Goeie Vrydag – 6 April
Skriflesing:
Johannes 19:1-16
Tema:
Jesus dra jou skande!
Voorsang:
Daarom
Ek soek U, O God
Gebed
Herder Heer,
Lofsang:
Lied 240:1,2 Heiland as in ootmoed stil
Voorbereiding van tafel:
Ek staan skuldig voor U Heer
Slotsang:
Lied 396:1-4 Aanskou die Heiland, sien die kruis
Boodskap:
Ek wonder wat is die grootste skande wat jou nog oorgekom het… Dalk het jy in graad 1 per ongeluk in die klas jou broek natgemaak, omdat jy bang was om vir juffrou te vra om "kamer te verlaat". Ek het nou die dag 'n groot skande oorgekom. Ek het voor 'n groot saal kinders 'n stoel stukkend gesit, en al die kinders het vir my gelag.
Daar is ook ander skandes wat 'n mens kan oorkom, wat nog slegter is vir 'n mens en jou familie. Vir 'n familie is dit baie sleg as 'n vrou swanger raak voor die troue, en veral as sy nog met 'n groot, swanger maag voor die kansel moet staan. Dit is ook 'n groot skande as 'n famlilielid van 'n misdaad soos verraad en korrupsie beskuldig word.
In gister se Beeld is daar 'n storie van 2 tydelike landdroste wat aangekeer is vir gewapende roof. Dit is darem die toppunt. Dat iemand wat oor ander se oortredings 'n beslissing moet vel, self so iets soos 'n gewapende roof moes pleeg... Maar hulle is nog nie skuldig bevind nie. Hulle is nog VERMEENDE MISDADIGERS, en hulle skuld moet nog bewys word.
Maar dink aan die koerantopskrifte op die oggend van Paasmaandag, die jaar 33 na Christus: Dit moes soos volg lui... Man sterf pynlik nadat Hy aan Godslastering skuldig bevind is...
Die berig sou al die grusame besonderhede dra... Pilatus wou hom eers nie skuldig bevind nie. Die Jode het hom gedwing. Hy het nog vir Barabbas in sy plek ook vrygelaat... Gewoonlik is die kruisiging eenkant gehou vir die grootste oortredings. Vir spioene en verraaiers, massamoordenaars en terroriste.
Jesus is met 'n sweep met stukkies yster in oor sy rug geslaan. Hulle het 'n kroon van dorings gevat en op sy kop gedruk, dat die bloed uitloop... Hulle het hom uitgetart... Hulle het kamtig nederig voor hom kom kniel, en dan opgestaan en hom deur die gesig geklap. Hulle het hom bygedam en hom met die vuis geslaan.
Jesus moes na alles na Golgota, die plek van die kopbene, strompel met die kruis op sy skouers. Hy is tussen twee van die grootste reeksmoordenaars in Palestina opgehang. Een van die moordenaars het Hom nog gespot en gesê: Is U dan nie die Christus nie? Red uself en ons ook, en kom van die kruis af... (Lukas 23:39). Toe hy dors gehad het, het die soldate aan hom bitter asyn op 'n stok gegee. Hulle het sy sy met 'n spies oopgekloof om te kyk of hy regtig dood is...
Watter vernedering, watter skande het nie op hierdie Vrydag 2000 jaar plaasgevind nie. Maar Jesus het geweet wat kom... Hy het geweet dat daar vir hom 'n bitter tyd voorlê. Hy het bloed gesweet in die tuin van Getsemane terwyl Hy gebid het: "Vader, laat hierdie beker by my verbygaan." Kan ons ons hoegenaamd indink watter skande Jesus moes verduur... Ek dink nie ons kan nie. Maar weet julle, liewe vriende, dit is ook tyd dat ons moet probeer...
As die skrywer van die boek Hebreërs daar in die eerste paar verse van Hebreërs 12 die Christene in hulle lyding aanmoedig, dan moedig hy hulle aan om Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof voor hulle oë te hou. Wanneer ek in die verlede hierdie gedeelte gelees het, het ek altyd gedink aan die skare getuies wat in die hemel juig as ek daar aankom, met Jesus wat met ope arms op die troon vir my sit en wag.
Maar ek moes ook in hierdie Lydenstyd verder as dit lees... Ek moes lees dat ek Hom voor oë moet hou wat die kruis verduur het sonder om vir die skande daarvan terug te deins. Ek moet ook die bebloede, dors, en gepynigde Jesus voor oë hou wat homself ingehou het elke keer as iemand hom uittart, hom spot, hom met 'n vuis in die gesig slaan. Jesus wat die ander wang gedraai het elke keer as iemand hom geklap het... Wat homself so in toom gehou het, dat Hy selfs vir die joelende skare kon bid en kon vra: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."
Ja, liewe vriende, al wil ons nie graag nie, móét ons. Ons moet ook na Jesus kan kyk as die een wat gely het. Jesus as die een wat die skande moes ondergaan. Want Jesus se skande is dit wat ons geloof anders maak... Ja, Jesus, die koning van die heelal, word soos 'n vel aan 'n stuk hout opgehang. Jesus, die onskuldige, word deur Pilatus skuldig bevind ter wille van ons...
Daar word vertel van 'n man wat uit Mosambiek na Suid-Afrika wou vlug. Hy het toe ooreengekom met mense wat jou teen 'n prys help om op 'n sekere plek deur die grensdrade te kom. Nadat die mense die man gehelp het om deur die grens te kom, het hy aan hulle gesê dat hy nie geld het om hulle te betaal nie. Hulle het hom toe met die vuis bygedam en behoorlik geslaan. Toe antwoord hulle hom dat hy nou betaal het...
Liewe vriend en vriendin, ek glo dat daar niemand hier is wat nie al skandes in die lewe oorgekom het nie. Watter pyn sou ek en jy moes verduur as ons werklik vir ons sondes moet boet? Hoeveel vuishoue sou ons moes kry? Hoeveel van daardie geselslae sou ons moes kry? Danksy dit wat Jesus vir ons gedoen het is dit nie meer nodig nie... Hy het klaar betaal...
Maar die stryd is nie verby nie... Totdat Jesus weer kom, gaan ons as sy kinders nog dikwels onskuldig moet ly. Ons gaan baie moeilikhede verduur omdat ons sy kinders is. Dit kan mos nie anders nie? Paulus leer ons duidelik in Fillipense 3:10 dat die wat deel gekry het aan sy opstanding ook deel sal hê aan sy lyding en dood, sodat ons uiteindelik die hemelse kroon saam met Hom sal erf.
Ek sluit af... Jan-Harm Taljaard vertel aan my 'n skokkende verhaal... Hy het laas naweek vir sy verjaardag 'n gratis vlieg-opleidingsessie by sy vrou as persent gekry. Maar toe hy by die vliegveld sit en wag dat dit sy beurt is, het die vliegtuig net nie teruggekom nie. Die persoon wat voor hom opleiding gekry het, het saam met die instrukteur geval, en hulle is beide op slag dood.
Julle kan net dink hoe hy teruggery het huis toe... Sonder om 'n woord te sê...
Terwyl hy daaraan dink hoe maklik dit HY kon gewees het. Net so sit ons elkeen vanoggend hier. Ons behoort daaraan te dink wat sou gebeur het as Jesus nie gekruisig is nie. Dan was dit ek en jy... Dan sou ons daardie lyding moes deurgaan. Mag elkeen van ons in hierdie tyd ernstig stil word, en dink aan wat Jesus vir ons gedoen het. Mag dit ons inspireer om werklik ook die skande en die lyding wat oor ons pad kom, ter wille van Hom te dra...
AMEN!
No comments:
Post a Comment