Monday, March 30, 2009

Johannes 9:24-34 Geloof uit die boks uit!

Preek gelewer te Bospoort op 29 Maart 2009.

Tema: Geloof uit die boks uit!
Skriflesing: Johannes 9:24-34

Daar word vertel van die dominee wat in die hospitaal vir die siek, ou bejaarde vrou by haar bed gestaan en bid het. Hy het onder ander gebid dat sy gesond sal word. Skielik spring sy uit die bed op, hardloop met die gang af, en roep bly uit: “Ek is genees, ek is genees!” Die dominee was verdwaas, en het kopskuddend na sy kar toe uitgestap. Toe hy by sy kar kom, kyk hy na die hemel op, en sê vir God: “Moet dit asseblief nooit weer aan my doen nie!”

Baie teoloë, predikante vandag sit God ook in ‘n boks. God word beperk tot wat ons dink Hy kan doen. God word ‘n teddiebeer-God wat ons kan liefhê, en wat ons kan troos in moeilike tye, maar God se almag om wonderwerke te kan doen word bevraagteken. God word ook geteken as ‘n God wat magteloos is om groot rampe soos die Tsunami af te weer.

In ‘n sin is die kerk van vandag vasgevang in ‘n geloof dat God vêr is, en nie by magte is om te sien wat op en onder die aarde en in die donker aangaan nie. Hierdie God wat ons skep is in ‘n sin nog minder by magte om werklik in te gryp in die mens se lewens. Ons mense van vandag is eintlik vasgevang in volstruispolitiek – As ek God nie kan sien nie, kan Hy my ook nie sien nie.

Maar weet julle, liewe vriende, om God in ‘n boks te sit, is nie ‘n nuwe ding nie. Alreeds in die Bybel se tyd sien ons hoe die Fariseërs, Skrifgeleerdes ook vir Jesus in ‘n bepaalde boks gesit het. Hierdie Fariseërs en Skrifgeleerdes het ‘n paar verkeerde en verdraaide aannames gemaak:

1. Hulle het gedink dat Jesus ‘n sondaar was, wat nie van God af kom nie.
2. Hulle het gedink dat sekere dinge net nie gedoen kan word nie.
3. Hulle het gedink dat hulle sonder sonde was, en dat net die mense om hulle sonde gehad het.
4. Hulle het gedink dat God nie na sondaars luister nie.
5. Hulle het gedink dat hulle selfgemaakte wette en reëls gelyk is aan God se wette. Hulle het gedink dat God net in die tempel en in die sinagoge bly, en dat hulle kan besluit wie na God toe mag kom, en wie nie.

In die eerste plek het die Fariseers en die Skrifgeleerdes van daardie tyd klaar ‘n beslissing oor Jesus gevel, sonder om die Bybel mooi te gaan bestudeer. Sonder om Hom ‘n kans te gee om aan hulle die Ou Testament uit te lê en aan hulle te bewys dat Hy die Messias is, die Redder wat sou kom. Daarom het hulle uit die staanspoor in vers 16 besluit: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie”. Hulle het dus nie die vermoë gehad om wyer te kyk nie, maar klaar besluit dat Jesus ‘n sondaar is.

Verder het die Fariseërs ook gedink dat daar sekere dinge is wat net onmoontlik is. Die blinde man sê self aan hulle in vers 32: “Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie.” Dit is interessant dat die mense aanvanklik gedink het dat hierdie man na sy genesing maar net iemand was wat soos die blinde gelyk het (vs. 9), en die Fariseërs het selfs die ouers geroep om seker te maak dat dit hulle seun was wat genees is (vs. 19).

In die derde plek het die Fariseërs oogklappe opgehad, en was dit nie vir hulle moontlik om hulle eie sonde raak te sien nie. Hulle het graag ook die balk in ander se oë raakgesien, en kon nie na hulle luister nie. Hulle het nie net vir Jesus as ‘n sondaar uitgeskel nie, maar ook aangeneem dat hierdie man vanweë sy sonde blindgebore was. Sonder gronde sê hulle aan hom in vers 34: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”

Die Fariseërs het verder ook geglo dat God nie na sondaars se gebede luister nie. Na aanleiding van Jesaja 1:15 het hulle aangeneem dat God sy oë toemaak vir sondaaars. “15 As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.” Hulle het gerieflikerwys vergeet van al die uitnodingings wat die Here ook in die Ou Testament gerig het om hulle te bekeer, en tot Hom as die ware God te bid. Juis hieroor het Jesus ook nodig gehad om die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18:10-13 te vertel.

In die laaste plek het die Fariseërs en die Skrifgeleerdes hulle eie wette gemaak, en dit dan gelykgestel met God se wette. Hulle het maklik mense uit die sinagoge geban as hulle gedink het dat so ‘n persoon die wet oortree het. In die geval van hierdie blinde man was hulle baie meer ontsteld oor die feit dat die blinde man op die sabbatdag gesond gemaak is, as wat hulle bly was oor die feit dat wonderwerk plaasgevind het – dat ‘n blinde man weer kon sien!

Liewe vriende, ons kan maklik by onsself dink... Hierdie Fariseërs en tollenaars is darem nare mense! Hulle is net ingestel op hulle eie lewens, en laat nie regtig die Drie-Enige God in hulle godsdiens toe nie. Maar eintlik gebeur dieselfde maar in die kerk van vandag...

Is daar nie al hoe meer mense wat beweer dat Jesus net ‘n gewone sondaar was, dat hy ‘n wynsuiper was, en dat hy ‘n buite-egtelike verhouding met Maria Magdalena gehad het nie? Is daar al hoe minder en minder mense wat nog glo dat God wel wonderwerke kan doen, en dat dit help om tot God te bid nie? Kry ons nie al hoe meer hoogmoediges in die kerk wat sukkel om die balk in hulle eie oë raak te sien, maar graag praat oor die splinter in ander se oë nie?

Is dit nie so dat ons so dikwels ander se gebede in ons harte oordeel omdat ons glo dat hulle inhirent sondaars is nie. Sê ons nie maklik vir onsself en vir mekaar: “Daardie ouderling bid so mooi in die kerk, maar kyk hoe tree hy in die week op nie?” Is dit nie so dat ons dikwels ander deur ons optrede uit die kerk uitban, en ons eie reëls maak, terwyl die kerk eintlik oop deure moet hê nie?

Liewe vriende, liewe medegelowiges, ons leef in tye waarin ons uitgedaag word om uit die boks te glo... Ons moet weer vir onsself gaan vra wat geloof werklik beteken, en of ons nie uiteindelik dalk so dikwels soos die Fariseërs dink en doen nie, of ons nie uiteindelik eerder instrumente in Satan se hand is, eerder as instrumente in God se hand nie?

Maar ons moet ook hier in die lydenstyd weet dat ‘n ware keuse vir die Here Jesus ook lyding van ons gaan vra. Dat ‘n keuse vir onvoorwaardelike volgelingskap van die Here Jesus gaan beteken dat ons uitgesluit gaan voel. Dat ons gekritiseer gaan word as ons oë oopgaan en as ons voluit vir die Here Jesus lewe, en nie meer met al die mensgemaakte tradisies en wette in die kerk saamloop nie... Maar ons moet weet dat hierdie pad uiteindelik die pad is wat tot ware bevryding, en ware godsdiens kan lei. Wat kan maak dat die oogklappe van ons oë afval, en dat ons iets begin sien van wie en wat God werklik vir ons is en wil wees.

Ek wil afsluit... Almal van julle ken seker die verhaal van Pandora se boks. Dit is die verhaal van ‘n vreeslik wrede koning, met die naam Bloubaard, wat met prinses Pandora getroud was. Koning Bloubaard het ‘n boksie gehad, en hy het altyd vir Pandora laat belowe dat sy nooit die boksie sal oopmaak nie. Maar Pandora se nuuskierigheid het eendag die oorhand gekry terwyl hy weg was op ‘n reis, en sy het die boksie oopgemaak... Voor sy kon keer, het ‘n klomp duiweltjies uit die boksie uitgevlieg.

Toe sy die boksie toekry, hoor sy een klein stemmetjie wat vir haar sê: “Ek is die goeie fee, en jy het al die ander duiweltjies uitgelaat... As jy my nie ook vrylaat nie, gaan hulle doen wat hulle wil, en die wêreld sal totaal oorgegee wees aan hulle. Laat my ook vry, want dit is die enigste manier om te keer dat al die duiweltjies maak soos hulle wil.

Liewe vriende, al is Pandora se verhaal net ‘n sprokie, weet ons dat dit baie keer in die kerk waar is. Terwyl die duiwel los is daar buite, en soos ‘n brullende leeu rondloop en kyk wie hy kan verslind, hou ons mekaar in bokse opgesluit, bly ons beperkend dink en glo, en keer ons dat die Here se evangelie regtig kan vlamvat en mense se harte begin verander!

Kom ons bid vanoggend saam, en ons vra ook van die Here dat Hy ons oë op hierdie Sabbat, op hierdie Sondag so sal oopmaak dat ons waarlik tot Sy eer sal kan lewe. Dat ons waarlik sal besef dat Jesus aarde toe gekom het, en ‘n sondelose mens was om ons sondes te kom betaal. Dat ons werklik sal besef wat die Here by magte is om te doen, dat ons die sonde in ons eie lewe sal raaksien, en weet dat God na die gebed van ‘n eerlike sondaar luister. Dat ons werlik nuut oor al die randeiers in die samelewing om ons sal dink, en die kerk se deure vir hulle sal oopgooi!

AMEN!

No comments: