Week van gebed 21 Januarie 2009.
Skriflesing: 1 Samuel 1:10-20
Daar word na bewering vertel van die Noord-Transvaalse agtsteman, Pote Fourie, wat voor ‘n rugbywedstryd deur sy kaptein gevra is om te bid. Pote was op daardie stadium nog besig om sy valstande uit te haal en sy mondskerm in te sit, en het maar ‘n gebed tot God gemompel. Toe een van sy spanlede so half met hom spot en sê: “Pote ek het dan nie gehoor wat jy gebid het nie, was Pote se antwoord: “Ek het nie met jou gepraat nie!”
Ons dink dikwels dat gebed volgens sekere reels, in ‘n spesifieke volgorde en baie formeel moet plaasvind. Dominee Eli het seker ook so gedink, en het daarom vir Hanna beskuldig dat sy dronk is, terwyl sy woordeloos voor die Here geprewel het. Hanna vertel in vers 15 aan Eli dat sy maar net diep teneergedruk is, en haar hart voor die Here uitgestort het. Eli antwoord dat verskonend dat die Here haar gebed sal verhoor, en dat sy maar in vrede kan gaan.
In die samelewing waarin ons vandag lewe, is dit nie meer gebruik dat mense hartstogtelik tot die Here bid nie. Ons bid in elk geval dikwels maar asof ons ‘n klip in die bos gooi… Asof ons maar kyk of die Here nie dalk ons gebede wil verhoor nie… Daar is die staaltjie van die predikant wat teen die kansel opgeklim het, en soos gebruiklik halfpad teen die kansel op gestop het om te bid. ‘n Seuntjie het vir sy ma gevra… “Wat maak die dominee nou?”. “Hy bid dat die Here hom sal help”, het sy geantwoord… “Maar hoekom help die Here hom dan nie?” Vra hy toe. Ja, liewe vriende, selfs predikante doen baie dinge uit gewoonte en bygelowigheid, sonder dat hulle werklik hulle harte tot die Here oopmaak.
Maar dit is nie hoe Hanna bid nie. Sy bid soos iemand wat weet dat daar vir haar van geen ander plek hulp sal kan kom nie… Sy bly lank met die Here praat. Sy wys haar hartseer vir die Here deur onbedaarlik te huil. Wanneer Hanna klaar gebid het, kry sy die troos van Eli af dat die Here haar wel gehoor het, en verseker sal antwoord.
Hierdie hartstogtelike gebede om hulp is niks vreemds in die Bybel nie… Ons kry dit nie net in die Ou Testament, by persone soos Moses, Jona, en Dawid nie, maar ook in die Nuwe Testament verseker Jesus ons in Lukas 18: 7 dat God sy kinders se geroep hoor, en hulle nie lank sal laat wag nie.
Die Here Jesus self, lees ons in Hebreërs 5:7, het “Gedurende sy aardse lewe… aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God.”
As die Here Jesus self se gebede met harde geroep en met trane was, wat keer ons om op dieselfde wyse na God te nader? Is ons gebrek aan opregte en ernstige gebed tot God nie juis die rede hoekom ons kinders so maklik afdwaal nie. Is die feit dat ons nie mekaar aan die Here opdra nie, nie die rede vir die groot getal egskeidings in ons samelewing nie? Is die kerkloosheid van baie van ons eie familielede nie juis omdat ons opgehou het om vir hulle te bid nie?
Toe Jakob (Gen 32:24-30) in sy uiters benoude situasie na sy broer Esau moes terugkeer, sien ons dat hy die hele nag met ‘n Engel van die Here gestoei het. Hy kon uit die aard van die saak nie wen nie, maar het geweier om die Here te los voordat hy nie die Here se seën ontvang het nie. Jakob se volgehoue stryd het daartoe gelid at die Here net Israel soveel meer geseën het as enige volk rondom hulle. Kom ons aanbid weer die Here met ‘n nuwe gesindheid. Kom ons stort ons harte werklik voor Hom uit, en bid tot hom met volle oorgawe. Hy is ons Vader, en Hy is gretig om ons te verhoor!
Kom ons gryp weer opnuut vas aan die belofte in Hebreërs 11:6: “Wie tot die Here nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy die wat hom soek, beloon.”
AMEN.
Saturday, January 31, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment