees, en dink dat hy die sterkste is, selfs sterker as die Here en sy engele.

Die derde belangrike ding van die Duiwel, is dat hy baie honger is, en nooit genoeg kry nie. In vers 8 van 1 Petrus 5 lees ons dat hy soek wie hy kan verslind. As die Duiwel eers iemand in sy kake gekry het, dan verslind en verniel hy so 'n persoon. Die van julle wat dalk al by oom Pieter of oom Gerhard was, sal weet hoe dit klink as so 'n leeu besig is om bene met sy sterk kake te breek, of middeldeur te byt. Ek glo dat julle na die diens 'n klein bietjie sal hoor by Ria van watter verskriklike marteling en pyn iemand moet deurgaan wat in die web van Satanisme vasgevang geraak het. Ons moet ook weet dat die Duiwel honger bly en nooit genoeg kry nie. Hy sal nie tevrede wees voor die kerk of 'n gemeente van die Here Jesus heeltemal tot niet is nie.

Die vierde eienskap van die duiwel wat ons moet raaksien, is dat hy bang is... Ja, al brul hy en gaan hy tekere, is hy diep in sy hart maar 'n lafaard. Ervare jagters en leeukenners sal vir jou sê dat jy nie vir 'n leeu moet weghardloop nie... Hy hou daarvan om hakskene te sien. Jou beste kans om te oorleef wanneer 'n leeu jou storm, is om doodstil te bly staan. Net so is dit met die Satan. Hier in 1 Petrus 5:9 moedig die apostel Petrus die gelowiges aan om vas te staan, en om die Duiwel tee te staan.

As ons as gelowiges in God se koninkryk nie betrokke raak in gebed, en woordverkondiging, en ondersteuning van die swakkes om ons nie, omdat ons bang is vir die Duiwel se aanvalle, dan moet ons nie verbaas wees as die Duiwel ook maklik 'n voet in die deur kry in ons eie huise en onder ons eie familie en in ons eie omgewing nie. Daarom moedig Petrus ook die ouderlinge in 1 Pet 5:5 aan dat hulle die kudde van God wat aan hulle toevertrou is, baie goed moet oppas.

Die laaste eienskap van Satan wat ons hier van leer, is dat hy berug is. Die woord berug is 'n groot woord, wat eintlik sê dat die Satan orals bekend is vir sy misdade. In vers 9 lees ons dat gelowiges oor die wêreld ook onder die Satan se vervolging moet ly. Anders as 'n leeu van 'n leeuboer wat ontsnap, en darem tot 'n sekere omgewing beperk kan word wanneer 'n mens na hom soek, is dit anders met die Satan. Die Satan steek orals sy kop uit. Jy kan nooit weet presies waar om hom te verwag nie. As ons nie wakker is nie, dan gaan ons onverhoeds betrap word.

Noudat ons al hierdie dinge van die Satan weet, wat staan ons te doen? Wat word van die Kerk van die Here Jesus verwag in die tye waarin ons leef? Ons moet in die eerste plek weet dat ons die kudde van God, wat Hy aan ons toevertrou het, goed moet oppas, soos vers 2 van 1 Petrus 5 vir ons sê. Hoe sal dit lyk as ons met leë hande voor die Heer in die hemel moet staan, en sê dat die leeu al die skape opgeëet het. Want ons het nie gekyk wat ons kinders op die TV kyk nie, ons het nie saam na hulle musiek geluister nie, ons het nie kontrole gehou oor waar hulle op die internet "surf", of met wie hulle "mixit" nie.

Ons moet ook weet dat die Satan teer op hoogmoed. Daar waar mense dink dat hulle staan, moet hulle oppas dat hulle nie val nie, soos 1 Kor 10:12 sê. Ons moet weet dat bekering ware en volkome oorgawe aan God is. As ons hoogmoedig is, en die eie ek in ons lewe toelaat, as ons dink dat ons nie die Here se hulp teen hierdie leeu nodig het nie, gaan hy vir ons verseker vang. Ja, alleen as ons ons in nederigheid aan die kragtige hand van God onderwerp, kan God ons help om die Satan, die brullende leeu te oorwin.

Die laaste, maar nie die minste nie, is dat ons na die Here toe moet gaan met ons bekommernisse. Die brullende leeu soek die wat eenkant is, geïsoleerd is, wat swak is en moeg is vir die lewe. In plaas daarvan om ons tot die sterre voorspel, tot bonatuurlike speletjies, en vreemde rituele wend om van ons bekommernisse ontslae te raak, moet ons soos Mattheus 11:29 sê, ons bekommernisse op die Here Jesus werp, want sy juk is sag, en sy las is lig.

Ek sluit af... Daar is 'n verhaal uit Amerika van iemand wat na 'n Halloween partytjie oppad was. Hierdie ou was vermom in 'n duiwelsuitrusting, met 'n vurk in sy hand. Ewe skielik sak daar 'n sterk bui reën uit, en die ou spring by die eerste en die naaste gebou in om skuiling te vind. Die gebou was toe juis 'n kerk, waar 'n kerkdiens aan die gang was. Toe die dominee in sy preek stop, en verward na agter kyk, kyk almal om, en sien die man in sy duiwelse vermomming agter in die kerk staan.

Die vrouens het begin skree, en ewe skielik was daar massahisterie. Al die kerkgangers het by die uitgange uitgeborrel, behalwe een ou tannie wat baie naby aan die man was, en te swak was om te hardloop. Sy val toe op haar knieë voor die "duiwel" neer, en sê: "Weet jy duiwel, ek was eintlik nog altyd aan jou kant."

Ons kan lekker lag vir hierdie verhaal, maar die vraag bly vanoggend staan... Het jy al kant gekies? Is jy verbind om aan die Here se kant te veg, en voluit vir hom te lewe? Of hink jy nog op twee gedagtes, is jy 'n toeskouer wat maar net toevallig op die paviljoen, op die kerkbanke beland het. Kom luister na hierdie lied, en ons gee onsself weer opnuut in nederigheid aan die Here die Goeie Herder oor. Kom ons trek die wapenrusting van Efersiërs 6 aan, sodat ons reg is vir die brullende leeu!


 

AMEN.


 


 


 


 


 


 


 


 


 

No comments: