Monday, March 30, 2009

Skrifgedeelte: Esegiël 37:1-11 God maak die onmoontlike moontlik!

Preek gelewer op 15 Maart 2009 in Bospoort gemeente.

Voorsang:
Lied 163 (2*) Soos ‘n Wildsbok.
Lied 202:1-3 Prys Hom die Hemelvors!
Lied 203:1-3 Loof die Here al wat lewe!

Lofsang:
Lied 390:1-4 Ons kniel hier voor U voete neer…

Na Wet:
Lied 241:1-3 Troue Here van my Lewe

Slotsang:
Lied 415:1-3 Jesus leef, en ons met Hom.

Alreeds so vroeg as 1970 het Alvin Toffler ‘n opskudding in die wêreld veroorsaak met sy boek “Future Shock”. In hierdie boek praat hy van die wêreld as ‘n “disposable society”, of ‘n ”weggooibare gemeenskap.” Toffler praat in hierdie boek daarvan dat ‘n mens net in ‘n omgewing leef waarin alles gemaak word om net ‘n kort tydjie te hou, en dan daarna weggegooi te word. Hy verwys na weggooidoeke, weggooi-skeermesse, weggooi sigaretaanstekers, weggooi-tandeborsels, en so kan ‘n mens aangaan. Hy het voorspel dat die aarde later ‘n groot rommelhoop gaan word as dit so aangaan.

Toffler was nie ver verkeerd nie. Die wêreld sit vandag met ‘n vuilgoedprobleem. Daar word bereken dat die weggooidoeke wat een baba gebruik tydens sy eerste 3 jaar ‘n rugbyveld sal volmaak. Daar word ook gesê dat al ons vuilgoed bydra tot die probleem van aardverwarming. Maar hierdie “vuilgoedprobleem” is nie net op die aarde ‘n probleem nie. Ons het onlangs gehoor van 2 sateliete wat met mekaar gebots het.
Selfs net bo die aarde se atmosfeer is daar ‘n groot aantal ou sateliete en ruimterommel wat besig is om om die aarde te wentel.

Julle kan miskien vanoggend vir my vra: “Maar wat het hierdie rommelprobleem met ons te doen? Ons het mos nie ‘n probleem nie. Ons leef hier in die platteland waar spasie en ashope nie so ‘n groot probleem is nie. Ja, ons weet dat aardverwarming ons beïnvloed, maar verder raak die dinge ons nie so erg nie. Maar die eintlike probleem met ons “weggooibare gemeenskap” van vandag is die feit dat soveel mense ook op die ashoop beland. Alhoewel alles sefs vanoggend hier in die erediens normaal en mooi mag lyk, is daar selfs mense hier wat soos ashoopmense mag voel – mense wat deur ander net uitgestoot is, omdat hulle volgens ander nie bruikbaar is in die samelewing nie. Mense wat doodgegaan het aan die binnekant, omdat hulle voel dat hulle niks meer het om voor te leef nie.

En juis daarom, liewe vriende, glo ek dat Esegiël 37 weer vir ons ‘n kraakvars boodskap het vanoggend. Want ek glo dat God se bemoeienis met die hoop geraamtes in die laagte ook iets vir ons vertel van Sy bemoeienis met Bospoort gemeente, en die kerk van vandag...

Esegiël 37 kom skets die prentjie van ‘n laagte vol doodsbeendere. Daar word uitdruklik genoem dat hierdie geraamtes al jare lank in son en wind lê, en dat die geraamtes al kurkdroog is... En dan vra die Here in vers 3 die ongemaklike vraag vir Esegiël: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Esegiël het hierdie vraag baie versigtig geantwoord: Alhoewel hy nie veel hoop gehad het nie, sê hy vir die Here: “Nee, dit weet net U, Here my God!

Elkeen van ons word dikwels gekonfronteer met situasies in ons lewe waar ons wonder of ons nog verder ‘n pad met ‘n sekere persoon in ons lewe moet stap... Ons besluit dikwels dat so ‘n persoon by heelmaak verby is... Dat dit maar net beter is as ons hom of haar geheel en al van die gemeenskap afsny... Ons besluit hierdie dinge dikwels sonder om eers met God te praat... Sonder om eers werklik te gaan besin oor wat die Here se wil in so ‘n situasie is.

Richard Armstrong skryf in sy boek “Service Evangelism” dat ons dikwels net vriende word met mense om hulle te bekeer. Wanneer dit dat nie gou genoeg na ons sin gebeur nie, gooi ons hulle net weer op die ashoop, en gaan soek na ander. En so skep ons by hulle nog ‘n groter afkeer aan die kerk en gelowiges... Die ware antwoord of ‘n persoon by genesing verby is, lê uiteindelik net by die Here. Ons mag nie opgee tensy ons duidelik by die Here daardie leiding gekry het nie...

Ons is terug by God en die droë bene in die laagte. Teen ons verwagting in doen God nie net die wonderwerk van Sy kant af nie. God swaai nie net die towerstaffie vir hierdie bene om weer lewendig te word nie... Nee, liewe vriende, God beveel Esegiël om oor die bene te profeteer. Hy moet aan die bene sê: Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle:
“Hoor die woord van die Here, droë bene! 5 So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6 Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”
Ek kan al sien hoe kyk Esegiël in sy visioen rondom hom... Is daar dalk iemand wat hom sien. Hoe sal die mense nie vir hom lag as hy teenoor hierdie droë bene profeteer nie! Hoe sal die mense nie vir my lag as ek vir hierdie droë bene staan en preek nie! As ek boonop nog vir hulle sê: “Hoor die Woord van die Here, droë bene!” Wat is die kans dat hulle sal luister? Wat is die kans dat hulle gaan lewe?

Maar Esegiël gehoorsaam tog... Teen sy gesonde menslike verstand in gaan profeteer hy vir hierdie bene, en vertel aan hulle wat die Here met hulle gaan doen... Dat die Here vir hulle senings en vleis gaan aansit, hulle met vel gaan oortrek, en dan Sy gees in hulle gaan sit sodat hulle kan lewe. Dat die Here sy grootheid sal wys, sodat hulle sal kan besef wie Hy werklik is...

En dan gebeur die wonder... die bene begin een vir een na mekaar beweeg, elkeen na die deel toe wat by hom pas. Die senings en die vleis kom bymekaar, en die bene kry ‘n vel om... Maar die liggame was nog steeds leweloos... Uiteindelik beveel God Esegiël om met die Gees te praat, en die Gees te vra om lewe in die dooies te blaas! En so sien ons dat die dooie beendere in die laer ‘n menigte word... ‘n Menigte wat God prys en besef dat Hy die Here is... Dat Hy die ware Skepper en vernuwer... Dat Hy die een is wat kan opwek tot die lewe...

Maar die Here hou nie by die visioen op nie... Hierdie boodskap is vir Hom so belangrik, dat Hy die betekenis daarvan woord vir woord vir Esegiël uitspel... Hy kom verduidelik aan hom dat hierdie beendere op Israel dui, wat dood was, maar wat weer lewend gemaak sal word. Dat Israel wie se bene uitgedroog het, wat hoop verloor het, wat sê: Dit is klaar met ons!, die belofte kry dat die grafte sal oopgaan, en dat hulle sal lewe! Dat hulle hulle land sal terugkry, en dat hulle God se Gees oor hulle sal kry, en in die land sal woon. Dat hulle werklik sal besef dat God die Here is.

Die Here sluit hierdie gedeelte af met die besliste woorde: “Ek het dit gesê en ek sal dit doen!”. Liewe vriende, die Here is beslis oor dit wat Hy wil doen, en hy sal dit ook doen. Met Jesus se sterwe het die grafte in Jerusalem oopgegaan, en die Gees is oor daardie mense uitgestort na sy Hemelvaart. God het van die droë bene lewende mense gemaak! Mense wat die Here voluit loof en prys!

Maar die visioen van Esegiël is nog nie verby nie... Dis nog nie totaal uitgespeel nie... Ook vandag is daar kurkdroë beendere rondom ons... Ook vandag is daar mense wat geen hoop meer het nie... Mense wat sê: “Dit is klaar met ons!”. Mense wat los rondgestrooi lê, sonder dat hulle êrens inpas... Ja, God kom ook vanoggend na hulle toe... God kom hulle aanraak, sodat hulle ook kan getuig... God het ons lewend gemaak! Hy het sy Gees oor ons laat kom. Al gebeur dit dat ons dikwels oor die droë bene in die laagte loop, sonder om te gewaar watter menigte om ons dood lê, kom die Here ons weer herhinner aan Sy belofte. Hy wil dit doen, en Hy sal dit ook doen. Hy sal aan ons die land gee, die Ewige Lewe by God die Vader.

Ek sluit af... Daar word vertel van ‘n evangelis wat eendag by ‘n boer gaan vra het om ‘n donasie vir die sending... Die boer het na sy kamer toe gestap, en aan hom ‘n rewolwer gegee... Hy het aan Hom gesê: “Vat hierdie rewolwer en skiet almal wat tot bekering kom dadelik dood, want dit is die enigste manier waarop hulle in die hemel gaan kom... Hulle gaan na hulle bekering in elk geval weer afdwaal.

Liewe gemeente, soos ‘n Jona van ouds is ons dikwels geneig om ander om ons af te skryf. Ons glo so maklik hulle is by genesing verby. Maar ons doen dit dikwels sonder dat ons met hulle Skepper, met God oor hulle gepraat het. Ons doen dit sonder dat ons gebid het dat hulle werklik by ander bene, by ander ledemate sal kan inpas. Ons doen dit sonder dat ons gevra het dat die Here ons met senings aan mekaar bind, en werklik vleis en vel oor ons trek. Sonder dat ons vashou aan sy belofte om ons sy Gees te gee, en aan ons die Ewige Lewe te gee...

Kom ons wees ook tydens hierdie Paasfees die draers van ‘n nuwe hoop in ‘n stukende wêreld. ‘n Hoop dat die Here wel sal antwoord, en ‘n wonderwerk sal doen. Dat die Here weer splinternuwe lewe in dooie situasies sal skep...

AMEN.

No comments: