Die digter van Psalm 85 onthou God se goedheid, vergifnis en beloftes van uitkoms. En soos ’n telefoon lui Advent tyd gebeure om ons te herinner: Luister, dink aan wat God vir jou gedoen het! Reageer daarop, laat dit jou geheue aktiveer, dan kry jy weer nuwe, egte hoop vir die toekoms. Dan ontvang jy God se shalom.
1. Ingenooi deur God - Ons raak bewus van ons diepste behoeftes, vrae en vrese en gee ons oor aan God
’n Aantal jare gelede het iemand die stad Washington DC, besoek. Hy was oppad na ’n museum, maar Washington se uitleg het hom verward gehad. Seker dat hy oppad was na die museum, het hy vinnig en dapper in die verkeerde rigting beweeg!Hy het bewus geraak van ’n baie kort swart man wat langs hom geloop en praat het. Maar die verkeer se geraas was oorverdowend en hy kon niks hoor wat die man probeer sê het nie! Hy het ook besluit dat dit waarskynlik iets was wat hy in elk geval nie wou hoor nie en het net vinniger gestap.Hy het by ’n besige oorgang gekom en moes toe noodgedwonge stop.
Op daardie oomblik het die swart man voor hom gaan staan en sy hand op sy arm geplaas. Hy moes nou luister na dié man terwyl hy sy beursie probeer beskerm. Hy het geïrriteerd na die man afgebuk en toe gehoor wat die man vir hom probeer sê het:“Young man, I don't know where you are going, but I can assure you that this is the wrong way. You are headed into the wrong part of Washington and putting your life at risk. Turn around now and go back to where you came from.” Al wat die persoon wat verdwaal het toe opgemerk het, was dit: “I had ignored him, but suddenly he was precious to me. It appeared that I could not live without him.
Ja, liewe vriende, in ‘n sekere sin kom sê Psalm 85 aan ons dat God ons kan help om weer op die regte spoor te kom as ons afgedwaal het (vs 9). Dit is wat Jesus kom doen het.
Een van die kosbaarste dinge wanneer mens in ‘n vreemde wêreld kom, is ‘n padpredikant. Dit is daardie roete-aanwysers wat aan ‘n mens wys waarnatoe jy oppad is, en hoe ver dit nog is. Al het ons vandag nog die voordeel van ‘n GPS, is ons dikwels nog baie afhanklik van straatname, en veral wanneer die name verander het, is ons baie onseker oor die pad wat ons moet ry.
Ek onthou nog hoe ek ‘n hele ruk terug, lank voor die tyd van GPS’se iewens van Bloemfontein af Botswana se kant toe moes ry. Toe ek in Wolmaransstad kom, het ek die afdraaipad Ottosdal toe gemis. Toe ek die eerste bordjie kry wat vir my sê dat Sweizer Reneke nog 40km ver is, het ek dadelik geweet… Ek moet nou terugdraai. Ek is op die verkeerde pad. Dit sou nie help om vorentoe te ry en weer ‘n afdraai Ottosdal toe te neem nie. As ek nie sou omdraai nie, sou ek ‘n te groot ompad ry, en ek sou laat wees vir die grens.
Maar weet julle, liewe vriende, in ons lewens van vandag is dit dikwels dieselfde. Iewers op die pad maak ons dikwels ‘n verkeerde keuse. Of dit nou ‘n handelstransaksie, of ‘n vriendskap is wat ons begin of weggooi, of dit nou die toegee aan ‘n versoeking is, of selfs net die keuse om iets in ‘n oomblik van woede te sê, of die keuse om ‘n weldaad van iemand anders te weerhou toe ons dit kon gegee het. Ons almal maak keuses. En hierdie keuse is nie altyd reg nie. Die vraag is net: “Hoe lank gaan ons met so ‘n keuse aan, voordat ons besef dat ons moet omdraai?
Liewe vriende, hier in die kerstyd, hier teen die einde van die jaar 2009, glo ek dat Ps. 85 ook vir ons niks anders as ‘n padpredikant, of soos die Engelse sal sê, ‘n “wake-up call” is nie. Ek glo dat die Here ons elkeen vanoggend net ‘n bietjie tot stilstand wil bring, en aan ons wil vra: “Is jy op die regte pad?”
Elkeen van julle wat jonk was, weet dat julle ouers julle dikwels versoek het, en dit is nou nog so, dat julle hulle moet bel of SMS as julle iewers heen gery het, en veilig aangekom het. Partykeer vergeet ‘n mens maklik, en moet die telefoon ‘n slag van pa-hulle se kant af lui, voordat ons dit dooddruk en die SMS aan hulle stuur.
Ja, al het Jesus 2000 jaar terug met Kersfees gekom omdat God in die mense ‘n welbehae gehad het, en vrede op aarde wou bring, het ons van die ware impak van Kersfees vergeet… Al het Jesus se koms na die aarde ‘n bekering, ‘n omdraai in soveel mense se lewens gemaak, het die mens van 2009 nog steeds, en dalk soveel meer, ware omkeer, ware bekering nodig…
Ja, liewe vriende, hier aan die einde van ‘n besige jaar ervaar jy dalk in jou lewe die frustrasie van die tempelsangers, van die Joodse gemeente se musiekgroep. Dalk kan jy vanoggend saam met hulle sing… Here, U was goed vir die land. U het vir ons voorgeslagte gesorg. Wil U nie ook in die tye waarin ons leef, vir ons ‘n nuwe toekoms gee nie? Wil U nie weer in Kersfees 2009 ook in ons lewe ‘n nuwe begin maak nie? Ps. 85:6 Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?
Dalk het jou liefde vir die Here stadig binne-in jou verflou. Dalk wil jy vanoggend ook tot die Here uitroep – Here help my om U liefde te beleef, om werklik u teenwoordigheid en vrede in my lewe aan te voel en dit te ervaar! Ps. 85:7 Laat ons u troue liefde belewe, skenk ons u reddende hulp, Here.
Maar om werklik die Here se liefde in ons lewe te ervaar, om werklik weer sy vreugde in ons lewe te kan voel opbruis, beteken dat ons ook stil moet gaan staan. Ons moet nie net soos ‘n hardloper by ‘n waterpunt verbystorm, die watersakkie gryp en ons eie koers kies nie… Nee, ons moet gaan stil staan, deeglik inventaris van ons lewe neem, en vra waarheen ons oppad is. Ons moet waarlik die Here se leiding en rigting vir ons lewe van Hom afsmeek.
Saam met Psalm 85 moet ons ook saam met die Jerusalemse musiekgroep vanoggend vir die Here kan sê: “Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien”. Is dit waarlik jou behoefte? Dan nooi ek jou uit om werklik hierdie Kersfees ‘n tyd van besinning in jou lewe te maak. Dat nooi ek jou uit dat ons as gemeente werklik in hierdie Kerstyd, voor Nuwe Jaar sal gaan stil word, en vir die Here vra dat Hy vir ons die prentjie van Bospoort duidelik in ons gedagtes teken.
Nie noodwendig ‘n prentjie van ons finansies of ons kerkbywoning nie, nie noodwendig ‘n prentjie van die vlermuise wat om die kerktoring vlieg soos wat ons by die Satanisme praatjie gehoor het nie. Maar ‘n prentjie van hoe ons gemeente werklik in sy oë lyk. ‘n Prentjie van die dinge in Bospoort gemeenskap, in Suid-Afrika, in Afrika en in die wêreld wat Hom onstel, en waaraan ons moet aandag gee.
Ja liewe vriende, daar in Jesaja 30 vers 15 sê die Here aan die volk: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Ook op ‘n oggend soos vanoggend beteken omkeer om te luister. Beteken bekering om oplettend te wees vir die padpredikante in ons lewe. Die rigtingwysers wat aan ons wys waar ons te ver gegaan het.
Want die Here wil ook vir ons ‘n prentjie gee van wat Bospoort werklik kan wees. Ja, deur die koms van die Verlosser, van die Vredekind, het Hy aan die wêreld kom wys dat Hy waarlik omgee. En so wil Hy vanoggend ook vir ons ‘n prentjie teken van ‘n wêreld waar liefde en trou mekaar ontmoet, waar geregtigheid en vrede mekaar sal omhels, en waar die Here vir ons ‘n geestelike en materiële oes skenk.
Miskien verstaan jy nie vanoggend hoe dit nou is dat liefde en trou mekaar nie in elk geval ontmoet nie, en dat geregtighieid en vrede mekaar nie in elk geval omhels nie… Ek sien dit in linker en regterbrein terme. Hulle sê dat mense wat linkerbrein georienteerd is, baie sin het vir getrouheid, en geregtigheid. Hulle sê aan die ander kant dat regterbrein mense meer liefdevol is, en dat hulle dikwels eerder ‘n rusie sal vermy om vrede te kan handhaaf.
Toe die Here Jesus aarde toe gekom het, het Hy vir ons kom wys dat ons nie noodwendig die een ten koste van die ander hoef te beoefen nie. Nee, Hy het vir ons kom wys hoe ‘n mens liefdevol en getrou kan wees, getrou tot die dood. Hy het vir ons kom wys hoe ‘n mens vrede kan bring, sonder dat ‘n mens die geregtigheid moet laat vaar.
Ja, liewe vriende, mag Kersfees 2009 vir jou ‘n tyd wees waarin jy waarlik God se “wake-up” call beleef, waarin jy werklik ook liefde en getrouheid in jou lewe laat ontmoet, waarin jy werklik ook in jou lewe, en in jou werksomstandigheide bymekaar uitbring.
Ja, liewe vriende, die Here wil ook hier in Bospoort sy geregtigheid laar floreer, en toesien hoe Bospoort gemeente besig is om die pad voor te berei vir die koms van die kind op die krip, maar ook vir die koms van die koning op die wolke.
AMEN.
Tuesday, January 12, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment