Saturday, March 7, 2009

Matt. 4:1-11 - Preek gelewer op 8 Maart 2009 uit

Skriflesing: Matt 4:1-11

C.K. Chesterton het ‘n speurverhaal geskryf met die naam “die hamer van God”. In hierdie verhaal gaan dit oor ‘n skurk wat op die markplein van die dorpie dood lê, met ‘n wond op sy kop en ‘n klein hamertjie langs hom. Vader Brown moes die moord kom ondersoek. Almal het gedink dat dit die hoefsmid was wat die moord gepleeg het.

Uiteindelik word die plaaslike predikant as die moordenaar aangewys. Die skurk was die predikant se broer. Die predikant was besig om met ‘n klein hamertjie die dak van die katedraal, of die kerk reg te maak, toe hy van bo af sy broer op die markplein sien. Toe hy na sy broer van bo af kyk, het so ‘n gevoel van woede oor sy broer se sonde hom oorweldig, dat Hy hom met die klein hamertjie van bo af gegooi het, en van bo af het die hamer teen so ‘n spoed op sy broer afgepyl, dat dit hom gedood het.

Wanneer Vader Brown tot die slotsom kom dat dit die predikant is, sê hy dat kerktorings eintlik bedoel is om na God te wys, maar dat mense dit gebruik om uit die hoogte op hulle medemens neer te kyk. Ek glo dat elkeen van ons dikwels uit die kerk na ander om ons neerkyk, en dink dat ons beter as hulle is.

Waar ons vanoggend in die derde week van lydenstyd is, d.w.s die tyd waarin ons daaraan dink dat Jesus vir ons gely en gesterf het, is dit nodig dat ons ook gaan kyk na Jesus se lyding terwyl Hy op aarde was. Na die manier waarop Hy voorberei is vir sy leiding op die kruis. Anders as wat ons dikwels dink, was Jesus nie sommer ‘n perfekte volmaakte mens met sy geboorte nie...

In Hebreërs 2:9-10 sien ons hoe Jesus ook deur ‘n proses moes gaan om volmaaktheid te bereik, om op die ou end tot die stap van sy selfopoffering aan die kruis te kom... Die skrywer van Hebreërs beskryf dit as volg: “9 Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ‘n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.
10 God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie as sy kinders tot heerlikheid lei. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring.”

Net na sy doop deur Johannes, waar Jesus deur sy Vader as Seun bevestig en uitgewys is, waar Jesus die Heilige Gees ontvang het, sien ons hoe Jesus ook na die woestyn gaan vir hierdie proses van voorbereiding... Jesus word vir veertig dae getoets deur ‘n proses van vas en gebed tot sy Hemelse Vader...

En dan sien ons hoe die Satan, die duiwel, as die toppunt van hierdie versoeking vir Jesus nader op die laaste dag van sy vasperiode, toe sy wilskrag op sy swakste was. Satan het geweet op watter areas van sy lewe Jesus as mens die kwesbaarste was, en probeer juis daardeur om hom onder te kry. Hy probeer juis menslike swakpunte gebruik om Jesus oppad na die kruis te ontspoor, sodat Hy sonde kan doen, en nie meer vir ons sondes hoef te sterf nie...

In die eerste plek sien ons hier hoe Satan die menslike drang na onafhanklikheid gebruik om Jesus tot ‘n val te probeer bring. In plaas van om gehoorsaam aan sy Vader net nog ‘n paar ure met die vas te kan uithou, daag Satan Jesus uit om die klippe in brood te verander. In die plek van ‘n gesprek met sy Vader word Jesus versoek om eerder van die sigbare tasbare brood te eet. Om nie te wag dat die Vader hom voed nie, maar sy wonderwerkende krag te gebruik om vir homself brood te maak.

Die tweede menslike swakpunt wat Satan in sy versoeking van Jesus gebruik, is die versoeking om in die kalklig te wees... Satan neem Jesus na die tempel toe, en daag hom uit om van die tempel se dak af te spring. Satan gebruik selfs ‘n aanhaling uit die Bybel, en sê aan Jesus dat die engele Hom op die hande sal dra sodat Hy nie sy voet teen ‘n klip sal stamp nie. Ja, hier aan die begin van sy bediening word Jesus voor die versoeking gestel om die wonderwerke wat Hy kan doen, tot sy eie eer te gebruik. Om die kalklig te steel, in plaas daarvan om aan sy Vader al die eer te gee.

In die derde plek word plaas Satan seker die grootste versoeking voor Jesus, naamlik die versoeking van mag en oorheersing. Ja, Satan neem vir Jesus na ‘n hoë berg, en belowe aan hom die koningskap van al die koninkryke van die aarde indien Hy hom wat Satan is aanbid. Hy kom bied aan Jesus die mag en gesag oor die hele wêreld... Hy kom bied aan Jesus die status en belangrikheid van ‘n wêreldkoning, ‘n status wat nog meer is as die van Barack Obama, of die president van die Verenigde nasies organisasie.

Weet julle, liewe vriende, dat die Satan vandag nog hierdie drie versoekings met groot sukses gebruik? In die naam van finansiële onafhanklikheid verkoop mense nog daagliks hulle siele en hulle integriteit. Hoe dom dit mag klink, verkies mense eerder om vir hulleself te sorg, as om vir God te vra om vir hulle te sorg. Ek het ‘n oom geken wat reguit gesê het dat hy nie vir sy kos bid nie, want hy het mos self daarvoor gewerk!!!

Die Satan verlei nog steeds vandag se mense met ‘n soeke na die kalklig. Dit is vir ons lekker om raakgesien te word. Dit is vir ons lekker as ander vir ons hande klap. En daarom val ons maklik vir die versoeking om in kompetisie met mekaar te verval, en alles groter, beter, en aanskouliker as ons buurman te kan doen. Daarom probeer ons mekaar beïndruk met ons kennis, ons rykdom, of ons fisiese voorkoms.

Die Satan verlei vandag nog steeds mense met ‘n soeke na status en mag. Ja, liewe vriende, dit bly vir ons lekker om te voel dat ons belangriker is as hulle om ons. Dat ons om een of ander rede vir mense ‘n punt kan wys. Dat ons selfs hoog op die kerktoring oor ander om ons kan oordeel, en hamers op hulle kan afgooi...
Hier waar ons vanoggend kerkraadslede gaan bevestig en herbevestig, is dit net so belangrik dat ook elkeen in ‘n leiersposisie nie onverhoeds deur die duiwel se toertjies gevang word nie... Elkeeen in ‘n leiersposisie moet ook weet dat die duiwel hom nie gaan los nie. Die duiwel gaan ons probeer wysmaak dat ons onafhanklik en los van die Here kan lewe... Dat ons nie nodig het om ons Bybelte lees en te bid nie.

Die duiwel gaan ons probeer wysmaak dat ons die kat se snor is. Dat ons spoggeriger, meer beeldskoon, sterker en slimmer is as ons mede-aardbewoners. Hy gaan ook julle as leiers probeer verlei met die versoeking om as’t ware mense en lidmate soos marionette te hanteer, waar ons net die toutjies trek, en mense se lewens regeer en domineer.

Maar juis daarom is dit noodsaaklik dat ons vanoggend die drie antwoorde wat Jesus aan die Satan gegee het, elke dag onthou wanneer ons versoek word. Ons moet onthou dat ons nie “net van brood lewe nie, maar van elke Woord wat uit die mond van God kom.” Van die grootste miljoenêrs in die lewe is kinderlik ongelukkig omdat hulle al die brood kan koop wat hulle wil hê, maar nog steeds die Lewende Brood van God mis.

Ons moet ook onthou dat ons “God nie op proef mag stel nie.” As daar ‘n rivier vol krokodille is, kan ons nie maar vir God vra om die krokodille se bekke te sluit, omdat ons nou warm kry, en wil swem nie. Ons kan nie ons lewe op die proef stel met waaghalsige toertjies, of aan duiwelse dinge deelneem, of selfs na pornografie kyk, en verwag dat die Here ons maar net moet beskerm nie. Nee, juis as leiers moet ons verantwoordelik optree, en nie die Here op die proef stel nie.

Maar bo alles moet ons besef dat geestelike leierskap altyd totale onderdanigheid en gehoorsaamheid aan God beteken. Die Satan se aanbod aan Jesus was uiteindelik ‘n baie slegte ooreenkoms. Want al sou Jesus die koningskap oor die wêreld besit, sou dit beteken dat hy voor die Satan gekniel het. Dat hy die Satan as sy heerser en koning erken het... Dat hy sy siel aan Satan sou verkoop. Daarom kom herhinner Jesus ons weer vanoggend: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

Ek sluit af. Iemand het onlangs gesê: “Ons is baie lief om na iemand te verwys as ‘n ‘groot Christen’. Daar is nie iets soos ‘n ‘groot Christen nie. Die enigste ‘groot Christen’ is ‘n Christen wat te veel eet.” Daarvoor sal ek dalk kwalifiseer... Dwight Moody, die bekende evangelis het eendag by ‘n dronkie in die straat verbygestap en gesê: “There lie I, but for the Grace of God.”

Die kaptein van ‘n slaweskip, John Newton, wat dramaties tot bekering gekom het en bygedra het tot die afskaffing van slawehandel, het by sy sterfbed gesê: “My verstand is byna weg, maar ek onthou twee dinge: Dat ek ‘n groot sondaar is, en dat Christus ‘n groot Verlosser is!”

Kom ons elkeen erken vanoggend voor die Here dat Hy alleen Here en Koning is, en dat ons net van Hom afhanklik is. Kom ons vra aan Hom dat Hy ons werklik sal dra en lei om afhanklik, nederig, en gehoorsaam te bly in alles wat ons doen.

AMEN!

No comments: