Saturday, January 17, 2009

Intreepreek in Bospoort gemeente

2 Kor 1:21-2:4

Voorsang:
Lied 200:1-3
U Goedheid Heer, kan ons nie peil nie…
Lied 418:1
Blye more, blyste van die dae!


Lofsang:
Lied 205:1-3
Bring lof aan die Vader…
Lied 547:1-3
Al julle volke klap julle hande…

Na Wet en genadeverkondiging:
Lied 553 2*

Slotsang:
Lied 252:1,3
Here hoe blymoedig, en in dank oorvloedig…

Die word “dominee” wek baie verskillende gevoelens by mense op. Ek onthou hoe ek eenkeer by ‘n vorige gemeente by ‘n werktuigkundige gekom het wat my nie geken het nie. Daar was ‘n persoon van Indiese afkoms wat in die werktuigkundige se kantoor gesit het, wat ek wel mee bekend was. Die werktuigkundige het links en regs gevloek terwyl hy met die Indiër gepraat het. Ek het in die deur bly staan, en selfs die Indiër het ongemaklik begin raak… Toe groet die Indiër my op my naam en sê: “Middag, Dominee Wessels”. Die werktuigkundige het so groot geskrik dat hy op die tafel geklap het en geroep het: “Dominee! Wie, wat waar?”

Ja liewe Vriende, die teenwoordigheid van die dominee maak sekere mense dadelik hoogheilig. Hulle glo ‘n mens moenie voor die Dominee, vloek, lelik praat of skinder nie, asof hy die Here self is. Ander glo dat dominees net te goed is om waar te wees. Hulle probeer om elke hoek en draai om die dominee uit te vang dat hy net ‘n mens is, en skinder dan oor sy foute. Ander weer, sien ‘n dominee as die een wat sy eie idees op mense wil afdruk. Hulle is dikwels gefrustreerd dat hulle maar met elke nuwe dominee se grille en giere opgeskeep moet sit. Ja, liewe vriende, hoe ‘n mens ookal daarna kyk, die nuwe dominee op Bospoort is waarskynlik ‘n gewilde tema om oor te praat in die gemeenskap.

My pa praat dikwels oor die fases wat ‘n mens in die gemeente deurgaan. In die eerste jaar (die wittebroodstyd) sê hy, kan ‘n mens niks verkeerds doen nie. In die tweede jaar kan ‘n mens niks reg doen nie, van die derde jaar af gee niemand meer om wat jy doen nie! Maar weet julle, liewe vriende, hierdie interessante verhouding tussen dominee en gemeente is nie ‘n nuwe ding nie...

Die filosoof Favorinus wat so teen 70 na Christus in Korinthe gebly het, ook agtergekom. Favorinus was so gewild by die Korinthiërs dat hulle selfs ‘n standbeeld van hom opgerig het in die teater. Favorinus is later weg na ‘n volgende stad, en kort voor lank hoor hy dat daar ander filosowe in sy plek gekom het, en dat die Korinthiërs nou so min van hom dink, dat hulle sy standbeeld omgetrek het, en weggesleep het uit die teater uit!

Die apostel Paulus het net so ‘n 20 jaar voor Favorinus in Korinthe sendingwerk gedoen... As ‘n mens na die verhouding tussen Paulus en die gemeente in Korinthiërs kyk, dan sien ‘n mens dat Paulus en hierdie gemeente ook aanvanklik ‘n baie goeie verhouding gehad het. Maar na Paulus se voortgaan na ander gemeentes, het daar ander leiers in die gemeente ingekom wat probeer het om Paulus se gesag af te kraak. Hulle het uiteindelik selfs daarin geslaag om ‘n breuk tussen Paulus en die gemeente te bewerkstellig. En daarom skryf Paulus die brief 2 Korinthiërs (party mense reken selfs dat dit ‘n versameling van tot 3 briewe is) om weer aan die gemeente te verduidelik wat sy ware bedoeling met die gemeente is.

Paulus kom skryf aan die gemeente dat hy nie gekom het om baas te speel, of om met die ander leiers na hom te kompeteer nie... nee, Paulus kom stel dit in vers 24 dat hy nie as ‘n heerser wil voorskryf wat hulle moet glo nie, maar ‘n medewerker wil wees om hulle geluk te bevorder...

Weet julle, liewe vriende, ek het baie waarde aan name. Ek soek graag familiebande op, en kyk waar mense vandaan kom. Maar deur my bediening het ek ook ‘n interessante verbindtenis met plekname gehad. My eerste gemeente se naam was vir my so gepas... dit was Nietverdiend. Dat die Here vir my ‘n pad saam met sulke besondere mense laat loop het was virseker nie iets wat ons verdien het nie, dit was GENADE alleen.

Nadat die Here my Lobatse toe beroep het, het die gemeente van Welverdiend my genader om aansoek te doen vir ‘n beroep. In my hart het ek net gevoel – Van Nietverdiend na Welverdiend – Iewers pas dit nie regtig nie... En die Here het ons op Lobatse in Botswana baie meer gegee as wat ons ooit voor kon bid of gevra het...

En toe ons met die trek hier op Bospoort aanland vanaf Coligny se kant af, het ons amper die bordjie Geluk misgery, tot ons die kerk gesien het, en agtergekom het dat die kerk Bospoort op die pad na Geluk lê. Ja, liewe vriende, ek glo dat ons op Bospoort geluk gevind het. Die gemeente het nie ‘n geluk gevind om my as predikant te kry nie – nee, ons het geluk hier kom kry... Ons weet dat julle ‘n resep het, en ons kan dit tot dusver sien, dat julle ‘n resep hier van geluk in die Here het, en dat julle die Here julle gemeentelewe hier kan ervaar.

Maar watter verskil kan ek maak. Saam met Paulus in vers 24 glo ek dat ek nie gestuur is as heerser om vir julle te vertel wat julle moet glo nie, maar om ‘n medewerker te wees wat julle geluk bevorder. Ja ten spyte daarvan dat julle geluk het, glo ek dat daar vir Bospoort gemeente soveel meer geluk lê en wag... Dat ons nie besef hoe groot God se skatkamers van geluk werklik is nie.

Ek was die afgelope Vrydag by die begrafnis van ‘n vriend, en daar het die pastoor genoem dat ‘n begrafplaas die plek is waar die meeste potensiaal opgesluit lê. Ja, soveel mense gaan deur die lewe en deur die kerk sonder dat ‘n kwart van hulle potensiaal benut word. Sonder dat hulle regtig hulle roeping ten volle kan uitleef, en waarlik gelukkig kan wees.

Maar waarin lê ons geluk? Ek kan vanoggend honderde bybeltekste oor geluk, vreugde en blydskap aanhaal. Maar ek wil graag by geluk soos die Here dit vir ons deur Paulus leer kom stilstaan. Paulus skryf in 2 Kor 2:24 dat almal gelukkig is as hy gelukkig is. Geluk is ‘n wedersydse ding. Switserse wetenskaplikes het onlangs uitgevind dat ‘n glimlag werklik aansteeklik is... Dit is moeilik om vir iemand te frons as hy met ‘n glimlag na jou toe kom. Hulle sê dat dit iets te doen het met ‘n mens se ingebore manier om na te aap. Net soos ‘n kind wat lag vir ‘n grap wat hy nie verstaan nie, of ‘n hond wat grom vir sy ewebeeld in die spieël, so word ons geluk ook beïnvloed deur die gemoedstoestand van mense rondom ons.

Maar wat HET Paulus gelukkig gemaak? Paulus skryf in Fillpense 2:14-18 "Doen alles sonder kla of teëpraat. 15 Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld 16 deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie. 17 Julle geloof is ‘n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. 18 Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees."

Wat kan ons doen om mekaar se geluk hier in Bospoort gemeente te bevorder? Ons kan leer om alles te doen sonder kla of teëpraat. Dit gebeur so maklik dat ons alles op onsself neem, omdat ons glo dat net ons dit die beste kan doen. Later kla ons dan dat ons alles alleen moet doen. As ons ons geluk in Bospoort gemeente wil bevorder, dan beteken dit dat ons waarlik as slawe van mekaar ons deel in die gemeente moet doen. Slawe wat diensbaar aan mekaar is om soveel as moontlik mense vir Christus te wen (1 Kor. 9:19), maar ook slawe wat vir mense wil tevrede stel nie, maar net God as meester het (Gal. 10). Slawe wat soos Jesus beveel in Lukas 17:10 sê: ” Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

Ware geluk lê daarin dat ons soos Fillipense 2:15 sê bo verdenking staan en opreg bly te midde van ontaarde en korrupte mense. As gelowiges moet ons nooit deel word van die bedrog van die wêreld nie. Ons moet deursigtig en openlik die Here dien, en nooit agteraf besig wees met dinge wat nie by ‘n kind van God pas nie.

Die laaste, maar nie die minste saak wat Paulus se geluk bevorder, is dat die gemeente ligdraers sal wees wat woord van die lewe in Jesus Christus in die wêreld uitdra. Toe tannie Tersia my die eerste keer gebel het, het ek vir haar gevra waar ek ‘n advertensie van die pos hier op Bospoort kan kry. Wat my getref het van die advertensie is dat Bospoort ‘n omgee-gemeente is. Ek glo dat dit een van die sleutels is van die huidige gelukkige gees en atmosfeer in die gemeente. Maar ek glo ook dat hierdie aspek van die gemeente se geluk ook kan groei, dat ons nog ‘n beter nessie van omgee en aanvaarding van die randeiers in die samelewing kan word, maar dat ons met meer effektiwiteit ook ligdraers kan wees vir almal om ons heen...

‘n Tweede saak in die advertensie wat my getref het, was dat hierdie gemeente die ruimte bied vir ‘n predikant om sy eie roeping uit te leef... En dit is iets waaroor ons almal dalk moet herbesin... Friedriech Buchner het gesê dat die vevulling van ons Roeping plaasvind waar ons gawes in ontmoeting met die wêreld se nood kom. Ek glo ook dat my roeping en my taak in Bospoort gemeente meer moet wees as ‘n persoonlike, private stokperdjie, maar dat ons almal medewerkers moet wees om werklik ook te vra hoe God ons almal se gawes in kontak wil bring met Bospoort, Noordwes, Suid Afrika, Afrika, en die planeet aarde se nood... Ek sien hier in die kantoor hang ‘n sertifikaat dat Bospoort se span op ‘n stadium toutrekkampioene was... Vir ons elkeen om gelukkig te wees in Bospoort, beteken dat ons as God se span met dieselfde ritme in dieselfde rigting sal trek.

Ek wil afsluit vanoggend met ‘n aanhaling van Stuart Evans: "The way we are with ourselves and the way we are with other people depends on the way we are with God..." Bospoort se geluk en ons verhouding met onsself en met ander om ons gaan uiteindelik afhang van ons verhouding met die Here. Dit gaan uiteindelik afhang van hoe sterk ons op Christus as fondament gevestig is (2 Kor 1:21). Kom ons vat hande, en ons stap hierdie pad in afhanklikheid van God drie-Enig, met die wete dat ons dan waarlik sal groei in geluk!

AMEN.

1 comment:

megat said...

Hi!! Your blog are very nice and more info. I hope follow my blog and please click my google ads.