Wednesday, April 8, 2009

Hou vas aan Jesus as die gekruisigde! 1 Kor 2:1-5

Preek gelewer te Bospoort op 5 April 2009

SKRIFLESING: 1 Kor 2:1-5

Daar word 'n verhaaltjie vertel van van der Merwe (Jammer vir almal van julle wat van der Merwes is, maar hierdie is darem 'n positiewe grap!) wat by sy vriend gespog het dat hy almal in die wêreld ken. Regtig het sy vriend gevra. Ja, toets my gerus, het van der Merwe geantwoord.

Van der Merwe se vriend neem hom toe na die Withuis in Amerika toe, waar president Obama woon. Van der Merwe het die Withuis binnegegaan, en toe saam met President Obama op die balkon verskyn. Sy vriend was verstom, maar neem hom toe na die President in Rusland, President Putin toe. Daar gebeur dieselfde.

Maar Van der Merwe se vriend het vir hom 'n laaste toets gehad… Hy neem hom toe na die Vatikaanstad in Rome toe, daar waar die Pous woon. Van der Merwe se vriend kon weens die sekuriteit nie naderstaan nie, maar sien toe hoe Van der Merwe met 'n man met sulke wit klere op die balkon van die Vatikaan gaan staan. Hy wil toe seker maak dat dit die pous is, en vra toe aan iemand in die skare langs hom – wie is daardie ou in die wit klere? Ek weet nie, sê die ou, maar die ou langs hom is Van der Merwe!

Weet julle liewe broers en suster, ons kan lekker lag vir hierdie grappie, maar dit verduidelik eintlik vir ons dat dit nie eenvoudig is om iemand in die lewe werklik te ken nie. Net soos mense eerder Van der Merwe as die pous ken, so is dit dikwels so dat ons die Jan Alleman, die mense naaste aan ons die beste ken, en dat ons nie werklik die groot en belangrike mense wat elke dag op die televisie verskyn, werklik ken nie.

Maar selfs die mense naaste aan ons, selfs ons eie kinders of ouers, of huweliksmaats, openbaar soms aan ons eienskappe wat ons maklik kan sê: Maar ek ken my man of my vrou nie so nie. Selfs iemand soos Steve Hofmeyer se eie ma het nou die dag in die Sarie geskryf: "Ek ken my vrou nie so nie."

Maar weet julle, liewe vriende, as dit waar is van hoe goed of hoe sleg ons lewende, sigbare en tasbare mense rondom ons ken, is die brandende vraag vanoggend: "Hoe goed ken jy vir Jesus?" Weet jy wie Hy regtig is? Ja, ja, ons weet almal Hy is die Seun van God, en hy wil in ons harte woon, maar wie is hy regtig? Kom ons hoor 'n bietjie vanoggend – Wie is Jesus regtig? Wie wil vir ons sê?

As jy vanoggend huiwerig is om 'n antwoord te gee, is jy nie alleen nie. Want selfs die slim dominees en professors worstel vandag met die vraag. Andries Cilliers het 'n boek geskryf met die naam: "Sal die regte Jesus asseblief opstaan?" 'n Boek van Francois Wessels hier in my hand se naam is: "Wie was Jesus regtig?" As 'n mens hierdie boeke lees, dan sien 'n mens dat mense dikwels verskillende sienings het oor wie Jesus is, en wie Hy op aarde was.

Party mense sien Jesus as 'n groot rabbi, 'n wyse man wat 'n klomp slim dinge op aarde kom vertel het. Jesus is vir hulle die Groot onderwyser, wat vir ons 'n klomp dinge in die Bybel wil leer, en wil hê dat ons sommer 'n klomp teksverse uit ons koppe uit moet ken. Ander sien Jesus as 'n rebel. Hulle sê dat Jesus altyd in opstand was teen alles wat die kerk gedoen het, en graag mense uitgedaag het tot twisgesprekke.

Ander sien Jesus as 'n groot filosoof, iemand wat probeer het om 'n klomp slimmighede kwyt te raak, en aan almal om hom te wys hoe slim hy is. Ander sê dat Jesus die Koning is wat wonderwerke doen en absolute mag oor die skepping gehad het. Ander sê dat Jesus maar net 'n goeie mens was, wat nie werklik deur die Heilige Gees in die maagd Maria geskep is nie, en nie werklik opgestaan het uit die dood nie... En so kan ons aangaan.

As 'n mens al hierdie dinge hoor, raak 'n mens 'n bietjie deurmekaar oor wat om werklik oor Jesus te glo. En as 'n mens 'n bietjie deurmekaar is, dan is 'n mens in goeie geselskap. Want ons lees daar in Mattheus 11:3 dat selfs Johannes die Doper daar uit die tronk uit 'n Boodskap aan Jesus gestuur met die vraag: "Is U die een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?" Selfs Johannes het nadat hy Jesus gedoop het, en gesien het hoe die Heilige Gees soos 'n duif op Jesus neerdaal, Hoe God uitdruklik uit die hemel sê "Dit is my geliefde Seun", nog steeds getwyfel oor wie Jesus werklik is.

Maar liewe vriende, dit bring ons by ons teksgedeelte vanoggend, waar die Here ook die Apostel Paulus wil gebruik om vir ons te verduidelik wie Jesus werklik is. Daar in 1 Kor 2:2 kom sê Paulus duidelik: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde." Paulus skryf aan die Korinthiërs in 'n tyd waar hulle baie verskille onder mekaar gehad het. Hy skryf aan 'n gemeente wat klieks gevorm het, en elkeen gedink het dat hulle geestelik sterker of slimmer as die ander om hulle was.

Hy kom bevestig aan hulle dat die belangrikste deel van Christus se lewe sy kruisiging en opstanding uit die dood was. Hy kom bevestig dat enige preek waardeloos sou wees, as Jesus nie vir ons gesterf het, en uit die dood opgestaan het nie. Ja, liewe vriende, tussen al die ander wonderlike dinge wat Jesus gedoen het, en nog steeds doen, tussen al die eienskappe wat Jesus het, moet die kruis op Golgota vir ons in die middel staan. Want daar het hy die Satan werklik en finaal oorwin.

1 Petrus 2:24 sê dit vir ons so duidelik: "Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees." Ja, ons kan vandag werklik weet dat ons genees is van die sonde, dat ons kan lewe in gehoorsaamheid aan God as Vader, omdat Jesus ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra het. So het hy volkome vir ons sondes betaal.

Maar ons kan ook weet dat Jesus se kruisdood 'n effek in ons lewens moet hê: Paulus kom sê in Galasiêrs 6:14: Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Ja, deur die kruis van Jesus, is daar ook 'n stuk van die liefde vir die wêreld om ons wat moet afsterf, en daarom sal moet soos die sanggroep Prophet ook in Die
Houtkruis
roem.

Maar is hierdie beeld van Jesus as die Gekruisigde nie maar net nog 'n manier om na Christus te kyk nie? Is dit nie maar nog een van die vele fassette van Jesus Christus se menswees nie? Paulus kom verseker ons in 1 Korinthiërs 2:3-5 dat dit nie maar iets is wat hy self uitgedink het nie.

Paulus bring 'n boodskap wat nie gaan oor menslike wysheid of geleerdheid nie, maar 'n eenvoudige boodskap wat weer kom bevestig dat Jesus se kruisiging die belangrikste gebeurtenis in sy lewe was. Hy kom bevestig dat hyself nie by magte is om 'n goeie kragtige boodskap aan die mense te bring nie. Hy as dominee, het in angs en huiwering, in vrees en onsekerheid na die mense toe gekom. Maar hy kon die wonderlike boodskap van Jesus se verlossing aan die kruis bring, omdat, soos vers 4 en 5 vir ons sê, die krag van die Heilige Gees, en God die Vader se krag die boodskap in ons harte vasbind en bevestig. En daarom moet ons dit ook in hierdie lydenstyd met ons hele hart glo en daaraan vashou.

Ek sluit af. 'n Persoon wat my van kleins af gefassineer het, is dr. Albert Schweizer, die dokter van Lambarene. Albert Schweizer was 'n besonder begaafde persoon. Hy was nie allen 'n baie begaafde predikant en diep geleerd in die teologie nie, maar hy was ook 'n baie goeie musikant, 'n kernfisikus, 'n mediese dokter, en 'n filosoof.

Tussen alles wat hy kon doen en bereik, het dr. Albert Sweitzer gekies om 'n dokter te word in 'n sendinghospitaal diep in 'n oerwoud in Afrika, in Lambarene. Hy het onder andere ook baie boeke geskryf, en in sy boek oor wie Jesus werklik was, sluit hy soos volg af:

"Hy kom na ons as die onbekende, sonder 'n naam, soos in die ou tyd langs die meer – soos Hy verskyn het aan hulle wat Hom nie geken het nie. Hy praat met ons in dieselfde woorde: "Volg my!" Hy roep, en aan hulle wat aan Hom gehoor gee, sal Hy Hom openbaar – ongeag daarvan of hulle dwaas of wys is. Hy openbaar Hom in die swaarkry, die konflikte en die lyding wat hulle moet deurmaak – in gemeenskap met Hom. Deur hulle eie ervaring leer hulle wie Hy werklik is.

AMEN.

No comments: