Saturday, May 19, 2012

Pinksterweek 2012 Sessie 1

Pinsterweek 2012 - Op weg na vervulling…


Het jy al in ’n krisis in jou lewe beland waar net God kon help... Waar jou finansiële situasie net vir jou te veel was? Waar geen dokters jou meer kon help nie, en geen raad gehad het met jou siekte nie? Waar jy in so diep donker put was dat niemand jou op geen manier kon opbeur nie? Waar jy heeltemal in jouself begin twyfel het, en nie meer enige sin in jou bestaan hier op aarde gesien het nie?

Ek is seker dat die meeste van julle al so ’n situasie in julle lewens ervaar het... Miskien is jy tans in ’n situasie waar jy net nie weet hoe jy gaan oorleef nie. Alles in jou gedagtes spel ’n doodloopstraat, waaruit jy nie kan kom nie...

Dan glo ek dat Pinkster 2012 in besonder vir jou is... Dat die Here ook tydens Pinkster 2012 in besonder vir jou ware vervulling in jou lewe wil laat smaak...

Daar is baie foefies of namaaksels in vandag se lewe wat aan mens vervulling bied. Dikwels word daar in drank of rookadvertensies gesinspeel daarop dat ’n sekere alkoholiese drank of spesiale sigaret jou na die paradys sal neem. Toe ons jonk was, was daar die sigaret-advertensie wat gelui het – “after action, satisfaction”. Ons sien dikwels advertensies oor “The power of positive thinking.” Maar uiteindelik is baie van hierdie programme net ’n masker. Want dit probeer voorgee dat jy van jou probleme kan ontsnap deur net positief te dink.

Daarom wil ek graag vanaand met Hemelvaart, vir ons weer uit Romeine 8:9-11 lees, waarna ons spesifiek weer gaan kyk na wat dit beteken om werklik te lewe, en deur die Gees lewend gemaak te word.

Boodskap:

'Dead' man wakes up at his own funeral

The funeral of a 28-year-old waiter in southern Egypt turned into a celebration when he woke up after being declared dead.

In die afgelope week was daar ’n nuusberig oor ’n begrafnis wat in ’n fees verander het. ’n persoon in Egipte, Hamdi Hafez al-Nubi het tydens sy begrafnis weer lewend geword... Nodeloos om te sê dat sy ma flou geword het toe die dokter wat die doodsertifikaat kom uitskryf het, aan haar gesê het dat haar seun lewe.

Mense beskryf baie dikwels die kerk van vandag as ’n begrafnis. Hulle reken dat ons godsdiens dood is. Dat daar net nie meer lewe in ons Christene oor is nie... en tog gaan die hele Christelike Godsdiens oor ’n begrafnis wat in ’n fees verander het. Ja, die Begrafnis van Jesus Christus het nie net die Sondag daarna op die sy opstanding uitgeloop nie, maar het 40 dae na sy dood ook op sy Hemelvaart uitgeloop, waarna die gelowiges kon feesvier toe die Heilige Gees op hulle uitgestort is. Pinksterfees was ’n fees van lewe... En daarom nooi ek jou vanaand saam op die reis om te ontdek hoe die Gees van Christus in besonder gekom het om lewe in Christus se liggaam, sy kerk te blaas.

In die mediese wetenskap het die woord dood baie betekenisse. In die ou tyd het hulle gereken dat iemand dood is as sy hart gaan staan het. Daarna het mense slimmer geword, en gesê dat as iemand vir vyf minute nie suurstof kry nie, dan begin sy brein doodgaan. En vandag is die mees algemene beskrywing van iemand wat dood is, wanneer iemand breindood is. Iemand se hart kan klop, maar as sy brein dood is, dan word die masjiene afgeskakel, omdat dokters glo dat hy dan nie meer sal kan lewe nie...

Dikwels in die geskiedenis was God se skepping, die mens amper dood... God het Adam en Eva belowe dat hulle sou sterf as hulle van die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad eet, en hulle het ook, al was dit ’n hele ruk later. Maar nadat Adam en Eva van die vrugte geëet het, het alles eintlik verander. Niks was meer dieselfde nie, want die mens was tot die dood verdoem.

Maar vir God is die dood van sy kinders geen geringe saak nie (Ps. 116:15). God het in die doodsheid van die volk Israel se lewe elke keer kom lewe spreek. Een van die bekendste voorbeelde daarvan is die visioen van Esegiël in Esegiël 37 waar Esegiël in die doodsbeendere lewe ingeblaas het, en waar die bene weer mens geword het. Dit is na aanleiding van die visioen wat die Here in vers 13 en 14 van Esegiël 37 aan Israel kom sê: “Wanneer ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat ek die Here is. Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in die land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. EK het dit gesê, en ek sal dit doen, sê die Here.”

Liewe vriende, wanneer ons oor Pinkster dink, dan dink ons dikwels aan die Heilige Gees wat kom as die Trooster. Ons dink aan die Heilige Gees wat aan die dissipels sou krag gee om God se getuies te wees. Ons dink aan die Gees wat in ons plek tot God die Vader bid. Maar ons besef dikwels nie dat die Gees juis gekom het om die lewe wat Jesus deur sy kruisdood en opstanding vir ons gebring het, werlklikheid te maak nie. God belowe dat Hy sy Gees in ons sal laat kom, sodat ons kan lewe...

Een van die duidelikste gedeeltes waar die Gees as lewe na vore kom, is ons teksgedeelte van vanaand. In Romeine 8:6 staan daar duidelik dat die dinge waarmee die Sondige natuur hom besig hou, op die dood uitloop. Maar wanneer die Gees van ons besit neem, verander ons lewens totaal. En daarom staan daar in vers 9:”Julle word beheer deur die Gees, omdat die Gees in julle woon.”

Die Heilige Gees het nie net vir Christus uit die dood opgewek nie, maar wek ook ons elkeen uit die geestelike dood op. Wanneer mens in die greep van die sonde is, wurg dit ’n mens stelselmatig dood, maar die Heilige Gees kom maak ons vry, en gee aan ons lewe. Daarom leer 2 Korinthiërs 3:6 ook aan ons dat die letter van die wet doodmaak, maar dat die Gees lewe gee.

Die Heilige Gees het dus ook spesifiek gekom om lewe in Christus se liggaam in te blaas. Deur die uitstorting van die Heilige Gees het die gelowiges lewe en krag ontvang om vir die Here te gaan getuig, ten spyte van die teenstand wat hulle sou verduur.

Hierdie selfde Gees wil ook in ons lewe uit die dood kom wek. Die Heilige Gees wil vir jou en my vervul, sodat ons werklik vir God kan lewe. Maar ons moet onsself vir Hom oopstel, en ons alles aan Hom gee. Linda Wright gebruik die beeld van die blou albaster, om te verduidelik dat ons onsself ten volle aan die Here moet oorlaat.

Sy vertel die verhaal van Jannie en Sannie, waar Jannie vir Sannie met ’n sak vol sjokolade sien, en baie lus kry daarvoor. Toe hy Sannie vir die sjokolade vra, sê sy aan hom dat sy dit vir al sy albasters sal ruil. Jannie het egter ’n blou albaster gehad waarvoor hy baie lief was. Omdat hy geweet het dat die albaster ’n rif het, voel hy in sy sak, hou die albaster eenkant, en gee aan Sannie die res van die albasters.

Nadat Sannie aan hom haar sjokolades gegee het, stap hy toe so ent weg, maar draai om en vra vir Sannie – was dit al die sjokolade? Omdat Jannie nie volledig kon gee nie, kon hy ook nie vertrou dat Sannie alles gegee het nie. As ons dele van ons lewe vir die Heilige Gees terughou, kan ons ook weet dat die Gees ons nie werklik totaal kan vervul nie. Ons moet bereid wees om alles aan Hom oop te stel. Ons moet bereid wees om die volle waarheid oor ons sonde en ons lewe te praat.

Ek sluit af met ’n verhaal uit die film “Dead man walking”, ’n film waarin Sean Penn en Susan Sarandon gespeel het. Die film gaan oor ’n man wat ter dood veroordeel is vir ’n moord. ’n Non het hom gereeld besoek, maar hy wou nooit erken dat hy wel die moord gepleeg het nie. Oppad na die dodesel het hy egter erken dat dit hy was wat die moord gepleeg het, en die boodskap van die film is dat die waarheid van Jesus se vergiffenis hom vrygemaak het... Al is hy dus terreggestel, kon hy vrykom, omdat hy die waarheid oor sy lewe kon bely.

Ek glo dat die Waarheid oor die Heilige Gees se rol in ons lewe noodsaaklik is om werklik as ’n kerk die Here te kan dien, en as ’n lewende gemeente in hierdie wêreld te kan werk. Ons moet besef dat die die Gees is wat lewe gee, en ons werklik die krag en genade gee om getuies vir die Here in hierdie wêreld te wees. Mag die Gees ons ook elke dag inspireer meer en meer vir Hom te lewe!



Amen

No comments: