Sunday, July 8, 2012

Pinkster Sessie 7 27 Mei 2012

Pinster – Sessie 7 Die Heilige Gees vul ons met tonge van vuur!


Ek is seker die meeste van julle het al van die Krugermiljoene gehoor... Dit gaan daaroor dat daar getuienis is dat President Kruger tydens die Boere-oorlog ’n hele klomp kiste vol Krugerponde versteek het, sodat dit Engelse dit nie kon kry nie. Die probleem was egter dat die geheim van die Krugerponde so goed bewaar gebly het, dat niemand dit tot vandag toe kon opspoor nie...

Ek het ’n vriend, Steve Weaver, wat in Amerika grootgeword het. Hy vertel dat hy daar ’n Ben Viljoen geken het. Die Ben Viljoen het nog ’n Afrikaanse naam gehad, maar hy kon gladnie Afrikaans verstaan nie. Sy oupa het egter nog by hulle gebly, en die oupa was die kind van Generaal Ben Viljoen, een van Paul Kruger se vertrouelinge.

Steve vertel hoe die hulle eendag by Ben gekuier het, en hoe sy oupa vertel het van die Afrikaanse liedjie wat hy so van gehou het. Steve se vrou Kathy, wat goed Afrikaans praat, vra toe of dit nie “My Sarie Marais” is nie. Toe sy die lied begin sing, toe rol die trane by die oupa van verlange.

Maar die eintlike storie agter die interessante storie gaan oor die oupa wat vertel het dat hy eendag as ’n jong seun onder ’n groot boom gesit het, en onthou hoe sy pa saam met ’n klomp ander ooms ’n hele klomp kiste begrawe het. Nodeloos om te sê dat hy gladnie meer kon onthou waar dit was nie... Ja, liewe vriende, tot vandag toe soek mense nog na die Krugermiljoene, omdat die geheim saam met die persone wat geweet het waar dit begrawe was, graf toe is...

Maar, liewe vriende, dit was ook die groot gevaar na Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart. Die groot gevaar was dat die dissipels daaroor sou stilbly, en dat die ryk boodskap van Jesus se koms na die aarde, en die feit dat Hy vir ons sondes gesterf het en die dood oorwin het, vir altyd verlore sou raak... Dat al God die Vader se opoffering, en Jesus se swaarkry uiteindelik verniet sou wees...

Nadat Jesus op ’n stadium 5000 volgelinge gehad het, het daar na sy hemelvaart net 120 oorgebly. Die gevaar was groot dat die boodskap kon uitsterf. Maar dit sou God nie toelaat nie... Die Goeie Nuus, die Evangelie moes uit!

En juis daarom stuur God Sy Heilige Gees om die geheim, om die boodskap en die groot skat van God se verlossing die ws daarom stuur God Sy Heilige Gees om die geheim, om die boodskap en die groot skat van God se verlossing die wêreld in te dra, en aan almal bekend te maak. Van die begin af was die Heilige Gees baie duidelik en sigbaar in mense lewens. Ons kan sê die Heilige Gees het met ‘n “bang” aarde toe gekom.

Hier in Handelinge 2 lees ons dat die gebou waarin die gelowiges was, geskud het. Daar was ’n geweldige rukwind. Daar het tonge van vuur op elkeen van die gelowiges se koppe verskyn, en hulle het in al die verskillende tale van die omstanders begin praat. Niemand kon dit miskyk nie. Die Boodskap het soos ’n veldbrand versprei. Dit is deur die apostels en die ander wat deur hulle prediking tot geloof gekom het die wêreld ingedra.

Toe daar in die eerste week 5000 gelowiges by die getal van gelowiges gevoeg is, was dit nie genoeg nie... Die golf van die evangelie het voortgespoel... Die Gees se werking was so kragtig dat mense gesond gewond het wanneer selfs Petrus se skaduwee op die mense geval het (Hand 5:15).



Wanneer die apostels gevang word laat ’n engel hulle vry en sê aan hulle in Handelinge 5:20: “Gaan staan in die tempel en verkonding aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe. Wanneer die wagte ontdek dat hulle nie meer in die tronk is nie, staan hulle reeds al weer in die tempel, besig om die evangelie te verkondig! Wanneer hulle weer gevang word, sê Petrus en Johannes aan die Joodse Raad in hoofstuk 5:29: “Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!” “... Ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan die wat Hom gehoorsaam is.”

Weet, julle, liewe vriende, ek weet dit is Nagmaal vanoggend, en kategese en gemeentebraai daarna, maar ek dink dit is tyd dat ons vanoggend met Pinkstersondag bietjie gaan stil staan, en werklik vir onsself afvra waar ons rondom hierdie dinge staan... Ons kan baie argumente ophaal, rondom die gawes van die Gees wat dalk al verdwyn het, of die evangelie wat al tot aan die eindes van die aarde verkondig is, of die groot nood aan die evangelie in ons eie omgewing...

Maar die vraag bly vanoggend staan... Is ons nog aan God gehoorsaam?

’n Predikantvriend van my het onlangs gesê dat hy op ’n slim manier met sy gemeente werk... Hy het vir hulle van die begin af vertel hoe goed hulle is, en hulle begin dit nou uiteindelik glo, en dit gaan goed met die verhoudinge in sy gemeente... Kan ons vir mekaar bly vertel hoe goed dit met ons gaan, en hoe goed dit gaan met ons as gelowiges, hoe die Here ons seën, terwyl ons diep in ons harte weet hoe ver ons te kort skiet???

Ek het vanoggend gebid vir ’n tong van vuur, en miskien is dit nie altyd ’n gewilde tong nie. Want God se vuur is nie sommer enige vuur nie. Dis die vuur van die brandende doringbos wat die hakkelende Moses in Eksodus 3 geroep het om die Israeliete te motiveer om uit Egipte te trek, en die hardkoppige Farao te oortuig dat dit wel gaan gebeur. God se vuur is die gloeiende kool waarmee hy Jesaja se lippe in Jesaja 6:11 aangeraak het, sodat sy sondes versoen kan raak en sy oortredinge vergewe kan word.

God se tong van vuur is ook ’n tong van vuur wat die oortredinge en sondes in my eie lewe en reinig. Maar God se tong van vuur kan nie anders as om oor die evangelie te praat nie. God se tong van vuur kan nie anders as om mense aan die brand te probeer steek vir God se evangelie nie...

As ons na ons eie gemeente en na die vervulling van die Gees in Handelinge kyk, dan lyk dit vir ons baie ver en onbereikbaar. Want in Bospoort sukkel ons om mense te kry wat net bereid is om net Sondae – oggende mense by die deure te gaan groet. In ons Pinksterbiduur is daar twee of drie uit vyftig mense wat die vrymoedigheid het om voor ander te bid. Ons was Mighty Men toe en het die banier saam teruggebring en voor die kerk opgeslaan, maar wat het ons werklik daaraan gedoen??? Die banier was verslete voordat ons werklik by die inhoud van die banier uitgekom het, naamlik om die boodskap van God te verkondig.

Ons sal dikwels sê dat ons vir ons eie mense moet sorg... Ons sukkel om vir net een persoon in die gemeenskap op ’n gereelde basis gekookte kos te voorsien. Die haweloses wat met die Gholf iewers gaan staan en die enjinkap oopslaan sodat mense net by hulle kan stop, is vir ons ’n verleentheid... Hoeveel van ons het regtig saam met die fisiese hulp ook ’n geestelike gesprek met die mense gaan voer oor hulle saligheid?

Hoekom sukkel ons so? Hoekom is dit vir ons so moeilik om oor die Here te praat en net vir Hom oor te borrel. Ons sê so baie – “Ja maar ’n mens moet darem nie met die Bybel onder die arm loop nie... Maar as ek my Bybel reg lees, is die groot probleem dat die Bybel nie onder ons arm moet wees nie, maar in ons hart. Die profeet Esegiël het opdrag gekry om die Boekrol te eet (Eseg. 3:1-3). Dit was vir hom soet soos heuning, en hy kon nie anders as om oor die inhoud van die boekrol te praat nie...

Ons beskuldig dikwels kerke soos die Sewendedaagse Adventiste dat hulle Ou Testamentiese kerke met Ou Testamentiese leringe is. Maar uiteindelik, liewe vriend en vriendin, is ons nie baie beter daaraan toe nie. Ons glo dat die Dominee met die Heilige Gees vervul moet wees, en ons bevestig hom met handoplegging voor sy bediening. Maar van die gewone gelowige kom baie min tot sy reg. Die dominee word mos betaal om die evangelie te verkondig, en oor die Here te praat. Hoekom sal ek en jy dit doen?

Ek moes vanoggend weereens vir myself afvra: “Hoekom staan ek vanoggend hier?” Hoekom is ek op 27 Mei 2012 in Bospoort gemeente predikant? En die Here moes net weer vir my herhinner dat ek ook geroep is om die Uitstorting van die Heilige Gees, die vervulling van die Heilige Gees op ELKE gelowige af te kondig. Ek is hier om aan julle te bevestig dat die Heilige Gees vir elkeen van julle sy vervulling belowe. Ek is hier om te sorg dat die arbeiders vir die oes vermenigvuldig word. Om te sorg dat mense wat vir jare al die evangelie goed ken, opstaan en dit met ander rondom hulle deel...

Dit is wonderlik dat ons eerskomende Saterdag ’n kerk in Setlagole wat deur lidmate begin is, gaan inwy? Maar hoe lyk die res van ons prentjie? Hoe ver het ons gevorder met die groei in ons eie gemeenskap, en onder ons plaaswerkers? Hoe betrokke is ons regtig in Judea, Samaria, en tot aan die uiterstes van die aarde?

Maar dan moet ons weereens vir mekaar afvra? Hoekom is dit so moeilik??? Ek glo dat dit in die eerste plek oor die kwaliteit van ons geestelike lewens gaan. In 1 Kor 11:29-30 staan daar oor die Nagmaal: “...want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. Daarom is daar so baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf baie van julle.”

Ons moet vanoggend ook besef dat ons as gemeente nie vir die Here bruikbaar is as die tonge van die Heilige Gees se vuur ons nog nie gereining het nie. Efesiërs 5:18 sê duidelik dat ons ons nie met drank en losbandigheid moet ophou nie, maar dat ons ons met die Heilige Gees moet laat vervul. As ons harte vol van ander, verkeerde dinge in ons lewe is, dan is daar nie plek vir die Heilige Gees nie. As ek as gevolg van ’n probleem nie eers met my broer of suster praat nie, hoe op aarde gaan ek oorborrel van die Heilige Gees se getuienis in my lewe?

Maar ek glo ook dat een van die groot redes vir ons gebrek aan vrymoedigheid in die gemeente, is dat ons tevrede is met wat ons doen, en wat ons bereik. Ons dink dat ons darem beter doen as ander gemeentes... Ek onthou nog in ’n vorige gemeente hoe iemand toe sy vir ’n werk moes aansoek doen, net vir my kom sê het dat sy op haar CV gesê het dat sy by ons kerk se gemeenskapsaksie betrokke is, terwyl sy eintlik niks daarmee te doen het nie. Sy wou maar net haar gewete sus, deur dit wel te bely...

As die Heilige Gees jou vervul, en sy tong van vuur op jou bring, kan jy nie maar net ’n passasier bly nie. Dan word jy ’n soldaat, wat die Woord van die Here sonder ophou en met ywer uitdra deur jou woorde en deur jou dade, waar jy ookal kom...

AMEN!

No comments: