Sunday, December 6, 2009
Rom 6:1-14 Waarlik skoongewas!
Voorsang:
FLAM 107 Borrelliedjie
Ek is ‘n huis
God hou van kindertjies
Liedboek 349 Kom kinders besing met ‘n vrolike stem
Koning van my hart
Lofsang:
Lied 357:1-3 ‘n Kindjie is gebore, in Betlehem se stal.
Na Wet:
Lied 538:1-3: Heer Jesus U was self ‘n kind.
By inbring van die kinders: Jesus roep die kindertjies
Lied 294:1
Na die doop:
Lied 294:2-3
Slotsang:
Lied 290:1-4 Dit is my troos dat ek gedoop is.
Boodskap:
My ma hulle vertel my dat ek kleintyd ‘n kombersie gehad het, wat ek orals met my saamgedra het. Ek het hierdie kombersie tot in die wasmasjien gevolg, en wanneer die wasmasjien aan was, het ek voor die wasmasjien gaan sit, en kyk hoe die kombersie om en om in die wasmasjien draai, totdat dit klaar gewas en gedroog was, en dan het ek weer die kombersie met my saamgesleep.
Ek is seker dat elkeen van ons ‘n kledingstuk het waarvan ons baie hou, en wat ons graag met ons saamdra. Maar dit is nie altyd goed nie. Later word hierdie kledingstuk verweer en vol gate, maar omdat dit so lekker dra, gooi ons dit moeilik weg. Ek onthou altyd hoe my pa altyd na die ou klere verkopings toe gehaas het daar in Potchefstroom, en eers van die ou klere wat my ma weggegooi het weer gaan haal het. Want daar was veral so ‘n rooi trui, wat al vol gate en gehawend was, maar wat hy baie graag gedra het.
Maar weet julle liewe vriende, dat die sonde dit dikwels regkry om so ‘n houvas op ons lewens te kry. Al weet ons dat dit nie goed aan ons lyk nie, sukkel ons om dit te los, en bly ons die sonde aantrek. Al sou iemand vir ons sê dat dit nie mooi lyk nie, dan gaan ons voort om dit te dra. Die ou mense het byvoorbeeld gesê dat iemand wat jaloers is die geel baadjie aantrek. Al weet ons dit is verkeerd, hou ons graag aan die jaloesie in ons lewe vas.
So lees ons in Genesis 4:7 dat die Here vir Kain herhaaldelik gewaarsku het oor sy geel baadjie, oor sy jaloesie. Die Here het vir Kain gesê: “As jy weier om reg te doen, moet jy oppas, Sonde sit reg by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.” En Kain het hom toe nie aan die Here gesteur nie! Hy het jaloers gebly, en selfs sy broer Kain doodgeslaan! Ons trek baie moeilik die lelike of die vuil klere in ons lewe uit, selfs al word ons gewaarsku daarteen.
Ek is seker baie van julle kinders het al agter die deur gesit om iemand onverwags skrik te maak. As ons nie die heeltyd versigtig is vir die sonde nie, gaan dit ons onverhoeds betrap, en maak dat ons dinge doen wat ons nie veronderstel is om te doen nie. Ons word met sonde gebore, en dit maak dat alle mense partykeer stout is en dinge doen wat hulle nie wil doen nie, maar doen omdat hulle slawe is van die sonde.
Weet julle kinders wat is ‘n slaaf? ‘n Slaaf is iemand wat deur iemand anders gekoop is, en aan ‘n kwaai baas behoort. Hierdie baas maak sy lewe swaar en ongelukkig. Al lyk dit miskien lekker as ‘n baas vir jou sorg en vir jou kos gee, is dit niks lekker om ‘n slaaf te wees nie. Want jy het geen vryheid nie. Jy moet net doen wat diebaas vir jou sê, en jy moet op die ou end baie hard werk vir ‘n klein beloninkie.
En weet julle wat die slegste ding van slaaf – wees is? Jou kinders is ook slawe. Ja, as jy ‘n slaaf is en aan iemand behoort, dan beteken dit dat al jou kinders nie eintlik jou eie is nie, maar aan iemand anders behoort. En so is dit ook met ons mense. Adam en Eva het daar in die paradys besluit om vir die Duiwel, vir die slag te luister, en eerder slawe van die Duiwel te wees as slawe van God. En van daardie tyd af tot vandag toe, word mense as slawe van die Duiwel gebore. Ja, alle mense doen van die begin af sonde, en behoort aan die Satan.
God het sy wet aan die mense gegee, en probeer om hulle so gehoorsaam te maak. Maar deur die Wet, deur die Tien Gebooie, het mense net slegter geword. Want as jy vir ‘n kind of ‘n slaaf sê om iets nie te doen nie, dan gaan doen hulle dikwels juis dit wat jy hulle verbied om te doen. En so, selfs nadat mense die Wet ontvang het, het hulle net slegter en slegter geword...
Maar God kon dit nie toelaat nie! Hy moes ‘n plan maak. En daarom lees ons hier in Romeine 6 dat God besluit het om sy Enigste Seun na die aarde toe te stuur. Ja, liewe vriende, Jesus het vir ons kom sterf, sodat ons nie meer slawe van die Duiwel en van die sonde hoef te wees nie. Nee, God het deur Jesus se bloed vir ons betaal, sodat ons niemeer slawe hoef te wees nie, maar God se kinders kan wees.
En omdat ons ouers God se kinders is, hoef ons nie meer slawe van die sonde te wees nie. 1 Korinthiërs 7:14 kom sê vir ons dat die kinders van ‘n gelowige ma of pa aan God toegewy is, en aan God behoort. En dit is hoekom ons vanoggend ook kinders doop. Ons sê daarmee vir God en vir mekaar dat ons en ons kinders nie meer aan die duiwel of aan onsself behoort nie, maar aan die Here.
Wie van julle kinders hou van swem? Daar is min kinders wat nie van swem hou nie. Selfs die meeste grootmense, en oupas en oumas hou daarvan om op ‘n lekker warm dag in die water te kan wees. Wat so lekker is aan swem, is dat ‘n mens sommer so skoon voel as jy ‘n slag heen en weer geswem het. Veral as jy ‘n slag geduik het, dan voel jy sommer heeltemal skoon en vars.
En dit is dieselfde gevoel wat ons ook in ons geestelike lewens moet hê wanneer ons gedoop word. Want die doop is nie net ‘n teken dat ons liggame aan die buitekant skoon gewas is nie, maar veral dat ons gewete ook skoon is voor God. Mense vertel dat mense wat verkrag is, dikwels daarna herhaaldelik bad of stort om net skoner te voel. Sommige mense beweer selfs dat dit help om te gaan stort as jy verkeerd gedoen het, sodat dit jou sal help om nie Aids of Vigs te kry nie...
Maar eintlik help dit nie regtig nie. Want dit maak ons net aan die buitekant skoon. Dit kan nie wegwas wat binne in ons lewens aangaan nie. Dit kan nie die seer of die skuldige gevoel binne in ons lewens, binne in ons harte en gedagtes wegneem nie.
En tog, liewe vriende, kom sê die Bybel vir ons dat hierdie druppels water wat van ‘n kind se hoof afdrup, baie meer beteken as die beste bad of die skoonste stort. Want daarmee kom sê ons vir mekaar dat ons die Here vra om ons hele liggaam in besit te neem. Om ons volledig te was, en ons en ons kinders as sy kinders, sy slawe aan te neem.
Daarom kom sê Johannes al dat Jesus nie net met water doop nie, maar met die Heilige Gees en met vuur. Die doop wat ons kinders hier ontvang, was nie net hulle hofies nie, maar hulle hele lewens. Al is dit net op hulle koppies sigbaar, is dit ‘n teken dat die Heilige Gees in hulle lewe heers, en dat God deur die vuur van sy teenwoordigheid in ons lewe ons harte heeltemal wil reinig. En daarom staan daar in Hebreërs 10:22: “Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”
Die doop word ook hier met ‘n begrafnis vergelyk. Net soos die vuil badwater weggespoel word wanneer ‘n kind in die modder gespeel het, so wil die Here ook die sonde in ons lewe laat wegvloei, en ons silwerskoon vir hom was. Hy wil vir ons kom sê dat die sonde en die Duiwelse dinge in ons lewe begrawe is, en dat ons nou vir Hom kan leef. Daarom sê Paulus in vers 6: Ons weet dat ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons gebreek kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.
En weet julle liewe gemeente, wat so wonderlik aan hierdie doop, aan hierdie begrafnis is, is dat dit net een keer plaasvind. Ons lees in vers 9 en 10 van Romeine 6:9-10 dat Christus nooit weer sal sterf nie, en dat die sonde geen mag het oor Hom nie. Dat hy eens en vir altyd vir die sonde gesterf het, en vir God leef. Ons vergeet dit so dikwels. Ons wil dikwels so graag weer gedoop word, net weer nuwe ervarings beleef wat ons verhouding met God sal vernuwe.
Alhoewel ek glo dat ons elke dag ons lewe opnuut aan God moet wy, beteken dit nie dat God nodig het om elke keer opnuut vir ons sy liefde te bewys deur die doop nie. Al is dit so dat sy liefde elke oggend nuut is (Klaagliedere 3:23), is sy belofte om ons pa te wees vir altyd. Hy is getrou, en sal nie sy kinders vergeet nie.
Ek sluit af... Hoe lyk jou lewe vanoggend? Voel jy vanoggend net weer dat jy die vuil badwater eenkant moet uitgooi? Dat jy net weer die sonde in jou lewe moet begrawe? Die Here kom herhinner jou net weer dat dit wat Hy vir jou in jou doop belowe het, vir altyd bly staan, en dat hy dit nooit van jou af sal wegneem nie. Dat sy beloftes vir ewig hou.
Mag jy weet dat Hy vir jou ook wil kom herhinner dat Hy ons silwerskoon gewas het, en silwerskoon wil hou. Dat ons net weer die vuil baadjie sal uittrek, en onder sy genade sal lewe. Dat ons Jesus se juk op ons sal neem, en Hom sal voluit dien as sy kinders!
AMEN!
Saturday, November 21, 2009
Romeine 8:1-8 Heeltemal vry!
Voorsang:
Daarom
My Here, My Redder (Shout to the Lord)
Die heel beste rede.
Gryp na die Ewige Lewe.
Laat almal weet
Lofsang:
Aan God al die Eer
Na Wet: Ek weet verseker
By voorbereiding van die tafel:
Eet die Brood, drink die wyn.
Slotsang:
Ek wat vergifnis Heer, ontvang het.
Boodskap:
Noudat ek weer ‘n bietjie studeer daar op die PUK, dink ek gereeld terug aan my studentedae. Die ouens met motors was baie gelukkig. En nog meer gelukkig as motor enigsins gery het. Een van my vriende se motor se paneelmeters was stukkend. Al wat gewerk het was die afstandmeter. Hy petrol ingegooi wanneer die afstandmeter so by 300 km kom. Nodeloos om te sê hy en ons ander wat saam in die motor gery het, het baie maal sonder petrol gaan staan. Op die ou end het die motor heeltemal..in studentetaal...geseize....! Omdat die temperatuurmeter verkeerd was, kon hy nie sien toe die motor oorverhit het nie.
Maar die ware vraag is vanoggend – hoe gaan dit met die meters in jou lewe? Ek vra nie hoe dit met jou kar se meters gaan wat jy gereeld laat diens nie... Ek vra nie hoe dit met jou trekkers wat jy dalk minder gereeld diens se meters gaan nie – Nee, ek vra hoe dit met jou meters gaan vanoggend. Watter geestelike meters in jou lewe werk? En watter staan??? Jy sal seker sê: “Huh?” Wat bedoel jy nou?
Liewe vriend of vriendin, liewe jongmens, elke mens het ‘n stel meters. Elke mens het dinge waaraan hy homself meet... Waaraan hy sy selfbeeld meet... Miskien tel jy in die oggend die puisies of die beauty spots op jou gesig, en besluit hoeveel jy werd is. Dalk meet jy die omtrek van jou bo-arm, en bereken jou waarde daarvolgens... Dalk tel jy jou waarde in hierdie lewe aan jou skoolrapport, of jou bankrekening, of die vriendekring aan wie jy behoort.
Dalk sal jy vanoggend vir my sê: Nee dominee, dis nie die dinge wat vir my belangrik is nie... Ek wil my lewe meet aan hoeveel dinge ek vir die Here doen... As ek weet ek gaan elke Sondag Sondagskool toe, as ek darem af en toe die mannebiduur of die kuierhoekie bywoon, as ek tee skink of ek help met die kerk se verkopings, dan is my saak reg... En dan praat ek nie eers daarvan of ek kategeseonderwyser of ouderling of diaken of predikant is nie... Maar ek het vir julle nuus... As dit vir jou gaan oor hoeveel van hierdie dinge jy doen, dan beteken dit jy is in die “moeilikheid...!”. Want dit beteken dat jou lewenskar iewers gaan “seize”! Dit beteken dat jy iewers groot probleme gaan optel. Want jou temperatuurmeter is nie reg nie!
Wat bedoel ek? Paulus het geweet wat dit beteken om in die moeilikheid te wees. Hy het gedink al sy meters werk goed... Hy was ‘n Jood, hy was besny volgens die Joodse vereistes, hy was ‘n Joodse predikant, en het al die belangrikste wette geken. Hy het gedink hy is fanaties vir God! Hy het selfs die wat God gelaster het, vevolg! Maar toe God se lig op Paulus val, toe “seize” hy... Totaal en al... Ja, want toe die Here Jesus aan Paulus vra hoekom hy hom dan vervolg, moes Paulus besef dat hy ‘n “overall” nodig het. Dat daar iewers ‘n groot fout was. Dat sy lewe oorgedoen moes word...
Paulus was vir drie dae stokblind. Hy moes besef dat hy die hele tyd iets misgekyk het... Hy moes besef dat hy vir Jesus misgekyk het! Dat Jesus die belangrikste meter was... Paulus het al die ander dinge reg gedoen, maar hy het Jesus vervolg. En dit is hoekom sy kar geseize het... Dit is hoekom hy totaal van vooraf moes begin...
Hier staan iets snaaks in die kerk vanoggend – ek wonder wie van die kinders het dit raakgesien? Ja, dit is ‘n leer, en ‘n mens kan dit nie regtig miskyk nie... Oom James het dit nie daar vergeet soos julle gedink het nie, maar ek het dit daar gesit met ‘n doel. Want ons dink dikwels dat dit met godsdiens soos met ‘n leer gaan...
Julle weet, ek het daar op die Avontuurkamp ook op die foefieslide gery... En hierdie foto is toe ek die water getref het! Maar al het ek dit nie toe gesê nie, was dit maar moeilik om met daardie leer op te klim... Want die plafon daarbo was maar wankelrig, en die leertjie was maar dun, en ek is nou nie die ligste ou nie... Ek het amper nie tot bo geklim nie... En toe ek bo kom, toe kom ek agter dat ek op die verkeerde plek is, en toe moet ek af... Ek het toe maar besluit om met die foefieslide af gaan eerder as om weer met die leer terug ondertoe te klim.
Maar weet julle, baie mense dink aan ‘n mens se geestelike lewe as ‘n leer wat jy moet klim... En teen die einde van jou lewe, as jy bo kom, dan is jy mos in die hemel! Maar jammer vir jou as jy so gedink het... Ek hoop nie jy het al te ver boontoe geklim nie... Want dis nie hoe dit werk nie... Die Here Jesus is nie daarbo nie. God is nie daarbo nie... Die Heilige Gees is nie daar bo nie... Nee God-Drie Enig is hier tussen ons... Hy is hier onder... Ons hoef hom nie met ‘n leer te bereik nie...
Dit het die eerste mense op die aarde al daar in Babel agtergekom... Weet julle wat het hulle gedoen? Hulle het ‘n toring so hoog soos die hemel probeer bou, en gedink dat hulle by God sou uitkom, en so sterk en so magtig soos God sou wees. Maar julle weet wat gebeur met torings wat ons bou – iewers val hulle om! God het die mense se tale verwar, sodat hulle moes besef dat dit nie die manier is om by God uit te kom nie...
Ek het vir jou goeie nuus! Hy het aarde toe gekom... In die Boodskapvertaling staan daar in Romeine 8:2 ... Jesus het mens geword en saam met ons in hierdie sondaarsnes kom bly... Ja, ek sal sorg dat hierdie leer verwyder word... Want lere hoor nie in kerke nie... Kerke is vir mense wat met hulle voete stewig op die grond loop, wat besef dat ons swakke mense is, en Hy die sterke God is...
Ja... maar..., ek het ‘n probleem met my menswees. Menswees is nie altyd vir my lekker nie... Dit is vir my frustrerend... Ek voel soos Paulus wat daar in Romeine 7:21-23. Ek kom nie reg nie... As ek die goeie wil doen, is die kwaad byderhand... Ek is soos ‘n gevangene van die slegte... Ek kry nie reg om dit te los nie...
Maar weet jy, liewe vriend, dit is juis waarvoor die Here Jesus gekom het... In Romeine 8 lees ons dat die Heilige Gees ons bevry van die sonde. In The Message, ‘n vertaling van Eugene Peterson staan daar... Die wat in Christus se arms val, hoef nie meer onder ‘n donker wolk te lewe nie... Daar is ‘n nuwe krag wat werk... Die Gees van lewe in Christus, die Heilige Gees, is soos ‘n sterk wind, wat die donker wolk in ons lewe wegwaai, en die lug suiwer.
Dalk probeer jy nog teen die leer opklim... Dalk voel jy nog elke dag of jy gly, en gly en gly, en nooit daarbo sal kom nie... Jy moet besef, daar is net een manier, en dit daar is ‘n ou kinderliedjie wat dit vir ons vertel... Dit lui soos volg.
The love of Jesus is so wonderful (3*)
Oh wonderfull love...
It’s so high, you can’t get over it
So low, you can’t get under it
So wide, you cant get round of it,
YOU’VE GOT TO GO THROUGH THE DOOR!
Ja, liewe vriende, daar is net een manier... Nie met ‘n leer nie, nie met ‘n graaf nie, nie met ‘n ompad nie – net deur die Deur van die Skape, Jesus Christus.
En dis waarom ons vanoggend Nagmaal vier... Ons kom sê vir die Here Jesus dankie dat Hy vir ons gesterf het, en vir ons die deur na die Vader oopgemaak het. Jesus kom sê aan ons in Johannes 10:7 vir ons “Ek verseker julle, ek is die hek vir die skape...” en in Johannes 14:7 “Ek is die Weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader, behalwe deur my nie. Kom ons praat met Hom, kom ons gaan in... “
AMEN.
Ps. 104 Loof God vir Sy Skepping!
Voorsang:
Lof Medley
Liedboek 547 - Al julle volke klap julle hande.
Lied 550 Twee ogies om God’s werk te sien.
Flam 105 Hy’s die ene wat ek liefhet.
Lied 454:1-3 Vader ons eer U.
Lofsang:
Lied 184:1-4 Lofsing die Here.
Na Wet:
Liedboek 163 Soos ‘n wildsbok
Slotsang:
Lied 200:1-3 U goedheid Heer.
Daar is baie dinge in die lewe wat ons dikwels eers moet verloor voordat ons besef wat dit vir ons beteken. Miskien het jy al ‘n ma of ‘n pa of ‘n boetie of ‘n sussie in jou lewe verloor, en sal jy weet hoe mis ‘n mens so ‘n persoon wat ons as so vanselfsprekend aanvaar het.
Maar hoeveel meer sal ons God mis, as Hy die dag nie daar sou wees nie. Dit is amper soos die seuntjie wat eendag vir Jesus gebid het, en gesê het: “Liewe Jesus, Jy moet jouself asseblief mooi oppas, want as Jy nie meer daar is nie, is ons almal in ons maai in!
As ‘n mens in hierdie tyd, waar dit so lekker gereën het, om ‘n mens kyk, dan lyk dit partykeer net vir my asof ons alles so vanselfsprekend aanvaar. Ons glo die reën moet kom, en dit gaan dikwels maar net by ons verby... En tog moet ons vandag saam met die digter van Psalm 104 erken dat die Here die reën vir ons gee! Hy kom sê vir ons duidelik daar in vers 13: “Uit die hemel laat U reën op die berge, reen wat die aarde versadig.
Maar glo dit of julle wil, daar is mense wat nie glo dat daar ‘n God is nie. Daar is mense wat beweer dat die aarde deur ‘n ontploffing ontstaan het, en maar net soos ‘n opgewende horlosie besig is om te gaan staan. Een van die sterrekundiges oor “sterre en planete” het beweer dat die aarde al hoe stadiger draai, en moontlik enige tyd kan gaan staan, en dan gaan almal doodgaan, omdat die een helfte van die aarde te warm gaan word, en die ander helfte te koud.
Maar daardie sterrekundige het onlangs gesterf, en die aarde draai nog steeds. Dit is amper soos die graffiti op ‘n muur daar in Engeland – Iemand het die woorde van ‘n filosoof wat nie in God geglo het nie daarop geskryf : “God is dead” – Nietsche. Nie lank daarna nie, het iemand anders onder dit gaan skryf: “Nietsche is dead” God.
Liewe vriende, besef ons nog werklik vandag hoe wonderlik is hierdie skepping om ons? Daar in Amerika is die mense wat nie in God glo nie, baie lief om die Christene uit te daag om oor God se bestaan te redeneer en te debatteer. Daar word vertel hoe ‘n Christen op ‘n dag aan so ‘n persoon gesê het: “Die moontlikheid dat al hierdie dinge om ons uit niks sonder ‘n Skepper kan onststaan, is soos ‘n orkaan wat deur ‘n “Scrapyard” of ‘n skrootwerf waai, en daarna staan daar ‘n Boeing 747 reg om op te styg...”
In Psalm 92:5,6 staan daar: 5 Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes.
6 Wie dit nie besef nie, is ‘n dom mens, wie dit nie insien nie, is sonder verstand.
Wanneer die digter in Psalm 104 God se lof kom besing, kom loof hy in die eerste plek God as Skepper. God het die hemel, die atmosfeer daarbo soos ‘n tent gespan, en die aarde stewig op fondamente geplaas (v. 2-3). So het God die lug en die suurstof gemaak, waarsonder niemand kan lewe nie. God het die fonteine en riviere gemaak, en Hy gee reën op sy tyd (v.10-13). So gee Hy water waarsonder niemand kan lewe nie. God laat die gras groei, en kos uit die aarde voortspruit waarsonder niemand ook langer as 40 dae kan lewe nie (vs. 14,15,27).
God maak dus nie net alles nie, maar Hy sorg dat alles groei, en dat ons genoeg het om van te lewe. God sorg dat die maan op die regte tyd opkom, en ondergaan, en dat die son weer die volgende dag opkom. Hy maak al die diere, en selfs wanneer die leeus brul, is dit in ‘n sekere sin hulle gebed tot die Here vir kos!
Maar die skepping is nie meer so wonderlik soos in die begin nie. Want daar in die see, is die Leviatan, die seemonster. Ja, dit is die duiwel, die slang wat probeer om ons van God af weg te lok. Om dit wat God goed gemaak het, te verinneweer! En daarom sien ons soveel mense vandag wat nie meer vir God se Skepping omgee nie. Hulle gooi olie in die riviere, haal goud uit die grond uit, en los die aarde net so. Hulle gee nie om om die veld aan die brand te steek, en sommer baie diere dood te brand nie. Hulle roei net alle lewende dinge uit, sonder om te besef dat elke ding sy plek het.
Maar God gaan nie toelaat dat die lelike seemonster, die Leviatan, die oorhand oor ons kry nie. Daar in vers 26 staan daar dat God die Duiwel, die lelike seemonster, gemaak het om mee te speel. Nee, God kom sê juis vir ons dat Hy nog steeds in beheer is, al maak slegte mense groot bomme wat die hele aarde in ‘n paar sekondes kan vernietig. Hy is die Een wat waarlik vir ons omgee.
Ek sluit af. Elzet het nou die dag vlermuisbabatjies in die motorhuis gekry. Die eerste ding wat mens met ‘n vlermuis wil doen, is om hom dood te maak. Maar het julle geweet hoeveel skadelike insekte ‘n vlermuis vang. Hulle sê dat ‘n vlermuis tot sovee as ‘n duisend goggas in een minuut van en opeet, en dat al ons probleme met muskiete en ander goggas is omdat ons die vlermuise so uitroei.
Kom ons kyk dus opnuut na die skepping om ons as ons hier uitstap... Kom ons onthou watter wonderlike skepping God vir ons gemaak het. Kom ons pas dit werklik op... Kom ons loof Hom as die Almagtige, sonder wie niks kan voortbestaan nie.
AMEN.
Monday, September 7, 2009
Aan die brand vir Jesus!
Preek gelewer te Bospoort op Sondag 6 September.
Voorsang:
Daarom Flam 6
Borreliedjie
Sendinglied
Ek soek U o God my God
Erediens:
Liedboek 18:1,5,7,8
Na Wet: Heer Jesus, my Redder.
Slotsang: Laat Heer U vrede deur my vloei.
Boodskap:
Een van die groot siektes van ons tyd is uitbranding... Uitbranding is eintlik presies wat dit sê: Dit is wanneer al die petrol op is, wanneer daar nie meer hout is om die vuur te stook nie, en net die hopie as oorbly. Wanneer ons sê dat iemand uitgebrand is, dan beteken dit dat hy net nie meer vuur in hom of haar het nie. Dat hy vir niks lus is nie, en niks nuuts wil aanpak nie. Dat hy altyd moeg en moedeloos is.
Uitgebrande mense is dikwels kort van draad. Hulle is gefrustreerd en verloor maklik hulle humeur. Baie sulke mense word skielik sieklik en ongesteld. Uitgebrande mense is ook nie lus vir ander mense nie. Hulle verkies dikwels om aleen te wees. Hulle ontwikkel dikwels ook ‘n ongegronde vrees vir die toekoms. Hulle begin selfs twyfel aan hulle geloof. Heelwat mense wat uitgebrand is, het dikwels selfmoordgedagtes, aangesien hulle nie eers meer krag of die hoop het om verder te lewe nie.
Met wie gebeur uitbranding? Alhoewel ons dikwels dink dat uitbranding met lustelose en lui mense gebeur, is juis die teenoorgestelde waar. Uitbranding gebeur juis met mense wat vuur in hulle het, wat op die voorpunt is, wat altyd besig en bedrywig is. Uitbranding gebeur juis met mense wat altyd bereid is om nog te doen, om te help en nog meer hooi op hulle vurk te laai. Dit is daarom juis daardie vure wat die hoogste brand, wat die meeste hout op het, wat die maklikste uitbrand, omdat die hout opraak.
Maar uitbranding gebeur ook dikwels wanneer ons geweldige spanninge op ons het. Wanneer daar groot krissise in ons lewens kom wat te veel vir ons word. Wanneer ons ‘n kind het wat aanmekaar siek is, of wanneer ons met ‘n siekte soos kanker worstel, of wanneer iemand in ons familie dood is, of wanneer ons groot finansiële druk ervaar, of bankrotskap in die gesig staar, dan vat hierdie dinge soveel energie van ons, dat ons maklik kan uitbrand.
Niemand is gevrywaar van uitbranding nie... Niemand kan sê dat dit nie sommer met hom sal gebeur nie. In die Bybel vind ons baie voorbeelde van mense wat uitgebrand is... In Exodus 18 lees ons dat selfs iemand soos Moses uitgebrand is omdat hy te veel mense moes sien. In 1 Konings 17 is daar die bekende voorbeeld van Elia wat onder die besembos gaan lê en as’t ware vir die Here vra om sy lewe te neem. In baie van die Psalms sien ons dat die groot koning Dawid aan uitbranding gely het, veral in ‘n Ps. soos Ps. 6 en Ps. 140. In Klaagliedere 3 lees ons van Jeremia se uitbranding, en so kan ons voortgaan...
En hier in ons teksgedeelte van vanoggend, lees ons dat selfs die jong, energieke dominee Timotheus uitgebrand is... Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief aan hom stuur en om hom te motiveer... In 1 Tim 5:23 sien ons al dat Timotheus aan herhaalde ongesteldhede gely het, en dat hy waarskynlik maagprobleme as gevolg van spanning gehad het. Hy was sieklik. En so sien ons in die gedeelte van ons boodskap vanoggend hoe Paulus hom aanmoedig om die genadegawe wat God hom gegee het, toe Paulus hom die hande opgelê het, weer soos ‘n vuur aan te blaas.
As jy dalk vanoggend voel of jy uitgebrand is, of alles net te veel vir jou raak, is jy verseker nie alleen nie... Dan kan jy weet dat daar heel waarskynlik ‘n hele paar ander in die gemeente is wat vanoggend so voel. Dan kan jy verseker weet dat jy ook vanoggend op die regte plek is. Want ek glo dat die Here ook spesiaal ‘n rede het hoekom jy vanoggend hier moet sit.
Maar ook as jy nie uitgebrand is nie, ook as jy vanoggend energiek, fris, gesond en voorspoedig is, glo ek dat die Here met jou ook wil praat. Want ek wed jou dat jy ten minste ‘n paar uitgebrande mense om jou kan erken, en dat jy dikwels wonder wat jy kan doen om hulle net weer op te beur, en uit die put van uitbranding en lewensmoegheid te kan trek.
Maar wat kom sê Paulus aan Timotheus in sy hopelose situasie? Wanneer die Gees vir Paulus inspireer om met dominee Timotheus te kom praat, begin hy om Timotheus aan wie hy is, en hoe die Here hom in die verlede gedra het. Hy kom sê aan hom in vers 5 dat hy moet onthou dat sy ouma Lois en sy ma Eunice in die Here geglo het, en dat die Here hulle elke dag gedra het. Dat niks hierdie vlammetjie van geloof wat in hom brand, sal kan uitdoof nie...
In die tweede plek moes Timotheus onthou dat sy verkondiging van die evangelie nie net ‘n tydelike opdrag was nie... Die Here het aan hom ‘n genadegawe gegee, en Paulus het hom die hande opgelê om dit in sy lewe te bevestig. Al voel ons nie dikwels so nie, bly God se genadegawes in ons, en ons moet dit net weer aanwakker en aanblaas. Ons moet weet dat die vuur wat een so entoesiasties in ons lewe gebrand het, weer kan vlamvat en die Here kan verheerlik en grootmaak...
Paulus kom herhinner ook vir Timotheus dat die Gees van God in hom woon. Die Heilige Gees wat in ‘n mens woon, maak ‘n mens nie bang en lafhartig nie, maar dit gee ‘n mens krag, liefde en selfbeheersing. Timotheus moenie toelaat dat vrees, bekommernis en lafhartigheid die oorhand oor hom kry nie, want dit kom nie van die Here af nie. Nee, die Here het juis die Heilige Gees aan hom gegee, wat krag en liefde en selfbeheersing gee.
Liewe vriende, dit is darem wonderlik. God weet presies wat uitgebrande mense nodig het... Hy weet dat ons krag en energie nodig het om ons taak vir Hom voluit te doen. Hy weet ook dat ons in tye van uitbranding dikwels net aan onsself dink, en vergeet om God en ander lief te hê. Maar nog meer, dat ons vergeet hoe lief God ons het, en dat daar mense om ons is wat ons werklik liefhet en waardeer... Timotheus moet juis in hierdie stadium homself nie onttrek nie, maar tussen mense wees wat hom kan opbeur.
Maar die Heilige Gees kom gee saam met die pakkie van krag en liefde ook vir Timotheus nog ‘n derde baie belangrike ding. Dit is die vrug van selfbeheersing. Ek weet dat ouers dikwels bid vir genade en nie vir krag nie, want hulle is bang hulle slaan hulle kinders dood... Net so het dit al met groot predikers gebeur dat hulle baie krag en liefde het, maar dat ‘n gebrek aan selfbeheersing hulle bediening gekos het.
Ja, Paulus kom sê vir Timotheus dat ‘n gelowige kind van die Here wat Hom wil dien, ook selfbeheersing en dissipline aan die dag moet kan lê, sodat hy nie te veel van homself dink, en uiteindelik sonde doen en tot ‘n val kom nie. Wanneer kernkrag reg gebruik word, kan dit vir die wêreld van elektrisiteit voorsien, maar as dit verkeerd gebruik word, kan dit die wêreld met die druk van ‘n paar knoppies vernietig.
Maar Paulus gaan ook verder in vers 8. Hy herhinner Timotheus daaraan dat ‘n mens uitgebrand kan word, omdat jy so maklik in “ek sal self” denke verval. Ons vergeet dat ons krag van God af kom, en wil dan berge versit. Maar uiteindelik moet ons onthou dat dit alles van die Here af kom. Dat ons sonder Hom niks kan doen nie.
As jy dink dat jy ‘n opdraende paadjie in die lewe moet stap, moet jy onthou dat Paulus en Timotheus in hulle tyd dit nog baie moeliker gehad het. En tog het die Here aan hulle die krag en genade gegee om hierdie pad tot Sy eer te kon stap, en te kon klaarmaak. Onthou dus altyd dat jou krag van God kom, en as jy nie tyd en energie spandeer om jou tenk by Hom vol te maak nie, dat die ontberings en probleme op jou pad jou brandstof vinnig gaan opgebruik, en dat jy gaan uitbrand.
Die Here kom herhinner jou vanoggend weer aan hoeveel jy aan jou kant het. Die meeste van ons het voorouers wat die Here gedien het, en ons van Hom geleer het. Ons het elkeen ‘n gawe van God ontvang wat Hy wil hê ons moet tot sy eer gebruik. Ons het sy Gees ontvang wat ons nie lafhartig maak nie, maar ons vul met krag, liefde en selfbeheersing. En bo alles hoef ons nie op ons eie krag staat te maak nie, maar kan ons vashou aan God se genade. Kan ons saam met Paulus self vashou aan Jesus se woorde in 2 Kor. 12:10: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”
Julle ken almal die verhaal van hasie en skilpad. Hoe die hasie so selfversekerd weggespring het, en homself moeg gehardloop het, en onder ‘n boom gaan lê en slaap het. En hoe die skilpad treetjie vir treetjie voortgesukkel het, en uiteindelik die hasie verbygegaan het en gewen het. Die Bybel leer vir ons in Prediker 9:11 dat dit nie die vinnigstes is wat die resies wen nie, maar dat alles deur tyd en geleentheid bepaal word.
Kom ons onthou dat dit nie help om onsself uit te brand nie. Al sukkel jy soos die skilpad met moeite deur jou moeilike omstandighede voort, sal die Here vir jou die krag, liefde en selfbeheersing gee om die wedloop te voltooi.
AMEN!
Friday, August 28, 2009
Website Adress
Johannes 3:16 Jesus het gekom om vry te maak!
Gonne Modimo o ratile lefatshe mo go kalo, mo o bileng wa re neela Morwa-ona yo o tsetsweng mo go esi, gore mongwe le mongwe o dumelang mo go ene a se ke a latlhega, mme a nne le bophelo yo bo sa khutleng...
Maar weet julle, liewe vriende, hierdie teks is seker ook vandag die mees omstrede teks in die Bybel. Ja, wanneer ons kyk wat teoloë en professors dikwels in die koerante skryf, dat word amper elke stukkie van hierdie teks vandag bevraagteken… Hoekom sê ek so?
Kom ons gaan kyk ‘n bietjie na die vier dinge wat Johannes 3:16 vir ons sê:
1. God het die wêreld liefgehad, en Hy het dit nog steeds lief.
2. God het sy enigste Seun aan ons gegee.
3. As jy nie glo nie, gaan jy verlore.
4. As jy glo, ontvang jy die lewe.
Ja, liewe vriende, dit is juis hierdie 4 waarhede wat soveel mense vandag bevraagteken... Daar word gesê dat God nie die wêreld liefhet nie. Baie mense sê dat ‘n God wat die Tsoenami, Twin Towers en die geweld en oorloë toelaat nie die wêreld liefhet nie.
Daar word ook gesê dat Jesus nie God se enigste Seun is nie. In boeke en films soos die Da Vinci Code word daar beweer dat Jesus bloot ‘n goeie mens, die buite-egtelike kind van Maria en Josef is. Ander teoloë se weer dat God so goed en barmhartig is dat hulle nie kan dink dat enigeiemand sal verlore gaan nie. En dan is daar baie ander wat sê dat daar nie so iets soos ‘n hemel of ‘n hel of ‘n Ewige Lewe bestaan nie... Dat ons maar net hier op die aarde sal bly...
Maar wat is die waarheid??? Ek het hier by my ‘n DVD van Max Lucado met die titel 3:16... En in die meegaande pamflet staan daar die volgende oor hierdie vers: If you know nothing in the Bible, start here, if you know everthing in the Bible: Return here. In Afrikaans. As jy die Bybel gladnie ken nie, moet jy hier begin... As jy die Bybel volledig ken, moet jy na hierdie versie terugkeer...
Liewe vriende, die waarheid is dat God ons liefhet. In die Nuwe Lewende Vertaling staan daar dat God die mensewêreld liefgehad het. Ons praat baie van ons kinders, en dat ons hulle kamtig sou “gemaak het”. Dis net ‘n halwe waarheid. God het almal op aarde gemaak. God is nog elke dag besig om kinders in hulle moeders se moederskote te vorm. In Ps. 139 kan Dawid ook erken: 14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
Liewe vriende, God het ons gemaak. Hy het elke klein besonderheid aan ons gevorm, jou wipneusie, jou dimpeltjie, die kuiltjie in jou nek, jou kabouteroortjies, jou kroontjie op jou kop, ja alles het God aanmekaargeweef, diep in die moederskoot. En juis daarom is hy baie lief vir ons. Oneindig lief... Toe die omstrede en bekende teoloog Karl Barth, wat baie boeke geskryf het, en baie slim was, eendag toe hy van die vliegtuig afklim gevra is wat vir hom die belangrikste waarheid in die Bybel is, het hy met die woorde van die kinderliedjie geantwoord: “Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so.”
Ja, my boetie en sussie, God het ons as sy kinders oneindig lief, en daarom, net soos ‘n ma en ‘n pa, en veral ‘n oupa en ouma wat hulle kinders bederf, gee hy graag. Hy het die paradys en al die wonderlike dinge daarin vir Adam en Eva kom gee... Hy het sy tien gebooie vir die Israeliete kom gee... Hy het die beloofde land Kanaan vir sy volk Israel kom gee... Hy het aan die Israeliete Rigters, konings en profete gegee om hullle te lei... En wat het hulle gedoen??? Hulle het dit alles in Sy gesig teruggegooi. Hy het aan ons as mense sy Enigste Seun gegee... En wat het ons gedoen... Ons het Hom gekruisig.
Ja, vriende, daar is baie mense wat vandag vra hoekom God dit of dat gee, en hoekom hy dit of dit toelaat – Maar ons moet onthou dat hy lankal in Matt. 7 belowe het dat Hy vir ons net dinge sal gee wat tot ons voordeel is: 9 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra,
10 of ‘n slang as hy vis vra? 11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?
Die vraag is dus nie of God gee NG en gee nie, maar wat ons maak met dit wat Hy vir ons gee? Die vraag is nie of God uit sy goedheid soveel dinge aan ons skenk nie, maar of ons ooit tevrede is met wat Hy aan ons skenk nie?
Die derde deel van Johannes 3:16 leer aan ons dat Jesus gekom het sodat “Die wat in hom glo nie verlore sal gaan nie.” Liewe vriende, al vertel baie mense aan jou dat God so groot en goed is dat Hy uiteindelik sal besluit om alles en almal te vergewe, moet julle weet dat dit ‘n leuen van die Satan is. Die Bybel kom sê duidelik vir ons in Numeri 14:18: Nu 14:18 ‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’
Ons moet weet dat ons die Here nodig het, dat sondes en die rekords daarvan nie sommer maar net sal wegraak, soos dikwels vandag in ons land se howe gebeur nie. Nee, vriende, God het ons straf op Jesus Christus kom laai... En as ons dit nie glo nie, is ons soos klaar veroordeel soos Johannes 3 vers 18 sê: “ Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.” As ons nie God se laaste, finale, allesoortreffende gawe aanvaar nie, dan gaan ons geoordeel word vir ons sondes.
En dan kom ons by die vierde waarheid. En hier is dit verseker ‘n geval van die laaste maar nie die minste nie... Jesus het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om hulle die Ewige Lewe te gee. En hierdie, liewe vriende, is een van die redes hoekom ek vas glo dat die kerk van alle eeue maar weer na Joh. 3:17 ook moet terugkeer. So ‘n paar jaar terug, tydens ‘n vorige Sokkerwêreldbeker, het die TV tydens die eindwedstryd wat miljoene mense dopgehou het, geval op ‘n ou wat ‘n plakaat opgehou het met Joh. 3:17 daarop geskryf...
Ja, liewe vriende, deur die eeue het die kerk dikwels die maklike uitweg gevat... Ons glo wat ons glo en ons veroordeel baie gou dit wat nie strook met wat ons glo nie. So het die Rooms katolieke kerk vir Galileo Galilei tot ketter verklaar omdat hy beweer het dat die aarde om die son draai. Selfs vandag nog word die kerk dikwels gesien as ‘n veroordelende kerk wat mense wegstoot. Christus het nie gekom om te veroordeel nie, maar om te red... Christus het gekom sodat ons die Ewige lewe kan smaak...
Julle kan nou maklik sê: Dominee, dit klink nou baie mooi, maar waarvandaan dan al die sonde en swaarkry?
Ek het die teenoorgestelde van Johannes 3:16 gaan neerskryf. Dit klink so:
“Want die Slang, die duiwel, het die wêreld so gehaat,
Dat hy nie net al die pyn en lyding wat ons vandag moet ervaar veroorsaak het nie,
maar probeer seker maak dat mense nie in God glo nie en veroordeel word,
sodat hulle die dood en die hel as loon vir hulle sonde kry...”
Daar word 'n verhaal vertel van 'n seuntjie wat 'n baie mooi seilbootjie gemaak het. Na maande se moeite het hy die bootjie klaargemaak, en dit na 'n dam toe gevat om te kyk of dit sal dryf. Toe het daar skielik 'n warrelwind opgekom, en sy bootjie in die water in gewaai. Die seuntjie het weke lank na die bootjie gesoek, maar dit nooit weer gesien nie...
Totdat hy eendag by 'n pandjieswinkel verby loop, en sy bootjie op 'n rak sien. Hy hardloop baie bly in die winkel in, en vertel aan die eienaar dat dit sy bootjie is... Sy voorletters is dan nog daarop uitgekerf. Maar die eienaar vertel aan hom dat hy die bootjie by iemand anders gekoop het, en dat die seun eers die geld daarvoor moes betaal. Na maande se spaar het die seuntjie winkel toe gegaan, en die bootjie weer gekoop. Toe hy die bootjie kry, druk hy hom teen sy bors vas en sê: "Jy is nou waarlik dubbeld myne. Ek het jou gemaak en jou weer gekoop!
Net so het die Here ook met ons gemaak. Hy het ons nie alleen gemaak nie, maar nadat ons weggeloop het van Hom af, en begin sonde doen het, het Hy vir ons sy Seun gestuur, en ons so 'n tweede keer Syne gemaak!
Amen.
Sunday, May 17, 2009
Gooi julle nette aan die ander kant! Joh 21:1-10
Voorsang: Lied 337:1-3 Loof God, o Christen Hy is groot.
Lied 404:1,2 Ons juig weer oor ‘n leë graf… (Lied 346 se wysie)
Lied 436:1-3 Herskep o Gees, laat leef o Gees…
Lofsang: Liedboek 167:1,2 Jesus bron van al my vreugde.
Na Wet: Liedboek 306:1-5 U Christus is my lewe.
Slotsang: Lied 274:1-2 Leer my soos Henog met U wandel.
Skriflesing: Johannes 21:1-14.
Daar word vertel van Mike Schutte en sy seun wat gaan jag het. Toe hulle so om die een bos stap, loop hulle in ‘n leeu vas... Hulle het so groot geskrik, dat hulle in verskillende rigtings weggehardloop het. Hulle het so oorkruis gehardloop dat hulle op ‘n stadium om ‘n bos hardloop en inmekaar in vashardloop... Mike staan toe op, stof hom af, en steek sy hand na sy seun toe uit... Ek is Mike Schutte, sê hy... “Maar ek is dan pa se seun!”, roep die seun verbaas uit... “Wat vir ‘n van is dit?” vra Mike toe verbaas.
Weet julle liewe vriende, die mens se brein is ‘n interessante ding. In sekere situasies is dit vir ons net nie moontlik om die eenvoudigste dinge te herken nie, net omdat ons dit nie op daardie oomblik in daardie situasie verwag nie. Ons herken dikwels mense, omdat hulle in sekere situasies is, of saam met ander mense is. Tydens die pas afgelope Nampo het ek weer vriende van Universiteit raakgeloop, en ek kon net weet wie hulle is, omdat ek hulle saam met hulle mans of hulle vrouens gesien het, wat ek ook geken het.Ek het onlangs ervaar dat een van die lidmate van die gemeente my glad nie herken het nie, omdat ek nie soos ‘n dominee aangetrek was nie, en op ‘n plek was waar hy my nie verwag het nie...
Daarom is dit nie vir ons so vreemd dat die dissipels en die volgelinge van Jesus so gesukkel het om hom te herken na sy opstanding nie. In die vorige hoofstuk, Johannes 20, lees ons dat Maria vir Jesus as die tuinopsigter aansien na sy opstanding. Ons ken almal die verhaal van die Emmausgangers wat vir kilometers saam met die Here Jesus geloop het, sonder om te besef dat dit Hy was. En so sien ons ook hier hoe sy eie dissipels vir Jesus op die land sien staan, en sy stem hoor, sonder om te besef dat dit Hy was. Dit was waarskynlik omdat dit die laaste plek was wat hulle die Here Jesus verwag het. Dit was net nie binne hulle verwysingsraamwerk, binne hulle prentjie van die lewe dat Jesus opgestaan het, en nog steeds by hulle op aarde teenwoordig was nie...
Maar die dissipels het nie net telkens gesukkel om Jesus te herken nie, maar hulle het ook geleef asof Jesus nie meer daar was nie. Al het Jesus na sy dood aan hulle verskyn, het hulle half nie geweet wat om te doen, nou dat Hy nie meer elke oomblik van die dag fisies by hulle was nie... Die enigste wat hulle aan kon dink was om maar weer te doen wat hulle vroeër gedoen het, en maar aan te gaan met hulle vorige beroep... Hulle het maar weer hulle boot en hulle nette nadergesleep, en gaan visvang...
Ek is seker dat elkeen van julle al hierdie ervaring in julle lewens gehad het. Dit is amper soos om weg te stap na ‘n opwindende rugbywedstryd of ‘n sirkus... Dit was lekker en fantasies, maar nou is dit klaar... Nou is dit verby... Nou keer ek maar weer terug na die gewone lewe. Na ‘n geestelike hoogtepunt in jou lewe, hetsy dit jou bekering was, of ‘n kamp waarin jy baie geestelik gegroei het, of die Mighty Men konferensie, wil jy so graag vir die wêreld gaan vertel wat hierdie gebeurtenis in jou lewe gedoen het...
Maar dan tref die golf van die alledaagse, gewone lewe jou, en voor jy jou kon kry, lyk jou lewe maar presies soos voorheen. Jy word as’t ware maar weer in die gewone roetine en manier van doen van elke dag ingedwing...
Maar kom ons gaan kyk weer na wat met die dissipels gebeur het... Na drie jaar saam met Jesus was niks net meer dieselfde nie... Toe hulle probeer visvang, dit wat hulle van kleins af so goed kon doen, toe hap hulle ‘n “bubble”... toe is dit ‘n mislukking. Vir ‘n hele nag lank vang hierdie 11 ervare vissermanne nie een vis nie! Hulle kon dit nie glo nie. Wat het verander? Iets drasties het iewers gebeur!
En wanneer hulle dan hopeloos na die strand toe vaar, sien ons hoe ‘n onbekende man hulle aanraai om hulle nette aan die ander kant uit te gooi. Ons het dit nog nooit so gedoen nie! Het hulle gedink. Watter verskil gaan dit maak? Maar ag nou ja – ons kan nie slegter doen as wat ons reeds doen nie... kom ons gaan probeer dit maar...
En dan sien ons die wonderwerk... Hoe die nette so vol dat hulle dit land toe moes sleep, en nie daar en dan kon optrek nie. En dieselfde dissipel wat wou sink toe hy op die water moes loop, spring die water in, en storm land toe... Nou het hy besef dat dit Jesus self was op die land. Nou het hy besef dat Jesus hulle weer kom opsoek het, en nie alleen gelaat het nie.
Toe die dissipels aan land kom, het Jesus hulle beveel om van die vis te bring wat hulle gevang het. Dit het Hy gedoen om hulle te laat besef hoeveel vis hulle werklik gevang het... 153! Maar Hy het ook nie die vis nodig gehad nie... Want hy het reeds vir hulle ‘n maaltyd voorberei. Ja, die vis was reeds op die kole en gaar...
Ons leef so dikwels in ‘n voorspoedsgodsdiens, waar ons glo dat die Here Jesus van jou ‘n miljoenêr sal maak as jy Hom begin dien... Ons kan so maklik glo dat dit is waaroor hierdie wonderlike visvangs gegaan het... Dat die Here nou die vissermanne oorweldigend in hulle bedryf seën... Maar dit is nie waaroor hierdie wonderwerk gaan nie... Jesus het alreeds genoeg vis vir die kole gehad.
Jesus wou net weereens vir die dissipels herhinner dat Hy die groot visserman is. Dat hulle eintlik geroep was om vissers van mense te wees, en dat hulle eintlike roeping nie op die viswaters gelê het nie. Hy wou aan hulle leer dat hulle voortaan hulle nette aan die ander kant sou ingooi. Dat hulle dinge op ‘n ander manier sou doen, en ook ander, beter resultate sou kry. Dat hulle werklik sou besef dat Hy alles en almal kom verander.
Weet julle, liewe vriende, ek en Carina was gister by ‘n vergadering van die orrelistevereniging in Suid-Afrika, en ons het net weer onder die indruk gekom dat ons in so baie opsigte in die kerk ook weer net moet leer om ons nette aan die ander kant uit te gooi. Net 16% van die Gereformeerde Kerke sing nog Psalms. Die kerke loop leeg omdat mense nie meer gevoel in ons erediens en ons sang ervaar nie.
Die tema van gister se byeenkoms was dan ook in ‘n sin: “Sing vir die Here ‘n nuwe lied!”. Maar nie net in ons sang of ons musiek nie, in ons as predikante se prediking, in ons gebede, in ons gemeente - byeenkomste moet ons ook vra wat dit beteken om die nette aan die ander kant uit te gooi. Dr. Rina de Klerk – Beyer, die fasiliteerder by ons onlangse predikantekonferensie, het met ons kom praat oor emosionele intelligensie... En die inleidingsin wat sy gebruik het by alles wat sy vir ons geleer het, was die volgende van Mark Twain: “If you do what you always done, you wil get what you always got.”
In ‘n sin het die dissipels nog minder gekry as waaraan hulle gewoond was toe hulle na drie jaar weer begin visvang het. Hulle het letterlik niks gekry nie. Ja, as die Here Jesus eers jou hart werklik verander het, is niks weer dieselfde nie... Niks is net meer “maar sommer” nie.
Ek het in die voorskou tot die diens vir julle so ‘n klein stukkie van Angus Buchan se optrede op Loftus gewys, en ‘n mens besef maar net dat daar ‘n herlewing in ons land aan die gang is. Selfs die heiligdomme van die rugbygod, “Rugabush” word oor oorgeneem deur tienduisende Christene wat die Here loof en prys... As Jesus beheer neem van jou lewe, dan word ook dinge wat totaal belangrik was in jou lewe vir jou onbelangrik. Dan gaan vra jy in alles wat jy doen: “Eer ek God hierdeur? Is daar dalk iets in Sy koninkryk wat vanmiddag dringender my aandag verg?”
Op ‘n stadium toe petrol so duur geword het, het my pa so ‘n plakker op sy stuurwiel geplak, wat gevra het? Is hierdie rit werklik nodig? Liewe vriende, petrol is baie duur en kosbaar in vandag se tyd, maar ons tyd is nog duurder en kosbaarder. Kom ons leer om dit op ‘n nuwe manier te gebruik. Kom ons gooi ons nette aan die ander kant uit, en weet, dat die Here iets nuuts onder ons en deur ons gaan doen.
AMEN!
Solosang:
Christus is, die ware wynstok,
Ons is, die lote,
Dra ons vrug, word ons gereinig,
Sodat ons, meer vrug kan dra.
Koor:
Bly in my, soos ek in julle, dan sal julle vrug kan dra,
sonder my, kan julle niks doen, daarom moet my nie verlaat.
As jul na, my woorde luister,
Kry jul alles wat jul vra,
so verheerlik jul die Vader,
deur die vrugte wat jul dra.
Soos die Vader my bemin het,
het ek jul ook liefgehad,
en my blydskap bly in julle,
jul moet liefhê sonder maat.
Monday, May 4, 2009
Preek gelewer op Moedersdag 10 Mei uit Eksodus 4:24-26
Voorsang:
Liedboek 164:1,2 Ons is almal hier tesaam
Liedboek 215:1-5 Besing die lof van Jesus saam
Liedboek 176 (2*) Halleluja, U is koning.
Lofsang:
Lied 405:1-5 Roem al wat leef die Heer se dag.
Na Wet:
Lied 555:1-3 (Op die wysie van lied 579) Ek kniel hier in die oggendlig
Slotsang:
Lied 440:1-4 Die Here salf ons met sy Gees
Daar word vertel van vark wat by koning leeu gekom het, en gekla het dat hy altyd die skuld vir alles kry. Hy sê as ‘n iemand slegte maniere het, dan gedra hy hom soos ‘n vark, of as iemand sleg bestuur, dan praat hulle van ‘n padvark, en as iemand vuil lewe, dan sê hulle hy is so vuil soos ‘n vark. Koning leeu het aandagtig na hom geluister, en geantwoord: “Sulke varke!”
Maar of ons dit wil weet of nie, kry ons moeders en ons vrouens ook dikwels die skuld vir alles wat verkeerd loop. Ons mans is mos nooit verkeerd nie… As ons laat is, dan is dit moeder, as die kinders vuil is, dan is dit hulle ma wat hulle nie goed aantrek nie, as hulle stout is, dan is dit ma wat hulle nie maniere leer nie, as die sleutels weg is, is dit ma wat dit moet soek. As daar ‘n buite-egtelike kind is, dan straf die kerk dikwels die vrou, en die man wat saam met haar gemeenskap gehad het, kom skotvry.
Daar is party vrouens in Amerika wat sê dat die Bybel ook net negatief oor die vrou praat. Dit is die vrou Eva wat vir Adam verlei het, dit was die slegte Delila wat vir Simson verlei het, en die slegte van hierdie wêreld word in Openbaring vergelyk met die vrou Babilon wat al die skeepskapteins en sakemanne in haar mag kry. In Sagaria 5:6,7 word daar selfs van ‘n vrou in ‘n mandjie vertel wat die sonde van die hele wêreld verteenwoordig!
Die vrou van Moses, Sippora, was ook in ‘n sin ‘n vrou wat die skuld vir alles gekry het. Sippora was in die eerste plek ‘n Kussiet, en van ‘n ander ras as die Israeliete. Dit het ook gemaak dat Mirjam en Aäron, Moses se broer en suster hom openlik aangespreek het oor die vrou wat hy gevat het. En ons lees ook daar dat Mirjam melaats geword het omdat hulle Moses daaroor aangespreek het. Maar wat het gemaak dat God Mirjam so erg gestraf het oor hulle kritiek teen Sippora?
Ek glo dat Sippora in ‘n sin ‘n baie spesiale plekkie in God se hart gehad het... Dat sy as’t ware ook die “vrou vir wie God liefgehad het”, genoem sou kon word... En ek glo dit na aanleiding van die pragtige verhaal wat vir ons in drie kort versies Eksodus 4:24-26 opgeteken is...
Moses, die man van God, was oppad met ‘n missie. Hy het nounet die Here by die brandende braambos ontmoet, en die opdrag gekry om die volk Israel uit Egipte te gaan bevry. Hy het ook wonderwerke by die Here gekry, naamlik om sy kierie in ‘n slang te verander, en sy hand in melaatsheid te verander en weer te genees. Moses was absoluut gefokus op hierdie spesiale taak wat die Here aan Hom gegee het, en hy het net gedink aan die groot taak wat vir hom voorgelê het.
Maar in al Moses se besig wees met die dinge van die Here het hy die dinge van die Here nie raakgesien nie. Hy was so besig om te dink aan hoe hy die volk van oor ‘n miljoen mense uit Farao se mag gaan uitlei, dat hy nie by die begin begin het nie. Ja, sy eie huisgesin het agterweë gebly. Terwyl hy weg van sy mense af vir die Farao gevlug het, het hy nie sy seuns aan die Here gewy nie. Hy het hulle nie besny soos die Here se opdrag was nie.
En so het dit gebeur dat die Here so kwaad geword het vir die leier wat hy nounet gekies het, dat Hy hom daar en dan wou doodmaak... Wat ‘n tragedie sou dit nie gewees het nie? Die leier wat die Here vir die Israeliete aangewys het, word doodgemaak voor hy nog enigeiets kon vermag. En dit omdat hy nie sy eie huis in orde gekry het nie! En dan sien ons hoe Sippora, Moses se vrou, hom van ‘n gewisse dood red... Sy besny haar seuns, en sê aan Moses: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Ja, liewe vriende, deur die besnydenis word nie net Moses gered nie, maar hierdie gesinnetjie saamgebind met ‘n bloedband. Deur hierdie daad van Sippora stel sy nie net die verhouding tussen Moses en God reg nie, maar ook sy verhouding met haar en hulle kinders.
Ek glo dat hierdie optrede van Sippora vir God genoeg rede was om vir Miriam later so kwaad te word dat Hy haar met melaatsheid gestraf het. Ek glo dat God waarlik ook ‘n bloedband met Sippora gehad het, omdat sy verantwoordelikheid vir die verbond met haar seuns en haar gesin geneem het. Later het die Here ook nie meer net die seuns besny nie... Nee, met Jesus se koms het die doop gekom, waardeur dogters en seuns, mans en vrouens wat hulle uit die heidendom tot die Here bekeer het, gedoop is.
En al het ons nie meer vandag die besnydenis nie, weet ons dat daar vandag nog soveel Sippora’s om ons is. Vrouens wat as’t ware hulle mans se deel van die doopbelofte nakom. Vrouens wat hulle mans aanmoedig om hulle kinders te laat doop en reg groot te maak... Wat nag vir nag by hulle kinders sit en vir hulle uit die Bybel lees en bid, terwyl die mans te besig is met die “groot en belangrike dinge in die lewe”.
My medebroers, as selfs Moses, wat in Numeri 12:3 beskryf word as meer sagmoedig as enige ander mens op aarde, so ‘n oorsig kan begaan, hoe lyk dit nie in ons lewens nie? Neem ons die verantwoordelikheid om ons kinders reg op te voed, of laat ons dit alles aan ons vrouens oor? Is ons nie dikwels besig om van hulle die sondebokke te maak, terwyl ons eintlik sonder hulle al lankal onder God se oordeel sou weggekwyn het nie? Kyk ons nie dikwels so in hulle swak punte vas, dat ons die oorweldigende goeie wat hulle vir ons doen nie raaksien nie?
Die Bybel praat nie net negatief van vrouens nie – Inteendeel, van die begin van die Bybel af, was daar vrouens wat die lot van Israel en van die Christene drasties verander het... Dink maar aan Isak se vrou Rebekka, aan Ragab in Jerigo, aan die rigter Debora, aan koningin Ester, aan Maria Magdalena, aan Lidia die purperverkoopster, en so kan ons eindeloos aangaan...
Maar te midde van al hierdie vrouehelde in die Bybel moet ons in gedagte bly hou dat vroue soos koning Agab se Isebel so telkens ook soveel negatiewe kon vermag. Ons moet besef dat die rigting wat ons as gemeente en kerk in Bospoort en Suid-Afrika inslaan, ook afhang van ons vrouens se getrouheid aan die Here, en hulle verbindtenis om hom werklik bo alles te dien en te vertrou as hulle enigste sekuriteit, selfs in tye waar dit moeilik gaan in hulle gesinne en hulle huwelike.
Of ons dit wil weet of nie, is ons vroue en moeders die ruggraat van ons samelewing. Sonder hulle inspirasie, deernis, verantwoordelikheid en deursettingsvermoë sou ons samelewing ‘n baie nare plek gewees het. En ek glo dat die ware sleutel vir herlewing in ons tyd nie net by Mighty Men lê nie, maar by ons vermoë om werklik as gesinne saam, as mans en vrouens en kinders saam, ons beste vir ons Here te kan gee.
Ek sluit af. Ek is seker dat baie van julle al die sarkastiese spreekwoord gehoor het, wat lui: “Agter elke suksesvolle man staan daar ‘n vrou wat aan hom vertel dat hy verkeerd is.” Ons lag dikwels vir hierdie grappie omdat ons dikwels ervaar dat ons vrouens onnodig negatief en neulerig is. Dat hulle gereeld oor dinge “nagg”, of soos die gedrup is van ‘n dak wat lek, terwyl ons ervaar dat ons suksesvol is in die lewe.
Maar gelukkig was daar in die “suksesvolle” Moses se lewe ‘n vrou wat ook sy swakpunte en sy nalatigheid raakgesien het, en iets daaraan gedoen het. Ja, ek is seker dat daar baie mans is wat al te hoog gevlieg het, hulle vlerke verbrand het, en hulle te pletter geval het, omdat hulle nie iemand gehad het wat hulle nederig kon hou nie. Omdat hulle nie iemand gehad het wat aan hulle die belangrikste in die lewe, die Here van die dinge kon herhinner nie.
Kom ons sê vandag vir die Here dankie vir Sippora, en vir elke vrou wat sensitief is vir die Here se stem, en bereid is om op te tree sodat ons as gesinne gered kan word! AMEN!
Wees wakker! Die duiwel loop rond!
Preek gelewer op 18 April 2009 te Bospoort tydens Satanisme – praatjie.
Liedere vir Sondag 19 April 2009.
Skriflesing:
1 Petrus 5:1-14
TEMA:
Staan vas teen die Duiwel!
Voorsang:
Lied 512 Nader My God by U
Lied 511 Lei U ons lig!
Lofsang:
Lied 157:1,2 Here Jesus, ons is saam.
Na Wet:
Lied 241:1-3 Troue Here van my lewe!
Slotsang:
Lied 513:1-3 Soek in God jou sterkte.
Preek:
Aankondiging van Skriflesing: 1 Pet 5:1-14
Ek kry nou net hier by die koster 'n boodskap wat sê: Een van die leeus in die omgewing se wildskampe het ontsnap, en hulle is besig om na hom te soek, maar kon hom nog nie opspoor en vang nie. Ons vra asseblief dat elkeen op die uitkyk sal wees vir die leeu... Moet asseblief nie julle kinders alleen in die veld laat loop nie, en moet veral nie in die donker buite rondloop of sonder 'n lig wees nie.
Kom ons gaan dan voort met ons Skriflesing:
Skriflesing:
Weet julle, liewe vriende julle kan aan die een kant nou maar ontspan. Julle kon seker al teen hierdie tyd aflei dat daar nie een van Oom Pieter of oom Gerhard se leeus ontsnap het nie. Maar aan die ander kant wil ek hê dat julle vanoggend moet regop sit en mooi luister. Want die gevaarlikste leeu in Afrika en in die wêreld is die Satan self, en hy is verseker besig om orals rond te loop. Hy is baie honger, en hy is besig om te soek wie hy kan verslind... Hy kyk watter mense hy kan vang en eet.
Wat sou ons gedoen het as daar regtig een van die leeus ontsnap het? Ons sou waarskynlik gesorg het dat ons 'n geweer naby aan ons gehou het as ons in die veld loop. Ons sou seker gemaak het ons kinders en werkers het selfone of radios waarmee hulle kan kommunikeer as hulle die leeus sien. Ons sou waarskynlik ons kinders en werkers beveel het om nooit alleen te loop nie. Om op die uitkyk te wees vir enige tekens van die leeu, en spore wat hy mag los... Ons sou seker gemaak het ons kinders en ons vriende, sowel as ons werkers, ken 'n leeu, en sal weet om die ander te waarsku as hulle wel 'n leeu of leeuspore sien...
Maar weet julle, liewe vriende, wanneer Openbaring 12:9 aan ons vertel dat die draak, die Satan uit die hemel uit gegooi is, en die kerk van die Here Jesus kom aanval, ignoreer ons dit dikwels. Ons maak baie soos daardie volstruis wat sy kop onder die sand druk, en dink dat die leeu hom nie kan sien as hy nie die leeu sien nie. Vir baie teoloë en predikante is dit maklik om te sê dat die Duiwel nie regtig bestaan nie, en maar net deel was die manier waarop mense in die Bybelse tyd gedink het. Want hulle dink as hulle nie aan die Bestaan van die Duiwel glo nie, kan Hy niks aan hulle doen nie...
En al is dit so dat ons die oog op Jesus moet vestig, en op God Drie-Enig moet fokus in ons geloof, is dit belangrik om ook ons vyand die Satan te ken. Dit is vir ons belangrik om te weet op watter maniere hy probeer om mense van God af weg te rokkel.
Uit hierdie gedeelte in 1 Petrus 5 wil ek graag 5 eienskappe van die Duiwel uitlig... Hierdie leeu is besig, hy is briesend, hy is baaaie honger, hy is bang, en hy is berug.
Daar word vertel van die ou tannie wat nooit iets slegs van enigeiemand kon sê nie. Sy het altyd net goed van almal om haar gepraat. Een dag dink die dominee toe hy gaan haar uitvang, en sê aan haar dat sy niks goeds van die duiwel kan sê nie. "Wel dominee", het sy geantwoord, "jy moet erken dat Hy darem nie 'n lui haar op sy kop het nie!" Liewe vriende, ons moet weet dat ons die Duiwel nie moet onderskat nie. Ons dink partykeer aan die Duiwel soos aan 'n leeu wat in die dag lê en slaap, maar ons moet weet dat hy 'n jagdier is, wat besig is om planne te maak om ons vas te trek en te vang. Dat hy veral in die donker, in die nag vreeslik aktief is, en besig is om rond te loop en na 'n vangs te soek.
Die tweede eienskap van die Duiwel is dat hy briesend is... Hy is soos 'n kwaai, brullende leeu, wat 'n seer tand het. Hy is briesend omdat hy reeds verloor het. Hy het die stryd teen God en sy engele in die hemel verloor, en is nou besig om hom te probeer wreek op mense op die aarde. Hy probeer om mense vir hom bang te maak, en teer daarop as mense vir hom vrees, en dink dat hy die sterkste is, selfs sterker as die Here en sy engele.
Die derde belangrike ding van die Duiwel, is dat hy baie honger is, en nooit genoeg kry nie. In vers 8 van 1 Petrus 5 lees ons dat hy soek wie hy kan verslind. As die Duiwel eers iemand in sy kake gekry het, dan verslind en verniel hy so 'n persoon. Die van julle wat dalk al by oom Pieter of oom Gerhard was, sal weet hoe dit klink as so 'n leeu besig is om bene met sy sterk kake te breek, of middeldeur te byt. Ek glo dat julle na die diens 'n klein bietjie sal hoor by Ria van watter verskriklike marteling en pyn iemand moet deurgaan wat in die web van Satanisme vasgevang geraak het. Ons moet ook weet dat die Duiwel honger bly en nooit genoeg kry nie. Hy sal nie tevrede wees voor die kerk of 'n gemeente van die Here Jesus heeltemal tot niet is nie.
Die vierde eienskap van die duiwel wat ons moet raaksien, is dat hy bang is... Ja, al brul hy en gaan hy tekere, is hy diep in sy hart maar 'n lafaard. Ervare jagters en leeukenners sal vir jou sê dat jy nie vir 'n leeu moet weghardloop nie... Hy hou daarvan om hakskene te sien. Jou beste kans om te oorleef wanneer 'n leeu jou storm, is om doodstil te bly staan. Net so is dit met die Satan. Hier in 1 Petrus 5:9 moedig die apostel Petrus die gelowiges aan om vas te staan, en om die Duiwel tee te staan.
As ons as gelowiges in God se koninkryk nie betrokke raak in gebed, en woordverkondiging, en ondersteuning van die swakkes om ons nie, omdat ons bang is vir die Duiwel se aanvalle, dan moet ons nie verbaas wees as die Duiwel ook maklik 'n voet in die deur kry in ons eie huise en onder ons eie familie en in ons eie omgewing nie. Daarom moedig Petrus ook die ouderlinge in 1 Pet 5:5 aan dat hulle die kudde van God wat aan hulle toevertrou is, baie goed moet oppas.
Die laaste eienskap van Satan wat ons hier van leer, is dat hy berug is. Die woord berug is 'n groot woord, wat eintlik sê dat die Satan orals bekend is vir sy misdade. In vers 9 lees ons dat gelowiges oor die wêreld ook onder die Satan se vervolging moet ly. Anders as 'n leeu van 'n leeuboer wat ontsnap, en darem tot 'n sekere omgewing beperk kan word wanneer 'n mens na hom soek, is dit anders met die Satan. Die Satan steek orals sy kop uit. Jy kan nooit weet presies waar om hom te verwag nie. As ons nie wakker is nie, dan gaan ons onverhoeds betrap word.
Noudat ons al hierdie dinge van die Satan weet, wat staan ons te doen? Wat word van die Kerk van die Here Jesus verwag in die tye waarin ons leef? Ons moet in die eerste plek weet dat ons die kudde van God, wat Hy aan ons toevertrou het, goed moet oppas, soos vers 2 van 1 Petrus 5 vir ons sê. Hoe sal dit lyk as ons met leë hande voor die Heer in die hemel moet staan, en sê dat die leeu al die skape opgeëet het. Want ons het nie gekyk wat ons kinders op die TV kyk nie, ons het nie saam na hulle musiek geluister nie, ons het nie kontrole gehou oor waar hulle op die internet "surf", of met wie hulle "mixit" nie.
Ons moet ook weet dat die Satan teer op hoogmoed. Daar waar mense dink dat hulle staan, moet hulle oppas dat hulle nie val nie, soos 1 Kor 10:12 sê. Ons moet weet dat bekering ware en volkome oorgawe aan God is. As ons hoogmoedig is, en die eie ek in ons lewe toelaat, as ons dink dat ons nie die Here se hulp teen hierdie leeu nodig het nie, gaan hy vir ons verseker vang. Ja, alleen as ons ons in nederigheid aan die kragtige hand van God onderwerp, kan God ons help om die Satan, die brullende leeu te oorwin.
Die laaste, maar nie die minste nie, is dat ons na die Here toe moet gaan met ons bekommernisse. Die brullende leeu soek die wat eenkant is, geïsoleerd is, wat swak is en moeg is vir die lewe. In plaas daarvan om ons tot die sterre voorspel, tot bonatuurlike speletjies, en vreemde rituele wend om van ons bekommernisse ontslae te raak, moet ons soos Mattheus 11:29 sê, ons bekommernisse op die Here Jesus werp, want sy juk is sag, en sy las is lig.
Ek sluit af... Daar is 'n verhaal uit Amerika van iemand wat na 'n Halloween partytjie oppad was. Hierdie ou was vermom in 'n duiwelsuitrusting, met 'n vurk in sy hand. Ewe skielik sak daar 'n sterk bui reën uit, en die ou spring by die eerste en die naaste gebou in om skuiling te vind. Die gebou was toe juis 'n kerk, waar 'n kerkdiens aan die gang was. Toe die dominee in sy preek stop, en verward na agter kyk, kyk almal om, en sien die man in sy duiwelse vermomming agter in die kerk staan.
Die vrouens het begin skree, en ewe skielik was daar massahisterie. Al die kerkgangers het by die uitgange uitgeborrel, behalwe een ou tannie wat baie naby aan die man was, en te swak was om te hardloop. Sy val toe op haar knieë voor die "duiwel" neer, en sê: "Weet jy duiwel, ek was eintlik nog altyd aan jou kant."
Ons kan lekker lag vir hierdie verhaal, maar die vraag bly vanoggend staan... Het jy al kant gekies? Is jy verbind om aan die Here se kant te veg, en voluit vir hom te lewe? Of hink jy nog op twee gedagtes, is jy 'n toeskouer wat maar net toevallig op die paviljoen, op die kerkbanke beland het. Kom luister na hierdie lied, en ons gee onsself weer opnuut in nederigheid aan die Here die Goeie Herder oor. Kom ons trek die wapenrusting van Efersiërs 6 aan, sodat ons reg is vir die brullende leeu!
AMEN.
Thursday, April 16, 2009
Om dankie te kan sê – Psalm 147.
Preek gelewer op 16 April 2009 te Bospoort.
Om DANKIE te kan sê.
Daar word vertel van 'n man en sy vrou wat eendag na 'n pragtige antieke teekoppie in 'n winkel gekyk het. Terwyl hulle na die teekoppie kyk en dit bewonder, begin die teekoppie te praat... "Weet julle, ek was nie altyd so nie, sê die teekoppie." Ek was eers 'n ruwe bol klei. Toe neem iemand my en begin my brei, en druk, en platslaan op die tafel... Ek het geskree: "Stop, ek kry seer!", maar toe gaan dit nog erger. Ek is in die rondte gedraai tot my kop heeltemal dronk was. Weereens het ek gesê: "Stop, ek is dronk, maar toe word dit nog erger." Ek word in 'n warm oond gedruk, en ek sweet so dat ek amper dood is van die hitte. Toe word ek uitgehaal en geverf met verf wat baie sleg geruik het. Ek het sommer verstik aan die walms!
Maar dit was nog nie klaar nie! Ek word toe weer in die warm oond gedruk, en kry toe weer verskriklik warm. En uiteindelik word ek weer uitgehaal en afgekoel. Ek het eers gewonder hoekom die man my so gemartel het, maar vandag is ek hom baie dankbaar. Want omdat hy my gebrei het, het ek nie gebars nie, en omdat Hy my so warm gebak het, het ek sterk gebly, en my verf het nie afgedop nie. Dit is vir die man wie se naam onder aan die koppie geteken staan wat julle moet hande klap.
Weet, julle liewe vriende, as 'n mens oor die volk Israel dink, dan dink 'n mens dikwels net aan hulle swaarkry in die Ou Testament. Hoe hulle deur die woestyn is, baie oorloë moes deurmaak, baie droogtes moes deurstaan, en selfs dikwels in ballingskap weggevoer is.
Maar as 'n mens bietjie deur die boek Psalms blaai, dan sien 'n mens nie net klaagpsalms nie. Nee, inteendeel... Die meeste Psalms was lofpsalms teenoor God. As 'n mens na die groepie gehawende ballinge wat uit die vreemde teruggekeer het na Jerusalem en die afgebreekte tempel op die berg Sion, dan wonder 'n mens partykeer wat hulle nog het om voor dankie te sê. 'n Mens vra jouself in 'n sekere sin af... Wat is nog van hierdie mense oor na alles wat hulle deurgegaan het?
Israel was sonder wapens, sonder 'n leermag om hulle te beskerm. Hulle moes weer van voor af begin om hulle huise op te bou. Hulle het baie mense gehad wat nog letsels en wonde oorgehou het van die ballingskap, en familielede wat dood is in die oorloë. Hulle het geen politieke mag meer gehad nie. Hulle is as volkie vertrap tussen die Perse, die Babiloniërs, en die wrede Romeine. En tog, teen alle verwagting in, kry ons hier in Psalm 147 'n jubelende loflied tot eer van die Here. Wat op aarde het gemaak dat hierdie volk nog ten spyte van alles gehelp om die Here te kon prys?
Weet julle, vriende, soos die teekoppie in ons storie het Israel ook tot 'n besef gekom dat alles wat met hulle gebeur het deur die tye 'n besondere doel gehad het... Want deur dit alles het hulle begin besef dat die Here met hulle 'n besondere doel gehad het, en dat Hy besig was om van hulle 'n pronkstuk in sy Koninkryk te maak. Dat hulle nie net in die negatiewe moes vaskyk nie, maar werklik die positiewe in hulle lewe moes sien...
En so sien ons dat die digter van hierdie Psalm onophoudelik die Here se lof besing. Dat die dankbaarheid en lof vir God net onophoudelik uit sy mond uit vloei. Hy begin deur te sê dat dit hy nie soos 'n klein kindjie net dankie sê omdat sy ma gesê het dat dit goeie maniere is nie. Hy begin deur te sê dat dit goed is, en nodig is vir 'n mens om dankie te kan sê. Hy begin deur dit duidelik te stel dat 'n mens self daarby baat wanneer jy dankie sê. Dat dit lekker is om die Here net spontaan te kan loof! Dat dit 'n vreugde en genot is om sy Naam groot te maak.
Die digter kom gee 'n ellelange lys van dinge waarvoor Israel vir God kan dankie sê: Hy kom sê dankie vir die krag van die Here om die stad Jerusalem weer te herbou, en die feit dat die Here die Israeliete weer bymekaar bring. Hy kom sê dankie aan die Here dat hy mense met stukkende harte genees, en dat Hy ongeneesbare wonde in mense se lewens kom verbind, en heelmaak.
Hy kom sê ook dankie dat God in die besonder die onderdruktes ondersteun, en die goddeloses vertrap... dat God nie beïndruk word deur groot en magtige wapentuig en sterk soldate nie, maar dat Hy hom verheug in hulle wat Hom dien, en op Hom hoop. Dat God die een is wat ook die nuut geboude stad se poorte sal versterk, en die Een is wat ware vrede oor die land gee.
Hy kom sê dankie vir die wete dat 'n mens se lewe nie in die hand is van die voorspel van sterre nie, maar dat die Here die sterre elkeen gemaak het, en hulle naam ken. Hy kom sê dankie vir die wete dat die Here alles weet, en Almagtig is om enige probleem wat ons het, uit die weg te kan ruim.
Dat God ook die God is wat die natuur in sy Hand hou... Wat die hemel oordek met wolke, en reën vir die aarde verskaf. Wat die gras op die kaal berghellings laat groei, en die wilde diere en jong kraaie kos gee. Wat vir sy kinders die beste graan gee, en wat die seisoene beheer en bestuur.
En dit is oor hierdie wonderlike God waaroor ons ook vanoggend hier saam is. Ons weet dat ons in baie opsigte ervaar dat ons magteloos is. Dat ons soos die Israeliete ook maar staan en kyk wat om ons in die wêreldpolitiek, en die wêreldekonomie besig is om te gebeur. Dat ons ook voel dat onsself nie meer veel kan doen aan ons eie lot in hierdie land nie...
Maar ons staan ook vanoggend voor die Here as die een wat ook in die afgelope twee seisoene vir ons geseën het met wonderlike reëns en wonderlike oeste. As die Een wat vir ons deur swaar tye heen altyd vertroos het en gedra het. As die een wat ook vir ons vrede verskaf, en die geleentheid om Hom werklik te kan dien. As die Een wat Sy bevele aan ons bekend maak, en Sy Woord aan ons gegee het. En daarom is dit noodsaaklik dat ons die Here werklik loof, en Sy Naam kom grootmaak. Dat ons hom met lofliedere en snaarinstrumente prys, en Hom eer.
Dit is wonderlik om vanoggend hier saam te wees om vir Hom dankie te sê: Maar dit is ook nodig dat ons op die pad vorentoe ook dankbaar sal leef. Dat ons lewe 'n loflied tot Sy eer sal wees, en dat ons ons sal verdiep in sy Woord, en die riglyne wat Hy vir ons in die lewe gegee het.
Ek sluit af. Daar word vertel van die wêreldberoemde snydokter wat 'n groot ateis was. Hy het glad nie in God geglo nie. Dit gebeur toe dat hy eendag 'n man moes opereer wat in 'n fabriek in 'n groot ongeluk was. Die man se hele lyf was in twee gesny, en net sy rugwerwel het die twee stukke van sy liggaam aanmekaar gehou. Die dokter het geen hoop gehad nie, en maar vasgewerk wat hy kon.
Die persoon het wonderbaarlik reggekom, en toe die familie na die dokter toe kom om vir hom dankie te sê, was sy antwoord aan hulle: "Moenie vir my dankie sê nie, sê maar net dankie!.
Kom ons bring ook in hierdie tye die lof aan die een wie dit werklik toekom. Ons Drie-Enige God en Vader, wat ons elke dag dra en lei!
AMEN!
Friday, April 10, 2009
Johannes 12:24 Om soos ‘n koringkorrel te sterf…
Skriflesing en liedere vir Paasdiens op 10 April 2009.
Skriflesing:
Johannes 12:23-33
Liedere:
Voorsang:
Lied 489:1-3 Waak Christen staan in die geloof.
Lied 528:1-3 Leer My U wil, Heer.
Lofsang:
Lied 391:1-6 Vervul o Heer my hart met stille wyding.
Voorbereiding van die tafel
Lied 253:1,2 U het die brood gebreek.
Slotsang:
Lied 505:1-4 Jesus, U gaan voor…
Iemand het eenkeer gesê dat ons lewe voor God soos 'n tappisserie lyk. Aan God se kant vertoon dit 'n pragtige beeld, maar aan die ander kant lyk dit erg deurmekaar en sonder sin. James Boice sê dat 'n kerk se preekstoel dikwels van voor af mooi lyk, maar aan die agterkant dikwels vol deurmekaar boeke, mikrofoondrade, en los oortollige goedjies is wat weggesteek word.
Maar James Boice vertel ook van 'n besondere teksvers wat hy eendag aan die agterkant van 'n preekstoel vasgeplak gesien het... Dit is 'n deel van Johannes 12:21 in die 1953 vertaling, waar die Grieke kom en aan Fillipus die dissipel van Jesus vra: "Meneer, ons wil Jesus graag sien." Hierdie teksvers het my in 'n sin ook tot stilstand gebring met die vraag – watter Jesus wys ek vir die mense? Watter deel van Jesus verkondig ek van die kansel af?
Net soos die Grieke wat destyds baie belanggestel het in wysheid (1 Kor. 1:22), is die versoeking seker groot om vandag aan mense wat al van kleins af die evangelie gehoor het, 'n geleerde Jesus te verkondig. Om mense te beïndruk met 'n klomp hoë woorde en wyse kwinkslae, maar uiteindelik niks van waarde te sê nie... Om 'n rabbi, of leermeester aan die mense voor te hou wat 'n klomp slim spreuke aan ons gegee het. 'n Rabbi wat 'n klomp ingewikkelde dinge vir ons mense kom leer het. 'n Jesus net vir baie slim mense.
Maar dan is die gevaar dat dit met ons sal gaan soos sekere ouens op universiteit... 'n Mens leer al hoe meer van al hoe minder, en dan weet jy later alles van niks... En in elk geval... Is dit wat die Grieke regtig kom soek het? Was hulle nie al keelvol vir die filosowe van hulle tyd wat hulleself die heeltyd met allerhande slimmighede en breingimnastiek besig gehou het, sonder om daadwerklik 'n verskil te maak aan die wêreld nie.
Daar word vertel van 'n kind in Nederland (daar dra die dominees nog so 'n wit beffie) vir sy ma gevra het – "Ma, hoekom dra die dominee dan 'n borstlap?" Dis omdat hy so met woorde mors, my kind, was haar antwoord. Wanneer Filippus en Andreas dan hierdie versoek aan Jesus oordra, mors Hy nie met woorde nie. Hy kom reguit tot die punt. Kom ons luister daarna in Johannes 12:23-33:
Skriflesing: Johannes 12:23-33
Daar word vertel van die slaaf daar in die Ou dae van die Kaapse kompanjie by 'n hotel of 'n herberg gewerk het. Hierdie slaaf kon geen Engels verstaan nie. Eendag kom daar 'n Engelse Lord slaap, wat die volgende oggend vroeg weer moes vertrek. Hy het aan die eienaar van die hotel gevra om hom baie vroeg wakker te maak. Die eienaar reel toe met die slaaf om dit te doen, en hy leer hom die volgende woorde soos 'n pappegaai... "My Lord, it is your servant, I have come to wake you up."
Die slaaf het die woorde oor en oor geleer, en het gedink dat hy dit goed genoeg ken. Maar toe hy die oggend aan die deur klop om die belangrike man wakker te maak, raak hy deurmekaar, en sê: "My servant, it is the Lord, I have come to wake you up."
Ons kan lekker lag vir hierdie slaaf, maar ek glo dat iets van wat met hierdie slaaf gebeur het, ook met die kerk van vandag begin gebeur het. Ons verstaan nog steeds nie die dienskneg-boodskap van Jesus Christus nie, en ons maak geweldig baie van gesag en van baas-wees in die kerk. Ons wil graag die verheerlikte Jesus, die Koning aan Gods regterhand ontmoet, sonder om werklik te besef wat Jesus aan die kruis vir ons kom doen het.
Ons het van kleins af grootgeword met die begrip – eers die pap en dan die poeding, maar nooit regtig besef dat dit ook die pad is wat elke gelowige in sy lewe moet stap nie... Want dit is die antwoord wat die Here Jesus aan die Grieke gee... en ook vandag aan elkeen van ons op Goeie Vrydag kom gee...
Ja, liewe vriende, hier in Johannes 12 kom wys Jesus aan die Grieke van sy tyd, en ook aan ons, dat die Koninkryk van die Hemel gaan oor self-opoffering. Dit gaan nie oor gulsigheid en gierigheid nie, maar oor selfdissipline. Dit gaan nie oor 'n kortpad om vinnig ryk te word nie, maar oor die werklike waardevolle dinge in die lewe wat ons alleen kan kry wanneer ons bereid is om onsself te gee.
Jesus kom gebruik die beeld van 'n koringkorrel, en ek glo elkeen van julle ken die vergelyking baie goed. As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, sal dit net een bly, maar as dit geplant word en ontkiem, sal daar 'n koringaar opkom wat baie koringkorrels sal dra. Alleen as 'n koringkorrel, of 'n mieliepit, of 'n sonneblomsaadjie in die grond val en sterf, kan dit homself vermenigvuldig en 'n groot oes inbring.
Liewe vriende, Christus het gekom om 'n kruis te dra, nie 'n kroon nie. Hy het nie gekom om 'n lewe van eer, gemak, en uitnemendheid te lewe nie, maar om 'n veragtelike en 'n oneerbare dood te sterf. God se koninkryk begin met 'n kruisiging, nie met 'n kroning nie. Die wonder van God se Koninkryk lê nie daarin dat Jesus oorwinnings deur die swaard behaal het nie, dat Hy rykdomme van goud en silwer vergader het nie, maar in die dood van sy Koning, van Jesus Christus aan die kruis.
Jesus het soos 'n koringkorrel in die grond kom val, en gesterf, en miljoene Christene oor die wêreld is vandag die teken van die vrug wat sy sterwe gedra het. Maar êrens het iets verkeerd begin gaan... Want ons ervaar net nie meer dat die kerk groei nie. In Europa staan daar baie pragtige kerke leeg. In ons eie land word baie kerke in die middestad en op die platteland toegemaak.
Ek glo dat een van die redes daarvoor is, dat ons net die lekker deel van Godsdiens wil hê. Ons wil as't ware die lekker rosyntjies tussen die grondboontjies uitsoek. Ons wil konings wees, en mag in die kerk hê, eerder as om te ervaar wat dit beteken om werklik te sterf, en waarlik dienskneg te wees. Ons moet besef dat dit uiteindelik selfopoffering is wat die lewe die moeite werd maak. As daar nie dinge is waarvoor jy bereid is om te sterf nie, is daar niks wat die moeite werd is om voor te lewe nie.
Iewers het daar in die Teologiese Fakulteite en in ons kerk die gedagte ingesluip dat bekering vandag nie meer nodig is nie. Mense glo dat as jy in 'n Christelike huis gebore is, en God maar van kleins af dien, dat jy uiteindelik ook 'n Christen sal wees. Dit is amper soos om te glo dat as jy in 'n motorhuis gebore is, jy 'n motor word. Ek glo dat dit deel is van die rede hoekom ons so 'n groot onverskilligheid en gebrek aan kerkbywoning by mense het. Ek glo dat dit is hoekom Christene so maklik net heeltemal kerklos raak. Want ons besef nie meer dat Christenskap van ons 'n prys vra nie. Dat Jesus uitdruklik in vers 25 en 26 vir ons kom sê:
25 Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26 As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer."
Liewe Vriende, om kind van die Here Jesus te word vra 'n keuse. Dat vra dat ons nie net een met Hom sal word in Sy heerskappy op die troon nie, maar dat ons eers saam met Hom sal sterf... Dat ons eers soos koringkorrels van onsself en ons eie wêreldse belange sal afstand doen, en werklik met Hom een sal word in Sy dood.
Ons word net Christene deur Jesus se dood aan die kruis. Ons word nie Christene deur Jesus na te volg, of deur te doen wat Hy as Leermeester vir ons sê nie. Niemand kan tog nadoen wat Jesus in Matt. 5:48 vir ons leer nie: "Wees julle dan volmaak, soos my Vader in die Hemel volmaak is nie. Om die kruis te ontken, is om Christus te ontken. Om "sterk te wees", en te weier om jou sondes te bely, is om die enigste weg tot verlossing te ontken.
Jesus kom gee vir ons vanoggend weer die weg tot saligheid, tot verlossing, tot 'n ewige lewe saam met Hom in die Hemel. Daar in vers 26 kom spel Hy dit duidelik in drie stappe vir ons uit:
1. As iemand my wil dien, moet hy my volg;
2. Daar waar ek is, sal my dienaar ook wees;
3. As iemand my dien, sal die Vader hom eer.
In die eerste plek kom beklemtoon Jesus dat ons bereid moet wees om Hom te volg. Dat ons Hom nie op 'n afstand kan dien nie, maar 'n pad in gehoorsaamheid agter Hom aan sal stap. Dat ons soos 'n soldaat wat sy generaal, of 'n slaaf sy baas, of 'n leerling sy gunsteling onderwyser, of 'n skaap sy herder volg, ook vir Jesus blindelings sal volg, waar Hy ons ookal sal lei.
In die tweede plek weet ons dat ware dienaars van die Here Jesus ook graag gaan waar die Here Jesus gaan. Dat hulle graag wil wees waar Jesus is, en aan die werk wil wees waar Hy aan die werk is. Want om by Hom te wees, en te dien waar Hy dien, is die enigste plek waar enige ware kind van die Here graag sal wil wees...
Laastens weet ons dat die Ewige Lewe verseker wag vir hulle wat vir Jesus dien, en hulle lewe aan Sy voete lê. Alhoewel die weg soms swaar en steil is, lê is die Ewige Lewe in bewaring vir die wat volhou op hierdie pad... Daar word vertel van 'n klomp predikante in China, wat geweldige vervolging verduur, wat op 'n verrykingsessie of 'n "retreat" in een van die Westerse lande geneem is. Daar is aan hierdie predikante vertel hoe om die lyding wat hulle ervaar ligter te maak, en as't ware te "cope". Een van hulle het toe opgestaan en gesê: "Please do not tell us how to cope, and make it lighter. Please just tell us to stay faithfull!"
Of ons dit wil weet of nie, ons het Christenskap in 2009 goedkoop gemaak. Die kerk en sy vergaderings gaan dikwels oor soveel klein en nietige dingetjies waaroor mense seer tone het, terwyl die saailand daar buite staan en wag. Terwyl die lande ryp is vir die oes... Wanneer gaan ons besef wat dit beteken om werklik diensknegte te wees, en die Here Jesus te volg waar Hy ons ookal lei.
Ek wil afsluit... Ek het gister oor die nuus gehoor dat biskop Paul Verreyne van die Metodoste kerk 'n losprys van R 30 000 op sy hoof het, omdat hy aan 2500 Zimbabwêers skuiling in die middestad van Johannesburg verskaf. In hierdie Paastyd het die ooreenstemming met die 30 silwerstukke wat op Jesus se kop was, nogals tot die werklikheid teruggeruk. Weet ons regtig wat dit beteken om Jesus blindelings te volg – om Hom waarlik gehoorsaam te wees?
Ek glo dat ons ook vanoggend met Nagmaal weer op ons knieë voor die kruis moet kniel, en bely dat ons die boodskap van Jesus totaal misverstaan het. Dat ons niks meer as 'n klomp "base" geword het, wat nie werklikd verstaan het dat ons eintlik geroep is om diensknegte, en selfs meer, om "slawe" vir Jesus te word nie!
AMEN.
Grieke – Sir, we wish to see Jesus... Dominee, ons wil Jesus graag ontmoet.
1953 – My Heer, ons wil Jesus graag sien...
Die weg tot lewe is nie gulsigheid nie, maar dissipline.
Die manier om waardevolle dinge te bereik lê in self-opoffering.
J. C. Ryle writes:
This sentence was primarily meant to teach the wondering Greeks the true nature of Messiah's kingdom… Our Lord would have them know that He came to carry a cross, and not to wear a crown. He came not to live a life of honour, ease, and magnificence, but to die a shameful and dishonoured death. The kingdom He came to set up was to begin with a crucifixion, and not with a coronation. Its glory was to take its rise not from victories won by the sword, and from accumulated treasures of gold and silver, but from the death of its King.8
Die Grieke moes weet dat ware verlossing deur die dood alleen kom. Dat die dood van Jesus die vrug sou bring in so baie mense se lewens.
Waar die boodskap van Jesus se versoeningsdood gaan, bring dit vrugte in oorvloed. Dit is die hart van die Christelike boodskap.
Verskil tussen PSYGHE EN ZOE. Aardse siel en hemelse lewe.
Is dit nodig om 'n verandering in jou lewe te ondergaan om gered te word? Kan ons nie maar net deur "die motions" gaan nie? Ons moet ook ons aardse lewe haat... 'n Nuwe oriëntering tot Jesus vind.
2 Belangrike beginsels: Sterf aan jouself. – Sterf vir die sonde.
Vers 26: Om te volg, om te wees waar Christus is, word deur die Vader geëer
VOLG: Soldaat 'n generaal, dienskneg of slaaf sy meester, leerling sy gunsteling onderwyser, skaap 'n herder, ens.
WEES WAAR JESUS IS...
ONTVANG GOD SE EER...
Mik jy hoog genoeg in die lewe? Ek sou kon doen met 'n miljoen – who wants to be a millionaire?
Sir, we wish to see Jesus...
Grieke.
The Hour of Glory
John 12:20-26
Rev. Richard D. Phillips
First Presbyterian Church, Coral Springs/Margate, FL, April 15, 2007
Wednesday, April 8, 2009
Hou vas aan Jesus as die gekruisigde! 1 Kor 2:1-5
Preek gelewer te Bospoort op 5 April 2009
SKRIFLESING: 1 Kor 2:1-5
Daar word 'n verhaaltjie vertel van van der Merwe (Jammer vir almal van julle wat van der Merwes is, maar hierdie is darem 'n positiewe grap!) wat by sy vriend gespog het dat hy almal in die wêreld ken. Regtig het sy vriend gevra. Ja, toets my gerus, het van der Merwe geantwoord.
Van der Merwe se vriend neem hom toe na die Withuis in Amerika toe, waar president Obama woon. Van der Merwe het die Withuis binnegegaan, en toe saam met President Obama op die balkon verskyn. Sy vriend was verstom, maar neem hom toe na die President in Rusland, President Putin toe. Daar gebeur dieselfde.
Maar Van der Merwe se vriend het vir hom 'n laaste toets gehad… Hy neem hom toe na die Vatikaanstad in Rome toe, daar waar die Pous woon. Van der Merwe se vriend kon weens die sekuriteit nie naderstaan nie, maar sien toe hoe Van der Merwe met 'n man met sulke wit klere op die balkon van die Vatikaan gaan staan. Hy wil toe seker maak dat dit die pous is, en vra toe aan iemand in die skare langs hom – wie is daardie ou in die wit klere? Ek weet nie, sê die ou, maar die ou langs hom is Van der Merwe!
Weet julle liewe broers en suster, ons kan lekker lag vir hierdie grappie, maar dit verduidelik eintlik vir ons dat dit nie eenvoudig is om iemand in die lewe werklik te ken nie. Net soos mense eerder Van der Merwe as die pous ken, so is dit dikwels so dat ons die Jan Alleman, die mense naaste aan ons die beste ken, en dat ons nie werklik die groot en belangrike mense wat elke dag op die televisie verskyn, werklik ken nie.
Maar selfs die mense naaste aan ons, selfs ons eie kinders of ouers, of huweliksmaats, openbaar soms aan ons eienskappe wat ons maklik kan sê: Maar ek ken my man of my vrou nie so nie. Selfs iemand soos Steve Hofmeyer se eie ma het nou die dag in die Sarie geskryf: "Ek ken my vrou nie so nie."
Maar weet julle, liewe vriende, as dit waar is van hoe goed of hoe sleg ons lewende, sigbare en tasbare mense rondom ons ken, is die brandende vraag vanoggend: "Hoe goed ken jy vir Jesus?" Weet jy wie Hy regtig is? Ja, ja, ons weet almal Hy is die Seun van God, en hy wil in ons harte woon, maar wie is hy regtig? Kom ons hoor 'n bietjie vanoggend – Wie is Jesus regtig? Wie wil vir ons sê?
As jy vanoggend huiwerig is om 'n antwoord te gee, is jy nie alleen nie. Want selfs die slim dominees en professors worstel vandag met die vraag. Andries Cilliers het 'n boek geskryf met die naam: "Sal die regte Jesus asseblief opstaan?" 'n Boek van Francois Wessels hier in my hand se naam is: "Wie was Jesus regtig?" As 'n mens hierdie boeke lees, dan sien 'n mens dat mense dikwels verskillende sienings het oor wie Jesus is, en wie Hy op aarde was.
Party mense sien Jesus as 'n groot rabbi, 'n wyse man wat 'n klomp slim dinge op aarde kom vertel het. Jesus is vir hulle die Groot onderwyser, wat vir ons 'n klomp dinge in die Bybel wil leer, en wil hê dat ons sommer 'n klomp teksverse uit ons koppe uit moet ken. Ander sien Jesus as 'n rebel. Hulle sê dat Jesus altyd in opstand was teen alles wat die kerk gedoen het, en graag mense uitgedaag het tot twisgesprekke.
Ander sien Jesus as 'n groot filosoof, iemand wat probeer het om 'n klomp slimmighede kwyt te raak, en aan almal om hom te wys hoe slim hy is. Ander sê dat Jesus die Koning is wat wonderwerke doen en absolute mag oor die skepping gehad het. Ander sê dat Jesus maar net 'n goeie mens was, wat nie werklik deur die Heilige Gees in die maagd Maria geskep is nie, en nie werklik opgestaan het uit die dood nie... En so kan ons aangaan.
As 'n mens al hierdie dinge hoor, raak 'n mens 'n bietjie deurmekaar oor wat om werklik oor Jesus te glo. En as 'n mens 'n bietjie deurmekaar is, dan is 'n mens in goeie geselskap. Want ons lees daar in Mattheus 11:3 dat selfs Johannes die Doper daar uit die tronk uit 'n Boodskap aan Jesus gestuur met die vraag: "Is U die een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?" Selfs Johannes het nadat hy Jesus gedoop het, en gesien het hoe die Heilige Gees soos 'n duif op Jesus neerdaal, Hoe God uitdruklik uit die hemel sê "Dit is my geliefde Seun", nog steeds getwyfel oor wie Jesus werklik is.
Maar liewe vriende, dit bring ons by ons teksgedeelte vanoggend, waar die Here ook die Apostel Paulus wil gebruik om vir ons te verduidelik wie Jesus werklik is. Daar in 1 Kor 2:2 kom sê Paulus duidelik: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde." Paulus skryf aan die Korinthiërs in 'n tyd waar hulle baie verskille onder mekaar gehad het. Hy skryf aan 'n gemeente wat klieks gevorm het, en elkeen gedink het dat hulle geestelik sterker of slimmer as die ander om hulle was.
Hy kom bevestig aan hulle dat die belangrikste deel van Christus se lewe sy kruisiging en opstanding uit die dood was. Hy kom bevestig dat enige preek waardeloos sou wees, as Jesus nie vir ons gesterf het, en uit die dood opgestaan het nie. Ja, liewe vriende, tussen al die ander wonderlike dinge wat Jesus gedoen het, en nog steeds doen, tussen al die eienskappe wat Jesus het, moet die kruis op Golgota vir ons in die middel staan. Want daar het hy die Satan werklik en finaal oorwin.
1 Petrus 2:24 sê dit vir ons so duidelik: "Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees." Ja, ons kan vandag werklik weet dat ons genees is van die sonde, dat ons kan lewe in gehoorsaamheid aan God as Vader, omdat Jesus ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra het. So het hy volkome vir ons sondes betaal.
Maar ons kan ook weet dat Jesus se kruisdood 'n effek in ons lewens moet hê: Paulus kom sê in Galasiêrs 6:14: Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Ja, deur die kruis van Jesus, is daar ook 'n stuk van die liefde vir die wêreld om ons wat moet afsterf, en daarom sal moet soos die sanggroep Prophet ook in Die
Houtkruis roem.
Maar is hierdie beeld van Jesus as die Gekruisigde nie maar net nog 'n manier om na Christus te kyk nie? Is dit nie maar nog een van die vele fassette van Jesus Christus se menswees nie? Paulus kom verseker ons in 1 Korinthiërs 2:3-5 dat dit nie maar iets is wat hy self uitgedink het nie.
Paulus bring 'n boodskap wat nie gaan oor menslike wysheid of geleerdheid nie, maar 'n eenvoudige boodskap wat weer kom bevestig dat Jesus se kruisiging die belangrikste gebeurtenis in sy lewe was. Hy kom bevestig dat hyself nie by magte is om 'n goeie kragtige boodskap aan die mense te bring nie. Hy as dominee, het in angs en huiwering, in vrees en onsekerheid na die mense toe gekom. Maar hy kon die wonderlike boodskap van Jesus se verlossing aan die kruis bring, omdat, soos vers 4 en 5 vir ons sê, die krag van die Heilige Gees, en God die Vader se krag die boodskap in ons harte vasbind en bevestig. En daarom moet ons dit ook in hierdie lydenstyd met ons hele hart glo en daaraan vashou.
Ek sluit af. 'n Persoon wat my van kleins af gefassineer het, is dr. Albert Schweizer, die dokter van Lambarene. Albert Schweizer was 'n besonder begaafde persoon. Hy was nie allen 'n baie begaafde predikant en diep geleerd in die teologie nie, maar hy was ook 'n baie goeie musikant, 'n kernfisikus, 'n mediese dokter, en 'n filosoof.
Tussen alles wat hy kon doen en bereik, het dr. Albert Sweitzer gekies om 'n dokter te word in 'n sendinghospitaal diep in 'n oerwoud in Afrika, in Lambarene. Hy het onder andere ook baie boeke geskryf, en in sy boek oor wie Jesus werklik was, sluit hy soos volg af:
"Hy kom na ons as die onbekende, sonder 'n naam, soos in die ou tyd langs die meer – soos Hy verskyn het aan hulle wat Hom nie geken het nie. Hy praat met ons in dieselfde woorde: "Volg my!" Hy roep, en aan hulle wat aan Hom gehoor gee, sal Hy Hom openbaar – ongeag daarvan of hulle dwaas of wys is. Hy openbaar Hom in die swaarkry, die konflikte en die lyding wat hulle moet deurmaak – in gemeenskap met Hom. Deur hulle eie ervaring leer hulle wie Hy werklik is.
AMEN.
Monday, March 30, 2009
Johannes 9:24-34 Geloof uit die boks uit!
Tema: Geloof uit die boks uit!
Skriflesing: Johannes 9:24-34
Daar word vertel van die dominee wat in die hospitaal vir die siek, ou bejaarde vrou by haar bed gestaan en bid het. Hy het onder ander gebid dat sy gesond sal word. Skielik spring sy uit die bed op, hardloop met die gang af, en roep bly uit: “Ek is genees, ek is genees!” Die dominee was verdwaas, en het kopskuddend na sy kar toe uitgestap. Toe hy by sy kar kom, kyk hy na die hemel op, en sê vir God: “Moet dit asseblief nooit weer aan my doen nie!”
Baie teoloë, predikante vandag sit God ook in ‘n boks. God word beperk tot wat ons dink Hy kan doen. God word ‘n teddiebeer-God wat ons kan liefhê, en wat ons kan troos in moeilike tye, maar God se almag om wonderwerke te kan doen word bevraagteken. God word ook geteken as ‘n God wat magteloos is om groot rampe soos die Tsunami af te weer.
In ‘n sin is die kerk van vandag vasgevang in ‘n geloof dat God vêr is, en nie by magte is om te sien wat op en onder die aarde en in die donker aangaan nie. Hierdie God wat ons skep is in ‘n sin nog minder by magte om werklik in te gryp in die mens se lewens. Ons mense van vandag is eintlik vasgevang in volstruispolitiek – As ek God nie kan sien nie, kan Hy my ook nie sien nie.
Maar weet julle, liewe vriende, om God in ‘n boks te sit, is nie ‘n nuwe ding nie. Alreeds in die Bybel se tyd sien ons hoe die Fariseërs, Skrifgeleerdes ook vir Jesus in ‘n bepaalde boks gesit het. Hierdie Fariseërs en Skrifgeleerdes het ‘n paar verkeerde en verdraaide aannames gemaak:
1. Hulle het gedink dat Jesus ‘n sondaar was, wat nie van God af kom nie.
2. Hulle het gedink dat sekere dinge net nie gedoen kan word nie.
3. Hulle het gedink dat hulle sonder sonde was, en dat net die mense om hulle sonde gehad het.
4. Hulle het gedink dat God nie na sondaars luister nie.
5. Hulle het gedink dat hulle selfgemaakte wette en reëls gelyk is aan God se wette. Hulle het gedink dat God net in die tempel en in die sinagoge bly, en dat hulle kan besluit wie na God toe mag kom, en wie nie.
In die eerste plek het die Fariseers en die Skrifgeleerdes van daardie tyd klaar ‘n beslissing oor Jesus gevel, sonder om die Bybel mooi te gaan bestudeer. Sonder om Hom ‘n kans te gee om aan hulle die Ou Testament uit te lê en aan hulle te bewys dat Hy die Messias is, die Redder wat sou kom. Daarom het hulle uit die staanspoor in vers 16 besluit: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie”. Hulle het dus nie die vermoë gehad om wyer te kyk nie, maar klaar besluit dat Jesus ‘n sondaar is.
Verder het die Fariseërs ook gedink dat daar sekere dinge is wat net onmoontlik is. Die blinde man sê self aan hulle in vers 32: “Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie.” Dit is interessant dat die mense aanvanklik gedink het dat hierdie man na sy genesing maar net iemand was wat soos die blinde gelyk het (vs. 9), en die Fariseërs het selfs die ouers geroep om seker te maak dat dit hulle seun was wat genees is (vs. 19).
In die derde plek het die Fariseërs oogklappe opgehad, en was dit nie vir hulle moontlik om hulle eie sonde raak te sien nie. Hulle het graag ook die balk in ander se oë raakgesien, en kon nie na hulle luister nie. Hulle het nie net vir Jesus as ‘n sondaar uitgeskel nie, maar ook aangeneem dat hierdie man vanweë sy sonde blindgebore was. Sonder gronde sê hulle aan hom in vers 34: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”
Die Fariseërs het verder ook geglo dat God nie na sondaars se gebede luister nie. Na aanleiding van Jesaja 1:15 het hulle aangeneem dat God sy oë toemaak vir sondaaars. “15 As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.” Hulle het gerieflikerwys vergeet van al die uitnodingings wat die Here ook in die Ou Testament gerig het om hulle te bekeer, en tot Hom as die ware God te bid. Juis hieroor het Jesus ook nodig gehad om die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18:10-13 te vertel.
In die laaste plek het die Fariseërs en die Skrifgeleerdes hulle eie wette gemaak, en dit dan gelykgestel met God se wette. Hulle het maklik mense uit die sinagoge geban as hulle gedink het dat so ‘n persoon die wet oortree het. In die geval van hierdie blinde man was hulle baie meer ontsteld oor die feit dat die blinde man op die sabbatdag gesond gemaak is, as wat hulle bly was oor die feit dat wonderwerk plaasgevind het – dat ‘n blinde man weer kon sien!
Liewe vriende, ons kan maklik by onsself dink... Hierdie Fariseërs en tollenaars is darem nare mense! Hulle is net ingestel op hulle eie lewens, en laat nie regtig die Drie-Enige God in hulle godsdiens toe nie. Maar eintlik gebeur dieselfde maar in die kerk van vandag...
Is daar nie al hoe meer mense wat beweer dat Jesus net ‘n gewone sondaar was, dat hy ‘n wynsuiper was, en dat hy ‘n buite-egtelike verhouding met Maria Magdalena gehad het nie? Is daar al hoe minder en minder mense wat nog glo dat God wel wonderwerke kan doen, en dat dit help om tot God te bid nie? Kry ons nie al hoe meer hoogmoediges in die kerk wat sukkel om die balk in hulle eie oë raak te sien, maar graag praat oor die splinter in ander se oë nie?
Is dit nie so dat ons so dikwels ander se gebede in ons harte oordeel omdat ons glo dat hulle inhirent sondaars is nie. Sê ons nie maklik vir onsself en vir mekaar: “Daardie ouderling bid so mooi in die kerk, maar kyk hoe tree hy in die week op nie?” Is dit nie so dat ons dikwels ander deur ons optrede uit die kerk uitban, en ons eie reëls maak, terwyl die kerk eintlik oop deure moet hê nie?
Liewe vriende, liewe medegelowiges, ons leef in tye waarin ons uitgedaag word om uit die boks te glo... Ons moet weer vir onsself gaan vra wat geloof werklik beteken, en of ons nie uiteindelik dalk so dikwels soos die Fariseërs dink en doen nie, of ons nie uiteindelik eerder instrumente in Satan se hand is, eerder as instrumente in God se hand nie?
Maar ons moet ook hier in die lydenstyd weet dat ‘n ware keuse vir die Here Jesus ook lyding van ons gaan vra. Dat ‘n keuse vir onvoorwaardelike volgelingskap van die Here Jesus gaan beteken dat ons uitgesluit gaan voel. Dat ons gekritiseer gaan word as ons oë oopgaan en as ons voluit vir die Here Jesus lewe, en nie meer met al die mensgemaakte tradisies en wette in die kerk saamloop nie... Maar ons moet weet dat hierdie pad uiteindelik die pad is wat tot ware bevryding, en ware godsdiens kan lei. Wat kan maak dat die oogklappe van ons oë afval, en dat ons iets begin sien van wie en wat God werklik vir ons is en wil wees.
Ek wil afsluit... Almal van julle ken seker die verhaal van Pandora se boks. Dit is die verhaal van ‘n vreeslik wrede koning, met die naam Bloubaard, wat met prinses Pandora getroud was. Koning Bloubaard het ‘n boksie gehad, en hy het altyd vir Pandora laat belowe dat sy nooit die boksie sal oopmaak nie. Maar Pandora se nuuskierigheid het eendag die oorhand gekry terwyl hy weg was op ‘n reis, en sy het die boksie oopgemaak... Voor sy kon keer, het ‘n klomp duiweltjies uit die boksie uitgevlieg.
Toe sy die boksie toekry, hoor sy een klein stemmetjie wat vir haar sê: “Ek is die goeie fee, en jy het al die ander duiweltjies uitgelaat... As jy my nie ook vrylaat nie, gaan hulle doen wat hulle wil, en die wêreld sal totaal oorgegee wees aan hulle. Laat my ook vry, want dit is die enigste manier om te keer dat al die duiweltjies maak soos hulle wil.
Liewe vriende, al is Pandora se verhaal net ‘n sprokie, weet ons dat dit baie keer in die kerk waar is. Terwyl die duiwel los is daar buite, en soos ‘n brullende leeu rondloop en kyk wie hy kan verslind, hou ons mekaar in bokse opgesluit, bly ons beperkend dink en glo, en keer ons dat die Here se evangelie regtig kan vlamvat en mense se harte begin verander!
Kom ons bid vanoggend saam, en ons vra ook van die Here dat Hy ons oë op hierdie Sabbat, op hierdie Sondag so sal oopmaak dat ons waarlik tot Sy eer sal kan lewe. Dat ons waarlik sal besef dat Jesus aarde toe gekom het, en ‘n sondelose mens was om ons sondes te kom betaal. Dat ons werklik sal besef wat die Here by magte is om te doen, dat ons die sonde in ons eie lewe sal raaksien, en weet dat God na die gebed van ‘n eerlike sondaar luister. Dat ons werlik nuut oor al die randeiers in die samelewing om ons sal dink, en die kerk se deure vir hulle sal oopgooi!
AMEN!