Thursday, April 16, 2009

Om dankie te kan sê – Psalm 147.

Preek gelewer op 16 April 2009 te Bospoort.

Om DANKIE te kan sê.

Daar word vertel van 'n man en sy vrou wat eendag na 'n pragtige antieke teekoppie in 'n winkel gekyk het. Terwyl hulle na die teekoppie kyk en dit bewonder, begin die teekoppie te praat... "Weet julle, ek was nie altyd so nie, sê die teekoppie." Ek was eers 'n ruwe bol klei. Toe neem iemand my en begin my brei, en druk, en platslaan op die tafel... Ek het geskree: "Stop, ek kry seer!", maar toe gaan dit nog erger. Ek is in die rondte gedraai tot my kop heeltemal dronk was. Weereens het ek gesê: "Stop, ek is dronk, maar toe word dit nog erger." Ek word in 'n warm oond gedruk, en ek sweet so dat ek amper dood is van die hitte. Toe word ek uitgehaal en geverf met verf wat baie sleg geruik het. Ek het sommer verstik aan die walms!

Maar dit was nog nie klaar nie! Ek word toe weer in die warm oond gedruk, en kry toe weer verskriklik warm. En uiteindelik word ek weer uitgehaal en afgekoel. Ek het eers gewonder hoekom die man my so gemartel het, maar vandag is ek hom baie dankbaar. Want omdat hy my gebrei het, het ek nie gebars nie, en omdat Hy my so warm gebak het, het ek sterk gebly, en my verf het nie afgedop nie. Dit is vir die man wie se naam onder aan die koppie geteken staan wat julle moet hande klap.

Weet, julle liewe vriende, as 'n mens oor die volk Israel dink, dan dink 'n mens dikwels net aan hulle swaarkry in die Ou Testament. Hoe hulle deur die woestyn is, baie oorloë moes deurmaak, baie droogtes moes deurstaan, en selfs dikwels in ballingskap weggevoer is.

Maar as 'n mens bietjie deur die boek Psalms blaai, dan sien 'n mens nie net klaagpsalms nie. Nee, inteendeel... Die meeste Psalms was lofpsalms teenoor God. As 'n mens na die groepie gehawende ballinge wat uit die vreemde teruggekeer het na Jerusalem en die afgebreekte tempel op die berg Sion, dan wonder 'n mens partykeer wat hulle nog het om voor dankie te sê. 'n Mens vra jouself in 'n sekere sin af... Wat is nog van hierdie mense oor na alles wat hulle deurgegaan het?

Israel was sonder wapens, sonder 'n leermag om hulle te beskerm. Hulle moes weer van voor af begin om hulle huise op te bou. Hulle het baie mense gehad wat nog letsels en wonde oorgehou het van die ballingskap, en familielede wat dood is in die oorloë. Hulle het geen politieke mag meer gehad nie. Hulle is as volkie vertrap tussen die Perse, die Babiloniërs, en die wrede Romeine. En tog, teen alle verwagting in, kry ons hier in Psalm 147 'n jubelende loflied tot eer van die Here. Wat op aarde het gemaak dat hierdie volk nog ten spyte van alles gehelp om die Here te kon prys?

Weet julle, vriende, soos die teekoppie in ons storie het Israel ook tot 'n besef gekom dat alles wat met hulle gebeur het deur die tye 'n besondere doel gehad het... Want deur dit alles het hulle begin besef dat die Here met hulle 'n besondere doel gehad het, en dat Hy besig was om van hulle 'n pronkstuk in sy Koninkryk te maak. Dat hulle nie net in die negatiewe moes vaskyk nie, maar werklik die positiewe in hulle lewe moes sien...

En so sien ons dat die digter van hierdie Psalm onophoudelik die Here se lof besing. Dat die dankbaarheid en lof vir God net onophoudelik uit sy mond uit vloei. Hy begin deur te sê dat dit hy nie soos 'n klein kindjie net dankie sê omdat sy ma gesê het dat dit goeie maniere is nie. Hy begin deur te sê dat dit goed is, en nodig is vir 'n mens om dankie te kan sê. Hy begin deur dit duidelik te stel dat 'n mens self daarby baat wanneer jy dankie sê. Dat dit lekker is om die Here net spontaan te kan loof! Dat dit 'n vreugde en genot is om sy Naam groot te maak.

Die digter kom gee 'n ellelange lys van dinge waarvoor Israel vir God kan dankie sê: Hy kom sê dankie vir die krag van die Here om die stad Jerusalem weer te herbou, en die feit dat die Here die Israeliete weer bymekaar bring. Hy kom sê dankie aan die Here dat hy mense met stukkende harte genees, en dat Hy ongeneesbare wonde in mense se lewens kom verbind, en heelmaak.

Hy kom sê ook dankie dat God in die besonder die onderdruktes ondersteun, en die goddeloses vertrap... dat God nie beïndruk word deur groot en magtige wapentuig en sterk soldate nie, maar dat Hy hom verheug in hulle wat Hom dien, en op Hom hoop. Dat God die een is wat ook die nuut geboude stad se poorte sal versterk, en die Een is wat ware vrede oor die land gee.

Hy kom sê dankie vir die wete dat 'n mens se lewe nie in die hand is van die voorspel van sterre nie, maar dat die Here die sterre elkeen gemaak het, en hulle naam ken. Hy kom sê dankie vir die wete dat die Here alles weet, en Almagtig is om enige probleem wat ons het, uit die weg te kan ruim.

Dat God ook die God is wat die natuur in sy Hand hou... Wat die hemel oordek met wolke, en reën vir die aarde verskaf. Wat die gras op die kaal berghellings laat groei, en die wilde diere en jong kraaie kos gee. Wat vir sy kinders die beste graan gee, en wat die seisoene beheer en bestuur.

En dit is oor hierdie wonderlike God waaroor ons ook vanoggend hier saam is. Ons weet dat ons in baie opsigte ervaar dat ons magteloos is. Dat ons soos die Israeliete ook maar staan en kyk wat om ons in die wêreldpolitiek, en die wêreldekonomie besig is om te gebeur. Dat ons ook voel dat onsself nie meer veel kan doen aan ons eie lot in hierdie land nie...

Maar ons staan ook vanoggend voor die Here as die een wat ook in die afgelope twee seisoene vir ons geseën het met wonderlike reëns en wonderlike oeste. As die Een wat vir ons deur swaar tye heen altyd vertroos het en gedra het. As die een wat ook vir ons vrede verskaf, en die geleentheid om Hom werklik te kan dien. As die Een wat Sy bevele aan ons bekend maak, en Sy Woord aan ons gegee het. En daarom is dit noodsaaklik dat ons die Here werklik loof, en Sy Naam kom grootmaak. Dat ons hom met lofliedere en snaarinstrumente prys, en Hom eer.

Dit is wonderlik om vanoggend hier saam te wees om vir Hom dankie te sê: Maar dit is ook nodig dat ons op die pad vorentoe ook dankbaar sal leef. Dat ons lewe 'n loflied tot Sy eer sal wees, en dat ons ons sal verdiep in sy Woord, en die riglyne wat Hy vir ons in die lewe gegee het.

Ek sluit af. Daar word vertel van die wêreldberoemde snydokter wat 'n groot ateis was. Hy het glad nie in God geglo nie. Dit gebeur toe dat hy eendag 'n man moes opereer wat in 'n fabriek in 'n groot ongeluk was. Die man se hele lyf was in twee gesny, en net sy rugwerwel het die twee stukke van sy liggaam aanmekaar gehou. Die dokter het geen hoop gehad nie, en maar vasgewerk wat hy kon.

Die persoon het wonderbaarlik reggekom, en toe die familie na die dokter toe kom om vir hom dankie te sê, was sy antwoord aan hulle: "Moenie vir my dankie sê nie, sê maar net dankie!.

Kom ons bring ook in hierdie tye die lof aan die een wie dit werklik toekom. Ons Drie-Enige God en Vader, wat ons elke dag dra en lei!

AMEN!


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 

No comments: