Jesaja 52 – Preek gelewer tydens middernagdiens op 31 Desember 2009.
Voorsang:
Flam 1 Die Hemel juig
Lied 516(2*) Al sou dan ook, die vyeboom nie bot nie.
Lied 528:1-3 Leer my U wil, Heer
Flam 39 Ek wil kom stil word
Lofsang: Lied 163 Soos ‘n wildsbok
Slotsang: Gebed van Koos
As ek na die mens van vandag kyk, dan is daar een beeld wat by my opkom... Dit is die beeld van slawe en gevangenes... As ‘n mens mense van vandag in die oë kyk, is hulle oë dikwels leeg, sonder hoop. Sonder durf waagmoed. Sonder vonkel. Sommer maar net leeg.
Daar is baie dinge in die lewe wat ‘n mens kan gevange hou, kan verslaaf. ‘n Vriend van my het dikwels gepraat van sy winkel as ‘n tronk met oop deure. Vir hom was die besigheid en die bekommernis oor sy winkel nie iets wat hom finansiële vryheid gegee het nie, maar ‘n tronk wat hom gevange gehou het.
So dikwels in die lewe moet mense dikwels uitvind dat dit wat hulle as die paradys gesien het, niks meer as ‘n tronk was nie. Daar word die grappie vertel van die outjie wat op die wolkie oppad hemel toe was, toe hy die ouens op die wolkie langsaan sien, besig met ‘n wilde partytjie. Hulle het hom genooi om by hulle aan te sluit, en dit het vir hom so lekker gelyk dat hy besluit het om oor te spring na die ander wolkie.
Maar o wee! Toe hy spring, val hy dwarsdeur die wolkie tot binne-in die duiwel se pot vuur. Met krete van pyn vra die outjie toe aan die duiwel: “Maar duiwel, wat het geword van die lekker partytjie?” O, die partytjie. Dit is net die bemarkingsafdeling, het die duiwel geantwoord.
Maar weet julle, liewe vriende, daar kan net so baie dinge wees wat jou vandag gevange hou. Dinge wat van jou ‘n slaaf gemaak het, sodat jy ook dalk teen die einde van 2009 met verlepte oë hier in die kerkbanke sit.
Ja, dit kan dalk jou finansiële situasie wees. Jy kan ervaar dat jy in ‘n put is waaruit jy nooit gaan kom nie. Of jy jou nooit uit jou skuld sal kan werk nie, en of jy nie weet waar môre se brood vandaan gaan kom nie. Dit kan dalk jou huwelik wees. Vir baie mense is die huwelik niks meer as ‘n tronk waar ‘n mens gevange gehou word deur iemand wat jou nie toelaat om jouself te wees nie.
Jou tronk kan dalk die vorm van een of ander verslawing in die lewe aanneem. Iets van sy mag oor jou gekry het, waarvan jy op geen manier kan ontsnap nie. Jou tronk kan dalk selfs jou ouerhuis wees, waar jy voel dat jy totaal vasgebind is, of dit kan jou kinders wees. Jou kinders wat maak dat jy nie kan gaan waar jy wil nie, en na hulle pype moet dans.
En so kan ons aangaan... As ons die taal van die Bybel lees, dan is dit nie die taal van die Postmodernisme, waarin daar nie meer hoop vir die dag van môre is nie. Die Bybel is ‘n boek van hoop, ‘n boek waarin ons mense met vonkelende oë, wagtend op die dag van môre sien. Mense wat deur die tralies van elke dag se wanhoop kyk met hoop op die koms van die Messias, met hoop vir die dag van môre.
Wanneer die gordyn van die toneel in die tyd van Jesaja oopgaan, sien ons ‘n klomp moedelose gevangenes in die ballingskap lê. Hulle het maar gewoond geraak aan die slawe-arbeid van elke dag, en het so min moontlik gedoen. Hulle oë was leeg, sonder belofte, sonder hoop.
Maar wag, om die hoek kom ‘n profeet, met die naam Jesaja. Jesaja loop tussen hulle deur en roep: ”Word wakker, Word wakker, staan op uit die stof! Trek vir julle nuwe klere aan, maak gereed vir die fees! Watter fees? Sou die ballinge verward vra... Die fees van die Here natuurlik, het Jesaja geantwoord. Die Here is oppad! Hy kom sê vir julle – Kyk, julle het nie meer boeie aan nie! Julle is losgekoop! Die Here kom sê: “Ek is nie ver nie. Binne een van die dae sal ek by julle wees en sê: Hier is ek! Ja, daar is genoeg rede om fees te vier – God het onder ons kom woon.”
Maar wag dis nie net Jesaja wat opgewonde is nie... Luister... daar is haastige, opgewonde voetstappe... Ja, dit is hulle wat vrede aankondig. Dit is hulle wat vertel van die verlossing! Die wagte roep hard – hulle sing van vreugde. Hulle roep uit - Jou God regeer! God is in beheer! Nie die Farao van Egipte nie, nie die koning van Assirië nie, God regeer! God is in beheer.
Ja kyk! Die Here kom terug na Sion toe. Selfs die puinhope sing vir Hom... Want hy het sy volk getroos. Sy mag sal tot aan die eindes van die aarde bekend word! Selfs uit Babel sal mense opstaan en terugkom Jerusalem toe, hulle sal God se tempelgereedskap terugbring na Sy tempel toe. Die Here trek nie net voor hulle uit om hulle te beskerm nie, maar Hy kom ook agter hulle aan...
Liewe vriende, vanaand is vir baie mense ‘n donker aand... Baie van julle het seker gehoor dat dit die tyd van die Blue Moon is, omdat die maan nie net twee keer in ‘n maand vol is nie, maar omdat daar nog ‘n maansverduistering ook is. Baie sê dat dit niks goeds vir vanaand en vir 2010 voorspel nie...
Maar vir hulle wat in die Here glo, bring Jesaja vanaand weer die ou, ou tyding op ‘n nuwe en vars manier. Ja ons word ook ten opsigte van 2010 verseker... Die Here is hier. Hy is God met ons! Hy gaan nie net voor ons uit nie, maar beskerm ons van agter. Soos Jesus 2000 jaar terug op aarde gebore is, so kom verseker die Here ons dat Hy weer kom. Dat ons moet opstaan en reg wees vir Sy koms. Dat ons die stof moet afskud, en ons feesklere aantrek, omdat hy enige dag kan kom.
Maar wat is hierdie feesklere? Daar in Openbaring 19:8 word dit duidelik aan ons gesê: Hierdie feesklere is die regverdige dade van die gelowiges. Maar liewe vriend, hoe lyk dit vanaand op Oujaarsaand 31 Desember 2009 in jou lewe? Is jy wakker, of slaap jy? Is jy aangetrek, of sal jy later begin om die Here te dien? Is jy in boeie, of is jy losgekoop deur die bloed van die Lam?
Vriende, daar is nie baie tyd nie. Die voetstappe van hulle wat die goeie nuus bring is hier. God is met ons! Hy kom ons troos. Hy kom ons verlos. Hy is koning, Hy regeer! Hy trek voor ons die jaar 2010 in, maar hy dek ook die agterhoede. Hy kom ook agter ons aan.
Jy het die keuse! Jy kan in jou bondeltjie bly sit. Jy kan maar weer sien hoe die jaar met al sy goeie voornemens by jou verbyvlieg. Of jy kan opstaan, saamkom, en sien dat die Here goed is Ps. 34:8. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.
Ek kom sluit af. Die meeste van julle, veral die van julle ouer as 50, ken seker die gewilde lied van Credence Clearwater Revival, wat gesing het... I see a bad moon rising, I see trouble on it’s way... En dan het die lied verder gelui: Well don’t go out tonight , it’s bound to take your life, there’s a bad moon on the rise.
Ek weet nie hoekom hierdie lied destyds so gewild was nie, maar in ‘n sekere sin is dit die deuntjie wat so baie mense vandag sing. Moenie plant nie, dis nie die moeite werd nie. Moenie trou en kinders hê nie, want jy sal dit nie kan bekostig nie, moenie besigheid probeer doen nie, jy gaan in elk geval besteel word.
Liewe vriende, ek glo die Here kom praat weer met ons vanaand. Hy kom sê vir ons in die woorde van Jeremia 29: Bou huise en woon daarin! Trou en bring kinders in die wêreld... Hoekom? Want ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie, sê die Here.
Kom ons gaan hierdie jaar positief, met ‘n vonkel in die oog binne. Kom ons besef weereens dat die Here Jesus ons verlos het. Dat ons nie soos slawe en gevangenes hoef te lewe nie. Dat Hy hier met ons is, en onder ons kom woon het. Dat Hy regeer aan die regterhand van God, en dat Hy voor ons uitgaan, en agter ons aankom.
AMEN!
Tuesday, January 12, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment