Tuesday, January 26, 2010

Joël 2:28-32 Bid vir jonk én oud!

Preek gelewer tydens Week van gebed op Maandag 25 Januarie 2010.

Maandagaand 25 - Januarie Bid vir oud en jonk.
Ek kyk op na die berge
Flam 206 My hande hef, ek op na U
I love you, Lord
I Worship you
Lied 528:1-3 Leer my U wil Heer.
Halleluja

Lofsang:
Lied 200 U Goedheid Heer, kan ons nie peil nie.
Slotsang:
Oorwinningslied

Kondig af van Mighty Men vergadering Woensdag na biduur.

Ek glo dat elkeen van julle die Ou Mutual advertensie onthou waarin die volgende persone as die beste kans uitgebeeld word om die Olimpiese Spele te wen. ‘n Swanger vrou, ‘n pap babatjie, en ‘n ou man in ‘n rystoel. Deur hulle kredietkaarte te gebruik, het hulle dit as’t ware moontlik gemaak vir ‘n atleet om die fondse te kan hê om na die Olimpiese Spele te kan gaan.

Ons mense leef dikwels met dit wat die engelse noem “mind-blocks” of blinde kolle in ons lewens. Ons soek so dikwels die oplossings of die antwoorde vir situasies op totaal verkeerde plekke.

Net so was dit ook in die tyd van die Ou Testament. Die volk Israel in die tyd van Joël het ervaar hoe die straf van God oor die volk net erger en erger word. Amper soos in die tyd van Noag het die mense net gedoen wat hulle wil. Selfs die priesters is beveel om voor die Here te buig, omdat hulle en die volk van die Here afgedwaal het.

In ‘n sin het die tempel en dit wat in die tempels geleer word, net nie meer ‘n verskil gemaak in die samelewing rondom hulle nie. En so het die Here besluit om die samelewing tot stilstand te ruk. Die Here sê dat die droogtes wat hulle tot op daardie stadium ervaar het, niks is teenoor wat nog vir hulle sou voorlê nie. Hy kon nie toelaat dat die wêreld net voortstoom sonder om van God kennis te neem, en dat selfs die Here se volk oppad was om totaal te gronde te gaan nie.

Wie sou ‘n werklike verskil in hierdie situasie kon maak? Wie sou werklik kon ingryp? Deur die tyd van die ballingskap heen was die volk ontwortel van hulle leiers. Alle weerbare manne is weggevoer of doodgemaak. En tog, tog kom kom gee die Here deur Joël ‘n verassende profesie...

Die redding kom uit ‘n onverwagte oord. Die profeet Joël wys duidelik dat die seuns en dogters as profete sal optree, dat die oumense sal drome droom, en dat jong mans visioene sal sien, en die volk sal inspireer. Ja, juis hulle in die samelewing wat nie deur die ander raakgesien is nie, hulle word die kern van die volk Israel. Deur die jongmense en die seniors in die tyd van Joël, kom beloof die Here ‘n daadwerklike verandering.

Selfs die bediendes, die slawe, hulle wat nie raakgesien word nie, selfs hulle bring ‘n totaal nuwe Gees en ingesteldheid na vore...
Hier in die jaar 2010 na Christus, sit ons dikwels ook met dieselfde vrese as Joël. Ons wonder dikwels wat van die kerk in die toekoms gaan word. Ons wonder dikwels waarheen alles oppad is, omdat dit lyk asof niemand hom of haar meer aan die kerk steur nie.

Dobbelary en losbandigheid neem elke dag toe. Korrupsie en buite-egtelike kinders is steeds aan die toeneem, terwyl die meeste van hierdie mense Sondae in die kerk sit. Ons leef in ‘n tyd waar amper elkeen wat hier sit ‘n geval van drank- of dwelmverslawing in sy of haar familie kan opnoem. Alhoewel die TV dikwels met ‘n Christelike boodskap geopen word, word daar baie dinge op die TV gewys wat nie met ons Christenskap strook nie. Hoe gaan ons as kerk weer ‘n invloed op die samelewing kan uitoefen.

Liewe seuns en dogters, liewe slawe en slavinne, liewe senior burgers, ek glo dat hierdie veranderinge net in ons tyd kan gebeur wanneer ons besef dat die oplossing vir ons getuienis in die samelewing dikwels in die “blinde kolle” lê. Eers wanneer ons besef dat daar ‘n ontsaglike potensiaal in ons jeug opgesluit lê, en dat ons nog so baie by ons seniors te leer het, kan ons werklik begin om te bou aan God se koninkryk...

Joël kom maak weer vanaand ons oë oop, en wys aan ons dat daar in ons kinders, in ons jong seuns en meisies baie meer opgesluit lê as wat ons dikwels raaksien. Dit gaan immers nie wat ons in hulle raaksien nie, maar oor dit wat God in hulle raaksien en hoe Hy hulle kan gebruik.

Maar God kan hulle ook net gebruik as die Gees hulle werklik vervul, en hulle laat profeteer en drome droom. Alleen God kan aan ons jongmanne ‘n visie gee om werklik die leiding te neem en sy kerk in ‘n rigting te lei. Alleen God kan ook vir ons ouer mense wat dikwels aan energie ontbreek, die genade gee om met vrymoedigheid hulle ervaring en hulle visie vir die kerk te deel...

En daarom, liewe vriende, word ons opgeroep om ook vir ons jongmense en vir ons seniors te bid. Ons word opgeroep om ook te vra dat die Gees hulle sal vul en voluit in God se koninkryk sal gebruik. Ons word opgeroep om te bid dat God ook die wat nie in aansien is nie, ophef deur sy Gees, sodat hulle in ons samelewing ‘n verskil kan maak.

Die bekende sendeling Hudson Taylor het gesê dat al God se reuse in der waarheid swakkelinge was. Al God se Reuse is ook geroep uit ‘n situasie waar hulle geen aansien gehad het nie... Dink maar aan Moses in die biesiemandjie,Gideon wat as ‘n jong seun die afgodsbeelde moes afbreek, Dawid wat as jong herder geroep is om die reus Goliat te verslaan, sowel as koning Josia wat op 8 jaar oud koning geword het.

Maar die Here het ook seniors in hulle gryse jare geroep. Nie alleen het Simeon die Here Jesus geseën en besing by sy besnydenis nie, maar Johannes die apostel het in die rype ouderdom van 90 jaar daar op die eiland Patmos die Openbaring van Johannes ontvang, wat vandag nog as deel van die Bybel gelees word, en dien as bron van inspirasie vir soveel mense.

Ek sluit af... Daar word vertel van ‘n ou oom wat ‘n boom geplant het... Die ou man het vol rumatiek in sy tuin gebuk en met groot moeite ‘n perskeboom geplant. Iemand wat daar verbygeloop het, het die oom gespot, en gevra. Oom, hoekom plant oom ‘n boom? Oom gaan mos al lankal dood wees teen die tyd dat daardie boom vrugte dra? My vriend, het die oom geantwoord, ek weet dat ek nie daarvan sal geniet nie, maar dat my kinders en kleinkinders daarvan sal geniet. En die wete is vir my genoeg.

Ja, vriende, ons besef nie hoeveel ons seniors bereid is om te doen, en hoe hulle ook ‘n visie het wat verder strek as wat ons ooit besef nie. Kom ons maak moeite om vir hulle te bid, en van die Here te vra om hulle werklik te dra. Maar mag ons ook nooit ons kinders, ons jong seuns en dogters, ons jongmanne en jongmeisies vergeet nie. Mag ons nie hulle wat nie vir mense belangrik is vergeet nie. Ons weet immers wat hulle in die Here se koninkryk kan beteken! Ons kan nie eers begin om te dink wat hulle kan beteken wanneer hulle hulle werklik vir die Heilige Gees oopstel nie!

AMEN!

No comments: