Saturday, January 31, 2009

‘n Lewe onder die sambreël van God se seën.

Week van gebed – 26 Januarie

Skriflesing: Num. 6:22-27.

Wat is jou hartsbegeerte in die lewe? Hoe voel jy oor dit wat jy het en dit wat jy besit? Ek sal nooit die woorde vergeet hoe skaam vyfjarige Amerikaanse seuntjie in my eerste gemeente my gemaak het nie. Ek het aan hom gesê: “You have got a nice hat – you are lucky.” Hy het my geantwoord: “Mom says you must never say “you are lucky”. You must say “you are blessed”. Van daardie dag af het die woord geseënd vir my ‘n totaal nuwe betekenis gekry. Ek het meteens besef dat ons God se seën in ons lewens totaal miskyk, en nie ‘n benul het van wat dit werklik beteken om geseënd te lewe nie.

Die seëngroet in Numeri 6 word bykans elke Sondag oor die gemeente uitgespreek, maar besef ons wat dit beteken? Het jy al werklik stilgesit en dink wat dit beteken om geseënd te wees? Het jy jouself al afgevra of jy ‘n geseënde van die Here is? Of het dit dalk in jou lewe al vir jou gevoel of jy ‘n vervloekte is, of alles net vir jou verkeerd loop.

In die afgelope 4 jaar het die boekie van Bruce Wilkinson, The prayer of Jabez, baie opgang gemaak. Die boek gaan oor die gebed van Jabez in 1 Kronieke 4:10: “ Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u besker en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.

Bruce Wilkinson het baie daarvan gemaak dat die Here se seën net groei en groei in ‘n mens se lewe as jy hierdie gebed gereëld bid. Hy het verder ook baie daarvan gemaak dat God se seën in jou lewe gemeet kan word in terme van jou grondgebied, of die gebied waarin jy invloed het in hierdie wêreld. Maar ek sit en wonder tog of ons so baie van Jabes se gebed moet maak. Want na alles hou hierdie kort gebed van Jabes ook op met die kort sinnetjie... God het gebeur wat hy gevra het.

Ja liewe vriende, as ‘n mens uiteindelik sien dat die gebed van Jabes maar ‘n enkele vers in die boek van Kronieke beslaan, dan wonder ‘n mens dikwels of dit werklik die kern van ons Godsdiens is. Dat God se seën hoofsaaklik daaruit bestaan dat ons ‘n groot grondgebied het, en dat geen onheil oor ons pad kom nie. Mense dink as’t ware dat God se seën in materiëIe rykdom gemeet kan word.

Die koning Omri het ook so gedink... In 1 Konings 16:16-25 lees ons van Koning Omri wat ‘n baie ryk koning was, en selfs die stad Samaria gebou het. Hy het baie heldedade verrig, en sy naam is in baie geskiendenisboeke van sy tyd opgeteken. Maar in die Bybel is daar baie min oor hom geskryf. In Hosea 12:7-14 lees ons hoe Efraim as ‘n skelm handelaar uitgebeeld word wat sê dat hy ryk is, en niks verkeerd gedoen het nie. Maar ‘n bietjie later staan dit duidelik dat die Here juis vir Gilead gestraf het, al was hy ryk...

Dikwels in die Bybel, soos in Psalm 73 kom wys die Here eintlik die teendeel... Daar word vertel hoe Asaf in God se goedheid begin twyfel het toe hy die materiële voorspoed van die goddelose sien. En hoe hy besef dat die oordeel die Here toekom... Verder sien ons hoe die goeie mens in Ps. 112 ook voorgehou word as iemand wat nie net geseën is in sy huishouding nie , maar regverdig is, en aan die arme uitleen. As iemand wat in die bresse tree, as’t ware die gevaar afweer van hulle wat benadeel word in die lewe.

Maar dit is juis in die Nuwe Testament waar die Gesalfde en geseënde van die Here dikwels mens verbaas. Johannes die Doper word nie in Mattheus 11:8 geskets as ‘n prins in ‘n paleis nie, maar as ‘n man wat onder moeilike omstandighede in die woestyn oorleef het: “8 ... Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ‘n mens in koninklike paleise. 9 Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ‘n profeet. 10 Dit is hy van wie daar geskrywe staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’ 11 “Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy”

Die wyse manne kon nie die baba Jesus in die paleis van Herodes vind nie, maar wel in Betlehem se stal. Jesus word nie as koning in ‘n paleis groot nie, maar as die seun van ‘n timmerman in Nasaret. Jesus kom sê selfs aan sy dissipels dat jakkalse gate het en voëls neste het, maar dat die seun van die mens nie eers ‘n rusplek het om sy kop op neer te lê nie (Matt. 8:20)..

Die apostel Paulus het ook nie smart in sy lewe vrygespring nie. As ‘n mens net na 2 Kor 6:5 luister, dan besef ‘n mens dat die lewe van die apostel nie maklik was nie. “Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely.” En bo alles kom verseker Paulus ons in 2 Korinthiers 12 dat onberings en swaarkry positiewe gevolge in ‘n mens se lewe kan hê. “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan.8 Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10 Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Ja liewe vriende, saam met die digter in Ps. 73 moet ons kan sê: ” 25 Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. 26 Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.” Die Here se seën oor ons lewens sluit verseker nie materiële sake uit nie, maar as ons net daarvoor vra, is ons uiteindelik die armste en bejammerenswaardigste van alle mense.

Kom ons vra dus werklik vir God se seën nie soseer in aardse dinge nie, maar kom ons vra aan Hom dat Hy ons in besonder in ‘n geestelike sin sal seën. Kom gaan kyk weer na die gebed van Paulus vir die Efesiërs in Ef. 3:14-22, en gaan vra onsself af wat werklik vir God belangrik is. “14 Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15 aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

Ek sluit af met ‘n verhaal uit my oom, Roelf van Vuuren se lewe. Oom Roelf het heelwat gemeentes op die platteland bedien, en gereken dat hy nooit in ‘n stadsgemeente sou aard nie. Sy laaste beroep was egter na Germiston, midde-in Johannesburg. Oom Roelf het hierdie roeping van God ervaar, en na die stad getrek. Op ‘n dag kry hy ‘n oproep van ‘n baie ryk en hooggeplaaste persoon wat gevra het dat oom Roelf hom moet kom sien. Terwyl oom Roelf so na die wolkekrabber waarin die man se kantoor was, stap, sien hy ‘n klein gediggie op ‘n stukkie brandglas in ‘n Bybelwinkeltjie wat hom dadelik tref. Hy het ingestap en die ornamentjie gekoop.

Toe hy uiteindelik op die heel boonste verdieping van die gebou by hierdie persoon se kantoor instap, het hy hom gegroet, en die gediggie op sy tafel geplaas. Hoe het jy geweet dat dit is wat ek nodig gehad het? Het die man uitgeroep. Op die ornamentjie het die volgende gestaan:
“I said to the man who stood at the gate of the year
'Give me a light that I may tread safely into the unknown.'
And he replied,
'Go into the darkness and put your hand into the hand of God
That shall be to you better than light and safer than a known way!'

AMEN!

No comments: