Sunday, April 8, 2012

Buig voor die leë kruis!


Jesaja 52:13-15 Boodskap vir Paassondag (oggend) 2012.


Skriflesing:


Jesaja 52:13-15


Buig jou neer voor die leë kruis!




Voorsang:


Ons is almal hier tesaam medley


Flam 6 Heer Jesus, my Redder!


God is goed, Hy lewe


Hy is Heer




Lofsang:


Lied 175 (2*) Majesteit




Na Wet:


Lied 514:1,2 Ek weet verseker dat Jesus leef.




Slotsang:


Lied 409 Hoor jy die Paasfeesklokke.




Ek is al weer vanoggend met Van der Merwe besig, maar hierdie keer is dit 'n positiewe Van der Merwe storie... Destyds het die storie geloop dat Van der Merwe al die belangrike persone in die wêreld ken. 'n Vriend van van der Merwe wed hom toe dat hy nie vir George Bush, die president van Amerika ken nie. Van der Merwe neem hom toe saam na die Wit huis in Washington toe, en daar kry hulle 'n afspraak met George Bush. Toe George Bush vir Van der Merwe sien, straal hy van blydskap, en vra hy hom onmiddelik... "Van der Merwe, it is good to see you! How are you!"


Van der Merwe was verstom, en het Van der Merwe ook na die Russsiese President, en Koningin Elisabeth van Engeland toe geneem... Elke keer was die reaksie dieselfde, en was dit baie duidelik dat hulle bly is om Van der Merwe te sien. Van der Merwe se vriend dink toe by homself:... Dit is alles goed en wel, maar ek is seker dat Van der Merwe nie die pous ken nie.


Hulle gaan toe na die Vatikaan in Rome, waar die pous bly. Vanweë die streng sekuriteit moes Van der Merwe se vriend tussen die skare bly staan, maar Van der Merwe sou saam met die Pous, die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk, bo by die balkon uitkom. Toe van der Merwe saam met die Pous op die balkon uitkom, wou Van der Merwe se vriend net graag seker maak dat dit wel die Pous is wat daar by Van der Merwe staan... Hy vra toe vir die ou wat langs hom staan... "Wie is daardie ou met die wit klere aan. "Ek weet nie, antwoord die ou, maar die ou langs hom is Van der Merwe!"


Ek weet nie van vandag nie, maar toe ons klein was, was dit die ideaal van baie graad eentjies om eendag president van die land te word. Hulle wou nie soseer Harry Oppenheimer of Anton Rupert, die ryk miljoenêrs van daardie jare geword het nie. Nee, vir hulle was dit belangriker om die mag, die persoonlikheid en die belangrikheid van die president van 'n land te kan hê.


In die tyd wat Jesaja hierdie boek skryf, is dit duidelik dat die volk Israel baie verward was. Nie lank terug nie, is Serrubabel, hulle leier, deur goewerneur Tattenai van Persië doodgemaak. Hulle was verslae... Maar gelukkig het koning Darius van Persië gekom, en Tattenai kom berispe. Hy het Serrubabel se naam in ere herstel, en beveel dat die tempel herbou moes word. Tattenai moes hom heeltemal daaruit hou.


Wanneer Jesaja dan oor die Kneg van die Here praat, is dit belangrik dat die volk alreeds verstaan het dat goeie leiers dikwels eers moet sterf voordat hulle werk regtig voltooi word. En juis daarom was die voorspelling van 'n Dienskneg wat sou kom en ly, maar uiteindelik die oorwinning sou behaal, vir hulle so belangrik...


In Jesaja 42:13 lees ons van die Dienskneg wat sou kom, en baie lyding sou verduur. Hy sou so swaar kry, en vermink word, dat niemand hom sou erken nie. En tog, sou hierdie Dienskneg oorwin, en sou die konings van die aarde in verwondering voor hierdie Dienskneg juig...


As ons vandag, op Paassondag, 2000 jaar terug, na die oorwinnende Jesus buitekant die graf sou kon kyk, dan sou ons dalk iets kan verstaan van Jesaja 52:13, waar die Here God sou sê: "My dienaar sal voorspoedig wees, Hy sal hoog in aansien wees. Almal sal hom eer...". En in vers 15: "Baie volke en hulle konings sal stom wees van verbasing... Want hulle sal sien wat niemand hulle vertel het nie, en hulle sal hoor wat hulle nog nooit voorheen gehoor het nie." Eugene Petersen beskryf dit so mooi in die Message vertaling: "Just watch my servant blossom! Exalted, tall, head and shoulders above the crowd!".


Ja liewe vriende, op hierdie Paassondag kan ons mekaar groet met die woorde: "Christe aneste!", wat beteken "Jesus het opgestaan!". Ons het in die lydensweke wat verby is gesien hoe swaarkry, verwerping, vernedering, bloed en skande deel van Jesus se pad op aarde was... Maar vanoggend kan ons sy opstandig vier, en weet... "Christus leef!"


Wanneer iemand ryk geërf het, en maar net ryker word, het baie mense nie vir hom respek nie... Hulle sal net sy rykdom aan sy ouers se rykdom toeskryf. Maar wanneer iemand arm geword het, en alles verloor het, en dan weer opstaan en deur harde werk voorspoedig word, kyk almal met verwondering na daardie persoon.


Net so lê die verwondering en die verbasing van die nasies en die konings oor Jesus juis daarin dat Hy gesterf het, dat Hy dood en begrawe was, maar weer opgestaan het... Dink hoe het die Satan gesidder en gebewe op Paasoggend, nadat hy in die hel feesgevier het oor Jesus se dood. Jesus was terug! En nou in meer glorie en mag as ooit tevore... Jesus het die dood oorwin! Hy het opgestaan! Hy lewe!


Ons kniel vanoggend nie meer voor 'n kruis met 'n liggaam op nie. Want Jesus het oorwin! Die simbool van skande het die simbool van oorwinning geword! Hy is die hoof en leier van die kerk, Hy is die Koning van die Konings, die Here van die Here, die Heerser oor die Heersers!" Hy is Oorwinnaar!


Maar wat beteken dit vir jou en my? Watter verskil maak dit in ons lewe??? Ek dink nie ons kan begin om werklik te dink oor watter verskil Paassondag aan die lewe van 'n gelowige moet maak nie... Want ek glo dat Paassondag, en nie Kersfees nie, die belangrikste dag in ons jaar moet wees... Ek weet nie eers of ons regtig die Vrydag wat verby is Goeie Vrydag kan noem nie... Want daar was eintlik niks goeds aan daardie dag waarop Christus die helse smart moes beleef en verneder word nie.


Maar Paassondag, Ja, dit is 'n rede vir feesvier! Dis 'n rede vir juig! Want sonder Jesus se opstanding sou sy sterwe niks beteken het nie. Sonder die boodskap van 'n nuwe lewe sou die boodskap van Jesus se sterwe waardeloos gewees het... In die eerste plek is vandag 'n dag vir feesvier, vir blywees vir jubel en juig!


'n Tweede verskil wat Paassondag aan ons lewe maak, is die nuwe hoop en inspirasie wat dit gee. Waar ons Vrydag verslae huistoe gery het, en gedink het... Dit kon ek gewees het... Kan ons vandag juig en sê: "Dit gaan ook ek wees!"Want, leer Filipense 3:10 en 11 ons: "Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef!".


Ja, omdat die hoof van die kerk, die ligaam, opgestaan het en leef, kan sy hele kerk opstaan uit die dood. Kan sy hele kerk werklik begin leef, en sy naam grootmaak, soos ons geroep word om te doen. Omdat Christus vir jou opgestaan het, kan jy ook opstaan en begin lewe! Kan jy ook vry kom van die kettings van jou doodsbestaan!


Maar Christus se opstanding maak ook 'n derde, en baie belangrike verskil aan ons lewens. As Christus uit die dood kon opstaan, is dit die bewys dat daar niks op hierdie aarde wat meer onmoontlik is nie. Is daar geen doodloopstraat wat te dood is om nie 'n positiewe uitkoms te hê nie. Omdat Christus uit die dood kon opstaan, is daar geen mens wat nie kan verander nie. Omdat Christus uit die dood kon opstaan, is daar geen verhouding wat nie herstel kan word nie... Omdat Christus uit die dood opgestaan het, is daar geen siekte wat nie genees kan word nie. Is daar geen sondaar wat nie gered kan word nie...


Besef jy dit? Glo jy dit? Ek sluit af... Een van die ergste dinge wat met 'n land kan gebeur, is dat sy president vermoor word... Ek is seker dat daar van julle is wat nog kan onthou hoe dit was toe President Verwoerd vermoor is. Of hoe dit in Amerika was toe President Kennedy geskiet is. Die dood van 'n leier het 'n totale verlammende uitwerking op enige land.


Een van die filmtonele wat my altyd sal bybly is die toneel uit Lawrence of Arabia, waar Lawrence as die bevryder van Arabië na 'n veldslag aan sy wonde sterf, maar hoe hulle sy stywe lyk in 'n sittende posisie op sy wit perd vasgemaak het, en sy perd laat voor jaag het in die laaste, finale veldslag. Net die beeld van die leier op die wit perd, het gemaak dat sy volgelinge daardie laaste, finale veldslag wen...


Hoeveel meer, liewe vriende, is die sekerheid nie daar in ons harte dat Jesus, ons Ruiter op die wit perd, die Satan en sy magte finaal gaan verslaan as hy op die wolke verskyn, om ons saam met hom te neem nie. Hoeveel te meer, beteken Jesus se opstanding uit die dood nie dat daar NIKS meer is wat die Satan kan doen om ons te oorwin nie. Want ons Koning, ons Hoof, ons Leier, Jesus Christus, het klaar oorwin. Hy het die hef in die hand... Hy lei ons elke dag, sodat ons saam met Hom die Nuwe Jerusalem sal kan binnery!




AMEN!


No comments: