Preek gelewer te Bospoort op Sondag 1 Februarie 2009.
VOORSANG:
Lied 538:1-3 Heer Jesus, U was self ‘n kind…
Lied 539:1-3: Tien meisies met hul lampe
Lied 549: Daar’s vissies in die water
Lied 550: Twee ogies om God’s werk te sien
LOFSANG:
Lied 212:1-3 Loof die Heer, Hy is goed.
NA WET, GENADEVERKONDINGING:
Lied 329*2 Want so lief het God die wêreld gehad.
SLOTSANG:
Lied 543:1-3 Ek’s so bly ek ken vir Jesus.
Skrifgedeelte: Jakobus 1:22-25
Ek wonder of een van julle weet wat beurtkrag is? Ja die Engelse se groot Woord daarvoor is Load shedding... Ek weet nie hoekom hulle dit doen nie, maar dit beteken dan die mense wat die krag vir ons voorsien, kort-kort die krag afskakel, sodat ons krag kan bespaar. Dis nie altyd lekker as die krag sommer so in die nag afgaan nie, nê? Sê gou vir my, wie van julle het al in die ligte kamers gesit, en dan gaan die krag sommer af, en dan word dit ewe skielik donker. Ja, Ek sien daar is ‘n hele paar van julle wat weet hoe dit voel. ‘n Mens word sommer bang as jy ewe skielik so in die donker sit, nê maats?
Ek wil julle sommer ‘n ware verhaal gebeur wat so ‘n jaar terug daar in Lobatse, in my vorige gemeente gebeur het. Dit was mense wat op ‘n plaas gebly het, en ‘n kragopwekker vir elektrisiteit moes gebruik. In die nag het die een dogtertjie gekla dat haar oog seer is, en hulle soek toe oogdruppels. Die kragopwekker was klaar af, en hulle moes maar met ‘n kers vir die oogdruppels in die kas soek. Toe hulle die oogdruppels in die dogtertjie se oog gooi, begin sy verskriklik skree. Want dit was nie oogdruppels wat haar ouers in haar oog gegooi het nie, maar Superglue! Die botteltjies het presies dieselfde gelyk in die donker. Sy moes uiteindelik hospitaal toe gaan sodat die dokters haar oog weer kon oopmaak.
Sien julle wat kan gebeur as ‘n mens nie ‘n goeie lig het nie? Maar weet julle, maats, in die Bybel se tyd was daar geen elektriese ligte soos ons vandag het nie. Hulle het nie eers kerse gehad, soos ons vandag het nie. Nee, hulle het sulke klein olielampe gehad. Hierdie lampe was vir hulle baie kosbaar, want as hulle nie hulle lampe by hulle gehad het nie, kon hulle nie in die nag sien nie. Onthou julle nog die liedjie van die tien meisies wat ons voor die tyd gesing het? Ja, dit het gegaan oor die tien meisies wat met hul lampe gewag het vir die bruidegom, en toe het vyf van hulle nie hulle lampe by hulle gehad het nie.
So moet ons ook ons lampe vol olie hou... Maar hoe hou ons ons lampe vol olie. Wat is vir ons die lig in ons lewens? Dit is reg! Dit is die Bybel! God het met mense gewerk om vir ons al die woorde van die Bybel neer te skryf, sodat ons weet hoe om te leef. Ek wil hê dat julle my gou sal help om te weet wat reg is en wat verkeerd is. As dit reg is, steek julle julle regterhande op, en as dit verkeerd is, steek julle julle linkerhande op. Kom luister nou mooi:
As twee van jou vriende baklei probeer jy om vrede te maak,
Om te vloek of lelik te praat,
Om te skinder,
Om mededeelsaam te wees,
Om vriendelik te wees met mense wat jy nie ken nie,
Om behulpsaam te wees,
Om te jok,
Om te steel
Ja, ek sien julle is sommer baie slim... maar waar het julle dit geleer? Ja, Ons leer in die Bybel wat reg en verkeerd is. Maar die Bybel leer nie net vir ons wat reg en verkeerd is nie. Nee, die Bybel leer ons ‘n klomp dinge wat ons nooit geweet het nie... As ‘n mens in ‘n donker kamer instap, dan gebruik ‘n mens ‘n flits om mooi te sien waar jy loop... Jy sal nie weet wat daar alles in die kamer is nie, totdat jy dit met die flits raakgesien het nie. Net so is dit met die Bybel. As ons nie die Bybel gehad het nie, sou ons baie ding nie geweet het nie soos dat:
God die wêreld gemaak het nie
God wonderwerke kan doen nie
God ons gemaak het
God vir ons lief is
God Sy enigste Seun Jesus Christus gestuur het om aan die kruis te sterf, sodat ons die ewige lewe kan hê
Julle sien nou dat ‘n mens ‘n klomp goed uit die Bybel kan leer wat ‘n mens nie sou geweet het, as ‘n mens nie ‘n Bybel gehad het nie. Kom ek vra vir julle nog ‘n vraag. Maar julle moet dit nou nie hard uitskree of met jou maatjie daaroor praat nie, jy moet net so in jou kop daaroor dink.
Jy moet bietjie dink wie in jou skool ken sy Bybel die beste. Dink ‘n bietjie hoe lyk sy lewe. Dan moet jy ook dink wie in jou skool sy Bybel die slegste ken. En dink ‘n bietjie: Hoe lyk sy lewe?
Weet julle, liewe maatjies. Daar is baie mense wat kies om deur die lewe te gaan sonder die flits en die lig van die Bybel in hulle lewens. Maar uiteindelik is hulle lewens sommer donker, en hulle doen net lelike dinge. Ons moet elke dag meer van die Here probeer leer, en Hom dien in alles wat ons doen.
Wie van julle het al gaan kamp? Wat is ‘n baie belangrike ding om saam te vat as jy gaan kamp, en daar is nie lig in die nag nie? Ja, ons moet ‘n flits saamvat? Net so gaan ons nie altyd ons ma’s en pa’s by ons hê om vir ons te vertel wat reg en verkeerd is nie. Nee, ons moet ons flits, die Bybel by ons hê as ons in hierdie donker wêreld ingaan. Ons moet gereeld die Bybel lees, van die Bybel leer, ons moet die Bybel onthou, en ons moet die Bybel goed ken.
Ons moet weet dat ons die lig van die Bybel altyd by ons moet hou. In Psalm 119:105 lees ons:U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
Kom ons maak hierdie jaar wat kom, baie moeite om die Here se Woord te lees, en daaruit te leer. Kom ons bid saam...
Bronnelys:
Internet: http://www.ngkerkdrc.co.za/jeug/lig.html
Saturday, January 31, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment