Om in God se teenwoordigheid te lewe...
Sagaria 8 Preek gelewer op Sondag 24 Oktober 2010.
Daar word vertel dat die wetenskaplikes na ’n vreeslike droogte in die Bosveld ’n sekere stukkie grond vir grassade gaan fynkam het. Hulle het die grond ontleed, die grond gesif, en bevind dat daar op daardie stuk grond nooit weer natuurlik gras sal groei nie. Maar hulle was verkeerd... Want na die eerste reëns het die gras weer begin groei, en dit was nie lank nie, of ’n mens kon nie die grond sien nie. Op sy manier het die Vader wel voorsien...
Maar weet julle, liewe vriende, in ’n sekere sin kyk ons na die wêreld om ons sonder ’n krieseltjie hoop vir die toekoms. Voor die pas afgelope wêreldbeker het ’n radio-omroeper ’n meningspeiling oor Bafana-Bafana se kanse gedoen om die wêreldbeker te wen... Die man se antwoord was. Ek is negatief... vreeslik negatief. Ek is so negatief dat ek sal ontwikkel as julle my in ’n donkerkamer sit.
As ons na ons land kyk in die situasie waarin alles tans is, kan ons baie maklik heeltemal moed verloor. Ons kan na die plaasmoorde en die geweld in ons land kyk, en besluit dat niks beter gaan word nie. Ons kan na die ekonomiese vooruitsigte en die mielieprys kyk, en alle hoop op herstel verloor... Ons almal ervaar hoe ons jongmense besig is om die land te verlaat en op ander plekke werk te soek... Hoe ons nie meer klein kindertjies sien speel soos vroeër nie.
Ons almal ervaar dikwels hoe ’n mens nie meer mense of diere kan huur nie, omdat dit te duur geword het, en die vakbonde te veel vereistes het... Ons ervaar ook dat ons altyd op ons hoede moet wees vir plaasaanvalle, inbrekers en skakers, en dat ’n mens nie meer veilig kan beweeg nie. Ons kan dikwels die haat tussen mense met ’n mes sny, en woorde soos ‘boer’ en ‘witman’, en ‘Malema’ het vloekwoorde geword. Die mense het almal mekaar se vyande geword (vers 10).
Maar, liewe vriende, ons moet weet dat die Here se gedagtes nie soos ons gedagtes is nie, en dat die Here se weë nie soos ons weë is nie (Jesaja 55:8). Al lyk dinge dikwels vir ons onmoontlik, vir die Here is niks onmoontlik nie... En daarom kom beloof die Here ook dat hy die situasie in Israel kan omdraai... Dit is hy wat die oumense weer kan laat veilig voel, en die spelende jongmense vol energie kan terugbring... Dit is hy wat die ekonomie kan omdraai, sodat ons weer mense kan huur, en diere kan bekostig. Dit is hy wat sal sorg dat die wingerstok sy druiwe dra, die land sy oes sal lewer, en die hemel sy vog sal gee (vers 12).
En daarom, liewe vriende, wil die Here ook vanoggend, op 24 Oktober 2010 vir jou in vers 9 kom sê: “Skep moed!”. Net soos die Here die lot van Israel verander het, kan Hy dit ook in ons land doen... Net soos die Here weer vir Israel in hulle gesaaides voorsien het, kan Hy dit vir ons ook doen. Net soos die Here vrede in Israel gebring het, kan Hy dit vir ons ook doen...
MAAR... Ons moet onthou dat die Here ook sy volk se situasie met ’n doel verander. Die Here wil juis ook ons lewens as ’n getuienis van sy Almag gebruik, ’n getuienis dat niks vir Hom onmoontlik is nie... En daarom wil Hy ook hê dat ons lewens moet verander. Daarom vra Hy in vers 17... Praat die waarheid met mekaar... Oordeel regverdig oor ander... Moenie bose planne teen mekaar bedink nie... Ek wil hê dat daar vrede onder julle moet wees... Bly by die waarheid, net die waarheid, en moet niks daarby byvoeg nie...
Daar in Gaborone het ek ’n dominee geken wat sy paspoort eendag in Johannesburg vergeet het... Toe hy by die Botswana grens kom, en ontdek dat hy sy paspoort vergeet het, het hy aan drie opsies gedink... Of hy kon sy vrou laat bestuur en ongemerk deur die grens probeer gaan, of hy kon ’n baie hartseer liegstorie vir die doeane vertel, of hy kon die hele 300km terugry Pretoria toe en sy paspoort gaan haal.
Terwyl hy dink wat om te doen, kom die woorde van Johannes 8:32 by Hom op... “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak... En weet julle, liewe vriende, so het die dominee toe die waarheid vertel, en hulle het hom deur die grens laat gaan sonder ’n paspoort! Hoe dikwels kies ons nie die waarheid as die laaste uitweg nie?
Maar Sagaria 8 kom praat nie net oor die waarheid teenoor die leuen nie. Dit kom praat ook oor die volk se vasdae en byeenkomste... Wanneer die waarheid seëvier, en daar vrede heers, maak dit ook ’n verskil aan die wyse waarop die mense bymekaarkom. In vers 18 en 19 kom beloof die Here dat die treurige vasdae in dae van blydskap sal verander. Ja, die gemeente sal werklik weer die vreugde van die Here ervaar.
Maar hierdie dinge sal net gebeur as die volk die waarheid praat en sorg dat daar vrede onder hulle is... Weet julle, liewe boeties en sussies in Jesus, dat ’n groot deel van ons traagheid wanneer ons op die Sondag hier bymekaar sit, en ons lusteloosheid en ons gebrek aan vreugde ook gaan oor ons verhoudinge met mekaar? Want as jy die heeltyd dink aan so en so ’n persoon wat jou te na gekom het, gaan jy mos nie gelukkig wees in die erediens nie? Dan gaan jy nie die Here kan loof en die vreugde ervaar wat jy moet nie?
As ons werklik ’n getuienis teenoor die wêreld wil wees, as ons wil hê dat die nasies na ons toe sal aanstroom, dan moet ons onderlinge verhoudinge begin verander. Dan moet ons die teenwoordigheid van die Here in ons liefde en ons openheid teenoor mekaar weerspieël. Dan moet ons weer die woorde van Johannes 13:35 ter harte neem, wanneer dit sê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is...”
En dit is presies wat die Here oor Israel voorspel het, en wat in die Nuwe Testament waar geword het. Mense het na Jerusalem gestroom om die wil van die Here te vra... Mense het om die dissipels, om Jesus saamgedrom, omdat hulle ervaar het dat die Here teenwoordig was, dat die Here besig was om daar te werk. In Handelinge 2:44 lees ons dat die volk “eensgesind was en alles met mekaar gedeel het.” En daarom lees ons in Handelinge 2:47 dat die Here elke dag mense by die gemeente gevoeg het...
Weet julle, liewe vriende, ook in Bospoort gemeente hoor ek gereeld van die dae toe die kerkgebou so vol gesit het dat Oom Christoph en Tannie Murial met hulle vier dogters hier heel voor in die kerk moes kom sit. Ons kla baie oor mense wat nie meer kerk toe kom nie, en aanvaar die leë kerk maar net as iets waaraan ons niks kan doen nie...
Maar Sagaria 8 kom leer vir ons dat dinge kan verander. Dat dit in die eerste plek kan verander as ons die Here toelaat om ons omstandighede te verander. Dat dit slegs werklik kan verander as ons leer om die waarheid te praat, op te hou om bose planne te smee, en werklik in vrede onder mekaar kan leef. Alleen dan kan mense na die kerk kyk en die vreugde in die erediens raaksien, en sê: “Die Here is hier teenwoordig!”
Ek sluit af... Daar word ’n verhaal vertel van ’n sekere klooster wat besig was om totaal dood te loop (dit was seker soos die klooster waar ek in Duitsland was, waar hulle vertel dat daar op ’n stadium net 3 monnike in ’n klooster van 400 kamers was). Die hoof of die ab van die klooster het toe na sy rabbi-vriend in die dorp gegaan, om vir hom raad te vra oor hoe om die situasie in die klooster te verander.
Die Rabbi het aan hom geantwoord dat een van hulle die Messias was. Die ab het na die ander monnike toe teruggegaan, en aan hulle die nuus gaan vertel. Ewe skielik het almal anders teenoor mekaar begin optree. Hulle het nie geweet wie van hulle die Messias was nie, en daarom het hulle niemand sommer sleggesê of beskinder nie. Kort voor lank het die omgewing gesien dat daar ’n verandering tussen die monnike was. Hulle het weer by die klooster kom piekniek hou, en baie nuwe monnike het ook by die klooster aangesluit...
Hoe lyk dit in ons lewens. Besef ons dat Christus en die Heilige Gees in ons woon, en dat ons mekaar werklik moet respekteer? Of behandel ons mekaar dikwels as opponente, sonder om toe te laat dat die son op die ander skyn? Kom ons word vir ’n paar minute stil, en ons dink oor ons gesindheid. Kom ons dink oor ons eie aandeel aan die doodsheid in ons kerk, en vra die Here om werklik ’n verskil daaraan te maak.
AMEN!
Sunday, October 24, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment