Monday, March 30, 2009

Johannes 9:24-34 Geloof uit die boks uit!

Preek gelewer te Bospoort op 29 Maart 2009.

Tema: Geloof uit die boks uit!
Skriflesing: Johannes 9:24-34

Daar word vertel van die dominee wat in die hospitaal vir die siek, ou bejaarde vrou by haar bed gestaan en bid het. Hy het onder ander gebid dat sy gesond sal word. Skielik spring sy uit die bed op, hardloop met die gang af, en roep bly uit: “Ek is genees, ek is genees!” Die dominee was verdwaas, en het kopskuddend na sy kar toe uitgestap. Toe hy by sy kar kom, kyk hy na die hemel op, en sê vir God: “Moet dit asseblief nooit weer aan my doen nie!”

Baie teoloë, predikante vandag sit God ook in ‘n boks. God word beperk tot wat ons dink Hy kan doen. God word ‘n teddiebeer-God wat ons kan liefhê, en wat ons kan troos in moeilike tye, maar God se almag om wonderwerke te kan doen word bevraagteken. God word ook geteken as ‘n God wat magteloos is om groot rampe soos die Tsunami af te weer.

In ‘n sin is die kerk van vandag vasgevang in ‘n geloof dat God vêr is, en nie by magte is om te sien wat op en onder die aarde en in die donker aangaan nie. Hierdie God wat ons skep is in ‘n sin nog minder by magte om werklik in te gryp in die mens se lewens. Ons mense van vandag is eintlik vasgevang in volstruispolitiek – As ek God nie kan sien nie, kan Hy my ook nie sien nie.

Maar weet julle, liewe vriende, om God in ‘n boks te sit, is nie ‘n nuwe ding nie. Alreeds in die Bybel se tyd sien ons hoe die Fariseërs, Skrifgeleerdes ook vir Jesus in ‘n bepaalde boks gesit het. Hierdie Fariseërs en Skrifgeleerdes het ‘n paar verkeerde en verdraaide aannames gemaak:

1. Hulle het gedink dat Jesus ‘n sondaar was, wat nie van God af kom nie.
2. Hulle het gedink dat sekere dinge net nie gedoen kan word nie.
3. Hulle het gedink dat hulle sonder sonde was, en dat net die mense om hulle sonde gehad het.
4. Hulle het gedink dat God nie na sondaars luister nie.
5. Hulle het gedink dat hulle selfgemaakte wette en reëls gelyk is aan God se wette. Hulle het gedink dat God net in die tempel en in die sinagoge bly, en dat hulle kan besluit wie na God toe mag kom, en wie nie.

In die eerste plek het die Fariseers en die Skrifgeleerdes van daardie tyd klaar ‘n beslissing oor Jesus gevel, sonder om die Bybel mooi te gaan bestudeer. Sonder om Hom ‘n kans te gee om aan hulle die Ou Testament uit te lê en aan hulle te bewys dat Hy die Messias is, die Redder wat sou kom. Daarom het hulle uit die staanspoor in vers 16 besluit: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie”. Hulle het dus nie die vermoë gehad om wyer te kyk nie, maar klaar besluit dat Jesus ‘n sondaar is.

Verder het die Fariseërs ook gedink dat daar sekere dinge is wat net onmoontlik is. Die blinde man sê self aan hulle in vers 32: “Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie.” Dit is interessant dat die mense aanvanklik gedink het dat hierdie man na sy genesing maar net iemand was wat soos die blinde gelyk het (vs. 9), en die Fariseërs het selfs die ouers geroep om seker te maak dat dit hulle seun was wat genees is (vs. 19).

In die derde plek het die Fariseërs oogklappe opgehad, en was dit nie vir hulle moontlik om hulle eie sonde raak te sien nie. Hulle het graag ook die balk in ander se oë raakgesien, en kon nie na hulle luister nie. Hulle het nie net vir Jesus as ‘n sondaar uitgeskel nie, maar ook aangeneem dat hierdie man vanweë sy sonde blindgebore was. Sonder gronde sê hulle aan hom in vers 34: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”

Die Fariseërs het verder ook geglo dat God nie na sondaars se gebede luister nie. Na aanleiding van Jesaja 1:15 het hulle aangeneem dat God sy oë toemaak vir sondaaars. “15 As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.” Hulle het gerieflikerwys vergeet van al die uitnodingings wat die Here ook in die Ou Testament gerig het om hulle te bekeer, en tot Hom as die ware God te bid. Juis hieroor het Jesus ook nodig gehad om die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18:10-13 te vertel.

In die laaste plek het die Fariseërs en die Skrifgeleerdes hulle eie wette gemaak, en dit dan gelykgestel met God se wette. Hulle het maklik mense uit die sinagoge geban as hulle gedink het dat so ‘n persoon die wet oortree het. In die geval van hierdie blinde man was hulle baie meer ontsteld oor die feit dat die blinde man op die sabbatdag gesond gemaak is, as wat hulle bly was oor die feit dat wonderwerk plaasgevind het – dat ‘n blinde man weer kon sien!

Liewe vriende, ons kan maklik by onsself dink... Hierdie Fariseërs en tollenaars is darem nare mense! Hulle is net ingestel op hulle eie lewens, en laat nie regtig die Drie-Enige God in hulle godsdiens toe nie. Maar eintlik gebeur dieselfde maar in die kerk van vandag...

Is daar nie al hoe meer mense wat beweer dat Jesus net ‘n gewone sondaar was, dat hy ‘n wynsuiper was, en dat hy ‘n buite-egtelike verhouding met Maria Magdalena gehad het nie? Is daar al hoe minder en minder mense wat nog glo dat God wel wonderwerke kan doen, en dat dit help om tot God te bid nie? Kry ons nie al hoe meer hoogmoediges in die kerk wat sukkel om die balk in hulle eie oë raak te sien, maar graag praat oor die splinter in ander se oë nie?

Is dit nie so dat ons so dikwels ander se gebede in ons harte oordeel omdat ons glo dat hulle inhirent sondaars is nie. Sê ons nie maklik vir onsself en vir mekaar: “Daardie ouderling bid so mooi in die kerk, maar kyk hoe tree hy in die week op nie?” Is dit nie so dat ons dikwels ander deur ons optrede uit die kerk uitban, en ons eie reëls maak, terwyl die kerk eintlik oop deure moet hê nie?

Liewe vriende, liewe medegelowiges, ons leef in tye waarin ons uitgedaag word om uit die boks te glo... Ons moet weer vir onsself gaan vra wat geloof werklik beteken, en of ons nie uiteindelik dalk so dikwels soos die Fariseërs dink en doen nie, of ons nie uiteindelik eerder instrumente in Satan se hand is, eerder as instrumente in God se hand nie?

Maar ons moet ook hier in die lydenstyd weet dat ‘n ware keuse vir die Here Jesus ook lyding van ons gaan vra. Dat ‘n keuse vir onvoorwaardelike volgelingskap van die Here Jesus gaan beteken dat ons uitgesluit gaan voel. Dat ons gekritiseer gaan word as ons oë oopgaan en as ons voluit vir die Here Jesus lewe, en nie meer met al die mensgemaakte tradisies en wette in die kerk saamloop nie... Maar ons moet weet dat hierdie pad uiteindelik die pad is wat tot ware bevryding, en ware godsdiens kan lei. Wat kan maak dat die oogklappe van ons oë afval, en dat ons iets begin sien van wie en wat God werklik vir ons is en wil wees.

Ek wil afsluit... Almal van julle ken seker die verhaal van Pandora se boks. Dit is die verhaal van ‘n vreeslik wrede koning, met die naam Bloubaard, wat met prinses Pandora getroud was. Koning Bloubaard het ‘n boksie gehad, en hy het altyd vir Pandora laat belowe dat sy nooit die boksie sal oopmaak nie. Maar Pandora se nuuskierigheid het eendag die oorhand gekry terwyl hy weg was op ‘n reis, en sy het die boksie oopgemaak... Voor sy kon keer, het ‘n klomp duiweltjies uit die boksie uitgevlieg.

Toe sy die boksie toekry, hoor sy een klein stemmetjie wat vir haar sê: “Ek is die goeie fee, en jy het al die ander duiweltjies uitgelaat... As jy my nie ook vrylaat nie, gaan hulle doen wat hulle wil, en die wêreld sal totaal oorgegee wees aan hulle. Laat my ook vry, want dit is die enigste manier om te keer dat al die duiweltjies maak soos hulle wil.

Liewe vriende, al is Pandora se verhaal net ‘n sprokie, weet ons dat dit baie keer in die kerk waar is. Terwyl die duiwel los is daar buite, en soos ‘n brullende leeu rondloop en kyk wie hy kan verslind, hou ons mekaar in bokse opgesluit, bly ons beperkend dink en glo, en keer ons dat die Here se evangelie regtig kan vlamvat en mense se harte begin verander!

Kom ons bid vanoggend saam, en ons vra ook van die Here dat Hy ons oë op hierdie Sabbat, op hierdie Sondag so sal oopmaak dat ons waarlik tot Sy eer sal kan lewe. Dat ons waarlik sal besef dat Jesus aarde toe gekom het, en ‘n sondelose mens was om ons sondes te kom betaal. Dat ons werklik sal besef wat die Here by magte is om te doen, dat ons die sonde in ons eie lewe sal raaksien, en weet dat God na die gebed van ‘n eerlike sondaar luister. Dat ons werlik nuut oor al die randeiers in die samelewing om ons sal dink, en die kerk se deure vir hulle sal oopgooi!

AMEN!

Galasiërs 3:1-14

Preek gelewer op 22 Maart te Bospoort.

Daar word vertel van ‘n groot siekte wat op ‘n stadium onder perde in die hele Europa uitgebreek het. Baie perde is dood, en veeartse het dag en nag koppe gekrap oor hoe om hierdie siekte te kan genees. Uiteindelik vind hulle toe ‘n perd wat wel aan die siekte blootgestel is, maar nie gesterf het nie.

Hierdie perd het natuurlike teenliggaampies teen die siekte ontwikkel. Die veeartse kon deur die perd dood te maak genoeg bloed kry om die ander perde in te ent en te red. Maar die enigste problem met hierdie perd, was dat dit ‘n kampioenperd was. Dit was ‘n groot besluit om te neem… Maar uiteindelik het hulle besluit om hierdie perd dood te maak, sodat al die ander perde kon lewe. Die eienaar van die perd was bereid om die kampioenperd op te offer ter wille van al die ander perde.

Weet julle, liewe jongmense, hier in die Bybel, in Galasiërs 3, lees ons ook van ‘n tragiese siekte onder die mensdom. Dit is nie HIV/AIDS, of kanker, of malaria nie, maar wel die siekte van sonde en rebelsheid. Hierdie siekte het al voor die skepping begin, toe God se hoofengel, Lucifer, (wat beteken “Engel van lig”), besluit het dat hy nie tevrede was om net die hoofengel te wees nie. Hy wou God self wees…

En so het dit gebeur dat Lucifer in opstand gekom het teen God, en dat God die stryd gewen het. God het hom toe uit die hemel uitgegooi op die aarde. Julle kan gerus in Openbaring 12 gaan lees van hierdie geveg tussen God en Lucifer.

En van toe af maats, was niks meer dieselfde nie. Nadat God vir Adam en Eva gemaak het, het hierdie eindste Lucifer na die Paradys gegaan, en vir Adam en Eva ook vertel dat hulle net so sterk en slim soos God kan wees. Eva het ook ‘n rebel geword, en van die vrugte geëet. En so het Adam gevolg, en hulle seun Kain, en almal is deur hierdie siekte, hierdie rebelsheid teen God geraak.

God het gesien dat hierdie siekte van rebelsheid besig is om hand uit te ruk, en het besluit om Sy 10 gebooie aan sy volk te gee. Maar julle weet dat dit nie regtig gehelp het nie, want selfs Moses, wat die gebooie vir die volk gebring het, het al 10 gebooie gelyk gebreek toe hy sien hoe die volk besig is om die goue kalf te aanbid…

God het selfs gesê dat daar ‘n vloek rus op elkeen wat nie sy Wet gehoorsaam nie. Maar dit het die Israeliete nie gekeer nie. Ja, die siekte het al hoe meer versprei, en God het gesien hoe sy kinders verder en verder van hom af wegdryf. Hoe vervloeking op sy kinders al groter en groter word.

Ek wonder wie van julle weet hoe voel dit om gevloek te word. Dis nooit lekker as iemand jou vloek nie, nê? Ons sê partykeer dat iemand ‘n maatjie so gevloek het dat die see hom nie sal kan afwas nie. Dalk het iemand jou ook al so gevloek. Of nog erger. Dalk het jy al gehoor van iemand wat ‘n “spell” of ‘n slegte towerspreuk op iemand gesit het. Julle het dalk al gehoor van “voodoo” poppies waarmee iemand ‘n vloek op iemand anders se lewe kan sit.

Dit moet darem niks lekker wees om so te lewe nie, nê. So iemand is die heeltyd bang vir die slegte dinge wat met hom kan gebeur... Hy wonder wanneer hierdie vloek wat iemand op hom gesit het, gaan waar word in sy lewe...

In Galasiërs 3 lees ons dat ons eintlik onsself elke dag onder ‘n vloek plaas. Ja, elke keer wat ons rebels en ongehoorsaam is teenoor die Here, dan sit ons’n ekstra vloek op ons lewe. Dan neem ons besluite wat vir seker slegte gevolge later in ons lewens gaan hê. Al lyk dit vir ons soos pret en plesier, om ‘n verkeerde ding te doen, gaan dit vir seker slegte gevolge in ons lewens vorentoe hê.

Maar wat het God gedoen toe Hy sien dat hierdie siekte, hierdie rebelsheid besig is om handuit te ruk... Hy het ‘n klomp profete gestuur om met die mense te praat... Maar hulle wou nog steeds nie luister nie. En uiteindelik besluit Hy toe maar om Sy eie Seun, Jesus Christus na hulle toe te stuur. Ja, Jesus, wat die Seun van God was, het soos die kampioenperd gesterf, sodat ons kan lewe, en van die siekte van rebelsheid genees kan word.

Jesus het volkome mens kom word op die aarde. Hy het vir ons kom wys hoe om regtig te lééf. Hy was nie ‘n rebel nie, maar uiteindelik ‘n slaaf, ‘n ware dienskneg, wat Sy lewe vir ons kom opoffer het.

Daar in Galasiërs 3:13 staan daar: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word... Ja, liewe maats, deur Jesus se liefde hoef ons nie meer in vrees te lewe nie. Ons hoef nie meer elke dag te vrees dat die vloek van die sonde ons gaan tref nie.

Baiekeer as mense nie kan slaap nie, dan spot ander en sê: “Jy het seker êrens iemand doodgery, dat dit jou agtervolg.” Elkeen van ons het dinge wat ons agtervolg, waarvoor ons vrees as dit alles op die lappe moet kom. Ons sien al hoe meer vreeslike onthullings oor ons sporthelde se lewens in die Huisgenoot en die koerante.

Maar weet julle, liewe maats, as Jesus in jou plek kom sterf, dan kom vergewe hy alles wat jy reeds gedoen het. Hy kom neem daardie vervloekings in jou lewe van jou af weg, en maak jou vry van die las wat op jou skouers is. Hy kom gee aan ons ‘n volkome, nuwe lewe.

Weet julle, maats, ek was ook ‘n rebel. Al het ek in ‘n predikantshuis grootgeword, het ek ook partykeer my humeur sleg verloor. Ek weet nog van ‘n gat agter in die pastorie op Potchefstroom se kombuisdeur wat ek geslaan het toe ek eenkeer teen my ma in opstand gekom het. Maar die Here Jesus het aan my kom wys dat Hy ook in my plek kom sterf het, en die prys vir my kom betaal het… En daarom is ek vandag nie meer ‘n rebel nie, maar ‘n soldaat in Sy koninkryk.

Hoe lyk jou lewe vanoggend? Gaan jy ook gebuk onder ‘n klomp dinge wat jy al gedoen het, waaroor jy spyt is... waarvan jy die gevolge vrees? Die Here Jesus kom nooi jou vanoggend uit... Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is... Ek gee ware rus! Kom ons luister na hierdie lied, en ons werp ons self in Jesus se arms. Hy het mos ons juk op Hom kom neem, en wil graag vir jou ‘n nuwe sagte juk gee.

AMEN!

Skrifgedeelte: Esegiël 37:1-11 God maak die onmoontlike moontlik!

Preek gelewer op 15 Maart 2009 in Bospoort gemeente.

Voorsang:
Lied 163 (2*) Soos ‘n Wildsbok.
Lied 202:1-3 Prys Hom die Hemelvors!
Lied 203:1-3 Loof die Here al wat lewe!

Lofsang:
Lied 390:1-4 Ons kniel hier voor U voete neer…

Na Wet:
Lied 241:1-3 Troue Here van my Lewe

Slotsang:
Lied 415:1-3 Jesus leef, en ons met Hom.

Alreeds so vroeg as 1970 het Alvin Toffler ‘n opskudding in die wêreld veroorsaak met sy boek “Future Shock”. In hierdie boek praat hy van die wêreld as ‘n “disposable society”, of ‘n ”weggooibare gemeenskap.” Toffler praat in hierdie boek daarvan dat ‘n mens net in ‘n omgewing leef waarin alles gemaak word om net ‘n kort tydjie te hou, en dan daarna weggegooi te word. Hy verwys na weggooidoeke, weggooi-skeermesse, weggooi sigaretaanstekers, weggooi-tandeborsels, en so kan ‘n mens aangaan. Hy het voorspel dat die aarde later ‘n groot rommelhoop gaan word as dit so aangaan.

Toffler was nie ver verkeerd nie. Die wêreld sit vandag met ‘n vuilgoedprobleem. Daar word bereken dat die weggooidoeke wat een baba gebruik tydens sy eerste 3 jaar ‘n rugbyveld sal volmaak. Daar word ook gesê dat al ons vuilgoed bydra tot die probleem van aardverwarming. Maar hierdie “vuilgoedprobleem” is nie net op die aarde ‘n probleem nie. Ons het onlangs gehoor van 2 sateliete wat met mekaar gebots het.
Selfs net bo die aarde se atmosfeer is daar ‘n groot aantal ou sateliete en ruimterommel wat besig is om om die aarde te wentel.

Julle kan miskien vanoggend vir my vra: “Maar wat het hierdie rommelprobleem met ons te doen? Ons het mos nie ‘n probleem nie. Ons leef hier in die platteland waar spasie en ashope nie so ‘n groot probleem is nie. Ja, ons weet dat aardverwarming ons beïnvloed, maar verder raak die dinge ons nie so erg nie. Maar die eintlike probleem met ons “weggooibare gemeenskap” van vandag is die feit dat soveel mense ook op die ashoop beland. Alhoewel alles sefs vanoggend hier in die erediens normaal en mooi mag lyk, is daar selfs mense hier wat soos ashoopmense mag voel – mense wat deur ander net uitgestoot is, omdat hulle volgens ander nie bruikbaar is in die samelewing nie. Mense wat doodgegaan het aan die binnekant, omdat hulle voel dat hulle niks meer het om voor te leef nie.

En juis daarom, liewe vriende, glo ek dat Esegiël 37 weer vir ons ‘n kraakvars boodskap het vanoggend. Want ek glo dat God se bemoeienis met die hoop geraamtes in die laagte ook iets vir ons vertel van Sy bemoeienis met Bospoort gemeente, en die kerk van vandag...

Esegiël 37 kom skets die prentjie van ‘n laagte vol doodsbeendere. Daar word uitdruklik genoem dat hierdie geraamtes al jare lank in son en wind lê, en dat die geraamtes al kurkdroog is... En dan vra die Here in vers 3 die ongemaklike vraag vir Esegiël: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Esegiël het hierdie vraag baie versigtig geantwoord: Alhoewel hy nie veel hoop gehad het nie, sê hy vir die Here: “Nee, dit weet net U, Here my God!

Elkeen van ons word dikwels gekonfronteer met situasies in ons lewe waar ons wonder of ons nog verder ‘n pad met ‘n sekere persoon in ons lewe moet stap... Ons besluit dikwels dat so ‘n persoon by heelmaak verby is... Dat dit maar net beter is as ons hom of haar geheel en al van die gemeenskap afsny... Ons besluit hierdie dinge dikwels sonder om eers met God te praat... Sonder om eers werklik te gaan besin oor wat die Here se wil in so ‘n situasie is.

Richard Armstrong skryf in sy boek “Service Evangelism” dat ons dikwels net vriende word met mense om hulle te bekeer. Wanneer dit dat nie gou genoeg na ons sin gebeur nie, gooi ons hulle net weer op die ashoop, en gaan soek na ander. En so skep ons by hulle nog ‘n groter afkeer aan die kerk en gelowiges... Die ware antwoord of ‘n persoon by genesing verby is, lê uiteindelik net by die Here. Ons mag nie opgee tensy ons duidelik by die Here daardie leiding gekry het nie...

Ons is terug by God en die droë bene in die laagte. Teen ons verwagting in doen God nie net die wonderwerk van Sy kant af nie. God swaai nie net die towerstaffie vir hierdie bene om weer lewendig te word nie... Nee, liewe vriende, God beveel Esegiël om oor die bene te profeteer. Hy moet aan die bene sê: Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle:
“Hoor die woord van die Here, droë bene! 5 So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6 Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”
Ek kan al sien hoe kyk Esegiël in sy visioen rondom hom... Is daar dalk iemand wat hom sien. Hoe sal die mense nie vir hom lag as hy teenoor hierdie droë bene profeteer nie! Hoe sal die mense nie vir my lag as ek vir hierdie droë bene staan en preek nie! As ek boonop nog vir hulle sê: “Hoor die Woord van die Here, droë bene!” Wat is die kans dat hulle sal luister? Wat is die kans dat hulle gaan lewe?

Maar Esegiël gehoorsaam tog... Teen sy gesonde menslike verstand in gaan profeteer hy vir hierdie bene, en vertel aan hulle wat die Here met hulle gaan doen... Dat die Here vir hulle senings en vleis gaan aansit, hulle met vel gaan oortrek, en dan Sy gees in hulle gaan sit sodat hulle kan lewe. Dat die Here sy grootheid sal wys, sodat hulle sal kan besef wie Hy werklik is...

En dan gebeur die wonder... die bene begin een vir een na mekaar beweeg, elkeen na die deel toe wat by hom pas. Die senings en die vleis kom bymekaar, en die bene kry ‘n vel om... Maar die liggame was nog steeds leweloos... Uiteindelik beveel God Esegiël om met die Gees te praat, en die Gees te vra om lewe in die dooies te blaas! En so sien ons dat die dooie beendere in die laer ‘n menigte word... ‘n Menigte wat God prys en besef dat Hy die Here is... Dat Hy die ware Skepper en vernuwer... Dat Hy die een is wat kan opwek tot die lewe...

Maar die Here hou nie by die visioen op nie... Hierdie boodskap is vir Hom so belangrik, dat Hy die betekenis daarvan woord vir woord vir Esegiël uitspel... Hy kom verduidelik aan hom dat hierdie beendere op Israel dui, wat dood was, maar wat weer lewend gemaak sal word. Dat Israel wie se bene uitgedroog het, wat hoop verloor het, wat sê: Dit is klaar met ons!, die belofte kry dat die grafte sal oopgaan, en dat hulle sal lewe! Dat hulle hulle land sal terugkry, en dat hulle God se Gees oor hulle sal kry, en in die land sal woon. Dat hulle werklik sal besef dat God die Here is.

Die Here sluit hierdie gedeelte af met die besliste woorde: “Ek het dit gesê en ek sal dit doen!”. Liewe vriende, die Here is beslis oor dit wat Hy wil doen, en hy sal dit ook doen. Met Jesus se sterwe het die grafte in Jerusalem oopgegaan, en die Gees is oor daardie mense uitgestort na sy Hemelvaart. God het van die droë bene lewende mense gemaak! Mense wat die Here voluit loof en prys!

Maar die visioen van Esegiël is nog nie verby nie... Dis nog nie totaal uitgespeel nie... Ook vandag is daar kurkdroë beendere rondom ons... Ook vandag is daar mense wat geen hoop meer het nie... Mense wat sê: “Dit is klaar met ons!”. Mense wat los rondgestrooi lê, sonder dat hulle êrens inpas... Ja, God kom ook vanoggend na hulle toe... God kom hulle aanraak, sodat hulle ook kan getuig... God het ons lewend gemaak! Hy het sy Gees oor ons laat kom. Al gebeur dit dat ons dikwels oor die droë bene in die laagte loop, sonder om te gewaar watter menigte om ons dood lê, kom die Here ons weer herhinner aan Sy belofte. Hy wil dit doen, en Hy sal dit ook doen. Hy sal aan ons die land gee, die Ewige Lewe by God die Vader.

Ek sluit af... Daar word vertel van ‘n evangelis wat eendag by ‘n boer gaan vra het om ‘n donasie vir die sending... Die boer het na sy kamer toe gestap, en aan hom ‘n rewolwer gegee... Hy het aan Hom gesê: “Vat hierdie rewolwer en skiet almal wat tot bekering kom dadelik dood, want dit is die enigste manier waarop hulle in die hemel gaan kom... Hulle gaan na hulle bekering in elk geval weer afdwaal.

Liewe gemeente, soos ‘n Jona van ouds is ons dikwels geneig om ander om ons af te skryf. Ons glo so maklik hulle is by genesing verby. Maar ons doen dit dikwels sonder dat ons met hulle Skepper, met God oor hulle gepraat het. Ons doen dit sonder dat ons gebid het dat hulle werklik by ander bene, by ander ledemate sal kan inpas. Ons doen dit sonder dat ons gevra het dat die Here ons met senings aan mekaar bind, en werklik vleis en vel oor ons trek. Sonder dat ons vashou aan sy belofte om ons sy Gees te gee, en aan ons die Ewige Lewe te gee...

Kom ons wees ook tydens hierdie Paasfees die draers van ‘n nuwe hoop in ‘n stukende wêreld. ‘n Hoop dat die Here wel sal antwoord, en ‘n wonderwerk sal doen. Dat die Here weer splinternuwe lewe in dooie situasies sal skep...

AMEN.

Saturday, March 7, 2009

Matt. 4:1-11 - Preek gelewer op 8 Maart 2009 uit

Skriflesing: Matt 4:1-11

C.K. Chesterton het ‘n speurverhaal geskryf met die naam “die hamer van God”. In hierdie verhaal gaan dit oor ‘n skurk wat op die markplein van die dorpie dood lê, met ‘n wond op sy kop en ‘n klein hamertjie langs hom. Vader Brown moes die moord kom ondersoek. Almal het gedink dat dit die hoefsmid was wat die moord gepleeg het.

Uiteindelik word die plaaslike predikant as die moordenaar aangewys. Die skurk was die predikant se broer. Die predikant was besig om met ‘n klein hamertjie die dak van die katedraal, of die kerk reg te maak, toe hy van bo af sy broer op die markplein sien. Toe hy na sy broer van bo af kyk, het so ‘n gevoel van woede oor sy broer se sonde hom oorweldig, dat Hy hom met die klein hamertjie van bo af gegooi het, en van bo af het die hamer teen so ‘n spoed op sy broer afgepyl, dat dit hom gedood het.

Wanneer Vader Brown tot die slotsom kom dat dit die predikant is, sê hy dat kerktorings eintlik bedoel is om na God te wys, maar dat mense dit gebruik om uit die hoogte op hulle medemens neer te kyk. Ek glo dat elkeen van ons dikwels uit die kerk na ander om ons neerkyk, en dink dat ons beter as hulle is.

Waar ons vanoggend in die derde week van lydenstyd is, d.w.s die tyd waarin ons daaraan dink dat Jesus vir ons gely en gesterf het, is dit nodig dat ons ook gaan kyk na Jesus se lyding terwyl Hy op aarde was. Na die manier waarop Hy voorberei is vir sy leiding op die kruis. Anders as wat ons dikwels dink, was Jesus nie sommer ‘n perfekte volmaakte mens met sy geboorte nie...

In Hebreërs 2:9-10 sien ons hoe Jesus ook deur ‘n proses moes gaan om volmaaktheid te bereik, om op die ou end tot die stap van sy selfopoffering aan die kruis te kom... Die skrywer van Hebreërs beskryf dit as volg: “9 Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ‘n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.
10 God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie as sy kinders tot heerlikheid lei. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring.”

Net na sy doop deur Johannes, waar Jesus deur sy Vader as Seun bevestig en uitgewys is, waar Jesus die Heilige Gees ontvang het, sien ons hoe Jesus ook na die woestyn gaan vir hierdie proses van voorbereiding... Jesus word vir veertig dae getoets deur ‘n proses van vas en gebed tot sy Hemelse Vader...

En dan sien ons hoe die Satan, die duiwel, as die toppunt van hierdie versoeking vir Jesus nader op die laaste dag van sy vasperiode, toe sy wilskrag op sy swakste was. Satan het geweet op watter areas van sy lewe Jesus as mens die kwesbaarste was, en probeer juis daardeur om hom onder te kry. Hy probeer juis menslike swakpunte gebruik om Jesus oppad na die kruis te ontspoor, sodat Hy sonde kan doen, en nie meer vir ons sondes hoef te sterf nie...

In die eerste plek sien ons hier hoe Satan die menslike drang na onafhanklikheid gebruik om Jesus tot ‘n val te probeer bring. In plaas van om gehoorsaam aan sy Vader net nog ‘n paar ure met die vas te kan uithou, daag Satan Jesus uit om die klippe in brood te verander. In die plek van ‘n gesprek met sy Vader word Jesus versoek om eerder van die sigbare tasbare brood te eet. Om nie te wag dat die Vader hom voed nie, maar sy wonderwerkende krag te gebruik om vir homself brood te maak.

Die tweede menslike swakpunt wat Satan in sy versoeking van Jesus gebruik, is die versoeking om in die kalklig te wees... Satan neem Jesus na die tempel toe, en daag hom uit om van die tempel se dak af te spring. Satan gebruik selfs ‘n aanhaling uit die Bybel, en sê aan Jesus dat die engele Hom op die hande sal dra sodat Hy nie sy voet teen ‘n klip sal stamp nie. Ja, hier aan die begin van sy bediening word Jesus voor die versoeking gestel om die wonderwerke wat Hy kan doen, tot sy eie eer te gebruik. Om die kalklig te steel, in plaas daarvan om aan sy Vader al die eer te gee.

In die derde plek word plaas Satan seker die grootste versoeking voor Jesus, naamlik die versoeking van mag en oorheersing. Ja, Satan neem vir Jesus na ‘n hoë berg, en belowe aan hom die koningskap van al die koninkryke van die aarde indien Hy hom wat Satan is aanbid. Hy kom bied aan Jesus die mag en gesag oor die hele wêreld... Hy kom bied aan Jesus die status en belangrikheid van ‘n wêreldkoning, ‘n status wat nog meer is as die van Barack Obama, of die president van die Verenigde nasies organisasie.

Weet julle, liewe vriende, dat die Satan vandag nog hierdie drie versoekings met groot sukses gebruik? In die naam van finansiële onafhanklikheid verkoop mense nog daagliks hulle siele en hulle integriteit. Hoe dom dit mag klink, verkies mense eerder om vir hulleself te sorg, as om vir God te vra om vir hulle te sorg. Ek het ‘n oom geken wat reguit gesê het dat hy nie vir sy kos bid nie, want hy het mos self daarvoor gewerk!!!

Die Satan verlei nog steeds vandag se mense met ‘n soeke na die kalklig. Dit is vir ons lekker om raakgesien te word. Dit is vir ons lekker as ander vir ons hande klap. En daarom val ons maklik vir die versoeking om in kompetisie met mekaar te verval, en alles groter, beter, en aanskouliker as ons buurman te kan doen. Daarom probeer ons mekaar beïndruk met ons kennis, ons rykdom, of ons fisiese voorkoms.

Die Satan verlei vandag nog steeds mense met ‘n soeke na status en mag. Ja, liewe vriende, dit bly vir ons lekker om te voel dat ons belangriker is as hulle om ons. Dat ons om een of ander rede vir mense ‘n punt kan wys. Dat ons selfs hoog op die kerktoring oor ander om ons kan oordeel, en hamers op hulle kan afgooi...
Hier waar ons vanoggend kerkraadslede gaan bevestig en herbevestig, is dit net so belangrik dat ook elkeen in ‘n leiersposisie nie onverhoeds deur die duiwel se toertjies gevang word nie... Elkeeen in ‘n leiersposisie moet ook weet dat die duiwel hom nie gaan los nie. Die duiwel gaan ons probeer wysmaak dat ons onafhanklik en los van die Here kan lewe... Dat ons nie nodig het om ons Bybelte lees en te bid nie.

Die duiwel gaan ons probeer wysmaak dat ons die kat se snor is. Dat ons spoggeriger, meer beeldskoon, sterker en slimmer is as ons mede-aardbewoners. Hy gaan ook julle as leiers probeer verlei met die versoeking om as’t ware mense en lidmate soos marionette te hanteer, waar ons net die toutjies trek, en mense se lewens regeer en domineer.

Maar juis daarom is dit noodsaaklik dat ons vanoggend die drie antwoorde wat Jesus aan die Satan gegee het, elke dag onthou wanneer ons versoek word. Ons moet onthou dat ons nie “net van brood lewe nie, maar van elke Woord wat uit die mond van God kom.” Van die grootste miljoenêrs in die lewe is kinderlik ongelukkig omdat hulle al die brood kan koop wat hulle wil hê, maar nog steeds die Lewende Brood van God mis.

Ons moet ook onthou dat ons “God nie op proef mag stel nie.” As daar ‘n rivier vol krokodille is, kan ons nie maar vir God vra om die krokodille se bekke te sluit, omdat ons nou warm kry, en wil swem nie. Ons kan nie ons lewe op die proef stel met waaghalsige toertjies, of aan duiwelse dinge deelneem, of selfs na pornografie kyk, en verwag dat die Here ons maar net moet beskerm nie. Nee, juis as leiers moet ons verantwoordelik optree, en nie die Here op die proef stel nie.

Maar bo alles moet ons besef dat geestelike leierskap altyd totale onderdanigheid en gehoorsaamheid aan God beteken. Die Satan se aanbod aan Jesus was uiteindelik ‘n baie slegte ooreenkoms. Want al sou Jesus die koningskap oor die wêreld besit, sou dit beteken dat hy voor die Satan gekniel het. Dat hy die Satan as sy heerser en koning erken het... Dat hy sy siel aan Satan sou verkoop. Daarom kom herhinner Jesus ons weer vanoggend: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

Ek sluit af. Iemand het onlangs gesê: “Ons is baie lief om na iemand te verwys as ‘n ‘groot Christen’. Daar is nie iets soos ‘n ‘groot Christen nie. Die enigste ‘groot Christen’ is ‘n Christen wat te veel eet.” Daarvoor sal ek dalk kwalifiseer... Dwight Moody, die bekende evangelis het eendag by ‘n dronkie in die straat verbygestap en gesê: “There lie I, but for the Grace of God.”

Die kaptein van ‘n slaweskip, John Newton, wat dramaties tot bekering gekom het en bygedra het tot die afskaffing van slawehandel, het by sy sterfbed gesê: “My verstand is byna weg, maar ek onthou twee dinge: Dat ek ‘n groot sondaar is, en dat Christus ‘n groot Verlosser is!”

Kom ons elkeen erken vanoggend voor die Here dat Hy alleen Here en Koning is, en dat ons net van Hom afhanklik is. Kom ons vra aan Hom dat Hy ons werklik sal dra en lei om afhanklik, nederig, en gehoorsaam te bly in alles wat ons doen.

AMEN!