Saturday, January 24, 2009

Gee elke dag aan God!

Preek gelewer op Sondag 25 Januarie 2009 te Bospoort gemeente.

Voorsang: Lied 599:1-3 As Hy weer kom
Lied 524:1-2 Ek weet verseker

Lofsang: Lied 212:1-3 Loof die Heer, Hy is goed.
Na wet: Lied 253:1,2 U het die brood gebreek.
Slotsang: Lied 532: O Vader neem ons hande.

Skriflesing: Jakobus 4:1-17

Tema: Gee elke dag aan God!

Die Romeine het ‘n spreekwoord gehad wat lui: “CARPE DIEM!”. Dit beteken pluk die dag! Daarmee het hulle eintlik gesê dat ‘n mens dit wat elke dag vir jou bied ten volle moet geniet, en die beste daaruit haal. Dat die dag eintlik ‘n soort van ‘n vrug is wat jy pluk, en wat jy kan geniet.

Vir party mense in die lewe is dit te veel werk om die vrugte te pluk. Hulle verkies maar om op die grond te sit of te wat dat die vrugte afval, en hulle hoop dat daar darem êrens ‘n vrug sal wees wat nie vrot is nie. Hulle dink dat alles maar net in hulle skoot sal val…

Dit laat my dink aan die verhaal van die lam jakkals... Daar word vertel van ‘n verhaal van ‘n wildbewaarder wat ‘n lam jakkals in die veld teegekom het. Hierdie wildbewaarder het eendag ‘n besondere verskynsel gesien... Hy het gesien hoe daar ‘n lam jakkals in die veld lê, wat eintlik al moes dood gewees het as gevolg van sy gebrek. Maar die jakkals was spekvet!

Die wildbewaarder het toe agter ‘n bos gaan wegkruip, en na ‘n ruk het hy gesien hoe ‘n luiperd vir die jakkals kos bring. Dit is wonderlik! Het die wildbewaarder gedink. As God so goed vir die jakkals sorg, hoe goed sal Hy nie vir my sorg nie. Hy het toe sy werk bedank, en by sy huis gaan sit en wag dat die Here vir hom kos stuur. Maar niks het gebeur nie! Na ‘n paar weke is die wildbewaarder heeltemal uitgeteer, en hy bid toe tot die Here. “Here, hoekom stuur U nie vir my kos nie?” As U so vir die lam jakkals kan sorg, hoekom kan U nie so vir my ook sorg nie. En toe antwoord die Here hom – “Ek wou nie eintlik gehad het jy moet na die lam jakkals kyk nie, maar na die flukse luiperd!”.

Ja liewe vriende, hier waar ons aan die begin van ons week van gebed staan, is dit nodig dat ons ‘n paar misverstande rondom gebed en die doel daarvan met mekaar uitklaar... In die eerste plek moet ons besef dat gebed méér is as om net passief van God ‘n klomp goed te vra.

Gebed beteken dat ons sal opstaan as’t ware die boord bewerk, en die vrugte gaan pluk. Gebed is in ‘n sin harde werk. Vers 7 kom sê vir ons dat gebed beteken om die duiwel tee te staan. Want wanneer ‘n mens bid, is die duiwel baie ongelukkig. Die duiwel wil ons verseker dat ons nie nodig het om te bid nie. Die duiwel wil ons hooghartig maak. Hy was immers eers die engel Lucifer in die hemel, wat geweier het om God te aanbid.

Toe die Here Jesus hom in die woestyn gaan afsonder het om te vas en te bid, wat dit juis die Satan wat hom gaan pla het. Dit was juis die Duiwel wat aan Jesus vertel het dat Hy brood van klippe kon maak, dat Hy van die tempel se dak sou kon afspring sonder om seer te kry, en dat Hy al die koninkryke van die hemel kan besit as Hy vir hom wat Satan is, sou aanbid. Ja, Jesus se beproewing in die woestyn was juis om die Satan te kon teestaan, en van God afhanklik te kon bly...

‘n Tweede belangrike aspek van die “aktiewe deel van gebed”, is dat gebed beteken om tot God te nader. Daar is al hoe meer mense wat vandag klem lê op die feit dat jy God net so goed, en selfs beter kan dien deur by die huis te bly en jouself daar vir die Here af te sonder. Want, sê hulle, in die kerk is daar net ‘n klomp skynheiliges, en as hulle in die kerk saam met sulke persone is, kry hulle dit nie reg om die Here behoorlik te kan aanbid nie...
Maar as ons mooi na Jakobus 4:8 gaan kyk, dan sien ons dat dit baie belangrik is om God te soek, en tot Hom te nader. As ons nie bereid is om ons daaglikse roetine te breek, en moeite maak om saam te gaan soek na die Here se wil en Sy Woord nie, kan ons van die Groot en Almagtige God verwag om aan ons nietige mense se probleme aandag te gee? Nee, liewe broer en suster, ons moet bereid wees om met ‘n nuwe gesindheid tot die Here te nader.

Ons moet ook moeite maak om ons voor te berei vir hierdie tye saam met God. Dit beteken nie noodwendig ons moet mooi aantrek en grimeer nie, maar soos die Israeliete wat hulle hande en voete gewas het, en hulle skoene uitgetrek het voor hulle die tempel binnegegaan het, moet ons ook ons harte was. Ons moet werklik vir die Here vra dat Hy ons sal opgewonde maak oor sy teenwoordigheid in die erediens.

Maar weet julle, liewe vriende, dit kan ook gebeur dat ons so baie aandag gee daaraan om ons vrugteboom te bewerk, en die vrugte te pluk, dat ons vergeet van wie dit alles kom. Jakobus 4:13 vertel van mense wat maklik sê en voorspel wat hulle môre gaan doen. Mense wat grootpraat en alreeds reken hoeveel geld hulle gaan maak... Mense wat nie met God in hulle lewens rekening hou nie.

‘n Egte gebedslewe beteken om altyd ons program en agenda vir die lewe te kan oophou. Ons moet altyd bewus wees daarvan dat die mens sy pad kan beplan, maar dat die Here op die ou end bepaal hoe hy loop... (Prediker 16:9). Al klink dit dikwels outyds, en al kan dit maar net ‘n aangeleerde gewoonte word, moet ons maar weer leer om te sê: “Ek sien jou DV môre (Dit is die afkorting vir die Latynse term Deo Volente, wat beteken “as God wil”.

Om waarlik te kan bid, beteken dat ons altyd besef dat dit God se vrugteboom is. Ja, elke dag wat ons pluk, is deur ons aan God gegee. Ons moet as’t ware na die die vrugteboom van God se tyd toe stap met die verwagting van dit wat God vir ons in hierdie dag wil bied. Ons moet besef dat ons ook in ons gebed altyd moet erken dat elke dag, elke sekond uit Sy hand kom.

‘n Predikant byvoorbeeld, kan so besig wees met die dinge van die Here, dat Hy nie by die Here van die dinge uitkom nie. Iemand het eenkeer gesê: “As dit baie swaar gaan, dat moet ons bid asof roei nie sal help nie, en roei asof bid nie sal help nie.” Dit is ‘n baie mooi stelling, maar is dit regtig waar. Moet ons ooit roei “asof bid nie sal help nie”. Nee liewe vriende, ons moet met al ons energie roei omdat ons weet dat God sal help.

Vir ‘n lewende gebedslewe, liewe vriende, is dit noodsaaklik dat ons dus werklik nederig word voor God. Dit beteken dat ons ons gees heeltemal aan God sal oorgee (vers 5). Dit beteken verder dat ons sal besef dat ons net God se genade kan ontvang as ons waarlik nederig is voor hom (vers 6). Dat ons ons elke dag aan Hom sal onderwerp (vers 7), en ons sonde in nederigheid voor Hom sal erken (vers 8,9). Dat ons laag voor hom sal buig, en sy Koningskap erken (vs 10), en dat ons nie self sal oordeel nie, maar die oordeel aan Hom as regter oorlaat (vers 12). Dat ons sal ophou grootpraat oor wat ons kamtig bereik het en sal bereik (vers 16), maar dat ons werklik gehoorsaam sal wees aan dit wat God ons voorskryf (vers 17).

Maar wat beteken dit om die vrugteboom aan God te gee. Om werklik te besef dat dit God se boom is? Ek wil dit graag verduidelik aan die hand van die pynappel-storie. Die pynappel storie is ‘n ware verhaal wat daar in die Fillipynse eilande afgespeel het. Daar was ‘n sendeling wat maar finansieël swaargekry het, en besluit het om vir hom ‘n paar pynappelbome te plant vir ‘n ekstra inkomste.

Toe die pynappelbome uiteindelik reg is, en pynappels dra, het hy tot ‘n skokkende ontdekking gekom. Die plaaslike bevolking daar het sy pynappels gesteel voordat hy hulle kon pluk en verkoop. Hy het verskriklik met almal geraas en baklei omdat sy pynappels gesteel is. Maar dit het niks gehelp nie. Die volgende jaar was dit weer so.

En toe besluit die sendeling dat hy al die tyd verkeerd was. Dit was nie sy pynappels nie. Hy bid toe tot die Here en gee bely dat dit die Here se pynappels is, en dat dit nie syne is nie. Van toe af het hy ook nie meer baklei as sy pynappels wegraak nie. Na ‘n ruk het die mense begin vra hoekom hy nie meer baklei as sy pynappels wegraak nie. Dit is eenvoudig, het hy dan geantwoord. Dit is nie my pynappels nie, dit is die Here sin. Die mense steel nie van my nie, hulle steel van die Here. Hulle sal eendag voor Hom moet verduidelik hoekom hulle dit gedoen het. En so het dit gebeur dat die sendeling se pynappels nie meer weggeraak het nie, en dat mense ook na sy kerk toe gekom het omdat hulle iets begin verstaan het van wat dit beteken om alles vir die Here te gee.

Kom ons word werklik stil voor die Here vanoggend. Kom ons onderwerp ons in nederigheid aan Hom, en erken dat ons alles net van Hom af kom. Kom ons nader tot Hom met ‘n verwagting dat Hy werklik ook vanoggend vir ons sal antwoord, en ons in sy Heerlikheid en sy Teenwoordigheid sal laat deel.

AMEN.

No comments: