Preek gelewer op 3 Januarie 2010 uit Josua 1:1-11
Flam 35 Oorwinningslied
Pinksterlied – Ons is gewone mense Here
Geestelike treffers 28 – Meer en meer soos Jesus
Lied 163 Soos ‘n wildsbok
Lofsang: Lied 281:1-3 Lei ons Here Groot en magtig
Na Wet: Lied 241:1-3 Troue Here van my lewe.
Slotsang: Lied 518 Voel jy soms of die Here te ver is.
Daar is baie dinge in die lewe wat ons eers moet verloor, voordat ons werklik besef het wat ons gehad het. Dit is amper soos om op ‘n wipplank op en af te gaan, en hard te val wanneer die ander persoon skielik van die wipplank afspring. Ek dink dat baie van julle al sulke belewenisse in die lewe gehad het. Miskien is dit die verlies van ‘n ouer, of ‘n broer of suster, of ‘n goeie vriend of vriendin, of ‘n lewensmaat, ‘n man of ‘n vrou. Of dalk het jy al ervaar hoe jou vrou vir ‘n week moet weggaan, en jy alleen na die huis, die kos en die kinders moet kyk.
Wanneer so iets gebeur, dan lyk alles wat so vanselfsprekend was, net nie meer so maklik nie. Dan word alles ewe skielike ingewikkeld. Net die wete dat iemand wat daar was, iemand op wie jy soos ‘n kruk kon leun, ewe skielik weg is, maak die lewe niks makliker nie.
As ‘n mens na Josua se lewe hier op die vooraand van die intog in Kanaän kyk, kan ‘n mens jouself net indink in watter situasie Josua moes gesit het. Hy was self daar in Kanaän saam met Kaleb en die ander 10 spioene. Hy het geweet hoe groot is die mense van die land. Maar hy het ook geweet van God se straf omdat Moses op die rots geslaan het, en nie met die rots gepraat het nie. Hy het geweet dat hy sonder Moses die beloofde land sou moes ingaan. En nou het dit gebeur. Moses is deur die Here weggeneem. Hy moet alleen die beloofde land binnegaan.
Josua het voor die taak gestaan om alleen die volk teen hierdie oormag van reuse te lei. Hy, ‘n klein, eenvoudige mens, is geroep om ‘n volk van oor ‘n miljoen mense deur die Jordaanrivier tot in die land Kanaän in te neem. En selfs die Jordaanrivier was nie ‘n vulletjie nie. Stel jou voor dat jy met ‘n miljoen mense deur die Vaalrivier moet trek! Sonder brûe moes hulle al die mense en diere veilig deur die rivier kry!
Maar die Here het geweet... Hy het Josua se hart gesien. Hy het geweet dat dit nie vir hom maklik moes wees nie. En daarom het hy self aan hom verskyn. Hy het hom kom verseker dat hy nie alleen is nie. Maar God het meer as dit gedoen. Hy het Josua verseker dat hy by hom is, en vooruit sou loop. Josua moes maar net in Sy voetspore volg...
Miskien sit jy ook vanoggend ‘n bietjie verward hier in die kerk... Miskien het jy in die afgelope tyd ook iemand verloor wat vir jou kosbaar was... Miskien het daar ook in die afgelope jaar omstandighede in jou lewe plaasgevind wat jou toekoms drasties raak. Miskien is daar siektetoestande wat jou en jou gesin se lewe drasties gaan beïnvloed. Dalk is daar ‘n nuwe wending in jou lewe, soos om skool-toe of hoërskool toe te gaan, ‘n werksverandering, ‘n verandering in jou boerdery of werksopset... Al hierdie dinge maak ons onseker. Maak dat ons ‘n nuwe jaar amper klaar moeg en gespanne binnegaan...
Maar ek wil jou kom nooi om te luister wat die Here vir Josua sê. Ek wil jou kom nooi om te besef wat dat dieselfde Here wat met Josua kom praat het, ook vanoggend hier in Bospoort met jou wil kom praat. Maar wat kom sê die Here vir Josua?
Hierdie 9 versies in Josua 1 is nie maar net ‘n paar leë woorde nie. Dit is ‘n openbaring van God se hart, en se plan vir Josua, maar ook vir elkeen van ons. Daar in vers 2 kom sê die Here vir Josua: “Moses is dood.” Ja, die Here kom sê eintlik aan hom dat hy besef watter gemis Josua in sy lewe gaan hê na Moses se dood. Dat hy ook besef in watter situasie Josua hom bevind. En daarom sê die Here aan hom baie duidelik in vers 5: “Soos ek by Moses was, so sal ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie.”
Maar dan gaan die Here verder. Hy kom sê as’t ware vir Josua om die stap van geloof te neem. Hy moes nie langer wag nie, maar gereedmaak en voorberei om die Jordaanrivier oor te steek. Die Here beveel hom om deur die Jordaanrivier te gaan, en voort te gaan na die land Kanaän wat Hy aan die volk belowe het. Maar om deur die Jordaan te gaan, was nie speletjies nie. Al was die rivier dalk nie so diep en so groot soos die Vaalrivier nie, was die walle waar hulle moes deurgaan baie steil. Hulle het nie geweet hoe diep die rivier op daardie plek is nie. Verder was dit die tyd toe die Jordaanrivier in vloed was, en sy walle oorstroom het.
Maar die Here kom beveel hulle in Josua 3:13 om ‘n stap van geloof te neem. Die walle van die Jordaan was steil. Daar was nie terugdraai nie. Maar die priesters met die ark moes voor loop, en sodra hulle voetsole aan die water raak, sou die water skei, en hulle sou kon deurgaan. Net so moes die Israeliete weet dat wanneer hulle die stap van geloof sou neem om deur die water te loop, dat die water sou opdam waar hulle loop. Dat die Here sou voorsien. Hulle moes net gereedmaak en gaan.
Want die Here sou die land aan hulle gee... In die Hebreeus staan daar letterlik in vers 3: Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee ek aan julle... Ja, liewe vriende, watter wonderlike belofte is dit nie. Daar waar die Israeliete sou gaan, sou die Here met hulle wees, en die land tree vir tree aan hulle gee... Maar die Here gaan verder... Hy sê vir Josua: “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie.” Watter wonderlike woorde... Maar sou dit vandag vir ons nog geld?
Liewe vriende, die Here Jesus het ook vir die dissipels gesê dat hulle nog groter wonders as Hy sal doen. Hy het gesê dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, en dat hulle sy getuies sal wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uiterstes van die aarde. Glo jy dit? Dat wanneer jy die boodskap van die Here bring, niks of niemand teen jou bestand sal wees nie?
Ja, liewe vriende, die Here kom sê nie net aan ons dat ons veilig sal wees in 2010 nie. Hy roep ons op om te gaan... om uit te reik, om grondgebied vir Sy koninkryk in te palm. Is jy ‘n man of ‘n muis? Is jy sy soldaat, of bly sit jy by die huis?
Maar die oorwinningslewe wat God aan Josua voorhou kom saam met ‘n handboek. Saam met ‘n GPS, wat vir hom die pad sou wys. Ja, in vers 7 en 8 kom sê die Here aan hom: “Wees veral sterk en vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees waar jy ook al gaan. Hierdie Wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag, en sorg dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.
Ja, liewe vriende, ons wens dikwels met heimwee dat ons die geloof van ons voorouers gehad het. Ons wens dikwels dat ons met dieselfde ywer as hulle die Here kon dien, en op Hom vertrou. Maar ons vergeet dikwels dat ons ook soos Josua in die voetspore van Moses moet loop. Dat ons die Here se wet ook moet oordink soos ons voorouers dit gedoen het.
Ons moet onthou dat ons in die eerste plek sterk en vasberade in die uitvoering van die Here se Wet, van sy Woord moet wees. Dat ons daarvan nie moet afwyk nie, maar doen wat dit vir ons vra. Dat dit die rigsnoer sal wees vir alles wat ons doen en sê. Dat ons tyd moet neem om te dink oor wat alles daarin geskryf staan. As ons ‘n voorspoedige pad saam met die Here wil loop, is dit verseker die eerste stap.
Ek wil afsluit. Ek weet nie wie van julle al Indiana Jones en The last Temptation gekyk het nie. Daarin is hy opsoek na die heilige Beker waaruit die Here Jesus self gedrink het met die Laaste Nagmaal. Hy het ‘n Heilige Boek se instruksies gevolg om by die beker uit te kom. Toe hy by ‘n sekere plek voor ‘n afgrond kom, het die Boek gesê dat hy ‘n “sprong van geloof moet gee”.
Hy het gewonder wat dit beteken, en op die ou end maar oor die rand van die afgrond gespring. Toe hy spring, sien hy dat daar ‘n brug oor die afgrond is, wat net soos die rotse aan die onderkant lyk, en kon hy veilig aan die ander kant kom. Ook wanneer ons aan die begin van 2010 staan, word ons opgeroep om die sprong van geloof te neem, en te weet dat die Here vir ons sal sorg en voorsien.
AMEN.
Tuesday, January 12, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment