Sunday, February 8, 2009

Wees 'n pronkstuk vir God!

Skrifgedeelte: Jeremia 13:1-11
Tema: Wees ‘n pronkstuk vir God!

Voorsang:
Ld 481:1-3 Ontwaak jy wat slaap
Ld 273:1-3 Laat my met U verenig lewe
Ld 585:1-3 O Jesus laat my nooit vergeet.

Lofsang: Lied 488:1-5 Helder skyn U lig vir die nasies.
Na Wet: Lied 505:1-4 Jesus U gaan voor.
Slotsang: Lied 284:1-3 Laat Heer U liefde deur my vloei…

Boodskap gelewer te Bospoort gemeente op Sondag 8 Februarie 2009.

Weet julle wat het ek hier in my hand? Wie van julle kinders kan raai? Ja, dit is ‘n pen. En waarvoor dink julle gebruik ek dit? Nee, ek gebruik dit nie om te skryf nie. Hierdie pen het so ‘n lekker dun agterkant wat ideal is om jou oor mee te krap. Ja, ek weet julle dink ek is simpel as ek ‘n mooi pen gebruik om my oor mee te krap, maar dit is eintlik presies wat ons as mense doen. Ons is spesiaal gemaak om God te verheerlik, maar ons gebruik ons lewens om baie ander nuttelose en selfs gevaarlike dinge te doen. Die dokter sê buitendien dat die enigste ding waarmee jy in jou oor mag krap, is jou elmboog.

Die Here gebruik die profeet Jeremia in ‘n tyd waar die Here baie gefrustreerd was met die volk Israel. Hy het vir hulle alles gedoen... Hy het hulle uit Egipte uitgelei, en die land Kanaän aan hulle gegee. Hy het hulle gehelp om al die reuse in die land Kanaän te oorwin... Hy het hulle liefgehad en wou vir hulle net die beste gee. Hy wou met Israel spog en aan al die ander volke sy pragtige bruid, sy lieflingsvolk wys...

Hier in Jeremia gebruik die Here die beeld van ‘n pragtige gordel, ‘n belt wat gebruik is om die rokke wat die mense daardie tyd gedra het, vas te maak. Die Here gee aan Jeremia die opdrag om ‘n pragtige linnegordel te gaan koop, en dit om sy lyf vas te maak. Daarmee het die Here ook gewys dat Hy Israel as sy volk gekies het, en Israel aan hom vasgemaak het. Hy het Israel aan Hom verbind om ‘n om ‘n sieraad, ‘n pronkstuk, ‘n trots vir die Here wees.

Ek het vanoggend ook my “Groot Vyf” belt of gordel saamgebring. Dit is nou nie ‘n materiaalgordel nie, maar dit is ‘n belt wat ek aan die begin van my bediening daar in Botswana gekry het. Hierdie belt is nie net baie mooi nie (die leeu, die luiperd die olifant, die renoster, en die buffel is op hom uitgekerf) maar hy dra verskriklik lekker, en hy hou al baie lank. Dit is vir my lekker as mense my belt raaksien en vir my vra waar ek dit gekry het.

Maar wat het Israel, wat ook so ‘n mooi gordel moes wees, gemaak? Israel se optrede laat my dink aan ‘n vriend op universiteit. Hy het ‘n pragtige meisie gekry, en almal het gepraat van sy “aster”. Maar kort voor lank het hy agtergekom hierdie mooi meisie het ‘n baie lelike en hoogmoedige persoonlikheid, dat sy eintlik maar ‘n los meisie was, en toe word sy sy “disaster”. Net so was dit met Israel. Die volk wat God aan hom vasgemaak het, en bestem het om sy pronkstuk sy trots onder die nasies te wees, het ‘n groot mislukking geword. Hulle het van die Here af weggedwaal, en hoogmoedig geword. Hulle het geleef asof hulle nie die Here nodig gehad het nie, en het begin om ander gode te dien...
Ja liewe vriende, in die boek Hosea vergelyk God selfs die volk Israel met ‘n prostituut, wat keer op keer van haar man af weggeloop het na ander mans toe. In Jeremia 13:9-10 kom sê die Here dat Israel hoogmoedig geword het, en agter ander gode begin aanloop het. Omdat hulle hierdie dinge gedoen het, het hulle uiteindelik nutteloos vir die Here geword.

En daarom sê die Here vir Jeremia in vers 1 dat hy nie sy gordel moet laat nat word nie. Die Here wou vir die volk wys hoe lelik en verslete, hoe vol stof en sweet raak ‘n gordel wat nie gereeld gewas word nie. En toe beveel die Here nog boonop vir Jeremia om die mooi gordel in ‘n skeur te gaan wegsteek vir hele ruk. Na ‘n ruk het die Here vir Jeremia beveel om die gordel weer te gaan uithaal, en julle kan seker glo dat die gordel heeltemal nutteloos en onbruikbaar geword het.

So wou die Here wys wat het met Israel gebeur. Israel was die Here se volk, hulle was aan hom vasgebind. Die Here het hulle aan hom vasgemaak... Maar hulle het nie omgegee om hulleself skoon te hou nie. Soos ‘n kind wat nie gereeld bad nie, was hulle maar tevrede om so vuil te lewe, sonder om vir die Here werklik om verskoning te vra vir hulle sonde. Dit het so ver gegaan, dat hulle hulleself losgemaak het van die Here, en nie meer aan Hom verbind was nie – dat hulle ander gode gaan dien het.

As ons so luister na wat Israel gedoen het, kan ons maklik dink – maar Israel was darem dom! Hoe kon hulle die Here verruil vir ander volke. Hoe kon hulle vergeet dat die Here hulle gemaak het, gekoop het – hoe kon hulle so ver gaan om hulleself los te maak van die Here, en ander gode te gaan dien... Hoe het dit gebeur dat hulle wat die Here so goed kon gebruik, nutteloos geword het, sodat die Here hulle gladnie meer kon gebruik nie?

Liewe vriende, ek weet nie hoekom nie, maar ek weet dat dit wat met Israel gebeur het, nog elke dag met lidmate in die kerk gebeur. Ons sien baie jongmanne en meisies, sierade en pronkstukke vir die Here wat belydenis van geloof aflê, wat hulleself aan die Here verbind, wat uiteindelik heeltemal kerklos en afvallig raak. Ons sien baie volwassenes wat selfs kerkraadslede was, wat baie betrokke by die Here se werk was, wat stadig maar seker terugval, en niks met die Here of Sy kerk te doen wil hê nie. Ons sien elke dag hoe mense hoogmoedig raak, en dink dat hulle die Here nie nodig het nie, vir wie ontspanning, sport, studies, en selfs hulle besigheid belangriker as die Here word...

Ek kan maar net dink hoe die Here se hart voel wanneer mense lyf wegsteek, wanneer hulle wat bedoel was om sierade en pronkstukke in die Here se koninkryk te wees, uiteindelik verslete en nutteloos in die Here se koninkryk word.

Liewe vriend en vriendin, liewe kinders, die Here wil jou ‘n juweel, ‘n diamant in Sy kroon maak. In Sagaria 9:16 sê Hy vir ons: Die gelowiges “sal in sy land vonkel soos die edelstene in ‘n kroon”. Hy wil jou in Sy koninkryk gebruik. Hy wil jou skoon en rein hou vir Hom. Daarom het Hy sy Seun Jesus gestuur om ons van ons sondes te was. Juis daarom het Hy ook geleenthede soos volgende Sondag se Nagmaal geskep dat ons onsself opnuut ondersoek.

Kom ons vra om ons te was, daar waar ons afgedwaal het, en toegelaat het dat ons vuil en nutteloos word. Dat ons Hom ook vanoggend vra om ons te was, en ons werklik ‘n pronkstuk, ‘n sieraad en ‘n juweel in Sy koninkryk te maak. Om as’t ware die kersie op die koek van God se skepping te wees.

Ek sluit af... ‘n Aster word darem nie altyd ‘n disaster nie. Al het ek ‘n hele paar meisies in my lewe gehad, het die Here ook vir my en Elzette aan mekaar gebind, en kan ek vandag getuig dat ons aanvanklike verliefdheid op mekaar nie net ‘n verbygaande “fling” was nie, maar dat die band tussen ons deur die jare net beter en inniger geword het. Ja, dit is vir ons lekker om mekaar as lewensmaats te hê, met mekaar te kan spog, en mekaar te kan aanvul met ons gawes.

Net so, glo ek dat die Here ons ook nie net vir ‘n kortstondige ontstuimige liefdesverhouding in ons lewe wil hê nie. Hy soek van ons ‘n lewenslange verbindtenis, waar ons werklik aan Hom vasgebind is en vir Hom lewe. Waar staan jy vanoggend in jou lewe. Is jy werklik ‘n sieraad, ‘n pronkstuk vir Hom? Is jy dalk aan die Here verbind, maar is jy vuil, omdat daar sondes in jou lewe is wat jy nie bely het, en aan die voete van die kruis gelê het nie? Of is jy dalk in die skeur, los van die Here, besig om verder van Hom af weg te dryf? Is jy dalk al totaal nutteloos hier in Bospoort gemeente, of daar waar jy Hom aanbid?

Kom ons verbind ons vanoggend opnuut aan die Here. Kom ons vra Hom om ons aan Hom te verbind, en elke dag bruikbaar vir Hom te lewe.

AMEN.

No comments: