Saturday, January 31, 2009

Kom soek die Here op!

Week van gebed 28 Januarie 2009

Skriflesing: Openbaring 1:3, Gen. 28:11-22

Iemand het eenkeer gesê dat die slegste ding aan die hel nie die vuur, of die sweet, of die wurms of die Satan self is nie. Hy het gesê dat die verskriklikste ding aan die hel die feit is dat die Here nie daar is nie. Dat die Here nie daar is om te help nie. Dat die Here se goedheid nie daar is nie. Dat die Here se beskerming nie daar is teen gevaar nie…

Ons leef meer en meer in ‘n wêreld waar mense die Here se teenwoordigheid ontken. Waar mense as’t ware sê dat die Here dood is, en nie meer by ons as mense is nie. Maar ‘n groot rede hoekom mense so sê, is omdat hulle as’t ware hulle koppe onder die sand steek soos volstruise, en nie wil erken wat om hulle aangaan nie.

Alhoewel hierdie mense so grootpraat, is dit dikwels juis hulle wat uiteindelik selfmoord pleeg, kranksinnig word, of later geen sin meer in die lewe sien nie. Is dit juis hulle wat later niks oor het om voor te leef nie...

Maar ek wil julle graag vanaand herhinner daaraan dat die Bybel ons keer op keer herhinner dat ons wel God se teenwoordigheid moet soek, en dat ons dit op ‘n paar plekke in besonder kan vind. Ons het vanaand in Openbaring 1:3 gelees dat die wat die profesie van Openbaring lees, die wat dit hoor, en ook ter harte neem wat daarin geskrywe staan, geseënd sal wees.

Ja, vriende, in die eerste plek moet ons weet dat as die Here in Jakobus 4:8, in Sondag se boodskap gesê het dat ons tot Hom moet nader, sodat Hy tot ons kan nader, dat ons werklik ook moet besef dat ons geroep word om die Here op te soek in sy Woord. Ons ken almal 1 Timotheus 3:16 wat lui dat die hele Skrif deur God geinspireer is, en dat dit onskatbare waarde vir die gelowige het. Maar ons gaan niks waarde uit die Skrif kan put, as ons nie eerstens moeite maak om dit te lees en ook te hoor hoe God met ons praat nie.

In 1 Petrus 2:2 lees ons dat ons soos pasgebore babatjies moet smag na melk, na die suiwer geestelike melk. Ja, vriende, alhoewel ons baie bederf is met al die bybelstudiegidse en die manier waarop iemand soos Francine Rivers die Bybelse boodskap na ons bring deur Bybelverhale op ‘n ander manier oor te vertel, moet ons altyd weet dat die Bybel as’t ware die biesmelk van die evangelie is. Gerhard het my nou die dag vertel dat van sy klein leeutjies dood is omdat hulle ma hulle nie wou laat drink nie. Hulle het toe nie biesmelk ingekry het nie, en nie weerstand opgebou het teen die siektes en kieme nie. Hoe nodig het ons nie ook die suiwer Woord, die biesmelk van die evangelie as ons werklik in die Here se Woord wil groei nie.

‘n Tweede belangrike aspek van die opsoek van God se teenwoordigheid, is dat God homself ook op sekere plekke in besonder tot ‘n mens openbaar. Ons is almal goed bekend met Moses se ervaring van die brandende bos op Sinai, waar die Here hom beveel het om sy skoene uit te trek. So ook het ons vanaand uit Genesis 28 gelees waar Jakob God se teenwoordigheid in besonder ervaar het tydens die krisis in sy lewe, toe hy vir sy lewe van sy broer Esau af gevlug het. Hy het nie net erken – waarlik, die Here is op hierdie plek nie, maar hy het ook ‘n steen daar opgerig en dit genoem Bet-El, huis van God.

Ons glo vandag dat God oral teenwoordig is, en dat jy met hom kan praat agter die stuur van jou motor, of jou werkstafel by die werk, of selfs terwyl jy besig is om aan sport deel te neem. Dit is egter ook waar dat ons dikwels nodig het om werklik net aan die voete van die Here stil te raak, om ons waarlik af te sluit van alle ander dinge om ons, en op ‘n spesifieke plek, hetsy dit in die natuur, in die kerk, of op ‘n ander stil plek is, tyd maak om op ‘n gefokuste manier met God te praat.

Maar die belangrikste plek waar ons God se nabyheid kan en moet ervaar, is tussen ander gelowiges. Soos die lied wat ek vroeër vanaand gesing het, is God in besonder teenwoordig daar waar twee of drie in Sy naam saam is. Ons moet weet dat ons geroep is om ook in die Here se naam saam te kom, en hom saam as gelowiges te prys en te aanbid. Ons moet nooit die saamwees van gelowiges onderskat nie. Ons moet weet dat God ons ook oproep om die samekoms van die gelowiges te eerbiedig (Hebr. 10:25) en dat onsself uiteindelik die lewende stene is wat opgebou word tot ‘n geestelike huis (1 Pet. 2). Daarom moet ons weet dat om met medegelowiges oor die Here te praat, deel van die opdrag is wanneer Jakobus in Jakobus 4:8 skryf: “Nader tot God...”.

Kom ons gaan hierdie jaar in met ‘n voorneme om waarlik tot die Here te nader. Om waarlik die Here in alles op te soek, en Sy naam groot te maak. Kom ons bestudeer opnuut die Bybel, kom ons maak moeite om onsself vir die Here af te sonder, en kom ons soek die gemeenskap van die gelowiges elke dag op!

AMEN.

No comments: