Sunday, April 1, 2012

Heb 9:9-15 Jesus kom skenk sy bloed – vir jou!

Boodskap gelewer op Sondag 1 April 2012


 

Daar word die grusame grappie vertel van Jannie wat van die skool af kom met 'n neus wat vol bloed is. Sy ma was onmiddellik baie ontsteld, en het gevra wie dit gedoen het. "Dit was Pieter", het Jannie geantwoord. "Sal jy hom kan herken?", het sy ma gevra. "Ja," het Jannie geantwoord, "Ek het sy oor in my sak".

Jy sal my dalk vanoggend dalk vreemd aankyk, en dink, maar so 'n grappie hoort nie eintlik in die kerk van ons Here Jesus nie. Dit is sommer net bar en ongepas. Die kerk is 'n plek waar 'n mens moet kan stil word en ontspan. Veral in die lydenstyd van Christus moet alles in 'n sagte kleur van pers gedrapeer wees, en alles moet diep en ernstig en stil wees. Ons moet tyd hê om onsself te kan afsonder van hierdie wêreld, en rustig te word...

Maar weet julle, liewe vriende, as 'n mens mooi na die wêreld om ons kyk, dan is bloed en vergelding 'n wesentlike deel van ons lewens, of ons dit wil weet of nie. Die kans dat daar op hierdie naweek iemand in of van die Bospoort omgewing gebloei het amper honderd persent. Hetsy dit iemand was wat in 'n ongeluk was, of wat in 'n dronk geveg tussen plaaswerkers was, of wat in die werksituasie homself beseer het, Iemand het waarskynlik gebloei.

Dan praat ons nie oor die koerantopskrifte van skole se sportspanne wat in busongelukke was, of van plaasmoorde en plaasaanvalle wat in die afgelope tyd plaasgevind het nie. Dan praat ons nie van stakings, protesoptogte en betogings in ons land waarin mense beseer is nie. Of van gesinsgeweld waarin mense dikwels aan die binnekant meer bloei as aan die buitekant. Dan praat ons nie van Somalië, die Kongo of Mali, van Sirië, Palestina of Libië waar daar tans nog oorlog is nie.

Ons elkeen het waarskynlik in die films of advertensies wat ons in die naweek gesien het, bloed gesien... Ek onthou dat meer as een van die rugbyspelers in die Super 15 tydens die naweek bloed aan hulle gesigte gehad het. Nou praat ek nie eers van die rofstoeiers in WWE nie.Maar in die kerk moet ons liewers nie van bloed praat nie. Dit pas nie hier nie. Ons moet iewers kan ontvlug en ontsnap van die gewelddadige wêreld waarin ons leef.

En tog is die Bybel vol bloed... Dink maar vir 'n oomblik aan Kain wat vir Abel doodgeslaan het. Wat staan in Genesis 4:10 – Wie weet wat daar staan... God sê aan Kain: "Die bloed van jou broer roep na my waar dit op die grond geval het..." Kain het nie vir Abel liggies verwurg, of stilletjies vergiftig nie. Nee, dit moes 'n grusame, bloedige geveg gewees het. En so kan ons verder gaan... In die tabernakel van die Here en in die tempel het daar nie 'n dag verby gegaan wat daar nie bloed gevloei het as die offers gebring is nie. Dink aan Simson wat 1000 Fillistyne met 'n esel se kakebeen doodgeslaan het. Dink aan Koning Dawid, wat so baie bloed aan sy hande gehad het dat hy nie toegelaat is om die tempel te bou nie.

Ons kan die hele dag oor verhale van bloed in die Bybel gesels, maar in hierdie Lydenstyd is dit niks meer as gepas dat ons oor die bloed wat aan Jesus se liggaam gevloei het, praat nie. Want vir Jesus se dood om enigeiets vir ons te beteken, moes daar bloed gevloei het... In Hebreers 9:22 staan daar duidelik... Sonder Wabloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie...

Ja, liewe vriende, Jesus se bloed moes vloei. Jesus moes gegesel word vir ons sondes, sodat sy bloed kon vloei... Daar moes 'n doringkroon op sy kop geplaas word, sodat sy bloed kon vloei. Daar moes spykers deur sy hande en sy voete gekap word, sodat sy bloed kon vloei... Daar moes 'n spies deur sy sy gesteek word, sodat sy bloed kon vloei.

Wanneer Johannes die eerste keer vir Jesus sien (Joh. 1:29), wys hy na Jesus en sê: "Kyk, daar is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem...". As ons hierdie prentjie sien, dan sien ons Jesus in pragtige wit klere, wat met 'n ligglans omring na Johannes aangestap kom. Maar daardie uitroep moes ook soos 'n dolk in Jesus se eie hart, en die Vader se hart gewees het. Want hulle het geweet dat hierdie lam oppad is om geslag te word. Dat hierdie lam se bloed sou vloei. Dat hierdie lam gekom het as die offer, gekom het om te bloei...

Hoekom so 'n bloedbevlekte preek vanoggend? Hoekom so 'n morsige preek...? Want, liewe vriende, daar was niks moois aan Jesus se kruisdood nie. Elkeen wat al die film, "the Passion of Christ" gekyk het, sal dit weet. Jesus se kruisiging het oor niks anders gegaan as 'n klomp bloeddorstige Jode wat die bloed van Jesus gesoek het, en dit gekry het nie. Wat Jesus se bloed gekry het, sodat daar vir die wêreld vergiffenis van sonde kon wees nie. Wat Jesus se bloed gekry het, sodat ons kan Nagmaal gebruik, en weet dat Jesus as 'n offer vir ons gesterf het nie, 'n Paaslam wat sy bloed vir ons geoffer het.

In hierdie paastyd sien ek hoe daar NG Gemeentes is wat selfs melksjokolade lammetjies uitdeel om te eet. Is dit waaroor Paasfees en Jesus se dood werklik gaan? Gaan dit oor die geleentheid om weg te lê aan daar die bokse paaseiers met die malvalekker binnekant waarvoor my twee dogters, (en ekself) baie lief is? Of gaan dit oor die verhaal van Jesus se bloed, wat in liters gevloei het op Goeie Vrydag?

Toe Jesus daar in Johannes 6 vers 54 aan die skare sê: "Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie.", is daar baie wat omgedraai het. Hulle het aanstoot geneem weggestap en gesê: "Maar hierdie woorde is darem te kras."

Ek kry Vrydag 'n e-pos rondom lesings van Kenda Dean, 'n professor aan Princeton Seminarium. Sy beweer dat die jeug van vandag in 'n valse godsdiens ingelei word. Sy beweer dat ons in 'n teddiebeer godsdiens glo. Ons dien net die Here om getroos te word in ons omstandighede, om gerus gestel te word oor ons lewens, sonder dat ons naastenby die eise van Christenskap in ons lewens besef.

Liewe vriende, ook in 2012 dink ons terug aan die bloed van Jesus wat aan die kruis vir ons gestort is. Dit is juis gedoen, en Hebreërs 9 leer ons juis dat ons gewetens deur hierdie bloed gereinig is. Ook hierdie Paasfees het ons die keuse om Jesus se bloed te ignoreer, en voort te gaan asof dit liewer te grusaam vir ons is... Of ons kan werklik met hartseer gaan terugdink aan wat die wêreld aan Jesus gedoen het, sodat ons kan leef. Ons kan met blydskap besef dat ons nie meer offers hoef te bring soos die Jode van destyds nie...

Ek sluit af... Ek kry hierdie week in my e-pos 'n boodskap oor 'n 100 persent boer. 'n Honderd persent boer, sê hulle, is iemand wat tot diep in die winter nog met 'n kortbroek loop, wat net drie Engelse woorde ken: "Yes, no, en 'vat vrou, hulle praat alweer Engels'. 'n Honderd persent boer is iemand wat altyd 'n stuk binddraad, 'n tang en 'n rol isoleerband (isolation tape) in sy bakkie het. Maar die een eienskap van 'n honderd persent boer was nogal vir my treffend. Daar word gesê dat hy tot drie keer 'n dag iewers bloei sonder dat hy dit agterkom. Wat dit eintlik sê, is dat hy so besig is met sy harde werk, dat hy nie agterkom wanneer hy hom stukkend stamp of skuur nie.

Eintlik behoort dit van 'n Christen ook waar te wees. Ons gaan baie stampe en stote van die samelewing kry. Jesus sê dan aan sy dissipels dat hy hulle soos weerlose skape tussen wolwe instuur (Matt. 10:16). Die wêreld gaan ons baie wonde toedien... Maar in hierdie Paastyd kan ons weereens besef dat ons kan volhard, omdat Jesus reeds die prys vir ons betaal het, omdat Sy bloed reeds vir ons gevloei het.


 

AMEN!

No comments: