Sunday, March 25, 2012

Boodskap vir Jeugdiens op Sondag 25 Maart 2012.

Skriflesing Johannes 12:34-36


 

Tema: Julle moet kinders van die lig wees!


 

Voorsang:

As ek in die aand na sterre kyk

Beeld van God

Ek het sy vreugde

Ek is veilig in Jesus se arms.


 

Lofsang:

In die hemel is die Heer


 

Na Wet:

Hy leef, Hy leef Hy leef hier in my hart


 

Slotsang:

Lied 488 Helder Skyn U lig vir die nasies


 

Tema: Julle moet kinders van die lig wees!


 

Ds. Johannes: More Bekkie!

Bekkie(gebliddoek): More doom. Johannes, waar's jy vanoggend?

Ds. Johannes: Maar ek is mos altyd hier langs jou... Hoekom vra jy?

Bekkie: Want ek kan nie sien nie, doom Johannes.

Ds. Johannes: Nou hoekom is jy dan gebliddoek, Bekkie?

Bekkie: Wel, doom Johannes, want ek wil graag weet hoe dit voel om blind te wees?

Ds. Johannes: En hoe voel dit, Bekkie.

Bekkie: Gladnie lekker nie, Doom Johannes. Dit is baie sleg om niks te kan sien nie. Alles is donker. Dit is soos om in die nag te loop. Ek het sommer al 'n paar keer my kop teen 'n deur of 'n muur gestamp. Ek het sommer al 'n paar keer gestruikel en geval ook. Kyk Oom Johannes, kyk hierdie pleister teen my kop.

Ds. Johannes: Ai tog, Bekkie, maar dit moes baie seer gewees het. Maar weet jy, die Bybel praat ook van mense wat in die donker lewe.

Bekkie: Hoekom is hulle dan blind, ds. Johannes?

Ds. Johannes: Nee, hulle is nie blind nie, Bekkie. Maar hulle lewens is donker. Hulle dink net aan donker dinge, en hulle kies ook om eerder in die donker dinge te doen as in die lig, waar almal hulle sal sien.

Bekkie: Stamp hulle ook hulle koppe, ds. Johannes.

Ds. Johannes: Ja bekkie, hulle stamp hulle koppe, maar nie soos jy jou kop gestamp het nie. Nee, hulle kry teenspoen, want hulle word uitgevang vir dit wat hulle in die donker gedoen het.

Bekkie (leun na doom Johannes toe): Ag, doom Johannes, dis verskriklik! Maar wil doom nie my blinddoek maar liewer afhaal nie... Ek wil nie meer in die donker lewe nie. Ek wil liewers in die lig lewe, daar waar mense kan sien wat ek doen, en waar ek ook Jesus se liggie kan laat skyn!

Ds. Johannes: Gaaf Bekkie, ek doen dit graag (haal Bekkie se blinddoek af)!


 

Boodskap...


 

SKYFIE 1 Daar word vertel dat Van der Merwe ( op 'n slag vir 'n oogarts ingestaan het. Toe die eerste pasiënt by hom kom, kla die persoon dat hy nie ver genoeg kan sien nie. Mike vat hom toe na die venster toe, en vra aan hom of hy die son kan sien. Ja, sê die persoon vir Mike. Nou maar dan kan jy mos ver genoeg sien, sê hy.

Wie van julle kinders kan tot by die son sien? Ja, ek is seker almal van julle kan tot by die son sien. Maar julle kinders het seker ook al gehoor dat 'n mens nooit reguit na die son mag kyk nie. Want, as jy reguit vir die son kyk, sal dit jou oë so seer maak dat jy selfs kan blind word.

Ons mense dink dikwels dat die son maar net daar moet wees... Dat die son maar net in die oggend moet opkom, en in die aand moet ondergaan. Maar eintlik is alles nie so eenvoudig nie... Want in die eerste plek sou julle dalk al geleer het dat dit nie die son is wat opkom nie, maar dat dit die aarde is wat om die son draai, en om sy eie as. En daarom lyk dit vir ons asof die son besig is om te draai, terwyl dit eintlik onsself is.

Toe Galileo Galilei 400 jaar beweer het dat die aarde om die son draai (SKYFIE 2), is hy tot 'n ketter verklaar deur die Roomse Kerk. Hy is uiteindelik eers laat in die 20ste eeu ontban, nadat almal besef het dat hy wel reg was (SKYFIE 3). Partykeer is dit vir die mens moeilik om te besef dat alles nie om onsself draai nie, maar dat daar 'n skeppergod is om wie alles draai.

Die Egiptenare het al in hulle tyd besef dat die son iets baie spesiaals is. En daarom het hulle selfs die son as 'n God gesien, en hulle het gepraat van Ra, die songod. Maar ons weet vandag dat die son self nie 'n god is nie, maar een van baie ander sonne wat ons sien as ons in die nag na die hemel kyk. Uit die Bybel weet ons dat God die hemel en die aarde, die son en die maan en die hele heelal geskep het. Net soos ons liedjie sing weet ons: "My God is so groot, so sterk en so magtig, daar's niks wat my God nie kan doen..."

En omdat God so groot, so sterk en so magtig is, beteken dit juis dat Hy ons geroep om hom te dien. Om sy Naam te prys as die een wat alles gemaak het. En dit is waar ons by ons Skriflesing van vandag kom. Ons weet dat God lig is, en dat daar geen duisternis in Hom is nie 1 (Joh 1:5). Net so was Jesus die lig van God wat na die aarde toe gekom het om die duisternis, die donker en die slegte op die aarde te kom wegjaag... (Joh 1:9).

En dit is die verhaal van Jesus se lewe. Hy het in 'n donker wêreld vir ons donker sondes kom sterf, sodat ons nie meer in die donker hoef te lewe nie. Niemand hou mos in elk geval daarvan om in die donker te lewe nie. In ons huis moet ek altyd 'n ganglig aanlos, sodat Jana en Marnel nie bang word as hulle dalk in die nag wakker word nie.

Net so kan ons nie sonder die lig van Jesus in ons lewe nie. Hy het op hierdie donker aarde kom skyn sodat ons nie in die donker hoef te lewe nie. Maar Jesus moes ook weer weggaan hemel toe om vir ons plek te gaan voorberei. En daarom moedig hy sy dissipels aan om die sy lig te gebruik, en van hom te leer, terwyl hy nog tussen hulle was.

Die Here wil ook vanoggend vir elkeen van julle kom aanmoedig om ook van Sy lig te gebruik, en van Sy lig te leer terwyl julle nog in Bospoort is. Wanneer 'n mens van jou huisgesin en jou familie weggaan, word dit baie maklik donker om jou. Daar is selfs baie familie van ons in die buiteland. Wanneer hulle dan daar ver is, waar iemand nie meer sien wat hulle doen nie, dan leef hulle maklik in die donker. Dan gaan hulle nie meer kerk toe nie, en dien nie meer die Here nie.

Elkeen van julle moet weet dat dit 'n voorreg is om in die lig van God te kan lewe. Dis 'n groot voorreg om Christelike ouers te kan hê, om skool toe te kan gaan, en om kerk toe te gaan, en van die Here te leer. Maar dikwels besef ons dit nie. Dikwels dink ons maar net dat die Here om ons draai, en net daar is om ons te help as ons 'n probleem het nie. Nee, liewe kinders, ons moet altyd onthou dat ons lewe om die Here moet draai, en dat ons Hom altyd moet prys in alles wat ons doen.

Ek sluit af... Ek wonder wie van julle daardie kinderliedjie ken wat so begin...

Eendag sê pa muis vir sy liewe kleine vrou, ek dink dit is nou tyd dat ons dogtertjie moet trou...

Ja, ek kan sommer sien 'n hele paar kinders ken die liedjie! Dit vertel die verhaal van 'n pa en 'n ma wat vir hulle dogter net die beste wou hê. Hulle het toe besluit dat muis nie die beste man vir haar sal wees nie. So besluit hulle om die son te vra om vir haar 'n man te wees (Skyfie 4). Maar die son het gesê dat hy nie beste man sal wees nie, omdat wolk hom sommer donker maak as hy voor hom gaan staan. So gaan vra hulle toe vir wolk om met hulle dogter te trou. Maar wolk het ook geweier omdat hy beweer het dat wind sterker as hy was. As die wind 'n wolk waai, moet hy sommer padgee.

So is hulle toe na wind toe om vir wind te vra om met hulle dogter te trou. Maar wind het ook geweier, omdat hy nie deur 'n muur kan waai, nie. Toe die twee moedelose ouers na muur toe gaan om vir hom te vra, sê hy aan hulle dat hy nie die aanbod kan aanvaar nie, omdat hy niks kan doen as muis 'n gat deur hom vreet nie. En so het die ma en pa maar na muis toe gegaan, en vir hom gevra om met hulle dogter te trou.

Net so moet ons vanoggend ook besef dat ons op baie ander plekke in die lewe vreugde kan gaan soek, eerder as in God se lig. Of dit nou in die blink liggies van die stad is, of die flitsende ligte van 'n nagklub, of die blink glans van diamante – ons moet onthou dat dit vreeslik is as 'n mens uiteindelik in die donker moet lewe. Dit is dikwels maklik om in die lig te loop. Maar as jou hand nie in God se hand is in die donker tye nie, as jy vanoggend net nag voor jou sien, weet dat God daar is. Ons kan nooit vir hom wegvlug nie... (Ps. 139). Hy steek ook vandag sy Hand weer na jou uit, en nooi jou om in sy lig te lewe!


 

AMEN!

No comments: