Sunday, February 22, 2009

Die resep vir gelukkige ouers.

Skriflesing: Spreuke 23:15-25

Inleiding voor Skriflesing:

Ons almal het al om die kampvuur of by huisgodsdiens as kinders gesit, en aan ons oupas se lippe gehang terwyl hulle stories uit die verlede oorvertel, of terwyl ouma vir ons ‘n Bybelstorie lees. Die boek Spreuke vertel nie noodwendig spookstories of snaakse gebeure uit die verlede nie, maar dit is ‘n besondere boek waaruit kinders ook geleer word hoe om hulleself te gedra in die dae wat kom.

BOODSKAP

Daar word vertel van die ou oom van 94 jaar, en sy vrou wat by die prokureur gekom het, en aan hom vertel het dat hulle wil skei. Die prokureur wou toe weet hoekom hulle nou eers, noudat hulle so oud is, wil skei. Hy wou weet hoe dit gebeur dat hulle nou al so lank getroud is en nou eers probleme kry. “Nee boetie, die saak staan so” het die ou oom verduidelik”, ons het al lankal probleme, maar ons het net eers gewag dat die kinders almal dood is voor ons skei.”

Weet julle liewe vriende, in vandag se tyd is daar so baie senior lidmate wie se drome aan skerwe lê. Mense wat almal ‘n droom gehad het met hulle huwelik van heerlike oudag met kinders en kleinkinders om hulle, wat uiteindelik nie net teleurgestel is nie, maar selfs ontnugter is deur die toestand waarin hulle hulle laaste jare hier op aarde moet deurbring.

Of ons dit wil weet of nie, die geluk van ‘n ouer persoon draai so dikwels om die situasie waarin sy kinders en kleinkinders hulle bevind. In die tehuise vir bejaardes kry ‘n mens nog so dikwels die seer van ‘n kind wat gesterf het voor sy ouer. Ons kry so baie skatryk mense in hierdie lewe wat al hulle miljoene sou verruil, as hulle maar net geweet het dat dit hulle wegloopkind sou terugbring.

In my bediening van 14 jaar het ek ook al verstom gestaan oor wat ouers alles vir hulle kinders sal doen. Of dit ‘n pa is wat duisende rande betaal om sy kind uit die tronk te hou, of selfs in die uiterste armoede leef, sodat hulle kind sy potensiaal op universiteit kan bereik, was dit nog altyd vir my duidelik. Daar word vertel van die stokou oom wat vrugtebome in die tuin geplant het. Iemand het verbygeloop, en gevra: “Maar oom, wat maak jy nou – Jy gaan mos nooit leef om van daardie vrugte te kan geniet nie? “Ek weet boet, het die oom geantwoord. Maar ek plant dit nie vir myself nie. Ek plant dit vir my kinders en kleinkinders. Of dit nou ma’s en pa’s, of oumas en oupas is, hulle gemoedstoestand hang dikwels af van die geluk van hulle kinders.

En daarom, liewe vriende, glo ek dat die Here hier op die Sondag wat ons spesiaal aan ons Seniors wy, nie in die eerste plek met hulle wil praat nie. Nee, ek glo dat die Here ook met ons as kinders en kleinkinders wil praat oor hoe ons hulle werklik gelukkig kan maak. En al dink ons nie altyd so nie, is dit moontlik om hulle gelukkig te maak... In Spreuke 23:24 en 25 lees ons: “‘n Vader van ‘n kind wat reg doen, is baie gelukkig, ‘n wyse seun verskaf sy vader groot vreugde. Mag ook jou vader die vreugde hê, mag ook jou moeder wat jou in die wêreld gebring het, so gelukkig wees.” In vers 15 en 16 sê die wyse Salomo: My seun, as jy ‘n wyse mens word, sal dit my baie vreugde verskaf, Ek sal juig as wat jy sê, altyd reg is.

Ons elkeen gun dit tog vir ons ouers en grootouers om baie vreugde oor ons te hê, om as’t ware juigend deur die lewe te gaan. Maar liewe vriende, ons besef nie altyd hoe groot rol ons in hulle geluk kan speel nie. Ons besef nie altyd hoe belangrik ons manier van lewe vir die vreugde van ons ouer mense inhou nie.

En daarom kom nooi ek julle graag vanoggend om saam met my aan die voete van die wyse Salomo te kom sit, en die resep vir gelukkige ouers te kom leer en onthou. Ons gaan vanoggend kyk na 8 bestanddele om gelukkige ouers te kan hê. Hierdie 8 bestanddele is wysheid, tevredenheid, ywer, leergierigheid, koersvastheid, gehoorsaamheid, eerlikheid, en selfbeheersing.

In die eerste plek verwys spreuke na ‘n wyse mens as iemand wat sê net wat reg is. Soos ons in Jakobus 1 in die Nuwe Testament gewaarsku word oor die ontsettende krag van die tong, so waarsku Salomo sy seun in vers 16 om te sê net wat reg is. Ware wysheid word gemeet aan ‘n mens se woorde, en jou vermoë om ‘n wag voor jou tong te kan hou. Ja, ek weet dat hier baie van ons sit wat ons tonge dalk kan afbyt oor dinge wat ons al teenoor ons ouers, of selfs ons grootouers kwytgeraak het.

‘n Tweede belangrike bestandeel vir hierdie resep is tevredenheid. In 1 Tim 6:6 lees ons dat die godsdiens van groot waarde is vir iemand wat tevrede is met wat hy het.” Ons moenie afgunstig wees op sondaars en hulle manier van lewe nie, maar ons moet die derde bestanddeel van ywer in ons lewe hê. Ons moet die Here ywerig dien. Ons moenie halfhartige kerklidmate wees nie. Ons moenie wees soos die bokser wat in die lug slaan waarvan Paulus praat nie. Nee, as ons in die spore van die Here Jesus loop, sal ons sien hoe ons drome waar word, en ons hoop op die toekoms nie wegkwyn nie.

Die vierde bestandeel in hierdie resep is leergierigheid. Ons mense van vandag verval so maklik in ‘n groef, waar ons dink dat ons alles weet. Veral dokters en ander geleerde mense dink dat hulle te slim is om hulle met die Bybel op te hou. In vers 19 word ons gemaan om altyd die regte insig te soek, en altyd bereid te wees om te vra, eerder as om net oorhaastig op te tree. Ons moet ook kan koersvas bly. Soos Hebr. 12:1-3 ons aanmoedig, moet ons ons oog op Jesus vestig, en ons nie met suiplappe en vrate ophou nie. Ons moenie wees soos hasie wat so weggelê het aan die wortels, dat hy die resies verloor het nie. Van Moses word daar in Hebr. 11:25 gesê dat hy verkies het om eerder sleg behandel te word saam met die volk, as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Ons ken almal die verhaal van Daniël en sy drie vriende, wat verkies het om ‘n gesonde dieet te volg, en op die ou end baie sterker was die ander was.

Julle moet nog net so ‘n bietjie geduldig wees, ons het amper die koek klaar gebak. Die sesde bestanddeel is gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan ons ouers en ons meerdere is nie bloot om te doen wat hulle van ons vra nie. Dit beteken nie net om iets vir hulle te doen terwyl ons onderling mor of kla oor al hulle fieterjasies nie. Die woord wat vir eer gebruik word in Exodus 20:12, hou verband met die Hebreeuse term vir gewig. Dit beteken dat ons nie net ons ouers moet gehoorsaam wanneer hulle in ons oë meer wysheid, insig, ervaring en rypheid as ons het nie, maar omdat God hulle gesag oor ons gegee het, omdat hulle as’t ware die Hand is waarmee God sy kinders op aarde wil regeer.

Ons het nou nog net twee bestanddele oor. Eerlikheid is vir ouers baie belangrik. Ek dink nie daar is ‘n kind hier vanoggend wat nog nie deur sy ouers gestraf is omdat hy gejok het nie (miskien gebeur dit wel). Maar net so is eerlikheid en integriteit vir ons Hemelse Vader soveel te meer belangrik. Ons moet weet dat ons geroep is om werklik deursigtig en oop teenoor ons medemens te lewe. Dit help nie om dinge weg te steek nie. Johannes 8:32 leer vir ons dat die waarheid, en veral die waarheid van Jesus Christus se sterwe aan die kruis, ons sal vry maak.
Die laaste bestanndeel vanoggend, maar verseker nie die minste nie, is selfbeheersing. Selfbeheersing is nie net ‘n vrug van die gees nie, maar ‘n ouer se opvoeding word juis gesien in die mate waarin kinders hulle kan gedra, en nie hulle humeur verloor nie. Mense wat hulle humeur maklik verloor, is dikwels ‘n getuienis van die wyse waarop hulle grootgemaak is in hulle ouerhuise.

Daar’s hy! Nou het julle al die bestanddele vir die resep! Maar ongelukkig kon ons nie die koek bak vanoggend nie. Dit is ‘n koek wat julle by die huis moet gaan bak. Dit is ‘n koek wat julle deur julle leefstyl, veral teenoor julle ouers en grootouers gaan bak. En die wyse waarop julle hierdie koek gaan bak, gaan uiteindelik bepaal of julle ‘n werklik gelukkige familie saam kan hê. Of julle julle eie en God se droom vir julle familie sal kan laat waar word.

Ek wil afsluit met ‘n kosbaarheid wat ek onlangs op ‘n e-pos gelees het. Daar het gestaan: A woman is not loved because she is beautiful, but she his beautiful because she is being loved. Hierdie wysheid kan op ons ouers en grootouers ook toegepas word. Ons kan ook sê: Ons ouers is nie pragtig omdat hulle nie foute maak nie, maar hulle is pragtig omdat hulle deur hulle kinders bemin word. Wanneer ons hulle die nodige respek en aavaarding gee, wanneer ons werklik in ons lewens die Here dien, sal hulle ook waarlik gelukkig wees, en sal ons saam die Here voluit kan dien.

Kom ons stap elkeen die pad om ware respek aan ons ouers te gee, en hulle ook deur ons optrede, pragtige en trotse ouers te maak.

AMEN!

No comments: