Sunday, February 22, 2009

Riglyne vir leierskapsbediening in die platteland

Riglyne vir Geestelike leiers om in ‘n plattelandse opset te funksioneer.
Johannes Wessels.

Praatjie gelewer tydens die jaarlikse toerustingsgeleentheid van die Ring van Delareyville op 21 Februarie 2009.

Daar word vertel van die dominee wat gaan huisbesoek doen het, en aspres sy Bybel by die huis gelos het, om te kyk of die betrokke lidmate darem ‘n Bybel besit. Toe dit nou op daardie punt van die besoek kom, vra die dominee aan die man van die huis of hy nie vir hom ‘n Bybel het om uit te lees nie. Die man gaan haal toe ‘n Bybel wat opmerklik vol stof is. Die dominee het niks gesê nie, maar kon homself nie keer om die stof met ‘n groot gebaar van die Bybel af te stof nie. “Ja dominee”, sê die lidmaat toe, “hierdie Bybel is maar vol stof, want ons bêre dit spesiaal vir die dominee se besoeke!”

Ons kan dalk glimlag vir hierdie staaltjie, maar in hierdie staaltjie sit daar duidelik ‘n paar verwagtings opgesluit wat uiters van toepassing is op vanoggend se praatjie. Wanneer ons oor die funksionering van leiers in ‘n plattelandse gemeente dink, dan dink ons dadelik aan huisbesoek. Dit is dan ook die riglyne vir die inhoud van my praatjie vanoggend, dat ek die volgende sake moet aanspreek:
1. Hoe moet ons huisbesoek doen?
2. Moet die lidmate nog voor die nagmaal besoek word?
3. Hoe moet die gemeentedankoffers ingevorder word?
4. Hoe, en deur wie moet daar siekebesoeke gedoen word?
5. Wat is die rol van die kerkraad (en die kategete) in gemeenteregering?

Uit die bogenoemde staaltjie is die volgende duidelik:
1. Dat daar van ‘n predikant/ouderling/diaken verwag word om huisbesoek te doen, en dat hy/sy altyd pakslae kry omdat hulle nie genoeg huisbesoek doen nie.
2. Dat die huisbesoek in die eerste plek daar is vir die uitoefening van die gesag en die kontrole oor die lidmate se lewe, d.w.s dat die lidmate aangespreek moet word oor aspekte in hulle lewe wat nie reg is nie, soos persoonlike godsdiens, huisgodsdiens, kerkbesoek, en hulle kinders wat nie gereeld Sondagskool toe kom nie.
3. Dat die gesprek tydens huisbesoek altyd met koeitjies en kalfies begin, en dan op ‘n kritiese moment geestelik word wanneer die dominee vir die Bybel vra, lees en bid, en dan totsiens sê.
4. Dat daar Bybels in ons huise rondlê wat net vir die dominee se besoek gebruik word, terwyl dit eintlik baie beter gebruik kon word in iemand anders se huis, of elders in die koninkryk.

Maar ek wil graag vanoggend verder gaan as bloot ‘n uiteensetting van hoe huisbesoek moet lyk. In die eerste plek wil ek graag gaan kyk na die vraag: “Watter verskil maak dit dat al hierdie goed op die platteland plaasvind?” Wanneer ons die woorde “op die platteland” hoor, kan ons dadelik agteroor sit en sê: “Wat ons dikwels daarmee bedoel, is hoe die mense wat nog in sekere ou tradisies vasgevang is, bedien wil word.”
Maar ek glo dat ons verseker ‘n bietjie meer omslagtig met die begrip “in die platteland” moet omgaan, as net die gedagte dat ons hier met outydse mense wat nog outydse verwagtings koester te doen het. Ek het ‘n boek, (weliswaar ‘n kopie) van Pappas saamgebring met die titel, “Entering the world of the small church: a guide for leaders”, wat myns insiens vir ons ‘n bietjie meer van ‘n kykie in die groter atmosfeer en aard van ‘n plattelandse gemeente inlei.

Wanneer Pappas praat oor die “wêreld van die klein gemeente”, spreek hy vier basiese sake aan, wat ek glo, baie ooreenstem met die plattelandse gemeenskap waarin ons vandag funksioneer. Pappas kom noem veral 4 kenmerke wat vandag ons aandag gaan vra, naamlik die konsepte van tyd, spasie, beweegredes, en inpasbaarheid.

In die eerste plek praat hy oor die konsep van tyd binne ‘n klein gemeenskap. Amper in lyn met die Afrika begrip, word tyd en gebeure gesiens soos Prediker 3:15 ons leer: “Wat is, was alreeds, wat kom, was ook alreeds. God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het.”

Tyd in die plattelandse opset word dikwels in terme van sirkels gesien, en nie noodwendig ‘n lyn van vooruitgang nie. Mense kyk na tyd en gebeure in terme van patrone in die verlede, en sien in die moderne tyd dieselfde tendense raak. ‘n Predikant, byvoorbeeld, word dikwels gesien as ‘n hanswors wat ‘n klomp toertjies kom uithaal, en dan later maar gewoon inskakel by die gemeenskap as sy toertjies opgeraak het, of die pad vat omdat hy nie verstaan hoe om die gemeenskap te benader nie. Die groot voordeel van hierdie “verstaan van tyd” van ‘n plattelandse sisteem, is dat wanneer ‘n mens dit wel regkry om sinvolle en positiewe veranderings te maak, dit deel word van ‘n sisteem, wat vir jare daarna in stand gehou word.

Wanneer ons praat oor die plattelandse konsep van spasie, gaan dit oor baie meer as net die letterlike afmetings van ‘n gebou. Omdat mense as ‘n reel dikwels langer en oor meer geslagte in ‘n plattelandse gemeente bly, het elke item in die kerk ‘n geskiedenis. In Bospoort is die kerkgronde deur iemand geskenk. Bykans elke item teen die mure, hetsy dit die gemeentewapen met die visie en missie is, of die flitsbord agter die kansel is, het ‘n geskiedenis. Nie net die lidmate wat al vir baie jare met hulle ouers en hulle kinders op dieselfde plek sit heg ‘n waarde aan hulle “spasie” nie, maar selfs die predikant of die koster se hond het ‘n bepaalde “plek” in die kerk.

Die derde saak wat Pappas uitwys, is die beweegredes waarom mense sekere dinge doen. Wanneer ons oor vooruitgang dink, dink ons dikwels oor masjiene en gereedskap wat die wêreld om ons makliker maak. Vir mense in die klein kerk, of die platteland, is dit dikwels belangriker om dit wat werk, te preserveer en te behou. Dit wat in hulle betrokke opset nog “die ding doen”, is wat ten alle koste behou moet word. En dit beteken nie noodwendig dat alles in die plattelandse gemeenskappe ‘n stilstaande proses is nie. Nee, dit is ‘n proses wat amper soos ‘n mielieboer se seisoen werk, met verskeie gebeure en selfs hoogtepunte deur die jaar. In die meeste aktiwiteite waarmee ‘n plattelandse gemeente homself mee besig hou, is die instandhouding van hierdie sisteem, bygesê (wat werk) vir hulle baie belangrik.

Die laaste saak waarna Pappas verwys, is die inpasbaarheid van lede binne so ‘n gemeenskap. In ‘n groot sin gaan dit in plattelandse gemeentes nie om die aanpasbaarheid van ‘n nuweling nie – (aanpasbaarheid veronderstel nog ‘n sekere vlak van buigsaamheid), maar die inpasbaarheid. As ‘n nuweling nie in die behoudende sisteem kan inpas nie, sal hy baie gou gefrustreerd word, en ervaar dat hy deur die gemeenskap “uitgespoeg” word, alhoewel dit hyself is wat nie by magte is om die mense te verstaan en te besef dat hy eers die toets van die tyd deurstaan het nie. ‘n Oom in my vorige gemeente, wat kanker gekry het, het byvoorbeeld sy vrou en die winkelbestuurder beveel om asseblief niks aan die besigheid te verander vir die eerste jaar nie. Hy wou hê dat hulle eers presies verstaan hoekom dinge werk soos dit werk, voordat hulle veranderinge aanbring.

Hoekom bestee ek soveel tyd aan die plattelanse aard van my tema, voordat ek by die praktyk van die leiers in die gemeente se bediening uitkom? Ek glo dat leierskap by uitstek oor die vermoë gaan om jou omgewing te kan lees en interpreteer. In sy boek “Nuwe drome vir nuwe werklikhede” skryf Nelus Niemandt dat een van die belangrike skuiwe wat in vandag se kerk moet plaasvind, die beweging weg van die gebou en die kerkgronde moet wees, na die lidmate as die kerk en die liggaam van Christus.

Aan die een kant voel hierdie beweging vir ons baie ver en onmoontlik in ‘n plattelandse opset, omdat ons te doen het met mense wat geweldig baie waarde heg aan die kerk as ‘n gebou, en die heiligheid van die kerkgebou en die grond waarop dit gebou is. Maar aan die ander kant is dit so dat onderlinge verhoudinge op die platteland dikwels baie nouer en intenser is as die verhoudinge in die stad. Dat daar werklik ruimte hier is om mekaar as lewende stene tot God se eer en die uitbreiding van sy koninkryk op te bou.

Daar word vertel van die lidmaat wat die dominee weereens pakslae gegee het, en gesê het: “Maar dominee, ek het jou darem baie lanklaas gesien.” Waarop die dominee geantwoord het: “Dit is snaaks, ek is dan elke Sondag in die kerk.” Ek is seker dat elkeen van julle julle met een van hierdie twee persone kan vereenselwig. Of die lidmaat wat verwag dat die kerk na hom toe moet kom, of die dominee, kerkraadslid of die kategeet, wat verwag dat die kerk na hom toe moet kom, en dat alles om hom of haar moet draai.

Maar ons moet uiteindelik vir onsself afvra: “Wat is die kerk?” Is dit ‘n passasierskip, of ‘n oorlogskip? Is dit ons uiteindelike doel om net passasiers tevrede te stel en vet te voer, of om die kerk ook toe te rus en op te lei om die koninkryk binne te gaan met die Goeie nuus van Christus. Ons lees dikwels 1 Timotheus 2:2, wat sê dat ons die boodskap van Christus Jesus aan betroubare manne moet toevertrou, wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer. Maar ons lees nie verder nie...

2 Tim 2:3 Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus.
4 ‘n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.
5 ‘n Atleet wat aan ‘n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding.

Net soos ‘n soldaat wat nie altyd die slagveld of die omstandighede vir die geveg kan kies nie, kan ons nie altyd die tyd en omstandigheid van ons bediening in die platteland kies nie. Ons moet besef dat ons almal moet werk aan ons “inpasbaarheid” met ‘n besef dat sekere dinge oor tyd moet verander, vir die sisteem om te bly werk.

Maar wat beteken al hierdie dinge in die praktyk. Hoe gaan dit ons huisbesoek prakties beinvloed? Hoe gaan dit benadering tot geestelike leierskap hanteer? Uit bogenoemde blyk dit dat huisbesoek en die kontak met lidmate onontbeerlik bly in ons gemeentes. Ons moet egter ook besef dat ons baie dinge het waarmee ons huisbesoek in die lewe van dag tot dag kan aanvul. Net deur ekstra aandag te gee aan verjaardae, en ander lief en leed soos siekte, dood in die familie, prestasies, ensovoorts, kan ons werklik ‘n voet in die deur kry by soveel lidmate wat andersins ontoeganklik is.

Ons moet ook besef dat ons deesdae die tegnologie tot ons beskikking het, en dat die gebruik van selfone, sms’e en selfs e-pos nie onderskat moet word nie. Ons moet dalk meer wegbeweeg vanaf formele besoeke, soos die besoek voor nagmaal, waar die gesagsdeel van huisbesoek sterk na vore kom, tot ‘n groot klem op in-die-verbygaan-besoeke waar ons na persone se welstand verneem.

Ek sluit af met die staaltjie van die predikant wat by die pasgetroude paartjie, wat ook nuwe intrekkers was, gaan huisbesoek doen het. Die deur het half oopgestaan, en die predikant het beleefdheidsonthalwe geklop. Dit jong vroutjie (menende dat dit haar man is wat net gou uit is), vra toe sonder om te kyk: “Is dit jy engel?”. Nee, antwoord die predikant, “maar ek is van dieselfde departement!”. Mag ons huisbesoek en die gesindheid waarin dit gedoen word, meer en meer die karakter kry van “engele” wat aan die lidmate besoek bring.

No comments: