Preek vir Sondag 8 Julie:
Gebed voor diens:
“Here, my beker is leeg
en ek verlang dat U my weer sal vul.
Ja, Here, kom vul my!
My liefde is maar lou –
kom, Here, en maak my weer warm, vurig . . .
dat my liefde sal uitstraal na hulle naby my.
My geloof is nie sterk nie en dit wankel tog so maklik –
ek twyfel soms en ander kere sukkel ek om te vertrou.
O Here, help my. Sterk my geloof en vertroue.
Ek is arm en U is ryk –
en U het juis gekom om vir armes u genade uit te deel.
Ek is ’n sondaar, U is regverdig
en daarom bly ek aan u sy.
Ek het niks om U aan te bied nie.
Ek kan alleen maar van U ontvang.”
Daar word vertel van die koning wie se seun baie ongelukkig was... Hulle het alles geprobeer om hom gelukkig te maak, maar niks wou regtig werk nie... Op ’n dag kom daar toe ’n wyse man wat die volgende raad aan die koning gee... Die prins moes deur die land gaan en iemand soek wat waarlik gelukkig is. Dan moes hy die persoon se hemp aantrek, en dit sou hom waarlik gelukkig maak!
Die prins het toe op reis deur die land gegaan, maar niemand gevind wat werklik gelukkig is nie. Hy het toe maar op sy reis teruggedraai huis toe... Oppad huistoe op sy perd hoor hy eendag hoe iemand lustig agter ’n kraalmuur sing... Onmiddelik het hy geweet! Hierdie persoon se hemp moet hy kry!
Hallo daar! Het die prins geroep... Skielik sien hy ’n kop wat oor die muur na hom loer... “Hallo, hoe gaan dit?”, vra die vriendelike man vir die prins. “Nee goed, maar waarom sing jy so?” wou die prins weet. “Omdat ek lief is daarvoor om te sing. Eintlik is ek lief vir die lewe! Ek is so gelukkig. Die lewe is een groot lied! Antwoord die man met ’n breë glimlag.
Opgewonde vra die prins hom toe: “Ek sal graag wil hê dat by my in die paleis moet kom woon...”. Die prins het geweet... sy soektog was verby! “Dankie vir die aanbod,” het die man vriendelik geantwoord, “maar hier wil ek bly. Ek sal niks in die wêreld, selfs nie eers die paleis... ruil vir die wonderlike lewe wat ek nou het nie...”
Dit was net weer ’n bevestiging vir die prins... Hierdie man se hemp moet ek kry. Hy spring toe oor die kraalmuur, net om te sien dat die man nie ’n hemp aanhet nie! En toe hy hom daaroor vra, en toe hy hom daaroor vra, sê die man toe aan hom dat hy nie eers ’n hemp besit nie (Van Rensburg, 2000:68-69)!
Ek weet dat elkeen wat vanoggend hier sit, graag gelukkig wil wees... Op die ou end wil elkeen kan sorgeloos kan sing... want die lewe moet ’n lied wees! Maar geluk is nie daar waar ons dikwels daarvoor soek nie...
Neem nou maar die sanger en harpspeler Dawid. Hy het die reus Goliat verslaan, en die mag van die Filistyne vir eens en vir altyd geknak... Dawid is die koning wat sy tienduisende verslaan het. Hy het die ryk van Israel vir eens en vir altyd in Jerusalem gevestig.
Maar al was Dawid’n groot koning, al het hy graag gesing en musiek gemaak, en baie Psalms geskryf, was sy lewe niks maklik nie... Saul het hom selfs onder beheer van ’n bose gees met ’n spies gegooi terwyl hy besig was om op die harp te speel... Sy eie vrou Migal het hom verag. Hy is deur Saul vervolg, moes ’n kind aan die dood afstaan, en het sy boesemvriend Jonathan in ’n geveg verloor. Hy moes uit Jerusalem vlug omdat sy eie seun ’n komplot teen hom gesmee het...
Ja, die suksesvolste koning in Israel se persoonlike lewe was gekenmerk deur moeilike verhoudings. In sy eie tyd is hy nooit regtig raakgesien of waardeer vir wie hy werklik is, en vir dit wat hy vir die Here gedoen het nie... Nee, die mense om hom het dikwels hulle geluk daarin probeer vind om Dawid te verkleineer en te vertrap...
As ’n mens na die verhaal in Markus 6:1-13 kyk, dan is dit in Jesus se geval nie veel anders nie... Jesus se lewe was mooi van ver af... Op die oog af moes dit ongelooflik gewees het om soveel wonders te kon doen. Om siekes te genees. Om ’n groot skare volgelinge te hê. En tog was dit alles behalwe maanskyn en rose... Jesus se verhouding met die mense naaste aan hom was altyd baie broos.
Julle sal onthou hoe Jesus se ma en pa na hom kom soek het in die tempel toe hy 12 jaar oud was, en hoe hulle hom verwyt het oor hy met die skrifgeleerdes en die rabbis daar gesels en geredeneer het. Op ’n ander geleentheid hoor ons hoe die broers en moeder van Jesus na hom soek, terwyl hy aan almal sê: “Julle is my moeder en my broers.”
Hier in Markus 6 vind ons die ironiese verhaal van Jesus wat in sy eie omgewing, in sy eie tuisdorp nie veel wonders kon doen nie... Op die oog af sou ’n mens kon sê: “Jesus het in Nasaret misluk...” Die mense het hom erken as die seun van die timmerman Josef... Die dorpie Nasaret het uit ‘n 120 tot ‘n 160 inwoners bestaan, en mense het nie gedink dat daar uit hierdie dorpie iets goeds kon kom nie. Jesus kon daar nie veel wonders doen nie...
Ek het altyd hierdie gedeelte gelees met die gedagte in my agterkop dat Jesus nie mense kon gesond maak nie, omdat die persone wat na Jesus toe gekom het se geloof nie groot genoeg was nie. Maar dit is verseker nie die geval nie. Nee liewe vriende, mense het net nie in daardie gebied mense na Jesus toe gebring nie!
Hulle het byvoorbaat gedink... Wie is hy nou om ons te wil genees. Ons sou eerder ’n dokter uit Jerusalem, of Damaskus, of Egipte, of Athene of Rome verkies. Wat kan boetie Jesus, die seun van die arm timmerman Josef nou vir ons doen! Hy kom dan nog uit Nasaret se onderdorp uit! En so het hulle die geleentheid gemis om genesing te vind...
As dit ek en jy was wat in Jesus se skoene gestaan het, kon dit maklik die einde van ons bediening gewees het! Ons sou geredeneer het... Wat help dit dat ek die wêreld probeer red as my eie mense my nie eers aanvaar nie? As ek nie hier suksesvol is nie, gaan ek nêrens suksesvol wees nie!
Maar nie Jesus nie... Nee, liewe vriende hierdie terugslag spoor hom juis aan... Hy besef net weer opnuut hoe honger die wêreld daarbuite is, en hoe groot hulle nood is... en daarom reageer hy deur sy dissipels twee-twee uit te stuur... Hy hou nie eers met hulle ’n begrotingsvergadering nie... Hy doen nie strategiese beplanning om te bereken waarheen hulle moet gaan, en of almal daarmee gelukkig sal wees nie... Hy vra nie eers of daar dalk nie plaaslik in Nasaret van hierdie mense is wat weer besoek moet word, en mooi gevra moet word om hulle siekes vir die hom te bring nie...
Nee, liewe broer en suster, hy stuur hulle op ’n baie eenvoudige manier uit... Al wat hulle moes neem, was hulle stapstokke. Net met hulle sandale... Geen kos, geen bagasie, geen geld of ekstra klere nie. Nee, net hulle stapstokke en sandale.
Jesus gee aan hulle ’n baie eenvoudige metode. Gaan soontoe, en gaan bly waar jy ingenooi word. Maar daar waar jy verwerp word, vee die stof van jou voete af, en moenie onnodig tyd daar spandeer nie. Laat die persone aan hulle eie lot oor. Gaan aan na ’n volgende huis toe, waar julle teenwoordigheid verwelkom word...
Wat was die gevolg? Die dissipels het twee-twee uitgegaan, en aan mense vertel dat hulle hulle moet bekeer en hulle tot God moet bekeer. En vers 13 leer ons dat hulle baie duiwels uitgedryf het, en baie siek mense gesond gemaak het, terwyl hulle hulle met olyfolie salf.
Vanoggend, hier in die klein gemeente Bospoort, ons gemeente van 120 lidmate, moet ons ook vir onsself afvra: “Ken en waardeer ons Jesus vir wie Hy is? Flip Theron het ’n aangrypende stukkie geskryf in sy boekie Die somer kom saggies, met die titel: “Die Seun van Maria”. Hy sluit aan by ons teksgedeelte en gaan van die standpunt uit dat die mensdom nog steeds wonder oor wie Jesus was. Hy haal aan uit ’n Amerikaanse koerantjie wat die volgende skynlasbrief gepubliseer het: “Gesoek: Jesus van Nasaret, alias die Messias, Seun van God, Koning van die konings, Here van die here, Vors van vrede. Uiterlike voorkoms: lang hare, baard, mantel, sandale. Hy vertoef graag in agterbuurte, het ’n klomp ryk vriende. Vir sy gevaarlike boodskap is veral jong mense ontvanklik wat nog nie oorreed kon word om Hom te ignoreer nie. Hy verander mense en maak daarop aanspraak dat Hy hulle vrymaak. Waarskuwing: Hy bevind Hom nog op vrye voet.”
Die dorpmense van destyds het gedink hulle weet wie Jesus is. Hy het voor hulle oë grootgeword. Hulle ken sy familie. Maar eintlik het hulle Hom nie geken nie.
Ken jy Jesus vir wie Hy is??? Besef jy wat Hy kan doen, en hoe magtig Hy werklik is? Jesus kom dikwels as ’n onbekende mens en op ’n ongewone manier na mense toe – dink maar aan die Samaritaanse vrou by die put, terwyl Hy in die nag op water loop na sy dissipels toe, in die vorm van ’n tuinier na Maria by graf, oppad saam met die Emmausgangers, en terwyl hy kos maak aan Petrus en die ander dissipels by die meer.
Jesus maak moeite met klein gemeenskappies. Hy kon nie sy geboortedorp net oorslaan nie. Maar uiteindelik was Hy nie welkom daar nie. En dit maak juis dat hy meer en meer besef hoe nodig die wêreld daar buite sy innerlike en uiterlike genesing het. Daarom gee Hy sy dissipels die krag om duiwels te gaan uitdryf en mense gesond te gaan maak, sodat hulle in hulle getalle uiteindelik ook so groter dinge as Hy sou doen...
Liewe vriende, die Engelse spreekwoord wat lui: “Familiarity brings contempt”, was deur die eeue dikwels so waar. Die seun van die buurman word dikwels deur ons verag. Daarom is Galileo deur die kerk verban omdat hy beweer het dat die aarde om die son draai, en nie anders nie. Daarom het so baie skilders arm gesterf, terwyl hulle werke eers na hulle dood erken is vir wat dit werklik was...
As jy dus partykeer onseker voel oor dit wat jy vir die Here Jesus doen, is dit belangrik dat jy weereens besef dat jy op God moet vertrou, en nie op die reaksie van mense om jou nie. God sal in die materiële voorsien. God sal in die krag voorsien om die bose en siekte te kan oorwin. God sal voorsien in die vrymoedigheid om aan mense te verkondig dat hulle hulle moet bekeer...
Elkeen in Bospoort is ’n erfgenaam. Maar wat het ons geërf? Ons het nie in die eerste plek die kerk se naam, of die kerkgronde of die kerkgebou van Bospoort van ons voorgeslagte geërf nie. Nee, liewe vriende, ons is in die eerste plek erfgename van God se evangelie, en van die krag daarvan. Ons word geroep om dit te gaan deel...
Is die evangelie vir jou werklik die goeie nuus? Is dit vir jou sulke goeie nuus dat jy dit wil gaan deel, selfs met mense wat niks kan bydra tot ons dankoffers of ons kollekte nie? Is die goeie nuus van die evangelie iets wat jy net in die kerk deel en verkondig, of kan jy dit saam met jou op die pad neem... Glo jy dat jy alles op die pad sal vind wat jy nodig het?
Ons ken almal die Nike – kenteken en slagspreuk. Just do it! As ‘n mens in die oggend wil gaan draf, en dit is koud, of winderig, of jou lyf is moeg, dan is dit dikwels die gedagte aan Nike se slagspreek wat my help om op te staan en dit net te doen...
Waar daar in die lewe baie verskonings kan wees om nie die Here se wil te doen, en gehoorsaam te wees nie... Waar daar baie teenstand van jou familie en vriende mag wees... Kom die Here Jesus vanoggend net weer vir ons sKom die Here Jesus vanoggend net weer vir ons sê: Just do it... Do it for me! Doen dit net. Doen dit vir my! Jy sal die resultate daarvan sien!
AMEN!
“Gees van die lewende God,
wees die tuinier van my siel.
Hoe lank wag ek nou al op U
– stil – in ’n koue winter van my siel.
Maar nou, in die kragtige Naam van Jesus Christus,
waag ek om U te smeek:
Hark weg die dooie blare van die verlede.
Vergruis die harde kluite
van my weerbarstige gewoontes en groewe.
Werk diep in my siel u lewegewende Woord.
Versorg, gee water, koester my hart
totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom.”
(Richard Foster)
Bibliografie:
Van Rensburg, E. 2000. Nog 30 stories vir jong - ore. Wellington: Lux Verbi.
Orsmond, E. & Botha, J. eds. 2011. Preekstudies en liturgiese voorstelle gebasseer op die kerkjaar.
Sunday, July 8, 2012
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
Please check out my site <a href=http://www.customercarenumber.co.uk/yahoo-customer-service-contact-number/
Post a Comment