Skriflesing: Matt. 21:33-46
Boodskap:
Skriflesing en liedere vir Sondag 18 Maart (Vierde Lydensondag).
Skriflesing: Matt 21:23-46
Tema: God gee alles vir Sy wingerd!
Voorsang:
Hierdie donker uur…
Heer Jesus, my Redder.
Stuur my
As ek soek…
Lofsang:
Wat 'n vriend het ons in Jesus (vs 1-3) –
Na Wet: Lied 396:1-4
Slotsang:
Lied 266 Onse Vader
Boodskap.
Daar word vertel dat die bekende Langenhoven eenkeer in die parlement gesê het dat die helfte van die parlement ape was. Die lede van die opposisie of die ander party het toe geprotesteer en gesê dat hy dit moes terugtrek. Langenhoven het toe dadelik geantwoord: "Goed, die helfte van die parlement is nie ape nie."
Net soos Langenhoven in sy tyd met die parlementslede se koppe gesmokkel het, of hulle aspres deurmekaar gemaak het, so het Jesus dikwels mense deur sy gelykenisse 'n bietjie deurmekaar gemaak.
(SKYFIE 3)Sarah Breuer het gesê dat Jesus se gelykenisse nie daar was om dit wat ingewikkeld was eenvoudig te maak nie, maar juis om dit wat mense vir die eenvoudige waarheid of soetkoek aanvaar het, ingewikkeld te maak. Jesus het mense weer opnuut laat dink oor die verkeerde wat hulle gedoen het, wat vir hulle heeltemal reg gelyk het.
Soos Jesus in sy lydenstyd Sy dood nader, sien ons hoe Hy telkens daarna verwys dat Hy oppad is om te sterf. En in die gelykenis van die boere en die wingerd kry ons een van die duidelikste verduidelikings van hoe sleg dit in Israel gegaan het, en hoekom dit nou eintlik nodig was dat Jesus vir die wêreld moes kom sterf.
In Mattheus 21 kom vertel Jesus 'n verhaal wat vir ons meer verduidelik van dit wat alreeds gebeur het, van dit wat in Jesus se tyd besig was om te gebeur, en dit wat in die toekoms sou gebeur.
Jesus kom vertel die verhaal van 'n boer wat 'n wingerd ontwikkel het. Hierdie boer was baie lief vir sy wingerd, en het 'n klomp dinge gedoen om sy wingerd veilig te maak. Hy het 'n wagtoring gebou, sodat niemand sy druiwe sommer kon steel nie. Hy het ook 'n muur om die wingerd gebou, sodat enige mens of dier nie daar kon inkom en dit kom verniel nie. Verder het hy ook gegaan en 'n parskuip om die druiwe tot sap te verwerk. Dit is duidelik dat die boer moeite gedoen het met sy wingerd.
Toe het die boer weggegaan, en die wingerd aan 'n groep boere verhuur. Maar hierdie boere het nie vir die eienaar omgegee nie. Hulle het net aan hulleself gedink. En toe die boer mense stuur om sy deel van die oes te kom opeis, het die verhuurders sy gestuurdes mishandel, en van hulle doodgemaak. Die boer het weer so gemaak, en vir 'n tweede keer het dieselfde gebeur. Die mense het hierdie gestuurdes van die boer doodgemaak...
In hierdie gelykenis moes die Fariseërs in die tyd van Jesus onmiddelik geweet het dat Jesus eintlik oor hulle praat. Want die Romeinse regering het in daardie tyd die Fariseërs juis aangestel om oor die wingerde en lande in Israel toesig te hou. Hulle het egter net hulleself verryk, en die volk arm gemaak. Soos met die tollenaars het hulle omkoopgeld aanvaar, en nooit die volle bedrag aan die Romeine oorbetaal nie.
Maar Jesus se verhaal het nog 'n dieper betekenis as dit gehad... Hy het ook aan Israel gewys hoe dit gebeur het dat Hy Israel as sy wingerd baie liefgehad het. In Jesaja 5:1-7 word Israel al met 'n wingerd vergelyk. Dit is 'n wingerd waarvoor God alles gedoen het, maar 'n wingerd wat nie vrugte gedra het soos dit moes nie.
Keer op keer het God in die geskiedenis mense geroep en na Israel toe gestuur. Hulle is nooit werklik aanvaar nie. Dink maar aan Moses, die profete Elia, Natan, Jesaja, Jeremia en Esegiël. Die mense wou nie hoor wat hierdie gestuurdes van God sê nie, en het hulle telkens vervolg. Ja, koning Herodes het selfs vir Johannes die doper doodgemaak, en sy kop in 'n skottel aan Salome, sy broerskind gegee.
Maar Jesus se storie is nog nie klaar nie. Hy vertel hoe die boer besluit om sy eie seun na die boere toe te stuur. (SKYFIE 5) Hy het gedink dat hulle ten minste na hom sou luister. Maar juis dan doen die boere 'n skokkende ding. Hulle dink... dalk is die eienaar van die wingerd dood. As ons sy seun doodmaak, sal hy nie eers 'n erfgenaam hê nie, en dan sal die wingerd mos vir altyd ons sin wees. Hulle tree toe eintlik op asof die eienaar dood is, asof hy hulle niks kan maak nie, en vermoor sy seun.
Ja, liewe vriende, met Jesus se verhoor was dit skokkend dat die heiden Pilatus sy hande in onskuld gewas het, en gesê het dat hy liewers niks met Jesus se dood te doen wou hê nie. Dat die Jode uitgeroep het – "Laat sy bloed op ons kom!". Hulle het in 'n sin kom sê dat Jesus se bloed eerder op hulle moes kom, dat hulle bereid was om God se oordeel oor hulle lewens te aanvaar. Hulle het eintlik gemaak asof God dood was. Of hulle het gedink... Ons sal wel later bekommerd wees oor wat met ons kan gebeur...
En wat doen God... God vernietig die leiers van die Joodse volk. In 70 na Christus word Jerusalem deur die Romeinse keiser Vespasianus ingeval, en die stad Jerusalem word vernietig. Jesus, die seun van die eienaar, staan op uit die dood, kom stel 12 apostels aan, wat werklik vir sy wingerd sou omgee, en die goeie nuus van sy oorwinning oor die dood die wêreld sou inneem.
En so kom ons by die toekoms van hierdie verhaal, waarin ons vandag leef. Telkens in die geskiedenis moes die Here maar weer ingryp in sy wingerd... In die 16de eeu het die Rooms katolieke priesters hulleself verryk ten koste van die volk. Martin Luther, Johannes Calvijn en Ulrich Zwingli moes 'n bittere stryd stry om die bande van hierdie leiers te breek. Baie mense het gesterf...
Jesus was God se laaste poging... Dit was sy laaste probeerslag. Hy het niks groter om te gee as sy eie Seun nie. Wat maak jy met Jesus in jou lewe? Aanvaar jy hom as God se Seun, sy gestuurde, of gaan jy maar eers op jou manier met jou wingerd aan... Die tyd is min... Een van die dae is die koning van die wingerd finaal terug, en dan sal elkeen moet vertel wat hy of sy met God se seun gemaak het. (SKYFIE 7).
Ja, liewe vriende, ons is die verhuurders van 2012... Ook ons is aangestel om na God se wingerd om te sien, en seker te maak dat dit vrug dra. Ons word geroep om die vrugte van die wingerd ook aan God terug te gee... Hierdie wingerd is vir God so belangrik dat sy seun Jesus daarvoor kom sterf het. Gee ons regtig om vir die wingerd, en kyk ons daarna? Kan ons die vrugte van die wingerd wys? Gee ons aan God sy regmatige deel van die oes? Gee ons die oes van die wingerd op die regte tyd aan God, of hou ons dit eenkant, met die voorneme om dit later eers te gee?
Hierdie vraag moet elkeen van ons maar op ons eie antwoord. Al wat ons wel deeglik moet besef, is dat die Groot Boer baie lief is vir sy wingerd. Ons word geroep om sy wingerd op te pas, en ook soos die gestuurdes van destyds, te protesteer teen elkeen wat hierdie wingerd vir sy eie gewin gebruik, sonder om aan God te gee wat Hom toekom...
AMEN!
No comments:
Post a Comment