Preek gelewer op Sondag 24 Januarie – Kinderdiens.
Liturgie:
Sondag 24 Februarie (Bid vir jou vyand – kinderdiens)
Hoe groot is ons God!
Beeld van God
Pinksterlied
Lied 539 Tien meisies met hul lampe
Flam 206 My hande hef ek op na U
Lofsang:
Lof-Medley
Na Wet en toneelspel:
Koning van my hart
Slotsang:
Meer en meer soos Jesus
Dialoog tussen Bekkie en Oom Johannes. – DIE BLOU-OOG
Oom Johannes: Hallo Bekkie, en waar kom daai blou oog vandaan?
Bekkie: Hallo oom Johannes, (snik) Pippie het my op die oog geslaan!
Oom Johannes: Haai Bekkie, het julle dan baklei?
Bekkie: (Half skaam) Ja oom Johannes, (snik) maar ek het haar teruggekry… ek het haar sommer op die maermerrie geskop!
Oom Johannes: Bekkie, maar dit is mos nie mooi as dogtertjies baklei nie, veral nie as hulle mekaar blou-oog slaan nie?
Bekkie: Ja, oom Johannes ek weet, maar sy was baie lelik met my. Ek gaan nooit weer met haar praat nie!
Oom Johannes: Weet jy Bekkie, die mense in die Bybel se tyd het vir die Liewe Jesus ook blou-oog geslaan.
Bekkie: Rerig, oom Johannes?
Oom Johannes: En dit was nie al nie... Hulle het dorings op sy kop ingedruk, Hom met swepe geslaan, op hom gespoeg, en hom nog met net sulke lang spykers deur sy hande en voete aan ‘n kruis vasgeslaan!
Bekkie: Toe was Jesus seker baie kwaad... Ek sou gewees het!
O J: Nee, Bekkie Jesus het niks aan hulle teruggedoen nie.
Bekkie: Rerig oom Johannes? Hoekom het hy niks gedoen nie? Jesus is mos baie sterk!
O J: Wel, Jesus kon sy engele geroep het om hulle almal se koppe af te kap, maar Hy het dit nie gedoen nie. Hy het vir hulle gebid!
Bekkie: Gebid, Oom Johannes? Wat het Hy gebid.
O J: Hy het gebid dat God, sy Vader, hulle moet vergewe, omdat hulle nie weet wat hulle gedoen het nie.
Bekkie: Haai, Oom Johannes, nou voel ek baie sleg omdat ek vir Pikkie geskop het. Kan ek nog vir haar ook bid, Oom Johannes?
O J: Ja virseker, Bekkie. Die Here Jesus sal baie bly wees as jy vir Pikkie ook bid. Want hier in die Bybel staan dat ons vir ons nie net vir ons vriende nie, maar ons vyande ook moet bid.
Bekkie: Ek voel nou baie skaam oor wat ek gedoen het. Sal Oom Johannes vir my help om te bid?
O J: Ja, Bekkie, met graagte. Kom ons maak die oë toe. Bid stuksgewyse gebed waarin hy vir God vra om vir Pikkie te vergewe, en ook vir Bekkie self te vergewe).
Bekkie: (Bid sin vir sin agter Oom Johannes aan). Dankie Oom Johannes! Ek voel nou baie beter! Ek is so bly Bekkie.
O J: Jy kan weet dat die Here jou heeltemal vergewe het, en dat Hy ook vir Pikkie baie lief is, en nie wil hê dat julle moet baklei nie.
Bekkie: Baie dankie Oom Johannes. Ek het netnou so hartseer gevoel, en nou is ek baie bly dat die Here Jesus nie net ander vergewe het nie, maar ook vir my gehelp het om Pikkie te vergewe. Baie dankie, Oom Johannes.
O J: Jy moet vir die Here dankie sê, Bekkie. Dit is net omdat Hy vir ons so lief gehad het, dat ons mekaar ook kan vergewe en kan liefhê. Totsiens.
Bekkie: Totsiens, oom Johannes!
Boodskap:
Een van die grootste skandes wat ‘n matriekmeisie kan oorkom, is wanneer sy met presies dieselfde rok as ‘n ander meisie by haar matriekafskeid aankom. Want vir elke vrou is dit belangrik om uniek te lyk. Die woord uniek beteken dat daar altyd ietsie anders aan ‘n vrou sal wees as ander vrouens.
Maar dit is nie net vir vroue waar nie... Nee, selfs op skool al sien ‘n mens dikwels by jongmense ‘n poging om net anders as ander te wees. Of dit nou is met ‘n wilde haarstyl, ‘n snaakse oorbel in die oor, of ‘n uitspattige of gewaagde kledingstuk is, elkeen wil uniek, elkeen wil graag anders wees. Niemand wil net ‘n nommer tussen duisende ander wees nie.
As jy ook vanoggend iemand is wat tog anders wil wees, wat jou eie menswees of identiteit wil behou, dan hoef jy nie sleg te voel nie. Wat Jesus, die hoof van die kerk, ons Verlosser, kom beveel ons om anders te wees. Maar ek bedoel nou nie dat Jesus ons beveel om ‘n naelring of ‘n neusring te dra nie, maar dat Hy wil hê dat Christene anders moet leef, optree en ook bid as mense rondom hulle. Jesus self anders was in Sy tyd, en anders as al die mense rondom hom geleef het...
Maar hoe verskil Jesus se anders van ons anders? Amper alle mense is baie lief vir hulle familie of mense wat naby aan hulle is. Die meeste mense is lief vir hulle ma’s, hulle pa’s, hulle boeties, hulle sussies, en hulle kinders. Ja, mens is ook baie lief vir jou vriende... Ek is seker baie van julle was baie bly toe julle by die skool gekom het na die lang vakansie, en weer julle maats en julle vriende kon sien. Julle het hulle seker baie bly gegroet met ‘n drukkie, of selfs ‘n soentjie.
Maar weet julle liewe kinders. Daar is baie min mense wat hulle vyande groet. Ja selfs daar by die skool is daar waarskynlik ‘n maatjie wat jou afknou, met jou spot en jou verneder. Ons groet sulke mense nie graag nie. Ons is dikwels nie eers bly om hulle weer te sien nie. Daar is selfs ‘n liedjie in Afrikaans geskryf wat sê: “Ek wil jou nooit weer sien nie... die lewe is te kort daarvoor. Ek wil eerder myself geniet.”
Die meeste mense is maar so. Hulle het die lief wat hulle lief het, en haat die mense wat hulle vyande is, van wie hulle nie hou nie. In Matt. 5:43 lees ons dat die wêreld almal so sê: “Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat... In Jesus se tyd het die mense net hulle vriende gegroet. Hulle het net die liefgehad wat hulle vriende liefgehad het...
Maar weet julle maats, die Bybel kom leer vir ons anders... Die Bybel kom leer aan ons dat God almal liefhet, en dat Hy vir almal in die lewe iets gun. As dit reën, dan reën dit mos ook op daardie kwaai boer se grond wat baie suinig is. As die son skyn, dan skyn dit ook op die mielies van hulle wat niks met die kerk of met die Here te doen wil hê nie.
Ook God se Seun, Jesus Christus, was soos sy Pa. In Sy tyd het hy baie vyande gehad... Maar Hy het niemand gehaat nie... Nee, inteendeel, hy het probeer om almal te red... En daarom het Hy selfs aan die kruis, toe al daardie mense geskree het en Hom bespot het, gebid: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Maar nou kan ‘n mens vra: “Dominee, hoe moet ek nou anders optree teenoor daardie maatjie wat my slegsê? Hoe moet maak as hy of sy nie eers met my wil speel nie? Die Here leer ons dat ons eers by onsself moet begin. Ons moet die Here om verskoning vra vir die gevoelens in ons binneste, en vra dat Hy ons kom verander, sodat ons sulke mense werklik lief kan hê.
Maar daar is nog ‘n belangrike ding... Niemand kan ons keer om vir hulle te bid nie. As ons werklik ernstig is dat hulle moet verander en vriendelik moet word, dan moet ons vir hulle bid. Ons moet bid dat die Here hulle harte sal verander, sodat hulle Hom werklik kan prys, maar ook in vrede met ander mense rondom hulle sal lewe. Ons moet onthou dat die Here ons ook vergewe het, en dat ons daarom ander om ons ook moet kan vergewe.
As ons anders wil wees soos Jesus, en ons vyande wil liefhê, dan moet ons vandag begin om vir ons vyande te bid. Ons moet weet dat Jesus ook vir sy vyande gebid het, en dat Hy ons leer hoe om te bid. Ja, julle het reg gehoor. Jesus het selfs vir ons ‘n gebed geleer daar in Lukas 11, en ek wil hê julle moet dit agter my aanbid:
Vader, ons bid dat almal in Suid-Afrika vir U respek sal hê;
Ons bid ook dat U koning sal wees in die lewe van elke mens in hierdie land.
Sorg asseblief vir alles wat ons nodig het elke dag.
Vergewe ons waar ons dinge gedoen het wat U nie wil hê nie.
Help ons om net soos U ander mense te vergewe,
wanneer hulle iets teen ons verkeerd gedoen het.
Help asseblief vir ons om nie af te dwaal van U af nie,
maar maak ons vry van die kwaad in ons lewe,
Sodat ons eendag in die Hemel saam met U sal kan lewe.
AMEN!
Tuesday, January 26, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment